Suid-Afrikaanse kommersiële landbou se bydrae om Suid-Afrika op koers te kry moet nié onderskat word nié!

  • 0

Inleiding

Suid-Afrika bevind hom in troebel geo-politieke vaarwaters. Midde hierdie storm wil almal kaptein speel. En elkeen het ’n vierkantige eier te lê oor die situasie waarin Suid-Afrika hom bevind. Teenstrydige boodskappe kom vanuit die ANC en presidensie. En ook vanuit die RNE.

Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, is van mening dat president Trump sy neus uit Suid-Afrika se sake moet hou. En dat Suid-Afrika ’n soewereine land is wat nie deur Donald Trump óf enige president beheer sal word nie.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, het om kalmte gevra en het ’n beroep gedoen op alle politieke groepe wat tuiskomsgeleenthede vir ambassadeur Rasool beplan, om verantwoordelik op te tree en aktiwiteite te vermy wat as uitdagend beskou kan word óf ons delikate verhouding met die Verenigde State verder kan beskadig.

Die DA op sy beurt doen ’n beroep op die presidensie om die vorming van ’n regering van nasionale eenheid-afvaardiging na Washington, DC te bespoedig. Hierdie afvaardiging se taak is om ons diplomatieke bande met die VSA te herstel en te stabiliseer.

President Trump is van mening dat die Suid-Afrikaanse regering grond van wit boere konfiskeer en dat volksmoord plaasvind. Hy bied vlugtelingstatus aan veral Suid-Afrikaanse landbouers en Afrikaners aan.

Verskillende burgerlike organisasies, soos AfriSol en andere, besoek die VSA om hul onderskeie sektariese belange te bevorder. Dit terwyl die boot besig is om stadig maar seker water in te neem. As ons nie die lekplekke herstel nie, loop ons die gevaar dat die boot met ons almal daarin gaan sink!

Suid-Afrika se bydrae tot die wêreldekonomie – ’n holistiese perspektief 

Midde al die geraas is dit belangrik om ’n holistiese perspektief oor Suid-Afrika se bydrae tot die wêreldekonomie te handhaaf. En ook spesifiek op die bydrae van Suid-Afrikaanse kommersiële landbou. Ons moet weet wat die ekonomiese waarde is van die verskillende vragte op die boot! Kom ons vergelyk dit met die res van die wêreld.

In 2024 het die Verenigde State die grootste ekonomie ter wêreld gehad, met ’n bruto binnelandse produk van net minder as 29 triljoen Amerikaanse dollars. China het die tweede grootste ekonomie gehad, met ongeveer 18,5 triljoen Amerikaanse dollars. Daarna volg Duitsland, Japan, Indië en ander. Suid-Afrika se BBP is in 2024 op net meer as 403 miljard Amerikaanse dollar geraam, die hoogste in Afrika. Egipte het gevolg, met ’n BBP ter waarde van ongeveer 380 miljard Amerikaanse dollars, en as die tweede hoogste op die vasteland gerangskik. Algerië was derde, met ongeveer 260 miljard Amerikaanse dollars.

Die Wêreldbank bereken dat Suid-Afrika se bydrae tot die wêreldekonomie in 2023 beloop sowat 0,36%. Ons het dus ’n klein bootjie op die water in vergelyking met die VSA, China en ander wêreldekonomieë.

Die Verenigde State is die wêreld se grootste ekonomie. Dit maak byna 22% van die wêreldwye produksie en meer as ’n derde van die aandelemarkkapitalisasie uit. Verder was die Verenigde State ’n leidende krag in die stigting van die Wêreldbank in 1944 en is tot vandag toe die grootste aandeelhouer van die Wêreldbank. As die enigste aandeelhouer van die Wêreldbank wat vetoreg behou oor veranderinge in die Bank se struktuur, speel die Verenigde State ’n groot rol in die beïnvloeding en vorming van ontwikkelingsprioriteite.

Ongeveer 600 Amerikaanse besighede is in Suid-Afrika bedrywig. Baie van hulle gebruik Suid-Afrika as ’n streekshoofkwartier. Suid-Afrika kwalifiseer vir voorkeurhandelsvoordele kragtens die Wet op Afrika-groei en -geleenthede, sowel as die Amerikaanse Algemene Stelsel van Voorkeure-handelsvoorkeurprogram. Derduisende Suid-Afrikaanse goedere kom belastingvry die VSA binne onder AGOA en die sogenaamde Generalised System of Preferences, Amerika se oudste en grootste handelsvoorkeurprogram vir die wêreld se armste ekonomieë. Suid-Afrika het in 2022 goedere ter waarde van meer as $14 miljard na die VSA verskeep.

In 2023 het landbou sowat 2,62% tot die BBP van Suid-Afrika bygedra, terwyl nywerheid en dienste onderskeidelik 24,62% en 62,61% van die totale toegevoegde waarde bygedra het.

Volgens die Nasionale Landbou Bemarkingsraad neem landbou-uitvoerinkomste egter jaar na jaar toe. Nuwe uitvoerrekords is in 2021, 2022, 2023 en mees onlangs in 2024 opgestel. Data van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), die Verenigde Nasies (VN) se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling en die Internasionale Handelsentrum (ITC) dui daarop dat Suid-Afrika se landbou-uitvoere in 2024 ’n rekord van $13,7 miljard, of R251 miljard, bereik het, 3,6% hoër as $13,2 miljard, óf R244,0 miljard, die jaar tevore. Die algehele waarde van landbou-invoere in 2024 was $7,4 miljard, of R136,3 miljard, wat 7,3% meer was as die $6,9 miljard, óf R128,1 miljard, in 2023.

Meer as 700 verskillende Suid-Afrikaanse landbouprodukte is na ongeveer 190 lande regoor die wêreld in 2024 uitgevoer. Sowat 44% in 2024 was bestem vir die Afrika-uitvoermark. Europa, wat die Verenigde Koninkryk (VK) insluit, was die tweede grootste mark met 29%. Met Asië in die derde plek wat sowat 21% van Suid-Afrika se totale landbou-uitvoere ontvang het. Amerika het in die vierde posisie gekom met 6% van die totaal, met die res van die wêreld wat die oorblywende gedeelte uitmaak.

Die jongste beskikbare landspesifieke data toon dat 62,2% van alle produkte wat uit Suid-Afrika uitgevoer is, deur die volgende invoerders gekoop is: China (11,2% van die Suid-Afrikaanse totaal), Verenigde State van Amerika (7,5%), Duitsland (6,6%), Mosambiek (5,9%), Verenigde Koninkryk (4,8%), Japan (4,4%), Indië (4,3%), Botswana (3,92%), Nederland (3,87%), Namibië (3,5%), Zimbabwe (3,4%) en Zambië (2,8%). Ons uitvoerprodukte behels:

  • Juwele, edelmetale: $20,6 miljard (18,7% van totale uitvoere)
  • Erts, slak, as: $17,2 miljard (15,6%)
  • Voertuie: $12,6 miljard (11,4%)
  • Minerale brandstowwe insluitend olie: $10,6 miljard (9,6%)
  • Yster, staal: $5,8 miljard (5,2%)
  • Masjinerie insluitend rekenaars: $5,7 miljard (5,1%)
  • Vrugte, neute: $4,9 miljard (4,5%)
  • Elektriese masjinerie, toerusting: $2,3 miljard (2,1%)
  • Aluminium: $2,2 miljard (2%)
  • Drankies, sterk drank, asyn: $1,5 miljard (1,4%)

Uit hierdie ontleding kom ons agter dat Suid-Afrika baie het om te verloor indien hierdie boot sou sink. Die passasiers op die boot besef dit terdeë. En is daarom paniekbevange en raak nou onderling besig met mekaar. Dit is daarom noodsaaklik dat die kaptein moet leiding neem en sy bemanning tot orde roep. Daar kan net een kaptein aan die stuur wees om hierdie boot uit die moeilikheid te kry. Die bemanning in die vorm van die regering van nasionale eenheid onder leiding van die presidensie moet ‘n verenigde front monster en Suid-Afrika se belange eerste stel. Nié ANC-belange nié!

Uitgediende retoriek en leedvermaak gaan nie die probleem oplos nie! Pragmatisme en samewerking wel. Wat Suid-Afrika ook moet besef, is dat om te veel op een vennoot staat te maak – of dit nou die VSA of China is – risiko’s inhou. Dit gaan alles daaroor om die regte balans te vind.

President Trump stel nou sy belange en dié van die VSA eerste

Quid pro quo-politiek of transaksionele politiek is aan die orde van die dag in die VSA. Die beheer van nasionale hulpbronne is die groot doelwit om die VSA se ekonomie op koers te kry.

Van die uitvoerende bevele wat deur president Trump uitgevaardig is, behels onder meer die stigting van die Nasionale Energie-oorheersingsraad. Dit het ten doel om alle vorme van betroubare en bekostigbare energieproduksie uit te brei om inflasie te verlaag, die ekonomie te laat groei, goed betaalde werksgeleenthede te skep, Amerikaanse leierskap in vervaardiging te herstel, die wêreld in kunsmatige intelligensie te lei en vrede deur krag te herstel deur die VSA se kommersiële en diplomatieke hefbome te gebruik om oorloë regoor die wêreld te beëindig.

Dit stel ook ten doel die inwerkingstelling van onmiddellike maatreëls om Amerikaanse mineraalproduksie te verhoog. Die Trump-administrasie is van mening dat die Verenigde State beskik oor groot minerale hulpbronne wat werk kan skep, welvaart kan aanwakker en die afhanklikheid van buitelandse nasies aansienlik kan verminder. Vervoer, infrastruktuur, verdedigingsvermoëns en die volgende generasie tegnologie maak staat op ’n veilige, voorspelbare en bekostigbare aanbod van minerale.

Dit fokus ook onder meer op die onmiddellike uitbreiding van Amerikaanse houtproduksie. Volgens die Trump-administrasie ondermyn federale beleid die volle benutting van hierdie hulpbronne en maak die land afhanklik van buitelandse produsente.

Koper is ’n kritieke materiaal wat noodsaaklik is vir die nasionale veiligheid, ekonomiese krag en industriële veerkragtigheid van die Verenigde State. Koper, skrootkoper en koper se afgeleide produkte speel ’n belangrike rol in verdedigingstoepassings, infrastruktuur en opkomende tegnologieë, insluitend skoon energie, elektriese voertuie en gevorderde elektronika. Die Verenigde State staar beduidende kwesbaarhede in die kopervoorsieningsketting in die gesig, met toenemende afhanklikheid van buitelandse bronne vir ontginde, gesmelte en verfynde koper.

’n Interessante uitvoerende bevel hou verband met die vestiging van die strategiese Bitcoin-reserwe en die VSA se digitale batevoorraad. Dit het ten doel om die krag van digitale bates vir welvaart te benut en om ’n strategiese Bitcoin-reserwe te vestig.

Ander uitvoerende bevele hou verband met die implementering van die president se kostedoeltreffendheidsinisiatief, die Departement van Regeringsdoeltreffendheid. Hierdie bevel wil verseker dat staatsbesteding deursigtig is en dat staatsamptenare aanspreeklik is teenoor die Amerikaanse publiek. Die Sekretaris van die Tesourie, die Sekretaris van Arbeid en die Sekretaris van Gesondheid en Menslike Dienste is ook opdrag gegee om alle nodige en toepaslike stappe te doen om die regulasies vir deursigtigheid van gesondheidsorgpryse wat ingevolge Uitvoerende Bevel 13877 uitgereik is, vinnig te implementeer en af te dwing. 

Die uitvoerende bevel wat verband hou met Amerika se beleggingsbeleid, het ten doel om China se stelselmatige infiltrasie van belangrike en strategiese beleggingsgeleenthede aan bande te lê. Dit maak dit duidelik dat Chinees- geaffilieerde beleggers Amerikaanse tegnologie, voedselvoorrade, landbougrond, minerale, natuurlike hulpbronne, hawens en skeepsterminale teiken. Dit ontgin ook toenemend Amerikaanse kapitaal om sy militêre, intelligensie- en ander veiligheidsapparate te ontwikkel en te moderniseer. Dit hou ’n beduidende risiko vir die Amerikaanse tuisland en gewapende magte van die Verenigde State regoor die wêreld in. Die Verenigde State sal dus nuwe reëls instel om om te keer dat Chinees-geaffilieerde persone kritieke Amerikaanse besighede en bates opkoop.

Suid-Afrika se Onteieningswet 13 van 2024 en Suid-Afrika se aggressiewe posisies teenoor die Verenigde State en sy bondgenote, insluitend om Israel, nie Hamas nie, van volksmoord in die Internasionale Hof van Justisie te beskuldig, en sy betrekkinge met Iran het daartoe gelei dat die Verenigde State nie hulp of bystand aan Suid-Afrika sal verskaf nie, en dat die Verenigde State die hervestiging van Afrikaner-vlugtelinge sal bevorder wat aan regeringsgeborgde, rasgebaseerde diskriminasie, insluitend rassediskriminerende eiendomsbeslaglegging blootgestel word.

Volgens nuusberigte het sowat 70 000 Afrikaners om vlugtelingstatus aansoek gedoen. Wanneer en waar die reddingsbote gaan land weet niemand egter nie. 

Onsekerheid oor die impak van VSA-beleid

Volgens JP Morgan het tariewe wat tot dusver ingestel is, die gemiddelde tariefkoers op goedere wat die Verenigde State binnekom, tot 6,4% verhoog – die hoogste vlak sedert die 1960’s. President Trump het egter gedreig om vroeg in April vertraagde tariewe op Kanada en Mexiko, nuwe tariewe op die Europese Unie en algemene wederkerige tariewe in te stel. Al hierdie skuiwe sal die impak van tariewe op beide ekonomiese groei en inflasie verhoog.

Daar is ook spanning aan die opbou tussen die Trump-administrasie en die Howe. Hoofregter John Roberts het president Donald Trump se eskalerende retoriek teen die federale regbank teruggedruk in ’n hoogs ongewone verklaring wat blykbaar gemik was op die president se oproep om regters wat teen hom beslis, in ’n staat van beskuldiging te plaas. Roberts se verklaring het Trump nie by die naam genoem nie, maar dit kom ure nadat die president sy aanvalle op federale regters verskerp het deur spesifiek te vra dat die Amerikaanse distriksregter James Boasberg, wat die deportasies van beweerde Venezolaanse bendelede tydelik geblokkeer het, in ’n staat van beskuldiging geplaas word.

Die rigting vorentoe

Die groter uitdaging vir Suid-Afrika en veral vir kommersiële landbou in Suid-Afrika is om ons boot uit die moeilikheid te navigeer. Ons regering van nasionale eenheid sal koppe bymekaar moet sit hoe om die situasie te beredder. Kommersiële landbou sal ook ’n verenigde front moet monster en sal met ’n strategie vorendag moet kom om Suid-Afrika se belange voorop te stel. Landbou Suid-Afrika sal moet begin onderhandel.

Dat daar uitdagings vorentoe gaan wees, is gewis. Tog sal daar ook vele geleenthede wees. Groot onsekerheid heers tans in die VSA oor die impak van die tariewe wat die Trump-administrasie ingestel het. Volgens JP Morgan hou ’n handelsoorlog niks goed in nie. Dit ondermyn sake- en verbruikersvertroue en lei tot swakker inkomstegroei as gevolg van verhoogde koste. Kostes word aan verbruikers oorgedra, wat weer inflasie aanwakker. Aandele daal plaaslik en internasionaal. 

Dit is dus nie in belang van die VSA om homself te isoleer nie. Om die VSA se ekonomie van ’n resessie te vrywaar sal dit moet onderhandel om regverdige handelsooreenkomste met belangrike handelsvennote te verseker. Met onsekerheid uit die weg geruim, sal die wêreldekonomie kop optel.

Hopelik sal die Trump-administrasie die impak van verhoogde tariewe veral op die Amerikaanse ekonomie in ag neem.

Waar laat dit Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse kommersiële landbou? So ook die Suid-Afrikaanse besigheidsektor? Die landbousektor kan nie vir sektariese óf korttermyn uitkomstes op die politieke altaar geplaas word nie. Die sektor moet op die langtermyn fokus.

Dit behels die uitbreiding van markte, om by te hou by die bykans daaglikse tegnologiese veranderinge, om die beeld van landbou as ’n beeld van inklusiwiteit, nie-rassigheid uit te bou en om ’n konstruktiewe verhouding met die regering van nasionale eenheid te vestig. Deur ’n verenigde front te vestig en strategies te onderhandel, kan Suid-Afrikaanse kommersiële landbou ’n reusebydrae lewer om ons boot weer op koers te kry. Kommersiële landbou mag nie sy rol in dié verband onderskat óf versaak nie!

Kyk en lees ook:

Trump se uitvoerende bevel en die Onteieningswet: Wat nou?

Trump, grondonteiening, MIV/VIGS en tariewe

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Van idealisme na realisme – hoe die Trump-omwenteling verstaan kan word

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top