Stof deur Alettie van den Heever: ’n onderhoud

  • 0

Foto van Alettie van den Heever: Retha Ferguson

Alettie van den Heever vertel vir Naomi Meyer van Alettie se boek Stof, wat pas by NB-Uitgewers verskyn het.

Hallo Alettie! Baie geluk met die verskyning van Stof. Vertel my van die titel. 'n Aarde wat uitdroog, en sterflikheid: stof tot stof?

Ja, dit verwys na die letterlike verwoestyning wat agv oorbenutting en swak boerderypraktyke, asook volgehoue droogte, plaasgevind het in die wêreld waarin Stof afspeel. Maar dit verwys ook na die idee dat ons stoflik en stowwerig is.

Kortliks: waaroor handel die storie?

Dit handel oor Ampersand, die hoofkarakter, wat in Kiefmor woon en haar ouma se erfenis van saad moet oppas. Hierdie taak raak egter moeiliker wanneer sy haar verlore vriend in die omgewing van Meconium, die magtigste enklawe in die Skiereiland, wil gaan soek. Meconium het ooreenkomste met al die omliggende nedersettings dat geen saad in private besit mag wees nie. Die storie volg meestal haar wedervaringe, maar dit word afgewissel met die ervarings van Dick Jones wat by Meconium se Saadbeskermingseenheid werk, Foos Jo, wat ’n Meconite-weeskind is, en Sias Arendse wat kreatiewe en alternatiewe energie ernstig opneem.

Wat was die sneller(s) of impetus vir die verhaal - jy het dit begin skryf voor die klanke en gevoel van die droogte? 

Alhoewel die karakter van Amper eerste in my kop begin vorm aanneem het, het die storie soos dit vandag daar uitsien, in 2014 as twee kortverhale begin: “Stof” en “Vet”. As ek reg onthou, het ek “Stof” eerste geskryf. Ek kom uit die Noord-Kaap. Die klippe en die stof hou vir my ’n bekoring in. Toe ek iewers raaklees dat daar iets is soos ’n stofkundige (konioloog), kon ek dit nie weerstaan om ’n karakter te skep wat haar met stof besig hou nie.

Naamgewing in die verhaal: Noag, Amper(sand), Jafta, Meconium. Die name is karakters in die (apokaliptiese) toekoms, maar dit spruit voort uit 'n antieke verlede. Dit het so 'n klank. Wil jy hierop uitbrei?

Ek het wel nagedink oor die name en sommige hou verband met die temas in die storie. Ander het ek weer gekies oor die klank of ritme of my eie assosiasies.

Grondbesit – is dit 'n tema? Wie se stof is dit? Wie s'n is wie s'n?

Dit kom ter sprake, maar ek het dit nie as tema “uitgewerk” nie. In ’n ekologiese distopie is huidige politieke kwessies dikwels ondergeskik aan die oorkoepelende tema van ekologiese verval. In die geval van Stof word grondontsettings in die verhaallyn genoem, en die wyse waarop ons as mense oor besit dink, kom ter sprake, maar die ingewikkelde kwessies rondom grondbesit soos dit tans in ons land uitspeel, word glad nie ontgin nie.

Saadsoekers, en wegvlug. Die verhaal is ook 'n speurverhaal. Maar waarom is saad so belangrik as daar nie water is nie? Wat het die saad nodig om te ontkiem in jou verhaal?

Saad is belangrik omdat kos belangrik is. Ons hoef nie tans ons 50 liter water per dag te gebruik vir kos nie, want die boere doen dit vir ons. Die saad wat Amper moet oppas, is meestal droogtebestande saad of saad wat oor generasies in halfwoestyngebiede gekweek is waar net die saad van plante wat oorleef het, bymekaargemaak en versprei is. Die saad het dus steeds water nodig, maar is minder intensiewe watergebruikers.

As daar nie water is nie, is die groot gelykmaker van ryk en arm mense wat saam-saam in rye staan? Dink jy dat jou verhaal kommentaar lewer op Suid-Afrika, of mis ek die punt as ek so vra?

Dit lewer definitief kommentaar op Suid-Afrika en op die idees oor water waarmee ’n groot deel van die bevolking grootgeraak het. Water is ’n kosbare hulpbron. Tog is grasperke en swembaddens en huise met en suites vir elke gesinseenheid steeds deel van hoe ons ons ruimtes wil inrig en definieer.

Die relatiwiteitsteorie van Einstein: as jy een brokkie besonderheidjie verander, verander jy die toekoms. Gestel 'n tydreisiger reis die verlede in en vermoor een van sy voorsate, sal hy nie meer in die toekoms kan bestaan nie. My vraag is: Is die verlede van jou verhaal vandag, hierdie hede, soos wat dit is?

Nee, die storie neem sy loop as gevolg van baie spesifieke gebeure in die verhaallyn. Tog is daar aspekte van die ruimtes en omstandighede wat waarskynlik met of sonder daardie spesifieke gebeure sal uitspeel, en wat reeds deur toekomskundiges voorspel word.

Vertel my van jou, die skrywer. En, onafwendbaar, weens losse raakpunte tematies, ook oor jou navorsing oor Lauren Beukes. Was haar skryfwerk 'n inspirasie?

Ja, my navorsing oor Lauren Beukes het my geïnspireer, veral haar verbeelding en die wyse waarop sy met woorde en konsepte speel. Die leeswerk oor dieretuine wat ek gedoen het vir ’n opstel oor Zoo City, het my op ’n baie spesifieke manier een van my eerste vertrekpunte gegee. Ek het een van die eerste weergawes van die opstel met my een dosent, Willem Anker, bespreek. Ek het allerhande interessante voetnotas ingesit – een daarvan het verwys na die feit dat mense toegang tot die Tower of London se diereversameling kon kry as hulle ’n kat of hond vir die leeus gebring het. Willem het opgemerk dat dit onnodige inligting vir die opstel is, maar dat dit wel soos ’n storie klink. Op daardie stadium was ek nog met ’n ander projek besig vir die MA in skeppende skryfkunde wat ek onder leiding van hom en Marlene van Niekerk gedoen het, maar ’n saadjie is geplant en kort daarna het ek die eerste skryfprojek laat vaar en begin werk aan dit wat later deel geword het van Stof.

'n Gebrek aan water veroorsaak 'n oorvloed kieme. Of te min kos, te min saad, veroorsaak te veel honger. Dus nie net die gelykmaker soos in ‘n vorige vraag nie. Waarvan is daar te veel as daar te min is, volgens jou?

Op die oomblik is daar te veel mense. En te veel diere om die mense te voed. Te veel antibiotika vir die fabrieksdiere. Te veel hormone om seker te maak dat vrouens wat ’n paar dae in ’n maand vrugbaar is, nie kinders kry nie. Te veel afval. Te veel kiemdoders. Dit maak onder andere dat die dinge wat ons nie verreken in ons somme nie, te min is: onbesoedelde water, skoon lug, gesonde grond.

Die natuur en plantname: Vertel my van jou belangstelling in die ekosisteem, of van die belang daarvan in jou storie.

My liefde vir die omgewing en vir name loop hand aan hand met my liefde vir die Boesmanland en Namakwaland. My kennis oor ekosisteme en plante (hoewel maar gebrekkig) is meestal te danke aan Ricko Kellerman en die navorsing wat ek vir Stof gedoen het. Die omgewing en plante en die stories daarrondom staan sentraal tot die storielyn en tot die tekstuur van die storie.

Andersoortige woorde: “skren”, “pulse” – oestelle waarmee lesers sal kan identifiseer, maar nie dieselfde is nie. Hoe het jy dit uitgedink, hierdie nuwe soort woorde?

Vir van die name het ek bestaande woorde net aangepas; vir ander het ek na foto’s en dokumentêre materiaal oor die nuutste tegnologie en toekomstige tegnologie gekyk om my te help om eers die toestelle te “sien” voordat ek dit benoem het.

Die belang van hierdie gedeelte uit die verhaal:

Sias se been begin spring. Hy sien silwer en koper en mangaan en goud en yster en sink en titanium. Die Green Gaslet System is een ding, maar die mineral extraction machine is ’n ander ding. Hy gaan goud maak uit stront. Letterlik en figuurlik. “What does ‘meconium’ mean?” vra Sias. “I’ve been meaning to find out.” Maar hy wou nie aan Martin of Fiona dink nie. “It’s the first feces of a newborn child,” sê Ghong. “And it scares me shitless.” Sias lag. “It’s useless. Wie wil meconium hê as jy die gekontamineerde kak van grootmense kan myn?”

Ek het nagedink oor die laag op laag op laag onder die aarde toe ek dit lees. Dit wat onder die oppervlak skuil. Dit waarvan die oppervlak gemaak is. Ook, soos die see en Eliot se "water, water everywhere but not a drop to drink". So baie grond/stof. Maar waaruit bestaan dit en wat is onder ons voete – wat is ons? Ons is nie net water nie, is ons? Wil jy iets hieroor sê?

Kom ek begin met die woorde van een van die wysstes wat Afrikaans nog opgelewer het: “Gewis, ons is nie water genoeg nie!” Dis eintlik ’n copout, want ek het nie ’n clue nie. Ek weet nie wat ons is nie. Ek is in sekere opsigte grootgemaak om saam met die digtergees te dink dat hierdie wêreld nie ons woning is nie, en al voel ek nog soms so, dink ek nou anders. Baie van die ekologiese ghoeroes wil dit hê dat ons ’n virus is. Ek is nie so seker nie. Hierdie wêreld is ons enigste woning. En al het ons nie deernis met die aarde nie, het sjy (sjy praat permanent soos ’n dronkie en sjy sien nie ons onderskeide nie) meer deernis en begrip vir ons as wat ons vir onsself of mekaar het. Wanneer ons ons gatte sien, gaan sjy Sheila Cussons hoes: “Cheers ou lelik, en dankie vir die wals” en dit gaan dit wees, maar nie sjy sjê dit nie.

Waarom het jy die verhaal geskryf?

Sekere idees en fassinasies wou ek self ondersoek en bedink en dit gebeur in my geval tydens die skryfproses. Maar ek het dit ook geskryf omdat ek gehoop het dat dit mense sal laat dink oor die dinge waaroor ek gedink het, onder andere ekologiese kwessies.

Wat lees jy?

Ek het in Augustus begin Afrikaans gee vir onderwysstudente by CPUT se Mowbray-kampus, so op die oomblik herlees ek die boeke wat my voorganger vir die verskillende jare voorgeskryf het: Ons is nie almal so nie, ’n Stringetjie blou krale, Toorbos en Donkermaan. Voor dit het ek Fire from heaven van Mary Renault gelees. En voor dit Tad Williams se Memory, Sorrow and Thorn-reeks. Ek spring maar rond soos mense boeke in my hand stop of ek iets raakloop by die biblioteek of hospice shop.

Waarvan hou jy nog: teater, film, kos, ander genietinge?

Tuinmaak, kuier met familie en vriende, tannie-wees, ronddwaal in hospice shops en kwekerye, McDougallsbaai aan die Weskus, die N7 (veral noordwaarts tot by Springbok), kamp saam met my gesin.

 

Lees ook:

’n Alledaagse andersheid: ’n Ondersoek na Lauren Beukes se Zoo City as voorbeeld van heterotopiese literatuur

Die laaste avontuur? ’n Bespreking van die Woeste Land-tema in Queste del Saint Graal

Broken Monsters deur Lauren Beukes

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top