Broken Monsters deur Lauren Beukes

  • 0

Titel: Broken Monsters
Outeurs: Lauren Beukes
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415202005

Koop Broken Monsters by Kalahari.com

 

 

 

 

 

 

 

 

In our patakis, our folk myths, we believe that we come to the world with a destiny we picked for ourselves in Arun. Obatala creates the human body, but you have to get your head from the potter who moulds them out of clay in his warehouse. On a good day he makes beautiful heads, but sometimes he gets drunk and makes a bad head. It’s a divine defect. There’s no way to tell from the outside, but once you’ve chosen your head, you have to live your destiny. Most of us have a medium head. It’s not perfect, but there is enough good in there that with the help of the orichas you can be pulled to the good side. But people with a bad head are so damaged they can’t be fixed. There’s no remedy, the only thing you can do is stop them and recycle them back into the universe. (178–9)

By monde van ’n priesteres van die Santeria-godsdiens word hierdie skeppingsmite deel van die deurlopende struweling met die kompleksiteit van die mens, die bose en geweld wat reeds in Lauren Beukes se vorige werk neerslag gevind het. In Broken Monsters, haar nuutste roman, word die leser gekonfronteer met die amper deterministiese idee van ’n Droom (wat soms as aparte karakter aangebied word) wat die moordenaar geen keuse laat as om deel te neem aan sy visioenêre drome nie. Op die eerste moordtoneel word die bolyf van ’n jong seun, vasgeplak aan die agterlyf van ’n bokkie, gevind. Hierdie kragtige beeld aktiveer die temas van gebrokenheid, hibriditeit en menslikheid/dierlikheid.

Dit is ook ’n gepaste beeld vir die gesprek rondom genre wat al voorheen deur Beukes se werk aangewakker is. Self is sy lugtig om haar werk te kategoriseer, maar in die geval van Broken Monsters gebruik sy wel die term crossover thriller. Hierdie roman volg op die sukses van Zoo City (2010), waarvoor sy die Arthur C Clarke-prys vir wetenskapfiksie ontvang het, en The Shining Girls (2013), waarvoor sy onder andere deur die Universiteit van Johannesburg bekroon is. Dit is geskryf in die dieselfde skynbaar moeitelose styl wat haar ander romans kenmerk. Skerpsinnig, voortspoedend, beeldend, sexy, en veral “cool”.

Haar styl word op die voorblad van die Suid-Afrikaanse uitgawe geëggo. Joey Hi-Fi (wenner van die Best Art-kategorie by die British Science Fiction Association 2010 Awards vir sy voorbladontwerp vir Zoo City) vang die gebeure en tekstuur van die roman op geslaagde wyse vas en sy ontwerp staan uit bo dié van die Britse en Amerikaanse uitgawes.

Net soos The Shining Girls word Broken Monsters se intrige ook geskep deur die gebeure rondom en soektog na ’n reeksmoordenaar. Waar die reeksmoordenaar in The Shining Girls tussen die verlede/hede/toekoms kan reis en sodoende die fokus op kwessies rondom tyd en chronologie plaas, is die reeksmoordenaar in Broken Monsters obsessief oor (die opheffing van) die grense van die fisiese wêreld en die ruimtes wat ons bewoon. Dit is daarom nie toevallig dat die roman in Detroit afspeel en dat die moordenaar sy eerste slagoffer naby aan die grens tussen Kanada en die VSA uitstal nie.

Die leser volg vyf karakters wie se lewens deur die “Bambi”-moordsaak en daaropvolgende moorde geraak word. Hulle is almal produkte van gebrokenheid en word op die een of ander manier blootgestel aan die onstandvastigheid van grense. So word die leser gekonfronteer met die uitdagings wat deur die gereg in die gesig gestaar word (Gabi Versado is deel van die moordeenheid van die Detroit-polisiediens en die eerste speurder op die toneel) en die gevare van aanlyn kletskamers (Gabi se tienerdogter, Layla, is die produk van ’n gebroke huwelik tussen ’n Afro-Amerikaanse pa en ’n Spaans-Amerikaanse ma). Die pretensie en lewendigheid van die Detroitse kunsbedryf en die vervaagde grense tussen privaat/publiek en realiteit / die werklikheidseffek van die aanlyn wêreld word veral deur die perspektiewe van Clayton Broom (’n miskende kunstenaar) en Jonno (’n skrywer/joernalis wat ’n nuwe begin in Detroit wil maak) belig. Soos in Beukes se vorige romans speel die ekonomies uitgeworpenes ’n sentrale rol. TK is ’n leier onder ’n gemeenskap van haweloses wat by ’n kerk saamkom – hy herverdeel die skatte en strooi wat in onteiende huise en geboue agterbly en gee rekenaarlesse by die kerk.

Broken Monsters skakel dus in by die transnasionale idioom waaraan Beukes se besteverkoper-status deels toegeskryf word. Sy skep ’n baie geloofwaardige stadsruimte, en alhoewel lesers deurentyd bewus is daarvan dat hulle hulle spesifiek in Detroit bevind, is daar talle raakvlakke met die Suid-Afrikaanse landskap. “Detroit diamonds” is die brokke van motorvensters waarby ingebreek is. Herkenbaar om die minste te sê.

Alhoewel die omblaai nooit heeltemal teleurstel nie, is daar ’n paar goed wat pla. Die indeling van die boek in “Before”-dele en stukke wat in die hede afspeel, word nie konsekwent deurgevoer nie. Verder word die fokalisering deur karakters byvoorbeeld op bl 130 ewe skielik deur die stem van ’n alwetende verteller onderbreek. Die vloei van gebeure of dialoog word soms gestuit wanneer karakters se terugskouende gedagtes net te lank word vir die tyd tot hul beskikking. Ander kere is die leser nie seker waar die karakter hom/haar tydens herinneringstogte bevind nie. Alhoewel daar moeite gedoen word om Layla se verwysingsraamwerk te regverdig (sy het skynbaar nog altyd vreemde onderwerpe vir geskiedenistake gekies), is ’n tiener wat Plato se grot en skaduwees in ’n alledaagse gesprek wil betrek, ’n entjie té vergesog. Laastens is daar die kwistige gebruik van vergelykings waarop resensente Beukes al voorheen gewys het. ’n Mens kan dit meestal laat glip, maar wanneer die getraumatiseerde vader van ’n jong slagoffer die hoopvolheid “soos ’n heliumballon” laat gaan, dan skuif ek effe ongemaklik op my stoel rond.  

Behalwe die kleiner krapperighede moet ek ook erken dat Beukes my onverdeelde aandag in die laaste gedeelte van die roman (daar is 440 bladsye) verloor het. Ek het dieselfde gevoel in Zoo City gekry toe die albinokrokodil sy verskyning uit die swembad maak. Behalwe dat ek in Broken Monsters nie eers meer bang was nie. In Zoo City het die onverklaarbare verskynsel van die Zoo-verskynsel ’n interne logika gehad wat my oortuig het. In Broken Monsters word die leser ook gekonfronteer met bonatuurlike aspekte wat soms daarin slaag om die sosiopolitieke kwessies op filosofiese of simboliese wyse te verpak. Daar is egter te veel onverklaarde verskynsels en drome waarvan ek nie die verband kon sien nie. (Dit is egter moontlik dat my suspension of disbelief-fakulteit, gevoed deur die onrealisties netjiese eindes van speurfiksie, hiervoor blameer moet word.)

Vir die aanhanger van Beukes se ander romans sal ek steeds aanraai om Broken Monsters te lees. Dit het baie om die lyf en dis lekker om te lees. Dan moet jy egter die haarklowery laat staan en op die naelbytery fokus. En dít is die jammerte vir my: dit voel steeds of Beukes bly by dit wat vir haar maklik kom. Sy sit my aan die dink, maar veral Moxyland en Zoo City het my laat vermoed dat sy die verbeelding, die skerpsinnigheid en die cheekiness het om my ánders te laat dink.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top