Stefaans Coetzee gesels met Louise Viljoen oor Toevlug

  • 0

Titel: Toevlug
Skrywer: Louise Viljoen
Uitgewer: Luca, 2024
ISBN: 9781779880185 

Louise, eerstens baie geluk met jou nuutste boek, Toevlug. Wanneer en hoe het jy tot bekering gekom?

Ek het in ’n gelowige huisgesin grootgeword. Jesus was dus vir my ’n werklikheid vandat ek my verstand gekry het. My ma het gereeld vir ons as kinders uit die Bybel gelees en gebid. Ek onthou ’n groot kerksamekoms toe ek nog baie klein was en my ma vorentoe gegaan het toe die prediker die uitnodiging rig dat mense hulle harte opnuut aan die Here gee. Tot my verbasing het my pa ook opgestaan, en ons kinders het saam met hom vorentoe gestap. So klein soos wat ek was, het ek geweet wat dit beteken.

Helaas was my pa ’n gewelddadige persoon, ’n kampioenbokser wat my ma en ons kinders gereeld aangerand het. Ek was agt jaar oud toe my ma my pa moes doodskiet om ons lewens te red. Ek onthou nog die skote en gebeure van daardie dag asof dit gister was. Tot en gedurende die hofsaak het ek saans herhaaldelik dieselfde gebedjie opgesê waarin ek vir Liewe Jesus gevra het om my hartjie met sy besem skoon te vee en asseblief te keer dat die polisie nie my ma se kop afkap nie. (Ek het as kind per ongeluk ’n TV-program gesien oor die gebruik van ’n guillotine en dit het ’n groot indruk op my kindergemoed gemaak.) Ek onthou hoe bly ek was toe my ma deur die hof onskuldig verklaar is. Sy was ’n dapper heldin! Jesus het my gebed verhoor.

Net so was daar verskeie ander geleenthede in my lewe waar ek opnuut onderneem het om Hom te volg. My geliefde oupa aan moederskant was ook vir my ’n voorbeeld van ’n opregte, dienende gelowige. 

Hoe beïnvloed jou geloof jou skryfwerk? 

Ek bid en vra dat die Heilige Gees my lei. Dat hoewel ék die storie neerpen, God dit vir my sal gee. Ek stel myself dus beskikbaar vir Hom om deur my te werk. Ek probeer om verantwoordbaar te skryf met die wete dat Hy bewus is van elke woord. Dan vra ek ook altyd dat Hy my sal help om Hom deur en in my skryfwerk te eer. Hy het aan my die talent gegee. Dit is vir my so spesiaal dat Hy, die groot Outeur, aan my ’n vonkie van sy skeppingskrag en verbeelding gegee het. Dis vir my heerlik om dit in my skryfwerk uit te leef.

Is daar enige boodskap wat jy hoop lesers uit Toevlug sal neem?

God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet. Daar is altyd maar altyd hoop! Die sleg van die hier en nou gaan weldra verby en dan wag die met vreugde gevulde ewige hiernamaals in God se teenwoordigheid op gelowiges.

Het jy enige lewenstorms beleef tydens die skryf van Toevlug, en indien wel, hoe het dit die uitkoms van jou boek beïnvloed?

Ek het Toevlug tydens ’n ontsettend besige werkstyd geskryf. Ek kon slegs laat saans en vroeg soggens skryf. My ma, ’n demensielyer, is kort voor dit oorlede. Ek het haar vir vyf en ’n half jaar versorg en skielik was sy, wat my pap ou babatjie geword het, net weg en my arms leeg. Boonop het ek kort ná my ma se dood ook ’n hartsboetie en geliefde oom aan die dood afgestaan. Daar was ook ander persoonlike uitdagings wat dit vir my ’n baie moeilike tydperk in my lewe gemaak het. Ek het lewensmoeg en geïsoleerd gevoel, en het soms ver ente gaan stap en dan hardop met die Here gepraat en na Bybelversvoorlesings geluister. Wanneer ek geskryf het, het die woorde onkeerbaar uit my binneste gevloei. Dit was soos ’n damwal wat gebreek het. Ek het al die trauma en opgehoopte rousmart, verlies en hartseer uit my geskryf. So kon ek iets positiefs skep uit my minder goeie ervaringe en ander daarmee seën. Toe ek die manuskrip voltooi, was dit vir my ’n aha!-oomblik, want ek het toe gewéét waarom ek deur sekere dinge in my lewe moes werk. Indien ek dit nie gedoen het nie, sou ek nooit die diepte en insig kon bereik het om ’n boek soos Toevlug te skryf nie.

Hoe kry jy dit reg om oor moeilike onderwerpe uit ’n Christelike oogpunt te skryf, veral omdat ons mense God soms blameer vir die seer in ons lewens?

Dit kom vir my natuurlik om na God te hardloop wanneer die ou lewe druk. Ek dink nie eens twee keer daaroor nie. Dis vir my ondenkbaar dat enige mens die uitdagings in sy of haar lewe sonder Hom sal wil probeer aanpak. Hoe trotseer jy lewenstorme wanneer jy nie tot Hom bid en deur Hom bemoedig word nie? Die vrede wat Hy jou gee, gaan inderdaad alle verstand te bowe. Daarmee saam kom vertroue en uiteindelik aanvaarding en berusting.

Jou boek is vol Bybelverse. Doen jy intense Bybelstudie om jou tema te versterk?

Ek was voorheen verbonde aan ’n privaat Christenskool waar die memorisering van Bybelverse ’n verpligte prioriteit was. Ek kan dit nie genoeg aanbeveel nie! Hierdie verse skiet jou te binne wanneer jy dit die nodigste het. So, al is daar nie eens ’n Bybel naby nie, word jy voortdurend herinner aan wat die Woord oor jou omstandighede sê en kan jy God aan sy beloftes herinner en onthou om ook vir Hom dankie te sê. Soos en wanneer ek skryf, kom Bybelverse in my gedagtes op. Ek soek ook verse met sleutelwoorde op om te pas by die beginsel wat ek wil tuisbring of die tema wat ek voorhou.

Wat is jou gunstelingteksvers? En hoe het dit jou skryfwerk beïnvloed?

“My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ’n Koning; my tong is die pen van ’n vaardige skrywer.” Psalm 45:2 herinner my altyd aan my roeping as skrywer en dat Hy my toerus. Ek skryf om Hom te eer en verheerlik en só mense se harte vir Hom aan te raak. Dit is vir my deel van die groot opdrag om dissipels te maak.

In Toevlug lig jy nie net geloofstryd uit nie, maar jy raak ook geweld (deur ’n burgeroorlog en gesinsgeweld) as tema aan. Verduidelik asseblief?

Ons almal ken pyn en seer en verlies, en van hoekom en waarom vra. Ek wou daardie belewenis met ’n eg Afrika-agtergrond kombineer. Nie net omdat ek dink Afrika is verbluffend ryk aan stories wat wag om vertel te word nie, maar ook omdat ek die aandag wou vestig op doodgewone, goeie mense wat aan geweldenaars uitgelewer is. Hoe die wêreld dikwels maar net wegkyk terwyl miljoene ontheem of gemartel, verkrag en/of doodgemaak word. Hulle is nie maar net gesiglose hordes nie. Dis mense met hulle eie lief en leed, met drome en ideale, gesinne. En omdat ek en my sibbe ook in ons vroeë kinderdae deur ’n gewelddadige pa mishandel is, wou ek ook deur middel van Toevlug bewusmaking skep dat geweldenaars dikwels ’n skrikbewind in die nukleus van hulle eie gesinne voer.

Hoeveel van jouself is in jou karakters?

Lesers laat weet dat hulle die verhaal rou en eerlik vind. Daar is tonele in die boek wat baie soortgelyk is aan wat ek self beleef het. Terugskouend besef ek dat ek van my eie trauma, leed en seer ook in van my karakters ingeskryf het. Maar  dit sal lesers aangryp omdat verlies en pyn so universeel is en ons almal daarmee kan identifiseer omdat ons dit al in mindere of meerdere mate self ervaar of ander daardeur sien gaan het.

Watter karakter is jou gunsteling? Hoekom?

Dingetjie is my gunstelingkarakter. Sy het haarself geskryf. As mensch was sy ewe skielik net lewensgroot dáár en het haar sê gesê soos net sý kon. En dit nogal in AfriKaaps! Dit voel nie asof ek haar uitgedink het nie. Ek het haar beslis nie vooraf beplan nie. Sy het haarself bloot net aangemeld en haar eie ding gedoen. Ek kon skaars byhou om haar woorde en verhaal neer te pen. Sy wou uit en sy wou gehoor gewees het.

Sy is feilbaar mens en het onmeetbare smart en trauma beleef. Tog het haar hart pure goud gebly. Sy is opreg, eerlik, deernisvol en pynlik reguit. ’n Mens loop nie draaie met Dingetjie nie. Sy is lankal verby voorgee. Haar geloof hou haar staande, want sy weet waar haar hulp vandaan kom. Sy vergestalt vir my die mens se innerlike dryfkrag om te oorleef. Om sin te maak van wat met haar gebeur het en dan daardie ervaring en lewenskennis in te span om ander te help wat ook deur rousmart, verlies en teleurstellings moet werk. Ek bewonder mense wat hulle pyn kan omskep in iets wat heling vir ander bring.

’n Leser, Jacques le Roux, het weer vir Petro/Mara baie geniet. Hy skryf: “Sy is ’n volronde karakter. Ek het my ingeleef in haar emosionele belewenisse van kindsbeen af. Sy is outentiek, en reageer soos gewone mense as ons deur die lewe rondgeklap word.”

Van watter karakter hou jy die minste? Hoekom?

Ek hou die minste van Eeyore, want ’n oënskynlik onskuldige sagte speelding wat veronderstel was om aan ’n kind vertroosting te bied, word, soos die Satan, ’n aanklaer, folteraar en leuenaar. Dit beeld daardie meedoënlose innerlike stemmetjie uit wat kwesbare mense so dikwels aanval en hulle selfbeeld verder aftakel. Dis daardie stemmetjie wat vertel jy is niks werd nie, jy is nie waardig nie, en jy het dit óf veroorsaak óf daarvoor gesoek; dis jou skuld. Dit is nié die stem van ons Advokaat nié.

Is daar ’n karakter van wie jy moeilik afskeid geneem het?

Ek dink elke karakter in Toevlug verdien ’n boek van hulle eie. Elkeen se lewensverhaal het die potensiaal om verder ontwikkel te word. Dalk omdat ek hulle as gewone, kwesbare persone uitgebeeld het – mense wat lief en leed deurgemaak het en ook foute begaan het. Maar tog is daar hoop. Elkeen het maar ’n eie pad met die Here gestap.

Hoe is die terugvoer op die boek tot dusver?

Baie positief! Rina Coetzee Gouws skryf op Facebook: “Kragtige en unieke karakters vul hierdie heerlike verhaal wat werklik in die mooiste taal geskryf is. Geensins is die boek ooit prekerig of langdradig nie – dit is ’n kragtige boek wat heerlik lees en beslis jou denke prikkel om dieper te delf in geloofskwessies.” Amanda Claassens skryf: “Die storie boei enduit, maar dit is veral die gebede wat woordeliks opgeteken word wat my telkens aan die hart geruk het. Dit is Woordgefundeer en spreek van opstandige verset en soeke na sin aan die een kant, en ernstige intree vir die redding en genesing van trauma aan die ander kant. ... ’n Verskeidenheid randfigure, elkeen met ’n lewensverhaal van val en oorwinning, vul die storielyn aan en maak daarvan ’n besondere leeservaring.”

Lees ook:

Wanneer jy deur God verlaat voel ... Toevlug deur Louise Viljoen: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top