Persverklaring: Standard Bank Innibos Kunstefees – Samesyn en inspirasie slyp skrywers op Kaapsehoop

  • 1

Gielie Hoffmann, Riana Scheepers, Nicol Stassen en Annemarie van der Walt (foto: verskaf)

Deelnemers aan die Standard Bank Innibos Kunstefees se skrywerslypskool wat verlede week op Kaapsehoop gehou is, is dit eens dat hul penne na dese propvol ink is.

Tien voornemende en reeds gepubliseerde skrywers het die slypskool bygewoon wat deur Riana Scheepers aangebied is. Die slypskool is moontlik gemaak danksy ’n ruim borgskap van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi).

Van die onderwerpe wat getakel is, sluit in die taksering van tekste in uiteenlopende genres, fokalisering van karakters, die uitdagings van vertaling en om ’n verhaal in slegs ses woorde te vertel.

Scheepers sê: “Dit was ’n uitsonderlike groep vroue. Hoe lekker was dit nie om hulle te sien ontluik nie.” Sy het die week se “Hertzogprys” toegeken aan Lili van der Zee, wat tekste gelaai met patos gelewer het.

Die slypskool is Vrydag afgesluit deur twee sprekers wat die praktiese kante van die skryfavontuur belig het. Nicol Stassen, eienaar van Protea Boekhuis, het uitgestippel waarna uitgewers op die uitkyk is wanneer ’n manuskrip op die tafel land en hoe die publikasieproses beloop. Gielie Hoffmann, lewensafrigter van Pretoria, het op sy beurt die klem laat val op onder meer die veerkragtigheid en dissipline wat skrywers aan die dag moet lê.

Annemarie van der Walt, organiseerder van die woordprogram van Innibos, sê die skryftalent onder die deelnemers was “verbluffend goed”. “Daarby is die ondersteuning van NATi om die kunste in Afrikaans ’n hupstoot te gee in hierdie uitdagende tye, werklik betekenisvol.”  

Lees ook:

Persverklaring: Innibos 2021 – skrywerslypskool deur Riana Scheepers op Kaapsehoop

  • 1

Kommentaar

  • Trienke Laurie

    Goed gedaan, julle werkspan en Nicol. Afrikaans en om te skryf as terapie... en dan nog wonderlik as dit publiseerbaar is

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top