Persverklaring: Innibos 2021 – skrywerslypskool deur Riana Scheepers op Kaapsehoop

  • 0

Riana Scheepers (foto: Leonie Scholtz)

Skrywers wat hul penne wil slyp onder die vaardige leiding van die bekroonde Afrikaanse skrywer dr. Riana Scheepers, kan nou inskryf vir ’n skrywerslypskool van 4 tot 8 Oktober.

Die slypskool is moontlik gemaak deur ’n borgskap van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi).

Die slypskool word gehou op Kaapsehoop, ’n klein bergdorp sowat 25 kilometer van Mbombela, en daar is plek vir slegs tien kursusgangers. Voornemende deelnemers hoef nie ’n gepubliseerde skrywer te wees nie. 

Die slypskool kos R2 000,00 per persoon. Kursusgangers moet hul eie akkommodasie bespreek en betaal vir die week, terwyl middag- en aandetes verskaf sal word.

Tydens die vier dag slypskool deur Scheepers sal kursusgangers onder meer bekendgestel word aan voortreflike tekste in ’n groot verskeidenheid belletristiese en joernalistieke genres en die kritiese beoordeling van hierdie tekste. Die fokus sal val op die verbetering van die skryfkuns van kursusgangers en om kreatiewe denke te stimuleer.

“Hierdie kursus is dus nie slegs vir die literêr-begaafde persoon nie, maar vir almal wat betower word deur die wonderwêreld van woorde,” aldus Scheepers.

Die kursus sluit op Vrydag, 8 Oktober, af met ’n praatjie deur dr. Nicol Stassen, eienaar van Protea Boekhuis, oor onder meer die vereistes en werkswyse van uitgewershuise. Gielie Hoffman, bekende lewensafrigter, sal op sy beurt lig werp op die lewensvaardighede wat geslyp kan word om jou skrywersdoel te bereik.

Bespreek jou plek so gou moontlik by Annemarie van der Walt, koördineerder van die woordprogram van Innibos Kunstefees, by  annemarie@innibos.co.za. Slegs die eerste tien inskrywers wat die kursus vereffen, word aanvaar.  

Lees ook:

Persverklaring: Innibos 2021 – Kom na i’langa en Gaan Bos inniMall!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top