Persverklaring: Innibos 2021 – Kom na i’langa en Gaan Bos inniMall!

  • 0

Maak los die Covid-knoop uit jou feesbolla, want in September is dit Gaan Bos inniMall saam met Standard Bank Innibos Kunstefees en i’langa-winkelsentrum in Mbombela.

Feestelikhede skop af op Donderdag, 23 September, tot Saterdag, 25 September, en daar is musiekopvoerings, toneelstukke, boekbekendstellings, komedie, kuns en nog allerlei verrassings.

Al die aanbiedings sal streng volgens Covid-19-regulasies wees, dus sal dié wat bos wil gaan nie gras onder die voete moet groei om kaartjies in die hande te kry nie. Sosiale afstand, die dra van maskers en die aantal persone per lokaal sal deurlopend toegepas word.

Henri Gouws, bemarkingsbestuurder van i’langa Mall sê dié fees-in-die-kleine is onder meer om ná ’n moeilike jaar ’n geleentheid te skep om die stad, die Laeveld, die winkelhuurdesr en kuns en kultuur ’n hupstoot te gee. “Die geriewe in die winkelsentrum maak dit moontlik om iets uniek aan te bied, en Standard Bank Innibos gebruik hierdie ‘verhoog’ met opwindende aanbiedings.”

Volgens Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Standard Bank Innibos, is dit ’n groot voorreg om kragte te smee met die span van i’langa om Gaan Bos inniMall aan te bied. “Ons bring as’t ware teater, kuns en musiek terug na markplein. Dit is ’n riem onder die hart om weer aan kunstenaars ’n kans te gee om op te tree voor ’n gehoor, en ons gaan voluit binne die raamwerk wat daar gestel is.”

Elvis Blue (foto: Lurina Fourie)

Van die hoogtepunte op die program is die musiekkonserte elke aand by die Piazza en die ingang na die vermaakarena, die entrance@entertainment. Majozi, Ross Learmonth van Prime Circle en Elvis Blue tree by laasgenoemde op. Mense moet sitplek bespreek by die onderskeie restaurante (Spur, RoccoMamas, Mediterranean en Salsa) in dié area.

By die Piazza tree Loki Rothman, Vivid Paradox, Wanda Zonke, Coenie Naudé en Refentse op.

Wanda Zonke (foto verskaf)

Die Korona Kielie-konserte met komedie van die boonste rak is nog ’n hoogtepunt. Frank Opperman is te sien in Steeds donkie en Dowwe Dolla, wat haar beplande swanesang verlede jaar moes uitstel, kom sê ’n Laeveldse koebaai. Wynand von Vollenstee is te sien in Geen salf te smeer nie waarin hy ieder en elk se keelvolheid verwoord, en Schalk Bezuidenhout kan gehoor word in Schalk sing sleg.

Toneelliefhebbers wat destyds die Innibos-vertoning van teater-doyenne Sandra Prinsloo misgeloop het in Oskar en die pienk tannie moet sorg dat hulle beslis hierdie vertoning bywoon.

Lizz Meiring is die gasvrou by ’n damesoggend, boekbekendstellings van plaaslike skrywers sowel as dié van Marinda Engelbrecht se Marinda kook! en Susan Coetzer se Die uil in die ysbos sal plaasvind en ’n kunsuitstalling onder kuratorskap van John Anthony Boerma sal die winkelsentrum ’n anderwêreldse atmosfeer gee.

Die volledige program is by innibos.co.za.

Klik hier om die program in PDF-formaat af te laai.

Alle kaartjies vir die vertonings is by i’langa se sentrumbestuurkantoor by Mugg & Bean-ingang te koop.

Lees ook:

Persverklaring: Innibos 2021 – skrywerslypskool deur Riana Scheepers op Kaapsehoop

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top