Stam: ’n onderhoud met Louw Venter

  • 0

Louw Venter praat met Naomi Meyer oor die film Stam.

Louw, baie geluk met Stam. Die film het ’n alternatiewe, indie-gevoel en ek kan sien dis vervaardig deur dieselfde mense wat The wound vervaardig het. Wie is julle, die mense agter die film?

Louw Venter: Wel, ek is skrywer, regisseur en akteur. My vervaardigers is Elias Ribeiro en Cait Pansegrouw. Hulle is verstommende mense. Cait verskaf tussendeur die onderhoudsvrae en -antwoorde inligting oor Urucu Media:

 

Die film begin met drie groepe uiteenlopende mense se stories en aanvanklik weet mens nie hoe die mense se paaie sal kruis of nie sal kruis nie. Wie was die inspirasie vir die karakters? En wat was eerste: die plot/intrige, of die mense wat betrokke is daarby?

Stam het begin met ’n idee vir ’n storie. Ek was betrokke met geldinsameling vir ’n organisasie wat hawelose straatkinders versorg het in die middestad van Kaapstad. Dit was ’n skokkende en ontnugterende ervaring en ek het begin wonder oor hoe dit sou voel om een van hierdie kinders te probeer wegraap van die pyn en die misbruik. Wat dit sou behels. En of daar enige waarde in so ’n daad sou wees. Mettertyd het die ander stories en karakters bygekom. Hulle is almal seker op een of ander manier geïnspireer deur mense in my eie lewe maar op ’n ander vlak het ek ook baie tyd in die strate van die stad gespandeer en mense gaan soek wat my kon vertel wie my karakters regtig is, en waaroor hulle lewens gaan. Haweloses, bendelede, verpleegsters, polisiemanne, rommelsmouse ens. Dit was ’n proses wat ’n onbekende wêreld aan my ontbloot het. Dit maak ’n groot deel uit van wat Stam oor gaan. Die manier waarop ander mense se lewens deel uitmaak van ons s’n, met of sonder ons bewustheid daarvan.

Waaroor, as jy kan probeer opsom, handel Stam? En dalk kan jy iets van die titel verklap.

Die titel som dit nogal op. Dit suggereer dat ons mense deel van ’n stam is. Lede van ’n stam kan wel uiteenlopende idees en ambisies hê, maar is steeds deel van iets oorkoepelend. In Afrikaans dien die woord stam ook as ’n woordvorm wat as basis dien vir alle ander woorde. Met ander woorde, daar is fundamentele aspekte van menswees wat dinge soos ras en klas troef. Die film vra bloot of mense onafhanklik van ander, en sonder nagevolge, vrye wil kan beoefen.

Stam gaan op natuurlike wyse om met kwessies wat so deel is van die Suid-Afrikaanse samelewing dat ons dit nie eens meer raaksien nie: haweloosheid, dwelms, geweld. Daar bestaan baie stereotiepe idees hieromtrent in hierdie land – wie wat doen. Hoe is mens eerlik, en onstereotiperend, as mens ’n film maak in vandag se samelewing? Hoe vertel mens ’n storie wat getrou is aan jou waarheid sonder dat dit net oor jou handel?

Vir my was die kwessie van stereotipes ’n uitsonderlike doring in die vlees gewees. Ek is after all ’n wit middeljarige Afrikaanssprekende man. Die sleutel vir my was om opreg nuuskierig te bly oor wat die "second narrative" van elke karakter was. Daarmee bedoel ek natuurlik die groter filosofiese dryfveer van daardie karakter se storie. My eerste les in hierdie verband was die kortfilm Leemte wat ek ter voorbereiding van Stam gemaak het. Dit was die verhaal van ’n gevangene wat vrygelaat word en terugkeer na sy gemeenskap in Hangberg buite Houtbaai. Ek het tyd gaan deurbring saam met bendelede en voormalige gevangenes in Hangberg en probeer uitvind waaroor so ’n terugkeer werklik gaan. Die verrassende gevolg was dat ’n terugkeer na "vryheid" inderdaad op sigself traumaties is vanweë ’n klomp persoonlike faktore. Ek glo ’n skrywer moet toelaat om deur die werklikheid geskool te word en van daar af kreatief te werk.

Stam sou deel gewees het van die Silwerskermfees vanjaar, en dit wás ook - maar op ’n heel ander manier as gewoonlik. Dis ook van hierdie week af op BoxOffice beskikbaar. En wat die toekoms is van Stam se fisiese uitreiking? Indien daar so iets sal bestaan?

Die film is beskikbaar op BoxOffice vir DStv-intekenaars, maar sal van middel-Desember vir enigeen beskikbaar wees op BoxOffice se webblad. Wat kan ’n mense sê? Die film is gemaak as ’n grootskermfliek, maar ons lewe in die tyd van Covid. Kyk asseblief die fliek. As jy hou van uitdagende kuns, as jy lief is vir film, as jy belangstel in die evolusie van Afrikaans, kyk asseblief die fliek.

Soos wat temas soos by een van die vorige vrae deel is van die samelewing, is COVID-19 ook nou deel van die wêreld. Hoe beïnvloed dit die stories wat vertel word, hoe dit vervaardig word en wat normaal is deesdae? Wat is die uitdagings en wat is die positiewe gevolge?

Die pandemie maak ons meer bewus van beide ons beperkings en ons vermoë om aan te pas. Tans sien ek natuurlik baie aanpassings aan die manier waarop mense te werk gaan op ’n filmstel – maskers, handseep en dies meer. Maar in terme van Covid as ’n daadwerklike aspek van moderne lewe, nog min. Die beste vervaardigers probeer nog verbete om stories te vertel vanuit ’n pre-Covid-wêreld. Interessant genoeg verleen die pandemie spesifieke fokus en belang aan allerlei temas. Intimiteit, verbintenisse, globalisering, die tweestryd tussen vooruitgang en die natuur, die weerbaarheid van die mens ens word alles skielik uiters relevant. Stam spreek ook juis heel party van hierdie temas aan. Soos ek hier sit en jou vrae beantwoord, is Donald Trump en agt of nege van sy binnekring siek met COVID-19; ten spyte van al die geld en mag in die wêreld word almal verenig deur nie-onderhandelbare feite en omstandighede. Ons verskille is soms bloot sosiale konstruksies.

Stam het ’n toekenning gekry by die Durbanse Internasionale Filmfees. Wil jy hiervan vertel?

Ek koester ’n droom vir Afrikaanse film wat op sy eie twee bene kan staan op die wêreldverhoog. Onverbonde aan die vrees oor teer punte vir plaaslike gehore. Afrikaanse film wat broos, dapper en modern is op dieselfde manier as onafhanklike kunsfilms soos dié vanuit Suid-Korea, Suid-Amerika en Europa. Filmmakers soos Oliver Hermanus, Christiaan Olwagen, Etienne Kallos en ’n handjievol ander baan reeds die weg. In daardie konteks is dit vir my uiters bemoedigend dat Stam in Durban bekroon is. Dis natuurlik vir my op ’n persoonlike vlak ook baie bevredigend.

Wat is julle volgende projek?

Cait vertoon Urucu Media se planne tussendeur die onderhousvrae en -antwoorde. Ek werk aan my volgende twee films, ’n paar teaterstukke, en skiet aan ’n verskeidenheid van produksies. Ek is ook besig om ’n teatermaatskappy op die been te bring.

 

Lees ook:

Afrikaanse rolprent Stam verower internasionale toekenning

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top