Afrikaanse rolprent Stam verower internasionale toekenning

  • 0

Louw Venter

Die rolprent Stam, geskryf en geregisseer deur Louw Venter, is onlangs as die Beste Suid-Afrikaanse Rolprent by die Durban Internasionale Filmfees aangewys. Stam was een van vanjaar se Silwerskermfees-rolprente, en is tans op DStv se BoxOffice te sien .

Stam volg die verweefde lewens van vyf uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar uur in die middestad van Kaapstad en verken ’n verskeidenheid verbintenisse en verhoudings wat baie verder as bekendheid, die ekonomie, geslag, ras of sosiale aansien strek. Die stad met sy besondere soort gebondenheid, verval, towerkrag, gentrifikasie, globalisering en herontwikkeling speel ook ’n sentrale rol in die film.

Leon van Nierop sê in sy oorsig van vanjaar se Silwerskermfees op LitNet dat Stam ’n “verbluffende verrassing is wat handel oor hoe dit voel om vandag ’n Afrikaner in ’n gewelddeurdrenkte samelewing te wees. Dit bied ’n ruiker mense waarvan sommige stinkafrikaners is, en ander madeliefies, rose en kakiebosse. Louw Venter spring sonder ’n valskerm van die bergspits van menswees af.”

Die KKNK gaan vanaf 7 Oktober gasheer speel vir ’n reeks gratis webinare om te praat oor kwessies wat in die rolprent ontgin word, insluitend die trauma wat versorgers ervaar, die wydverspreide probleem van geslaggebaseerde geweld (GGG) in Suid-Afrika en die ingewikkelde verhouding tussen verbintenis en verslawing. Louw Venter, die regisseur van Stam, van die akteurs wat in die film speel, soos Gideon Lombard, Inge Beckman en Jill Levenberg, asook verskeie mediese kundiges en aktiviste sal op die paneel wees.

Louw Venter vertel meer.

Vertel asseblief meer oor Stam – waaroor handel dit?

Stam is ’n "multiplot"-film, soos Babel en Magnolia (PT Anderson en Innaritu onderskeidelik). Maar in die geval van Stam speel die gebeure in ’n baie klein area af – ’n paar nabygeleë areas in Kaapstad – en oor die verloop van ’n enkele aand en oggend. Die kind van ’n hawelose en dwelmverslaafde jong vrou verdwaal in die stad op soek na sy ma en trek onopsetlik ’n groep uiteenlopende vreemdelinge in ’n maalkolk van onafwendbare gebeure in.

Waaroor die film uiteindelik handel, is die onafwendbare maniere waarop ons in ons samelewing aan mekaar verbind is ten spyte van oënskynlike verskille. Verbintenisse wat uitspeel teen' n agtergrond van emosies, moraliteit, kultuur, taal, sosiale stand en allerlei ander faktore wat onderskeide tussen mense onderstreep.

Stam is onlangs as die Beste Suid-Afrikaanse Rolprent by die Durban Internasionale Filmfees aangewys. Wat beteken hierdie toekenning vir jou? Is dit belangrik vir kunstenaars om erkenning vir hul werk te kry?

Dit is belangrik vir my. Ek wens ek kon eerlik sê dit is nie, maar dit sou ’n leuen wees. Skryf en regisseer is ontsettend eensame werk. Dit vereis uiterste geloof in ’n skeppende impuls. In hierdie geval moes ek die impuls vir meer as ’n dekade versorg en ontwikkel. Dit is uiters bevredigend om dit op hierdie manier te kan deel. Om gesien te word. Die ander werklikheid is ook dat ’n baie groot deel van filmmaak eenvoudig bedelary is. Films kos baie geld. Dit help om te bedel as jy ’n lourierblaar of twee op jou kop ronddra.

Dit is merkwaardig dat ’n Afrikaanse rolprent so goed vaar op ’n internasionale fees – waarom het jy besluit om hierdie verhaal in Afrikaans te vertel?

Ek werk al baie jare in Afrikaanse film. En ek is gereeld gefrustreerd omdat ek voel dat dit wat ons skep, gereeld gebuk gaan onder baie eng riglyne. Riglyne wat daargestel is om te definieer wat mag en mag nie vir ’n Afrikaanse gehoor aangebied word nie. Dit voel altyd vir my of daar groot angstigheid onder beleggers in Afrikaanse film bestaan. Besluite word dan uit vrees geneem eerder as uit liefde vir skepping.

Die Europeërs, in teenstelling hiermee, het die vryheid om films te befonds bloot omdat die idees meriete het. Ek het dus begin droom oor Afrikaanse films as "foreign offerings". Hoekom nie? Afrikaans vir die wêreld. Ons stories is ryk, fassinerend en ook universeel, so kom ons maak films vir die wêreld en hou op bang wees om sensitiewe kykers te ontstel. Film moet ons júis ontstel. Maar ook ontroer en laat lag en laat smag en laat dink.

Stam is in elk geval ’n internasionale co-production met Nederland, so dinge beweeg al klaar in die regte rigting. In daai konteks beteken erkenning op ’n internasionale vlak vir my baie.

Louw, jy is verantwoordelik vir die teks van die rolprent. Van waar die inspirasie agter die rolprent?

Ek het in 2009 geldinsameling gedoen vir ’n organisasie by name van die Mylife Foundation. Dit het my blootgestel aan die wrede en tog baie menslike lewe van hawelose straatkinders in Kaapstad. Van daar het die eerste iterasie van ’n kind verlore op die strate gekom. Die was die begin van ’n ontdekkingstog wat my na ongelooflike plekke toe gevat het. Onder brûe, in plakkerskampe, tronke, hospitale en howe, en gesprekke met talle mense wat met uiterste vrygewigheid en kwesbaarheid hulle lewens aan my ontbloot het.

Hoe het jy die proses benader om die draaiboek te skep?

My proses begin met impuls – iets wat skree om vertel te word. Ek vertrou daardie impuls. Ek bou van daar af op. Omdat hierdie storie verskillende karakters en hulle verhale inmekaar vleg, was dit belangrik om die tydverloop en storielogika ferm onder beheer te hou.

Ek het dus die eerste weergawe van die film in Excel "spreadsheets" uitgeplot sodat ek presies kon sien waar elke karakter op enige tyd in die storie is (en in verhouding tot mekaar). Van daar af is dit maar die gewone swoeg-en-sweet-proses. Sinopsis, beatsheet, treatment, teks en ... herhaal.

Ek was ook in ’n posisie waar ek uiters baie terugvoer gekry het van my uitsonderlike vervaardigers hier in Suid-Afrika, Elias Ribeiro en Cait Pansegrouw, maar ook van ’n paneel vervaardigers wat deel was van die EAVE-werkswinkel, ’n paar teksredigeerders beide hier en in Frankryk en Amerika, sowel as' n handjievol plaaslike skrywers en akteurs.

Die teks was ook gekeur om deel uit te maak van Le Atelier by die Cannes-filmfees en het daar die geleentheid gehad om direkte terugvoer te kry van ’n groot klomp vervaardigers en verspreiders van regoor die wêreld. Dit is uitmergelend vir ’n hardkoppige skrywer soos ek om kritiek positief aan te wend, maar ek het myself kwesbaar gemaak en probeer hoor wat regtig aan my gesê was.

Waarom het jy Kaapstad as agtergrond (“backdrop”) gekies?

Dit is waar ek my bevind. Dit is ’n wêreld wat ek kan ondersoek, in diepte en uit persoonlike ervaring. Ek het gevoel ek kan mees “authentic” wees met die uitbeelding van ’n wêreld wat ek ken. Dis beide uiters belangrik én soort van irrelevant waar die storie afspeel.

Nie net het jy die teks geskryf nie, jy was ook verantwoordelik vir die regie. Was dit nie uitdagend om albei rolle aan te pak nie? Of was dit juis voordelig so?

Ek glo dit was vir my voordelig. Die groot ironie is dat ek jare aan die teks spandeer het en tog baie vryheid aan die akteurs gegee het om die taal te interpreteer. Ek het ’n proses gebruik wat ek beskou as ’n tipe dinamiese vertaling. Ek het die akteurs gevra om die dialoog in Engels voor te berei en dit dan vir die eerste keer uit hulle eie monde in Afrikaans gehoor op die vloer.

Van daar het ek natuurlik verstellings gemaak, maar die oorkoepellende effek is een van eerlikheid en realisme. Die akteurs self mag dalk nie eens weet presies wat uit hul mond gaan kom nie, en dit forseer haar of hom om uiters gefokus te wees in daardie oomblik. Ons was egter uiters goed voorbereid gewees.

De teks was baie versigtig en eerbiedig hanteer, maar daar is ’n speling geskep, beweegruimte vir my, die akteurs en die kamera om kreatiewe keuses in die oomblik te maak. Ek dink dit sou moeilik wees om hierdie metode te gebruik as ek nie so intiem betrokke was met die skep van die draaiboek nie.

Wat was die uitdagings verbonde aan die verfilmingsproses?

Die grootste uitdaging was, soos altyd, tyd. Ons het vir 29 dae aaneen geskiet. Ek sou verkies het om ’n paar weke langer te geskiet het. Om meer te speel en minder te fokus op haalbare teikens.

Die akteurs wat die karakters vertolk is ’n belangrike komponent van die sukses van ’n rolprent - hoe is daar op die akteurs in Stam besluit?

Ek ken die meeste van die spelers en het min oudisies gedoen. Ek het egter redelik uitmergelende "screen tests" gedoen. Dit was nie regtig oudisies nie, maar meer soos werkswinkels. Ek wou eintlik net vasstel hoe die akteurs sou reageer op my werksmetode.

Oor die algemeen word toneelspel in ons films redelik tegnies aangepak. Die akteur moet sekere optredes en bewegings tot verveling herhaal om kontinuïteit oor ’n verskeidenheid van skote te verseker. Ek het egter die tradisionele wyd-, mid- en nabyskoot-formule by die venster uitgegooi en ’n meer organiese perspektief met die enkele kamera probeer skep.

Die akteurs was almal kunstenaars wat bereid was om skeppend van een "take" na die volgende te werk. Ek verkies om met kunstenaars te werk eerder as met tegnici – en dit tel vir almal in die span, van die akteurs tot die grimeringkunstenaars en die caterers.

Vertel asseblief meer oor die temas wat in die rolprent aangespreek word, en waarom daar op hierdie temas besluit is?

Liefde. Die kompleksiteit van liefde word ondersoek op ’n verskeidenheid van maniere. Liefde is mooi, wreed, universeel, tydelik, verbluffend, romanties, fundamenteel.

Verantwoordelikheid. Die mense in die storie worstel almal met die konsep van verantwoordelikheid. Almal is noodgedwonge verantwoordelik vir iemand of iets. Dit is die worsteling om daardie verantwoordelik te aanvaar of te verwerp wat karakters dryf. Verantwoordelikheid is as't ware die karakter se persoonlike verhouding met sy of haar waardes.

Verbintenis. Hierdie tema is sentraal in Stam. In ’n "globalised" wêreld is ons verbintenisse aan mekaar onvermybaar. Van virusse tot kultuurverskynsels en die ekonomie. Niemand leef in isolasie nie, en tog lewe ons met ’n tipe "cognitive dissonance" waar ons steeds ons verbintenis tot mekaar ontken. Veral in ’n posttraumatiese samelewing soos ons s’n. Hierdie storie is ’n eksperiment wat onverwagse verbintenisse na die oppervlak bring om te sien wat gebeur wanneer individue hulself buite hulle lugstroom bevind.

Wat is die oorkoepelende boodskap van hierdie rolprent?

Daar is nie regtig ’n "boodskap" nie, maar as jy my forseer sal ek sê: Trap versigtig, daar is ander wesens om jou.

  • Foto's: verskaf
  • Lees ook:

Stam: ’n onderhoud met Louw Venter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top