kykNET Silwerskermfees 2020: Leon van Nierop se oorsig

  • 1

Foto van Leon van Nierop: LitNet

Alles is anders. Moderne aanlyn formate, minder oorspronklike films (veral in Afrikaans) en hoe ons aanpas in ons nuwe fliekpaleise: jou studeerkamer of jou TV-kamer sonder, noodwendig, die luukse van (deelnemende) toeskouers. Gaan dit die wyse verander waarop filmmakers van nou af stories kan uitdink of selfs gaan maak, en gaan rolprente noodwendig "verklein"? Maar die tergendste vraag: Waar gaan veral Afrikaanse filmmakers fondse kry om die beelde in hul koppe na ’n silwerskerm te verplaas en nie net na ’n beperkende TV-skerm nie?

Dit is temas wat in die webinaar-Silwerskermfees onder die loep geneem word. Dit neem enkele minute alvorens ’n mens gewoond raak aan die huidige Silwerskermfeesformaat. Maar uiteindelik skakel jy in en moet die organiseerders geloof word vir hul dapperheid om wel vanjaar ’n fees in dié formaat te hou.

Die fees het afgeskop met ’n bemoedigende boodskap van Karen Meiring, hoof van kykNET, wat belowe dat die fees volgende jaar weer by die see gaan plaasvind, hopelik met meer oorspronklike films in vryer tye! ’n Mens mis egter die interaksie met ander rolspelers, die wisselwerking en die industrie-geselsies, maar kykers kon steeds deelneem, al is dit ook in hul eie koppe, aan sommige webinare.

Net ’n prikkelrigheid: Alhoewel Schalk Bezuidenhout ’n uitstekende komediant is, het sy komiese sketse aan die begin nie heeltemal by die fees ingepas nie, en was dit ook nie so snaaks nie. Maar nou ja, Bezuidenhout is ’n aangeleerde smaak.

’n Lekker hoogtepunt volg hierna: John Trengove, wat reeds 28 internasionale toekennings vir sy veelbesproke film Inxeba (The wound, 2018) gekry het, se iBhokhwe (The goat) bewys dat ’n kortfilm gemaak kan word sonder geld maar met baie deursettingsvermoë, rateltaaiheid (’n wagwoord in die filmindustrie) en talent.

Na die kortfilm het ’n gesprek met die filmmaker gevolg wat ’n bietjie te lank geduur het, met die gevolg dat hy later stellings moes herhaal om die 30 minute te vul. ’n Mens wil voorstel dat sulke onderhoude (juis sonder ’n gehoordeelname waar vrae gevra kan word) verkort moet word na 20 minute.

Amy Jephta het die tyd goed gevul, veral met ’n raakvat-stelling oor ’n idee/storie of selfs ’n film: “Hardloop daarvan weg en sien of dit jou jaag!” Dit som filmmaak en storievertel uitmuntend op! Daarby het Trengove aanklank gevind, veral in ag genome sy struikelblokke om The wound te voltooi. Sy stelling is besonder insiggewend, naamlik dat ’n mens (en ek parafraseer hier) dikwels op stel leer wat om nié te doen nie, en uit foute leer.

Trengove vervolg dat hy al slegte raad gekry het by die maak van films, maar self begin besef het wat kan werk en wat nie. Instink is van kardinale belang! As mentor probeer hy om nie dieselfde foute te maak as wat met hom gemaak is nie. En bowenal: Hy help ander rolprentmakers uit eie ervaring, nie op hoorsê of deur uit boeke op te sê of voor te skryf nie, want filmmaak het eintlik nie reëls nie. Omdat daar so min (Afrikaanse) rolprente op die fees was, is sy bemoedigende raad: “Moenie moedeloos raak oor wat nou (veral gedurende die COVID-pandemie) met rolprente gebeur nie, veral wat Suid-Afrikaanse rolprente betref. Veg liewer voort as om oor te gee! Ons moet leer om te kyk na dinge wat ons bang of ongemaklik maak, en dus wegbeweeg van sogenaamde ‘veilige’ onderwerpe.” Trengove vervolg: “Artikuleer dan wat jou bang maak.”

Dit som veral Stam en Meisies wat fluit, wat ook op die fees vertoon word, in enkele sinne op.

Knap kortfilms soos It’s caviar bewys hierna vir plaaslike filmmakers dat hulle lekker kinkel-in-die-stert-stories kan vertel in slegs een lokaal met die minimum akteurs. Dit het ’n groter impak in 30 minute gehad (“revenge is a dish best served cold”) as die hele Dis koue kos, skat destyds in 100 minute.

Van die drie Afrikaanse rolprente wat vertoon is, en ’n mens treur steeds oor hoe dié genre se getalle afgeneem het, is Parow to Parow Fest: The Jack Parow story verkwiklik, veral vir my wat binnekort gaan deelneem aan ’n debat oor die “vloekery in Afrikaans op die skerm”.

Wat dié meesleurende, domastrante en vuishou-dokumentêr des te meer merkwaardig maak, is die feit dat Charlené Brouwer die regisseur is. Haar grootste uitdaging was om honderde, soms chaotiese, tonele te tem en aan te pas vir die skerm. Hoe druk ’n mens ’n uitspattige en uitbundige bondel lewenslus en energie soos Zander Tyler (Jack Parow) in een rolprentskerm in sonder om die gehoor uit te slaan of sy menswees in te boet? Deur te jukstaponeer. ’n Wye verskeidenheid mense gee opinies oor hom. Sy gesin vertel van die tjokkertjie met die aweregse en rebelse streke, en dit word afgewissel met sy flambojante optredes op die verhoog wat Brouwer netjies deur middel van kundige kamerawerk en blink redigering op die silwerdoek laat inskakel. Voeg daarby nugtere kundiges (Danie Marais en Valiant Swart staan veral uit) wat in raakvatwoorde en ontledings Parow se lewe en bydrae tot Afrikaanse musiek in perspektief plaas, en dit voel of die kletsrymer nie onder in jou whiskeyglas ronddryf nie. Hy kuier maar net by jou in jou voorkamer en laat jou vinniger ontvlam as Blitz in ’n braaivleisvuur.

Anekdotes van ander bands wat kommentaar lewer oor hom, sy optredes wat skaars binne een uitspansel inpas, en sy lirieke wat vreesloos weerspieël hoe veral die moderne Afrikaner voel, word vernuftig in een dokumentêr saamgevoeg, en Brouwer maak sin daaruit selfs al praat baie mense soms tegelyk! Dit wil gedoen wees.

Nog ’n rolprent wat jou Aladdin-troetelmatjie onder jou uitpluk, is Stam – ’n verbluffende verrassing wat handel oor hoe dit voel om vandag ’n Afrikaner in ’n gewelddeurdrenkte samelewing te wees. Dit bied ’n ruiker mense waarvan sommige stinkafrikaners is, en ander madeliefies, rose en kakiebosse. Louw Venter spring sonder ’n valskerm van die bergspits van menswees af.

.................
Louw Venter spring sonder ’n valskerm van die bergspits van menswees af.
...................

Dit gaan oor wat nou hier gebeur, gesien uit verskeie karakters se perspektiewe met stories wat geleidelik saamvloei. Almal het probleme, sommige is onoorkombaar, ander pootjie mense vanweë selfopgelegde stiksienigheid, maar hierdie verdwaalde siele op die outers sal enigiets doen om te oorleef en Venter beskou dit met empatie maar ook soms met vrees.

Waarvoor Louw Venter geloof moet word, is sy mistrap van stereotipe slaggate. So dikwels word hierdie groter-as-die-lewe-self-karakters verkleineer of as komiese afleiding in minderwaardige films gebruik. Nie hier nie. Hy trek jou by elke storie, elke persona, elke probleem in. En of jy daarvan hou of nie, hy snoer die gehoor as ’n eenheid saam wat hande vat en deur hierdie Jean-Paul Sartre-hel (hel is ander mense) beweeg sonder om die kluts kwyt te raak.

Ons almal vind ’n raakpunt by iemand, by verlore siele wat in ’n chaotiese land oorleef waar chaos oorheers, met enkele individue wat sin probeer maak daaruit en ander wat dit misbruik. Elkeen veg vir homself op sy eie, unieke manier. Nie in die spitsvondige, melancholiese Woody Allen oorvleueling van mankoliekige probleme nie, maar met op-die-neus-slaan-vuishoue wat jou deur bloed na tragedies laat kyk.

Gedurende die 2017-Silwerskermfees was daar ’n sielsverrykende film, Wonderlus, oor ’n paartjie wat trou maar besef hulle is verkeerd vir mekaar. Hulle ontmoet dan die regte mense gedurende hul huwelikseremonie!

Hierdie rolprent is soos Wonderlus – dit verhef Afrikaanse film na ’n nuwe vlak, ontgin ander terreine waaroor vorige films ligtelik gedartel het en smeer jou neus in al die aaklige wonderlikheid van (Suid-)Afrikaner-wees in ’n land wat die kluts kwytgeraak het. Hy neuk jou vreesloos rond tot jy ’n soort begrip vorm dat geen storie eintlik ’n einde het nie.

Johan Cronjé het met ’n gemaklike slenterstappie deur die drama, trane, verbystering en hoop-duwweltjies getrap in Wonderlus. Daar was nog nooit tevore ’n fliek oor die chaos agter die skerms van ’n bruilof (behalwe Louw Venter se Konfetti) wat die geordende chaos op pad preekstoel toe so raak vasgevat nie.

Daarom was Cronjé se Meisies wat fluit ietwat van ’n teleurstelling, alhoewel ’n teleurstelfliek van hom steeds oktawe hoër fluit as ander rolprente oor verwronge liefde. Sy uitgangspunt is: Wat gebeur wanneer ’n paartjie, wat op al die verkeerde maniere reg is vir mekaar, trou, net om te besef dat daardie klein jakkalsies ’n verhouding kan laat ontspoor?

Cronjé vra op nonchalante manier: Kan sommige huwelike die liefde vernietig? Sy karakters is ongedwonge en verrykend natuurlik. Doodgewone mense wat hul eie Afrikaans praat. Omdat gehore so gebreinspoel word deur sepietaal of romantiese komedies wat huwelike verglans, vang Meisies wat fluit jou onkant.

.....................
Gehore is nie gewoond daaraan dat mense so oopkop, brutaal en eerlik kan redekawel oor die verskille tussen mans en vroue in ’n huwelik nie.
.........................

Gehore is nie gewoond daaraan dat mense so oopkop, brutaal en eerlik kan redekawel oor die verskille tussen mans en vroue in ’n huwelik nie. Leandie du Randt en Stian Smith dra die rolprent. Hul dialoog is so skrynend openhartig dat paartjies hulleself hierin mag herken, ook omdat die kyker vermoed niemand anders as net hierdie twee sal met mekaar kan saamleef nie. (Goeie rolprente hou spieëls op.) Net hulle verstaan mekaar op ’n selfvernietigende wyse.

Daarom gebeur dit soms dat te veel newekarakters net gate vul en die aandag van die hoofstroom aftrek. Dit verminder die trefkrag, veral in die middel.

Maar dalk is dit die punt: dat geen huwelik eindig met “hulle het lank en gelukkig saamgeleef” nie. Hier is geen sprake van verglansing of gehoorvriendelikheid nie. Net die harde werklikheid. Die fliek het nie altyd die wonderlike subteks wat Wonderlus gehad het waar elke woord en elke karakter getel het nie. Soms word daar net te lank oor dieselfde knelpunt geargumenteer, wat vermoeiend raak.

Maar steeds is Meisies wat fluit stukke beter as talle ander Afrikaanse films; herbedink dit die huwelik in 2020, en voel dit na ’n uitvloeisel uit Wonderlus, maar sonder die vernuwing. ’n Mens vermoed dat nog twee hersienings die draaiboek sou gebaat het en ’n bietjie dooie hout sou kon uitsny.

’n Aangrypende dokumentêr, Beyond moving deur Vikram Dasgupta, gaan oor die 11-jarige Siphe November wat in Kanada gaan oudisie om ’n balletdanser te word. Die dokumentêr wys die kontras tussen gegoede woonbuurte en dan die gimnasiums, skole en sokkervelde waar die Suid-Afrikaanse balletdansertjie moes dans. Interessant is die kameraderie tussen hom en sy Kanadese medeballetdansers, asook tussen Siphe en sy familie. (Sy broer is ook ’n balletdanser.) En dan word die ongedwonge en onvergelyklike liefde vir hul ma beklemtoon. Haar statige trots en meelewing wanneer sy veral vir Siphe in aksie sien, laat die emosies in jou maag klont.

Die Kanadese was beïndruk met Siphe se kombinasie van hip-hop en ballet. Dit word afgewissel deur onderhoude met die seuntjie en sy doodgewone vriende in hul woonbuurt. En dis wat die dokumentêr besonders maak. Hierdie talentvolle 11-jarige (ons beleef ses jaar saam met hom) wat Kanada toe is, en dan die kontraste tussen die Kanadese en Suid-Afrikaanse lewenswyses. Dit word met deernis beklemtoon. Maar: Kan Siphe ooit werklik verstaan word? In die dokumentêr wissel dit af tussen tuisvideo-skote, en later professionele ballet-skote, hieroor, afgewissel met wegsnyskote na Kanadese dansers se reaksies op hom.

Ten spyte van die kultuurskok het die grasieuse Siphe sy merk gemaak, maar hy filosofeer tog oor die verskille tussen sy en sy broer (Mthuthu) se unieke style. ’n Hoogtepunt is nie net Siphe wat teen die agtergrond van die berge dans asof hulle hom omarm nie (ook teen boomstompe, amper soos trofeë), maar ook die familiebande, veral sy gesiggie wanneer hy oor sy ma praat. Dit spreek boekdele. Siphe verseker ons: Enigiets is moontlik as jou hart op die regte plek is. Maar uiteindelik bly hy ’n Afrikaan en hy vier dit. Die dokumentêr strek verby beweging. Dit gaan oor hart.

Van die webinare was insiggewend (soos een oor hoe om ’n verkoopsagent te kry wat jou rolprent na die regte kanale kan neem), waar die deelnemers openhartig kon argumenteer. Daar is ook gedebatteer oor die wenslikheid al dan nie van filmfeeste en oor feeste wat dikwels enkele dae voor die afskop daarvan gekanselleer word weens onvoorsiene omstandighede. (Soms wonder jy of daar nie ’n oormaat filmfeeste is nie. Wie kan byhou!?) En ’n suur noot: dat lewende teater dalk eers oor ’n jaar weer sal terugkeer! En filmfeeste soos Cannes gaan vir die afsienbare tyd aanlyn wees.

Hierdie weergawe van die Silwerskermfees bewys: So baie kan met so min gedoen word.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Sandra Pretorius

    Dankie vir 'n uitstekende artikel. My nuuskierigheid is deeglik geprikkel. Kan iemand wat weet vir ons sê of hierdie rolprente op Showmax beskikbaar gaan wees? Ek hoop van harte so. DStv is so yesterday.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top