
Prent: ©Klausmann op Pixabay, gepubliseer op 21 Julie 2016.
- Nini Bennett-Moll skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
“Bobby is nie dood nie!” het Huisgenoot, die Afrikaanses se Volksbybel, dit uitbasuin. Ek het die tydskrif terstond van die rakkie afgeruk, stom van ongeloof. Dit was my eerste kennismaking met ’n TV-karakter wat nie regtig dood is nie. Ek het gekul gevoel; hoe kon die televisievervaardigers ons so om die bos lei? Dit was in my standerd 6-jaar (1986) en ek mog Dallas gekyk het, want my ma was liberaal. So anders as my maats, wat ook begeer het om dié sondige reeks te volg.
Ja, natuurlik sal ek die teaser op Huisgenoot se voorblad onthou. Want Bobby Ewing het “gesterf” aan die einde van ’n seisoen, net om weer sy opwagting te maak in die stort, ’n volle seisoen later. Sy dood was ’n nagmerrie wat Pam gehad het. En alles was net ’n droom. As ek nou terugdink, kan ek glimlag, want dit klink soos die slot van ’n vrot skoolopstel.
In vandag se stromingsreekse sterf karakters (veral die protagoniste en antagoniste) gereeld, net om weer terug te kom; die kommersialisering van die dood het ’n goedkoop truuk geword. Kykers se emosies word gemanipuleer, dan kom die personasies terug – gewoonlik in die volgende seisoen of in ’n nuwe reeks. Die dood wat hierdie karakters sterf, is egter dubbelsinnig (hulle word byvoorbeeld geskiet, in ’n brandende huis vasgekeer, ensovoort), maar na wat lýk na die dood, is eintlik net ’n oop einde.
Met die reeks The blacklist het ek met Elizabeth Keen se eerste dood (in seisoen 3) wraggies daarvoor geval en selfs ’n traan weggepink. Maar dit het later alles geblyk ’n plan te wees wat Kate Kaplan, Tom en die dokter uitgedink het, dat Liz uit Red se wêreld kon ontsnap om haar kind te beskerm. Dit was ’n klassieke Blacklist-truuk: Die dood voel eg, die rou is intens en dan word dit omgekeer. Dit het die vertroue van kykers in ’n “permanente” dood ernstig ondermyn.
Met Elizabeth se tweede, egte dood is seisoen 8 het die skrywers dit anders hanteer. Terwyl sy aan ’n skietwond in Red se arms sterf, flits haar lewe voor haar oë verby. Dit was die vervaardigers se manier om te sê: Hierdie keer is dit finaal. Baie kykers het nog steeds gehoop dit is ’n verdere truuk, juis omdat die reeks hulle so dikwels mislei het.
Toe Raymond Reddington regtig aan die einde van die reeks gesterf het, het kykers steeds hoopvol gewonder of hy ’n comeback gaan maak uit die dode in ’n volgende seisoen, maar nee, die grafiese voorstelling van sy verwronge en bebloede liggaam nadat die bul hom gegaffel het, moes kykers oortuig: Hy is werklik dood; ja, hý, die meester van ontsnappings en illusie.
Die mens se obsessie met die terugkeer van dooies is so oud soos die mensdom self. Van die antieke wêreld tot vandag se stromingskanale bly die narratief dieselfde: Die held mag nie permanent sterf nie, want die held is die versinnebeelding van hoop.
In die antieke letterkunde vind mens talle voorbeelde. In die Egiptiese mitologie, soos opgeteken in die Book of the dead en verwante tekste, word Osiris vermoor, in stukke gekap deur Set en later deur Isis se magiese krag weer saamgestel en tot lewe gewek. Sy opstanding maak hom die heerser van die onderwêreld en die simbool van ewige herlewing.
Binne die Griekse mitologie word Dionusos in sommige weergawes uitmekaargeskeur en hergebore, wat sy verbintenis met die siklusse van dood en herlewing onderstreep. Die Kanaänitiese Baäl daal af na die onderwêreld en keer terug. Dan is daar Adonis en ander. Hierdie verhale is nie toeval nie.
.......
Binne die Griekse mitologie word Dionusos in sommige weergawes uitmekaargeskeur en hergebore, wat sy verbintenis met die siklusse van dood en herlewing onderstreep. Die Kanaänitiese Baäl daal af na die onderwêreld en keer terug. Dan is daar Adonis en ander. Hierdie verhale is nie toeval nie.
.........
Die tema van ’n god wat sterf en opstaan, kom dus in verskeie mitologieë en godsdienstige tradisies voor, maar die betekenis, konteks en uitwerking daarvan verskil van godsdiens tot godsdiens. Hierdie mites verskil byvoorbeeld in besonderhede: Party figure keer permanent terug, party net seisoenaal en party word heersers van die dooies. Die temas weerspieël die siklusse van landbou, natuurseisoene en die hoop op lewe ná die dood. (Van seisoene gepraat: Mitiese gode wat sterf, is dikwels seisoengebonde, en ironies genoeg, karakters in TV-reekse ook. Hulle sterf, net om weer terug te keer in ’n nuwe virtuele seisoen, maar nou leef hulle op swartspieëls en deur middel van lugtyd.)
Bogenoemde mitologiese verhale verwoord die basiese begeerte wat die mens negeer, naamlik dat die einde nie werklik die einde is nie. Die held se dood en opstanding word ’n rituele bevestiging dat orde, vrugbaarheid en betekenis selfs ná chaos weer kan terugkeer.
Die Christelike geloofstradisie bied ’n duidelike kristallisasie van hierdie prosesargetipe. Jesus se opstanding is nie bloot ’n wonderwerk nie, maar ook ’n filosofiese stelling dat die dood nie die laaste sê het nie. Die liggaam word nie net geestelik gered nie; dit word herstel of gerestoureer ná die dood. Die held sterf, word begrawe en staan op – nie as gees nie, maar as dieselfde persoon, net in ’n onsterflike gedaante. Dit is die mees radikale bevestiging van die menslike begeerte na ’n lewende, ewigdurende, persoonlike kontinuïteit.
In die moderne era het die mitologie self kommersieel geword: Mens dink aan die talle rekenaarspeletjies, films, stromingsreekse en boeke van ons tyd waarin mitologiese parodie voorkom. Tog bly die dieper motivering onveranderd. Helde in films en reekse “sterf” gereeld, net om later terug te keer. En die kykers weet dit. Dexter Morgan is deur sy eie seun geskiet in die Dexter: new blood-finale, net om uit die dood te herrys en terug te keer in Dexter: resurrection.
Die voorbeelde van hierdie gewaande sterftes in reekse is legio: Game of thrones, Sherlock, Prison break, Buffy the vampire slayer, Supernatural en sepies soos Days of our lives, om net enkeles te noem. Dit is so algemeen dat baie kykers al outomaties skepties is wanneer ’n hoofkarakter “sterf” – veral as die akteur nie amptelik die reeks verlaat het nie.
Die narratiewe dood is nie ’n einde nie, maar bloot ’n dramatiese pouse.
.........
Die narratiewe dood is nie ’n einde nie, maar bloot ’n dramatiese pouse.
..........
Filosofies is hierdie herhaling ’n vorm van ontkenning en terselfdertyd van bevestiging. Die mens weet dat hy sterflik is. Die held, as projeksie van die self, mag nie sterflik wees nie. Deur die held te laat sterf en weer lewend te maak, speel die kultuur met die grens tussen dood en lewe sonder om die grens werklik te oorskry. Dit is ’n simboliese oorwinning oor die enigste sekerheid – die dood – wat die lewe bied.
Die mens en die onsterflikheid van helde is dus nie ’n toevallige narratiewe truuk nie. Dit is ’n antieke, herhalende en terugkerende refrein; ’n antwoord op die vrees dat alles – selfs die dapperste, die mees geliefde, die mees betekenisvolle – permanent kan verdwyn. Solank daar stories is, sal daar helde wees wat sterf net om weer te lewe. Nie omdat die dood nie bestaan nie, maar omdat die mens weier om dit die laaste sê te gee.
Die tweede tema van opstanding/opwekking uit die dood is insgelyks een van die oudste en mees herhalende motiewe in die wêreldletterkunde. Dit bestaan nie net as godsdienstige simbool nie, maar ook as literêre troop om hoop, transformasie en die grense van die menslike bestaan te ondersoek.
In Bybelse narratiewe, wat ook as literatuur gelees kan word, word Lasarus van Betanië opgewek deur Jesus nadat hy al vier dae dood was. Jesus het talle mense opgewek uit die dood, en in die Ou Testament het die profete Elia en Elisa ook mense lewend gemaak. Dan, soos almal weet, vind die opstanding van Christus plaas – ’n gebeurtenis wat al vir eeue die Westerse verbeelding aangryp.
In die twintigste eeu herinterpreteer skrywers die tema op nuwe maniere. In CS Lewis se The chronicles of Narnia sterf die leeu Aslan vrywillig en staan weer op, sterker as ooit. JRR Tolkien laat in The lord of the rings Gandalf the Grey in die dieptes van Moria val, net om as Gandalf the White terug te keer – ’n letterlike en simboliese hergeboorte. Selfs in meer sekulêre moderne werke, soos in distopiese of fantasieromans, bly die gedaante van die karakter wat die dood oorkom, ’n kragtige metafoor vir vernuwing, of ’n simbool van die onwrikbare menslike gees.
En of dit nou ’n god, ’n held, ’n magiese dier of ’n gewone mens is wat terugkeer, die letterkunde gebruik die opstanding om te vra: Wat bly oor wanneer die dood oorkom is?
Vir Jung is die dood-en-hergeboorte-motief ’n argetipiese proses in die kollektiewe onbewuste, soos dit ook vergestalt word tydens die individuasieproses: die simboliese dood van die ou ego of beperkte persoonlikheid sodat ’n nuwe, meer geïntegreerde self kan ontstaan.
Jung sien die opstanding van Christus (en soortgelyke mites) as uitdrukkings van hierdie argetipiese dinamiek – of die gebeurtenis histories is of nie, is vir die sielkundige ontleding minder relevant as die simboliese krag daarvan.
Joseph Campbell plaas die dood-en-opstanding-motief sentraal in die held se reis (die monomite): die afdaal, beproewing (simboliese dood) en die terugkeer/hergeboorte na die lewe. As prosesargetipe is dié motief een van die mees universele en kragtigste patrone in die menslike psige. Dit handel oor transformasie: Iets moet sterf (die ou self, die ou houding, die ou identiteit) sodat iets nuuts kan opstaan.
Ek dink nou onwillekeurig aan die film Replicas (2018), waarin Keanu Reeves die hoofrol van ’n briljante biomediese navorser William Foster vertolk.
Hy werk aan ’n geheime projek om menslike bewussyn (breinkaarte/neural maps) oor te dra na robotte en kunsmatige liggame. Dan sterf sy vrou Mona en hul drie kinders onverwags in ’n motorongeluk ...
Uit desperaatheid gebruik hy die tegnologie en die toerusting van sy werk (asook navorsingsfondse) om hulle breine en herinneringe te karteer en te digitaliseer, en biologiese klone van hulle liggame te skep waarin hy die bewussyn oordra.
Hy probeer sy gesin kunsmatig “terugbring” na die lewe (wat tot indringende etiese, wetlike en wetenskaplike komplikasies lei) – en hy slaag daarin.
Die film klink vir sommige na wetenskapfiksie, maar met sci-fi het die toekoms die hede ingehaal; die Brave New World is inderdaad hier. In 2026 kan ons met sekerheid sê dat ’n era van digitale ontsterflikheid aangebreek het. Die mens se weiering om die dood die laaste sê te gee, speel nou uit op swartspieëls, epogge weg van die antieke gode se herrysenis uit die dood. Die mens eis dit nou vir homself op.
Stel jou dit voor: Jy sterf, maar verdwyn nie. Jou stem, glimlag, jou manier van praat en selfs jou grappies leef voort in die wolk (cloud). Dit is die belofte van digitale ontsterflikheid, ’n konsep wat danksy kunsmatige intelligensie al hoe nader aan die werklikheid kom.
Vandag reeds kan sagteware jou bestaande foto’s, video’s, stemopnames en sosiale media-plasings gebruik om ’n oortuigende simulasie van jou skep. Hierdie tegnologie staan bekend as deepfakes – of, in ’n meer positiewe konteks, digitale avatars of griefbots.
Met genoeg data, kan ’n KI-model leer hoe jy praat, dink en reageer. Gesinne kan al met weergawes van oorlede geliefdes gesels. Maatskappye soos HereAfter AI, Replika en ander bied dienste waar jy terwyl jy nog leef, jou stories, stem en persoonlikheid kan opneem sodat ’n interaktiewe digitale weergawe na jou dood kan voortbestaan. Meta het selfs ’n patent vir ’n stelsel wat jou sosiale media-aktiwiteit kan simuleer as jy weg is of oorlede is.
Jy word dus nie net ’n stil foto in ’n album nie. Jy word ’n digitale avatar wat kan gesels, lag en selfs kan naasbestaan (durf ek sê “leef”?) in virtuele ruimtes. Dit is nie ware bewussyn nie – alhoewel ’n baie goeie nabootsing – maar vir baie mense is dit reeds ’n vorm van voortbestaan.
Die ware “ontsterflikheid” waaroor wetenskapfiksie en transhumaniste praat, gaan verder. Hulle sien ’n toekoms waarin jou hele brein – met al sy neurone, sinapse en neurale netwerke – geskandeer en as sagteware op ’n rekenaar of die web opgelaai word. Dit noem hulle mind uploading of heelbrein-emulasie.
In hierdie scenario word jou geheue, persoonlikheid, herinneringe en selfs jou subjektiewe ervaring na ’n digitale medium oorgedra. Jy leef dan voort as ’n bewuste entiteit in ’n virtuele wêreld, of selfs in ’n robotiese liggaam. Ray Kurzweil en ander futuriste het lank reeds voorspel dat dit teen die middel van die eeu moontlik kan word. Ander wetenskaplikes is meer versigtig en praat van dekades of selfs ’n eeu of meer later.
Projekte soos Nectome werk reeds aan die behoud van die brein se struktuur op nanoskaal, met die hoop dat dit eendag gedigitaliseer kan word. Die idee is dat ’n volledige “kopie” van jou verstand in die wolk kan voortbestaan, onafhanklik van jou biologiese liggaam.
Uiteraard is die etiese dilemmas hieraan verbonde legio. Wie besit jou digitale self? Mag iemand sonder jou toestemming ’n deepfake van jou maak? Is ’n digitale kopie werklik “jy”, of net ’n goeie nabootsing? En wat gebeur as die bediener eendag afgeskakel word – sterf jy dan ’n tweede keer?
Tog, vir die eerste keer in die menslike geskiedenis lyk dit of die dood nie meer absoluut hoef te wees nie. Ons foto’s en video’s word alreeds die grondstof vir ’n nuwe soort nalatenskap. En as die tegnologie vorder soos sommige voorspel, mag jou agterkleinkinders eendag met ’n weergawe van jou kan gesels – of selfs met ’n digitaal voortgesette “jy”.
Die toekoms van ontsterflikheid is nie meer net ’n godsdienstige of mitologiese droom nie, maar ’n tegnologiese projek. Of ons regtig in ’n digitale nalewe sal leef, of net ’n oortuigende skaduwee van onsself sal nalaat, is nog onseker. Maar een ding is duidelik: Die grens tussen lewe en dood begin vervaag – en KI is die besliste pen waarmee ons dit herskryf.
Lees ook:

