
Foto: Eli Digital Creative op Pixabay, gepubliseer op 29 Januarie 2016.
- Nini Bennett-Moll skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
Second-hand books are wild books, homeless books; they have come together in vast flocks of variegated feather, and have a charm which the domesticated volumes of the library lack. Besides, in this random miscellaneous company we may rub against some complete stranger who will, with luck, turn into the best friend we have in the world. (Virginia Woolf)
Aangename kennis, liewe leser. Ek is ’n tweedehandse boek. Ek gaan nie my titel verklap nie; dit kon enige iets gewees het. Kom ons sê eerder dat ek instaan vir talle ander tweedehandse boeke; dat ek, as versamelnaam, namens ons boekspesie praat.
Ek kan wel verklap dat ek ’n digbundel is, gedruk in 1983 en dat die digter se naam op my voorplat al voorheen talle pryse gewen het. Ja, ek hoor hulle sê my gedigte is “moeilik”. Maar hoe dit ook al sy, my verhaal van omswerwinge kon enige boek s’n gewees het; genres, pryswenners, elite- of ontspanningsliteratuur maak nie saak wanneer jou lot geseël is in ’n bedompige boks en jy ru agter op ’n sleepwa land nie.
My geboorte is voorafgegaan deur die liefdevolle versorging van keurders, proeflesers, redigeerders en dan natuurlik die skrywer en uitgewer self. Dit was nog die dae voor rekenaars en die knettervuur van tikmasjiene en die verkreukelde fotostate van die manuskrip het deur ’n paar stelle hande gegaan. Die stapel papiere is met outydse lêerknippe vasgekram en die humeure het by tye – soos die kantaantekeninge in rooi – maar lelik opgevlam. Die redaksie by uitgewershuise het mekaar letterlik met tikmasjiene gegooi en proefleestekens soos stet, erratum en caret gebruik. Die boek-in-wording se geboorte was een van ’n getikte manuskrip tot film, plate en pers – met baie handewerk en proefdrukke tussenin. Desktop publishing, soos ons dit vandag ken, was toe nog net ’n droom.
O, die meesterkopie van vandag – daardie salige vooruitsig van die PDF-lêer wat uiteindelik! drukker toe gaan. Dan die wag, die afwagting, soortgelyk aan ’n swanger vrou wat die geboorte van haar kind inwag ... Skrywers sê altyd daar is geen wonderliker gevoel as om hulle eie boek vas te hou nie. Ja, dis vir ons boeke óók so. Die skrywers ontvang hulle nuwelinge en die euforie as ’n mes deur die boks se bruin kleeflint sny, is ongeëwenaar. Ek was ook in so ’n boks saam met my klone, maar ek is geteken tydens die openingsbekendstelling, wat my waarde laat toeneem het. Daarom dat ek ’n rustige oudag op die poësieliefhebber se bedkassie geniet, maar meer daaroor later.
Die smaakmakers van vandag is lief daarvoor om video’s van hulself te maak waar hulle boekpakkies oopskeur en die nuwe boeke wat hulle ontvang, gretig vir Jan Publiek wys. ’n Boek lewe net as dit gelees word. Ek en my broers en susters stem volhartig saam dat die ander hoogtepunt die skrywer se launch is; dan word ons deftig op ’n tafel uitgepak en geteken. In menslike terme is dit soortgelyk daaraan om by ’n galafunksie op te daag met ’n tuxedo. Die skrywer se oomblikke van limelight is ook óns s’n, en ons word nuuskierig en respekvol betrag deur sagte literêre en akademiese hande wat vra: “Sal jy asseblief myne ook teken?” (Al ooit gewonder waarom boekliefhebbers getekende kopieë van boeke wil hê? En waarom getekende kopieë meer waardevol is as ongetekende kopieë? Boeke is lewende relieke. ’n Skrywer se handtekening is ’n persoonlike spoor van sy of haar beweging, teenwoordigheid of tyd toe die boek geteken is; dis ook ’n vorm van simboliese ontsterflikheid, want as die skrywer sterf en die boek tyd sélf oorleef, word dit ’n eindige hulpbron en voel dit of die persoon se teenwoordigheid nog voortleef.)
Nog ’n hoogtepunt is wanneer ons op display gaan in ’n boekwinkel: Dis ’n eer. Die klante wat die winkel binnestap, se tred verstadig as hulle die display met die nuwe boeke sien; en weer, die respekvolle stilte voor die aankoms van nuwe boeke. Erken dit maar, in die regte geledere dwing boeke respek af. Dis hoekom ek en my groter boekfamilie nie mense soos daardie Hitler en die fasciste kon verstaan nie. Hoe kon hulle boeke brand? Ja, ja, ek weet hulle wou sekere ideologiese beskouings soos liberale, Joodse en kommunistiese denke self simbolies “brand” ook, maar soos Heinrich Heine tereg gemerk het: As jy boeke kan brand, kan jy mense ook brand. Dis ontstellend waar en ’n grimmige profesie as mens dink aan die Holocaust en die krematoria in die moordfabrieke soos Auschwitz ...
Maar ek dwaal af. Ja, en laat ek nie vergeet om te vertel van die vreugde wat leeskringe vir ons bring nie. Want dis so ’n voorreg om uit verskillende monde verskillende interpretasies te hoor van wat nou éintlik alles in daardie drukwerk tussen jou bladsye aangaan. En natuurlik onderrig, op skool en universiteit. Kyk, ek weet baie kinders lees hulle boeke teensinnig, maar nog steeds: Boeke word slegs tot lewe gewek as hulle gelees word. Boeke weet. En hulle weet ook van ’n vies sproetgesig wat kort-kort sug en met taai take-away-vingers lusteloos rondblaai as hy sy huiswerk moet doen.
My oorspronklike koper is oorlede en soos dit maar met enige boedel is, was daar chaos en onmin. So het ek in ’n boks beland – ek is hardhandig deur die oubaas se kinders van die boekrak afgeruk en sonder seremonie in ’n boks gegooi. In menslike terme is dit soortgelyk aan ’n ontvoering. Dan die ongeduldige hande, die sug, die skril geluid as daardie taai, bruin kleeflint waarmee bokse toegeplak word afrol ... My en my familie in die eertydse boekery se lot was onseker.
Presies hoe lank ek in daardie boks was, sal ek nie kan sê nie. Die vismotte het tussen my bladsye deur geskarrel en die stof het dit ligbruin verkleur. Ek was nou tweedehands, het ek droef besef; my waarde het drasties afgeneem. Dalk, as mens dit vergelyk met julle mense se belewenisse, was ek nou sterk middeljarig, verniel deur die lewe. Maar die gedagte dat die digter se swierige handtekening voor in die bundel gepryk het, het my hoop laat opvlam: Ek is nie heeltemal níks werd nie. En selfs al gooi jy ’n boek in ’n asblik, is dit nie dood nie; iemand kan dit steeds lees en laat leef. ’n Boek sterf net waarlik as dit tot as verbrand word. (Wel, gemeet aan analoogstandaarde, liewe leser: Ek praat nou nie van daardie e-boeke wat slegs op swartspieëls gelees word nie. Dis ons siellose kollegas daardie, sê ons boekvrinne altyd vir mekaar en lag dan. Baie van hierdie boeke is ge-torrent en dit maak skrywers die josie in as hulle boeke as PDF’s onwettig rondgestuur word; dis diefstal, en die skrywers word beroof van hul royalties – krimineel!)
Om só in ’n versmorende boks te wag, is soortgelyk aan hibernasie of ’n psychoma: Jy gaan ’n winter- of sieleslaap binne.
Toe, eendag hoor ek stemme en kon uit die gesprek aflei dat die boks iewers in ’n stoorkamer is en dat die een of ander vername literator dit kom haal.
Die beweging van ’n kar, die punt van ’n matmes wat deur die kleeflint gesny het én – lig! Bleek, sagte hande het die boeke flink uit die boks gehaal.
Die man met die ronde bril het elke boek netjies afgestof en my en my vriende alfabeties op ’n klein boekrakkie gepak. Dankie! het elke letter en vesel in my uitgeroep. Maar die man het duidelik planne met my gehad; dalk nie dít wat ek gedink het nie ...
Dekanonisering, het hy in die kantlyn van een gedig geskryf. Hy was kwaad, asof hy my – die boek – self wou aanval. Vergelykende literatuurstudie.
Hy het kort-kort sy potlood skerpgemaak – ’n houtvlinder het uit die skerpmaker gekrul, dan het hy met hernieude drif nog notas gemaak in die kantlyn. Sy skerp potlood het, nes sy kritiek, gegrein deur my sagte vel, deur al die lae van my sellulose. Net soos by ’n mens kan mý huid ook seerkry. Ek onthou toe ek pas verskyn het, het ’n kritikus lelike goed van my in ’n koerantresensie geskryf. Dit het my én die digter ewe seergemaak. Want boeke weet. In menslike terme sou mens praat van menswaardigheid; durf ek sê ek het amper my boekwaardigheid verloor?
Swak, het die jongman met die John Lennon-bril verder geskryf. Ek sou kon skat dat hy ’n junior lektor iewers by ’n universiteit was, met groot aspirasies om ’n tweede Brink te word. Jy kry resensente, dan kry jy literêre kritici. Enige iemand kan ’n resensie skryf (deesdae), maar die kritici is die mense wat in die literatuurwetenskap of literêre teorie studeer het en die grade het. Die kritici skryf critiques en dis hulle wat so notas maak met die vlymdun potlode. Daar breek gereeld fights uit oor wie mag resenseer en wie nié, en ons tweedehandse boeke is al moeg daarvoor.
Dekanonisering, het die jongman weer geskryf. Nou was ek verward. Só, ek, die digbundel, was eers ’n goeie bundel, nou is ek ’n vrot een. Huh? Hulle het dan selfs gesê ek lewer ’n “bellettristiese bydrae tot die poësie” ...
Iewers het hy iets uitgevee en verwoed die uitveërfrummels weggeblaas, maar ek moes lag kry, want van pure verontwaardiging het ’n snorkgeluid uit sy neus ontsnap en sy hele bril was nou toegewasem. Oukei, liewe leser. Ek het skynbaar my status finaal verloor. Ek wonder net in watter akademiese joernaal ek nou in my kanon gestuur is.
My verblyf tussen my alfabetiese vriende op die jong lektor se rak was van korte duur. Van die woord raklewe kan jy my niks vertel nie.
Weer is ek en ’n paar ander in ’n boks gegooi, dié keer op pad na ’n tweedehandse boekwinkel in Gordonsbaai. In die oop, skommelende bakkie na die winkel het dit gereën en ek het waterskade opgedoen; ek was heel bo in ’n boks wat weeknat gereën het. Net van my bladsye het omgekrul, my letterwerk het niks oorgekom nie. Wel, met tyd kom karakter, het ek myself probeer troos. Ek ís after all middeljarig, tweedehands ...
Gelukkig het ek nie te lank gewag nie.
Die jongman het die R60 vir al sy ou boeke nors aanvaar en vinnig gery. En dadelik het ek geweet: Nou is ek in professionele hande. Kyk, ek word nie jonger nie en al waarvoor ek vra is ’n rustige en waardige oudag. By ’n boekliefhebber wat my sal léés.
Dis toe dat ek, tot my verbasing, ’n menslike uitveër ontmoet het. In die son, in die tuin wat uitkyk op die see, het daar ’n vrou gesit wie se voltydse werk dit was om ou boeke mooi te maak. Kosmeties te versorg, soos om die donkie-ore uit te stryk en die potloodnotas uit te vee. ’n Facelift vir moeë boeke, kan mens sê. Sy het ook los bladsye wat uitgehang het, liefdevol met deursigtige kleeflint teruggeplak; die los stikwerk gelak; en die oues van dae met die seer of af rûe en rugstringe weer met ’n ander doepa gerugsteun.
Ek en my boekvrinne het dikwels gelag en gespot oor daardie antikwariese versamelaarsboeke – soos dié wat in die Middeleeue gedruk is – en gewonder waarom mense so baie geld op sulke fossiele uitgee. Sedert my oergrootjie Gutenberg die drukpers uitgevind het, het daar ook maar weird boeke verskyn, liewe leser – en daar is iets eindeloos creepy aan Middeleeuse boeke, veral as die een of ander monnik in ’n klooster dit snags in die geheim geskryf het en die woord Codex daarin voorkom. Pure grimoires in gotiese letters; vasgeketting aan iemand wat eeue gelede dood is, se lessenaar. Party van hierdie fossielboeke is miljoene werd.
Ja, boeke het altyd ’n aura. Jy voel onmiddellik die aura van ’n boekrak as jy by ’n vreemde huis instap. Diep en peinsend, soos ’n buffer teen die naakte realiteit. En die afwesigheid van boeke in ’n huis praat nét so hard; dis soos ’n kaal huis waarin die akoestiek banaal na jou toe terugkaats en bly eggo.
.........
Ja, boeke het altyd ’n aura. Jy voel onmiddellik die aura van ’n boekrak as jy by ’n vreemde huis instap. Diep en peinsend, soos ’n buffer teen die naakte realiteit. En die afwesigheid van boeke in ’n huis praat nét so hard; dis soos ’n kaal huis waarin die akoestiek banaal na jou toe terugkaats en bly eggo.
..........
Die menslike uitveër in die winkel se tuin het die notas wat die lektor in my kantlyne gemaak het, geduldig uitgevee. Sy het my bladsye, wat aan mekaar begin vasklou het, teer losgestryk en my een blaai, wat uitgehang het, met ’n klein buisie spesiale gom geplak. Sy het selfs van die gedigte gelees. Toe het sy ’n snaakse ding gedoen: Sy het haar selfoon gevat en foto’s van die gedigte geneem! Haar oë was aangedaan en vogtig, en ék, trots. Verwonderd. Haar optrede het my meer tot lewe gewek as énige iets wat ooit voorheen met my gebeur het. Behalwe natuurlik die koms van die weduwee ... En so het die uitveër dag na dag haar roeping vervul deur ou boeke weer mooi te maak vir die stroom bibliofiele wat die winkel bly besoek het. (Terloops, ek hou nie van die woord bibliofiel nie – dalk omdat die agtervoegsel -fiel dit laat klink soos die een of ander pervert.)
En só het dit gebeur dat ek weer op display gegaan het; net, dié keer ’n nederige en goedkoop een en die kompetisie met die honderde ander boekgenote was sterk, want dit was ’n enorme boekwinkel met wind chimes wat van die dak afgehang en geklingel het in die seebries. Nou was ons desperaat, amper soos rescue dogs, smekend om huise te kry. Vakansiegangers en voornemende klante het onverpoos met druppende roomys-cones die winkel binnegekom en aan ons gevat met taai vingers. Van die boeke om my was bejaard; sommiges selfs nog met plastiek oorgetrek, soos wasige ruite. Ander hardebandvriende se hoeke was stomp, gevyl deur tyd self, en gomkolle het bruin deurgeslaan op hulle week bladsye. Al hierdie dinge het natuurlik bygedra tot die lewende reliekstatus van die regte-egte boek, nie die digitale weergawe nie. Die geleefde, geleesde boek en die motterige reuk van ou papier wat so kenmerkend van tweedehandse boekwinkels is.
Op ’n reëndag het die weduwee ongemerk die winkel binnegekom. Sy het by elke tafel vertoef, met ’n kennersoog vinnig die titels skandeer en aanbeweeg na ’n volgende tafel. Sy het ’n bril gedra wat haar sagte oë baie groot en nog sagter laat vertoon het, en sy het swaar geloop, met ’n kruk. Toe sy ons display van ou Afrikaanse digbundels sien, het haar gesig opgehelder en toe sy mý sien, het sy gesnak: “Hier is jy!” Asof sy ’n lang verlore geliefde weer raakgeloop het. Sy het my opgetel en teen haar bors vasgedruk. “Weet jy hoe lank soek ek al na ’n kopie.” Sy het salig gesug, deur my geblaai en tevrede geglimlag toe sy sien dis ’n getekende kopie, eerste uitgawe, eerste druk. Sy het dadelik betaal. Ek het R80 gekos en gemeet aan die ander boeke, was ek so ’n rapsie aan die duurder kant.
Die weduwee was ’n poësieliefhebber by uitstek en ek het ’n ereplekkie op haar bedkassie gekry, bo-op ’n Bybel met ’n leeromslag waarvan die boekblok se buitekant goudkleurig was. Binne-in die Bybel was daar kaartjies en sywurmharte.
Bedags het die son in spierwit strale deur die gordyn gebreek en op die bedkassie geskyn. En saans, voor die weduwee gaan slaap het, het sy die gedigte tussen my skutblaaie hardop gelees en notas gemaak in haar klein handskriffie en sagte potlood. Sy het die rymskemas omkring en die groot woorde ge-google op haar foon, dan die betekenis daarvan langs die versreëls neergeskryf. Ek was in die sewende hemel. Sy het sommige reëls oor en oor geprewel asof dit ’n gebed was, en soms het sy gehuil oor die skoonheid daarvan. En by tye het sy net met die bundel óóp, soos twee vleuels, oor haar gesig gelê, dan het ek gewonder wat sy dink.
So het my oudag aangebreek, en al sal ek as boek nooit sterf nie, weet ek dat die weduwee vir die res van my boeklewe sag met my sal werk.
Ja, werk asseblief sag met ons, liewe leser.
Lees ook:


Kommentaar
Uitstekend.