
Prent van winkels: Canva
- Nini Bennett skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
Ek het besluit om vir dié maand se Springmielies-rubriek iets ligs te skryf. Swaarmoedigheid en knellende lewensomstandighede is omtrent tasbaar – en as ek elke dag my roetine-aankopies doen, maak ek in my agterkop notas van alles en nog wat.
Winkelkaskenades 1977–1990 (vreugdes)
Inkopies doen in Suid-Afrika is veel meer as die koop van brood en melk. Dit is ’n sosiale ritueel, menigmaal ’n avontuur vol humor, frustrasie of vreugde. In die 1970’s en 1980’s was dit veral die klein, persoonlike winkels en kafees wat die hart van gemeenskappe gevorm het. Hierdie “ouwêreldse” kafees, dikwels bedryf deur Portugese, Grieke en Joodse immigrante was nie net besighede nie, maar ontmoetingsplekke waar kinders na skool bymekaar gekom het.
Vandag bring die herinnering daaraan ’n warm nostalgie, gemeng met lag oor die eienaardighede van daardie tyd.
Die landskap van inkopies was divers. Aan die een kant was daar die groot, nuwerwetse supermarkte en malls wat stadig maar seker verrys het. Hulle was skoon, georganiseerd en vol beloftes van ’n moderne koopervaring. Maar die siel van inkopies was in die klein hoekwinkels en kafees. In voorstede en dorpe regoor die land het Griekse kafees floreer – dikwels met ’n naam soos Acropolis Café of The Greek Corner. Hulle het die beste vis-en-tjips met asyn, toegevou in koerantpapier, verkoop; soewlaki; en milkshakes só dik dat die strooitjie penorent gestaan het. Die eienaar, dikwels ’n man met ’n swaar aksent, het jou op die naam geken en geweet presies watter koerant jy verkies. Hierdie ouwêreldse kafees het kombuise gehad, en die “Griek op die hoek” het sonder twyfel die heerlikste baklawa in die omgewing gemaak.
Portugese winkels het weer ’n ander geur gehad – letterlik. Met produkte soos olywe, chorizo, peri-peri-hoender en vars pregorolle het hulle ’n Mediterreense warmte na Suid-Afrika gebring. Baie van die kafee-eienaars het na die Angolese en Mosambiekse onafhanklikwording in die 1970’s hierheen gekom en hul ondernemingsgees saamgebring. Hulle winkels was dikwels familiebesighede waar Pa by die kasregister gestaan het, Ma in die kombuis was, en die kinders ná skool in die kafee gehelp het.
Die Joodse winkels, “algemene handelaars”, was legendaries. Baie eienaars was afstammelinge van Joodse immigrante wat uit Oos-Europa gekom het – die “wandelende Jode” wat oral ’n bestaan vir hulself geskep het. Hier kon jy enigiets koop, van skoolskoene tot naald en gare tot konfyt en boerewors. Die eienaar was gewoonlik ’n skerp sakeman met ’n droë sin vir humor. As jy gekla het oor die prys, het hy met ’n vonkel in die oog gesê: “Ek verkoop dit goedkoper as wat ek daarvoor betaal het – net vir jou!”
Kinders se fietse, wat onbewaak voor die kafee gestaan het, simboliseer ’n eenvoudiger era. In baie woonbuurte kon jy jou BMX of Raleigh-fiets sommer teen die muur stoot en ingaan vir ’n pie-en-tjips en weet die fiets wag nog daar as jy uitkom. Dit was ’n tyd van vertroue, al was die land polities onstuimig. Die kafee was neutrale, gemeenskaplike grond – ’n plek waar almal welkom was, ongeag agtergrond. Kafees, as ontmoetingsplekke vir kinders, was die sosiale media van daardie tyd. Jou fiets, wat saam met jou maters s’n rondgestaan of -gelê het, het jou gemerk: Jy is dáár. Aanlyn, in vandag se terme.
Intussen het baie van daardie kafees verdwyn of verander in kettingwinkels of spazawinkels. Die hartlike persoonlike diens en klingelende kasregisters het langsamerhand plek gemaak vir infrarooi skandering en aanlyn inkopies.
In die Suid-Afrikaanse kafees van die ’70’s en ’80’s was die Kyk-boekies en ander fotoverhale ’n onmisbare deel van die rakke. Hierdie goedkoop fotoboekies met hulle dramatiese swart-en-wit foto’s het stories van liefde, avontuur, misdaad en hartseer vertel – perfek vir ’n vinnige deurblaai as die kafee-eienaar se aandag elders was. Dit was verbode vrugte, want sommiges was effens gewaagd vir die tyd (soos soentonele; die papier het dáár ’n diep kreukel gemaak soos kinderhande by so ‘n foto getalm het). En hoe sal ons ooit vergeet: Tessa, Kid Colt, Grensvegter, Ruiter in swart …?
Op die tolrakke (“spinner racks”), wat kreunend gedraai het, het strokiesprente met hulle helderkleurige omslae gehang: Superman, Spider-Man, Hulk, Wonder Woman, Popeye, Mad … En vanselfsprekend was die meer verbode of “swak smaak”-boekies die horror-strokiesprente, oorlogcomics en dié met suggestiewe prente. Baie ouers het hierdie leesstof as ’n slegte invloed beskou – die soort wat jou laat droom van spoke, bloeddorstige monsters of meisies in skrapse bikini’s. Tog het die kafee-eienaars dit aangehou, want dit het verkoop. Dit was deel van die magic en die guilty pleasure van ’n besoek aan die kafee. Maar jy moes jou lees – of roofkyk! – ken, of Pappas of De Souza sou skielik in ’n geradbraakte Engels bulder: “Hey you! Hey! If you no buy, you no read! Put back da Kyk-boekie or I chase you out!”
........
En moenie die pinball-masjiene (of flipper-masjiene) vergeet nie: Dit was ’n absolute hoogtepunt vir kinders. Langs die koeldrankyskas het daardie groot, kleurvolle plesiermasjien gestaan met sy helder ligte, klingelende klokkies, ratels en stampgeluide wanneer die balletjie tussen die bumpers deur bons.
..........
En moenie die pinball-masjiene (of flipper-masjiene) vergeet nie: Dit was ’n absolute hoogtepunt vir kinders. Langs die koeldrankyskas het daardie groot, kleurvolle plesiermasjien gestaan met sy helder ligte, klingelende klokkies, ratels en stampgeluide wanneer die balletjie tussen die bumpers deur bons. Vir ’n 20- of 50-sent-muntstuk kon jy ’n paar minute se opwinding koop – arms wat wild pomp, heupe wat die masjien stamp (as die kafeebaas nie kyk nie), en die hoop dat die “free game”-liggie sou aangaan. Hierdie masjiene was deel van die belewenis van die kafee self – ’n raserige stukkie magic in ’n ongekompliseerde tyd. Vandag hunker baie middeljarige en ouer mense na daardie nostalgiese klanke en flitsende ligte, maar die meeste masjiene het saam met die kafees self verdwyn. Ek onthou toe ek op hoërskool was, het die skoolhoof eendag afgekondig dat kinders nie met die pinball-masjiene mog speel as hulle skoolklere aan het nie, anders sou hulle geskors word (glo sleg vir die skool se beeld). Bid jou dit aan! Dieselfde geld vir fotoboekies en strokiesprente. Nie dat Da Costa ’n snars omgegee het vir skooldrag nie … om nie eens van die ’90’s, met die emansipasie van alles en almal te praat nie. Die tydskrif Loslyf het die kafeerakke getref en alle hel het losgebars. Ja, die koeël was deur die kerk, en ten spyte van die sedebewakers wat gepoog het om die kafees te boikot, het hulle steeds die tydskrifte verkoop, want die kaalbasmeisies het vir Texeira of Dimitriou ’n stewige pond vleis ingebring.
“Did you know?” ... Ja, die Google van toentertyd was Chappie-omhulsels. Ek moet bieg my algemene kennis het aansienlik uitgebrei deur Chappie-papiertjies, wat ek soms gebêre het soos ’n jeugdige navorser om die brokkies kosbare kennis te bewaar. Maar jy moes dit versigtig van die kougom afskil, anders skeur jy jou nuutgevonde stukkie trivia aan flarde.
Soms droom ek snags die soetste drome oor daardie tyd. Ek sien my kaal voete hardloop deur ’n duwweltjiepaadjie op pad kafee toe; ek kies kortpad deur die veld, want ek het 20c in my klam handpalm en ek gaan toffies koop. ’n Hele sak vol. En nee, met só ‘n bederf voel ek nie die geprik van die dorings nie…
Dan, soos ’n kamera wat beweeg, sien ek myself weer hardloop – dié keer huilend. Ek is ses jaar oud en tjank radeloos en onbeskaamd, want my goudvis, Laetitia, is dood. Ek het begrafnis gehou en die dooie vissie in my ma se swart Masumi-parfuumboksie begrawe. (Nodeloos om te sê, die tuinwerker het die doodskissie raakgespit en gedink dis toorgoed …)
Dit was net ná vier in die middag, en die staatsdiensvaders het huiswaarts gekeer met die bus. ’n Vriendelike man het my voorgekeer en gevra: “Hoekom huil jy, dogtertjie?” Waarop ek droewig geantwoord het: “My goudvis is dood, Oom.” Hy het my terstond aan die hand geneem en gesê: “Kom ons gaan pet shop toe, ek sal vir jou ’n nuwe goudvis koop.”
Ek het met die deurskynende, toegeknoopte sakkie vol water huis toe gehardloop, en dié droom is eteries. Nee, ek het nie gehardloop nie, ek het huis toe gevlieg – my voete het skaars die uitgetrapte voetpaadjie geraak.
In die skommelende watersakkie was Laetitia die Tweede.
Winkelkaskenades 2026 (frustrasies)
Al opgemerk, noudat dit winter word, dat daar ’n ontploffing in puffer jackets is? Ek is baie lief om te overthink. Ja, ek is waarskynlik ’n top denker wanneer dit kom by ’n getob. Só merk ek gister toe ek winkel toe stap dat amper elke tweede persoon ’n puffer jacket aan het. Die voordeel van so ‘n pofbaadjie is dat dié wat oorgewig is, in sync verkeer met hulle baadjies. Wat soos wurms se segmente beweeg. Vetrolle maak ook so: As jy jou middelrif wiggel, dan ry die spekkies roltrap. Maer mense wat puffer jackets dra, lyk nou soos hulle voller eweknieë – want puffer jackets maak mense homogeen. Vet, maer, almal dieselfde. Maar dis nie al nie: Daar is nou pofbaadjies vir honde ook beskikbaar, alhoewel as onderbaadjes of puffer vests. Geen rede waarom ’n mens dit nie ook kan dra nie – ’n L of XL sal baie mense pas. En die beste van alles? Honde se baadjies is 100% waterdig; vir die menslike ekwivalent sal jy duur betaal. Ek sal beslis vir myself ’n Great Dane s’n aanskaf …
Die frustrasies met winkelsentrums begin wanneer jy uit jou kar klim en ’n motorwag verbete in jou rigting kyk om oogkontak te maak. Want ’n kopknik of groet kos jou al R10. “Kyk maar” is die magiese woorde, al weet jy die wag in die glimbaadjie kan absoluut niks doen as jou motor gesteel word nie. Maar só is dit: Karwagte is ’n eg Suid-Afrikaanse verskynsel, ingeburger in ons kultuur.
Die eerste stop is Pick n Pay. Waarom is groot kettingwinkels se trollies so dikwels so mankoliek? Let maar op: Die wiele kriek en kraak en briek en stotter voort. Presies die teenoorgestelde van Woolies se trollies, wat silwerskoon is en met ’n gladde en soepel padhouvermoë deur die blink gange gly. (Hulle is die Porsches van winkeltrollies.) Juistement: Ek het gister eerstehands gesien hoekom Pick n Pay se trollies so gehawend is. Dit is nié die klante wat die goed hardhandig hanteer nie – dit is kinders, meesal seuns, wat skateboard ry met die waentjies. Ek het in ’n oomblik van bloedige woede gegryp na ’n knaap wat juigend by my verbygesnel het, maar die klein klits het rats, soos ’n paling, sy bolyf gerol en dáár het ek gestaan – met sy hemp in my hand. In ’n oogwink het 20 jaar verbygeblits en die bruingebrande supersurfer het sy kop na my gedraai, laggend oor die tsunami wat hy so pas te pletter gery het.
*
Die tweede stop is Woolworths.
Woolies ruik na white privilege. Toegegee, hulle produkte is uitstekende kwaliteit, alhoewel overpriced. Tog draf ek soms daar in om enkele items soos avokado’s, te koop – ander supermarkte se avokado’s het swamme of spikkelgatsiektes. Net Woolies s’n is skoon en bo verdenking en daarom nie onderhandelbaar nie. Ja, ek het Woolworths se avokadopere soewerein verklaar.
Maar ek hou nie van die winkel se vibe nie. Ek verkies Pick n Pay met sy demokratiese gevoel en gulhartige gange vol arm en middelklas klante en die Krismis- en Halloween-produkte wat einde Oktober so onbeskaamd kompeteer vir rakspasie.
Só het ek een middag deur die winkel gestroll vir my avo’s, argeloos geklee in ’n sweetpakbroek, T-hemp en plakkies. By die yskaste met die deli het die Dame my dadelik nader katrol. Ek het haar van geen kant geken nie. Sy het langs haar boogneus na my geloer met twee stip valkogies – afkeurend. Haar vingers het getintel van die knoetse en knertse diamante, en die verhewe aura van Black Opium het haar omgewe. Dis nie dat die Dame bejaard, versukkeld of siek was nie; sy het ook geen inperking gehad nie. Sy was bloot verwen.
En toe het sy begin om my rond te boss. Ek weet nie hoekom sy juis mý gekies het nie – en ek weet nie of ek werkloos, haweloos, diensbaar of bloot likeable oorgekom het nie. Dit was die gebits van bevele: Hou die glasdeur oop, en dáár, nee, links van die paté, ja-ja, daardie Bertocchi-salami, bêre weer die Bleu D’auvergne ... wag, ek wil eerder van die Deense ham hê. Daarna moes ek die inhoud van haar waentjie herrangskik, soort by soort, sodat dit darem pasmaats vorm wanneer dit in die sakke gepak word. Bid jou dit aan.
Ek het hoflik aan haar versoeke voldoen; ek is after all fyn opgevoed. Nie ’n dooie woord gerep nie en flink, maar met ’n suur glimlag haar vergesel met haar inkopies. My inherente sinisme en donker humor was nog altyd my redding – of dalk my absolute medepligtigheid aan hierdie absurde lewe. Later het ook die suur glimlag plek gemaak vir ’n wye, sardoniese smaail. Ek kon nie besluit of die Dame dikvellig, onkundig, onnosel of dalk ’n kombinasie van al drie is nie.
Toe vir die betaalslag: ék, langarm agter die trollie met Mevrou se hakke klokkend neffens my.
Die wit Mercedes buite was nie ’n verrassing nie. White privilege, hmm. Die Dame het ’n groot sonbril op haar neus gesit en vir ’n oomblik het sy gelyk soos Jackie Onassis na ’n skandaal.
Ek het haar sakke sorgvuldig in die kattebak gelaai, maar toe sy na haar beursie reik met “jy verdien seker ’n fo-o-o-o-itjie”, is ek skoonveld.
Net die trollie het verdwaas met sy spastiese wiele zig-zag teen ’n hoogte afgeslinger op soek na ’n randsteen of kar om die vaart te stuit.
*
Die derde stop is die drankwinkel.
Al gemerk dat klante wat in ’n bottelstoor se tou staan, nie naastenby so geïrriteerd lyk soos dié wat byvoorbeeld in ’n bank se tou staan nie? Nee; hulle lyk ontspanne en mens kan selfs ’n onderliggende opgewondenheid, of gevoel van verligting, aanvoel. Hulle staan met ’n ingeoefende geduld en wag; sommiges se oë blink. Want, ten spyte van stygende sondebelasting, is daar die vooruitsig om ‘n bietjie te vergeet van die lewe se ou kwellinge – ’n dop waarborg immers euforie teen die pyn. En let maar op, as hierdie klante betaal het, stap hulle met ’n veerligte tred by die deur uit – party het selfs ’n huppel in die stap.
Oi, en nou weer die frustrasies van inkopies.
- Ek het al opgegee met mense wat heeltyd op hul selfone kyk terwyl hulle loop. Leepoog en hangnek – as diesulkes nie uitdraai as ek van voor af aankom nie, dan skouer ek hulle uit die pad. Ja. Skermverslawing is ’n verskriklike ding.
- Daar is nooit ’n werknemer van ’n supermark by die groente- en vrugte-afdeling as jy los items in sakkies geprys wil hê nie. Eg Suid-Afrikaans.
- Mense, meesal vroue, wat mekaar raakloop in gange en met ’n gekwetter en tierelier en die styg en daal van stemme die gang blokkeer met hulle winkelreünie.
- Eweneens: vroue wat winkelgange volstaan terwyl hulle met glasige oë en ’n trance-agtige uitdrukking besluit wat om te koop, veral met specials en sales (of klere). Mens kan die dopamien sien pomp soos die kooplus van hulle besit neem. (Mevrou se man sit iewers ineengedoke op ’n bankie en wag, ’n verlate kyk in sy oë soos iemand op ’n longdrop. Mens sien dit veral Desember met Kersfeesaankope.)
- Kassiere wat al jou geskandeerde items in een sak probeer inwurg. Dit sal mos skeur … Toegegee, mens betaal vir ’n sak (“plestiek”), maar ek ken miljoenêrs wat hare kloof oor plastieksakke. Ja, en dan kopers wat met ’n bol stokou verkreukelde sakke by die betaalpunt opdaag, meesal die ouer generasie. Maar … só bespaar ’n mens.
Alhoewel die magic van ’n koopervaring merendeels verdwyn het en plek gemaak het vir frustrasies en ’n knellende begroting, herinner die inkopie-ervarings van oudsher ons dat winkels veel méér as transaksies was. Hulle was klein teaters van die alledaagse lewe vol aksente, geure en karakters. In ’n tyd van Amazon, Temu en Uber Eats mag ons maar verlang na daardie stadige, maar menslike interaksie – en oor die winkelkaskenades lag.
Lees ook:


Kommentaar
Ha-ha! Heerlik gelees hieraan, dankie. (Ek wonder reeds ’n geruime tyd waar en hoe ek ‘eteries’ kan inwerk. Vervlaks.)
Soms wonder ek oor die aard en nut van menswees en die antwoord lê waarskynlik doodeenvoudig in die meeleef van winkel- en ander soorte kaskenades. In ‘City of Angels’ spring die engel Seth (Nicolas Cage) skoon van ‘n gebou af om liefde te ervaar. En dan gebeur die lewe.
Engele en KI staan tou vir ‘n lyf. Malligheid.
Jou rubriek het my nou ver terug geneem! Ek kan nog so duidelik onthou dat ek in die Griek se kafee, op die hoek, gestaan het om vis en tjips te koop vir aandete. Dit was ons weeklikse groot bederf en as oudste was dit my plig. Skielik het die radio so toet-toet gemaak! Daardie tyd is noodberigte so weergegee. Die aankondinging was dat Verword so pas dood is naday hy met 'n mes in die palement gesteek is. Dit was 6 September 1966. Ek het soos die wind huis toe gehol, aan die huile en windverwaaid.