Popcorn en springmielies is soos vinkel en koljander.
Hoe verkies jy jou springmielies – of verkies jy popcorn?
Dink aan springmielies en jy dink aan ’n verskeidenheid soorte: verkies jy joune op die klassieke manier, gebotter en gesout? Of is jy ’n lekkerbek popcorn-eter wat hou van eksotiese geure soos truffelolie, wasabi, sriratja of sjampanje? Geniet saam met my die willekeur, satire en hoogtepunte van verspringde mielies, mieliespronge, popcorn … en natuurlik springmielies.
Hierdie rubriek is vir oud en jonk.
I.
Ek maak graag my eie popcorn, ’n ritueel wat ek met heilige erns uitvoer. Ek vermoed ek is deep down passief-aggressief. Ek pop my pitte in ’n kastrol, die outydse manier, met ’n deursigtige deksel. Popcorn is die natuur se bubble wrap.
Eers swel die pitte witwarm; ja, dit swel uit met ’n wit woede.
Dan die asemlose gewag.
Daar is altyd ’n nerveuse soldaat in die voorste linie wat eerste skiet. Ná so ‘n sekond of twee van stilte bars die knettervuur met alle geweld los en my gemoed lig.
Nou: Om veerligte popcorn te pop, is ’n kuns. Jy moet die hitte vinnig afstel dat die pitte nie brand nie. Dan weer óp met die hitte, dat jy genoeg genereer om die laatslapers ook wakker te skrik. As jou plaat te warm is, brand die pitte en bly hulle swart en bedees op die boom lê. Die pitte wat nie skiet nie, is die “misfires”.
Dan haal jy die deksel af en bekyk die wolkmassa in die kastrol. Maar o wee – daar is altyd ’n pit wat minute agter die ander is: die ou korrelkop wat óók ’n skoot in die donker wil skiet.
Daai dwaalkoeël wat jou onverwags betrap.
Ek vergeet dikwels van die laaste pit.
Ek ruk altyd van die skrik.
Die vlok tref my potshot op die wang of oog.
’n Popcornvlok kan tot drie meter hoog die lug in skiet.
Wie – nou wié – vra ek, het die heel eerste keer popcorn gemaak? Wie het ontdek dat wanneer jy hitte en druk op ’n mieliepit toepas, dit gaan oopbars soos ’n airbag? Suiwer genius, sê ek jou.
Ek besluit om na te lees. Fossielrekords in Peru toon dat popcorn alreeds in 4 700 vC gemaak is.
Die mieliepit se dopagtige kern wat oopbars, word die “endosperm” genoem. Tydens die Groot Depressie was die prys van popcorn steeds baie laag, in teenstelling met die wêreldwye rantsoenering van suiker, wat beteken het dat lekkergoed se pryse gestyg het. Die massas kon nog popcorn bekostig.
Op ’n stadium tydens die Tweede Wêreldoorlog het filmteaters meer geld gemaak uit popcorn as uit fliekkaartjies. Toe kom die TV – en die Popcorn Instituut begin veldtogte om tuisverbruikers te wys hoe om ta túis, in die gerief van ’n kombuis, te maak. O, en voor ek vergeet: In die popcorn-bedryf verwys hulle na die pitte wat nie pop nie (as gevolg van ’n gebrek aan hitte en vog) as die “old maids”. En dis altyd ’n old maid wat iewers in jou tand vassit, of die harde bruin skil van ’n vlok wat aan jou tand kleef, kompleet of die emalje self loskom.
II
Terwyl ek gedink het aan ’n onderwerp vir my rubriek, het die slagsin “Keep it light” by my opgekom. Popcorn, natúúrlik. Want popcorn kan nooit somber of swaarmoedig wees nie. Die groep Hot Butter se dansbaantreffer “Popcorn” uit die 1970’s is vol in die kol: Die nabootsing van die ploffende popcorn laat jou voete jeuk om saam te dans. Luister gerus saam na die pionier van elektroniese musiek, Jean-Michel Jarre, se verwerking daarvan: https://www.youtube.com/watch?v=cXMhKdAwLbs.
Ek vermoed ons almal het aangename assosiasies met popcorn; hulle beweer mos mens se reuksintuig is, van alle sintuie, die langste terug gekoppel aan geheue en herinnering. Die geur van popcorn bring die nostalgie van filmteaters terug – al opgemerk hoe geesdriftig en met afwagting kykers se hande in die popcornbokse verdwyn; hoe vinnig hulle kou? Popcorn vorm die klankbaan van afwagting. Dan skuif die misterieuse gordyn voor die filmskerm weg en die fliek begin. Die gedruis van stemme raak stil. Die enigste geluid is die gekou en gekraak van popcorn en die outentieke geur wat die teater vul. Die sagte en weelderige tekstuur van rolprentpopcorn wat mens skaamteloos, in handevolhoeveelhede, mag verorber. Mens assosieer films ook met dating. Wanneer die (vr)ou jou uitvra om te gaan fliek, dan sit julle tweetjies langs mekaar in die weelderige rooi stoele, elk met ’n Slush Puppy en ’n gedeelde boks popcorn. ’n Besliste romantiese oomblik is daai een wanneer jou hand saam met jou date s’n in die boks grawe en jy per ongeluk aan jou date se vingers raak. (!) Ek onthou ook die potte vol seasoning salt wat jy oor die warm popcorn gestrooi het; maar dié geursout het ’n manier gehad om af te sak na die boom van die popcornboks, met die gevolg dat die onderste popcorn oneetbaar sout geraak het. En ja, op skool het die onnies van “pofkoring” of “kiepiemielies” gepraat wanneer die kinders lekkernye tydens buitemuurse aktiwiteite gekoop het.
Maar die herinnering aan popcorn, nes besoeke aan rolprentteaters, is langsaam besig om uit te sterf as gevolg van die opbloei van ’n groot verskeidenheid stromingskanale en -reekse.
Die geskiedenis van popcorn is ’n fassinerende verhaal van die vernuwing en aanpassing van die mens se kultuurgoedere. En die geskiedenis is in alle opsigte ’n genotvolle een, ’n triomf vir die mens, gekenmerk deur sukses.
Duisende jare gelede het inheemse stamme in die Amerikas vir die eerste maal die unieke eienskappe van sekere variëteite van mielies ontdek. Argeologiese bewyse dui daarop dat springmielies reeds so vroeg as 6 000 jaar gelede gemaak en verbruik is. Die oudste bekende popcorn-pitte is in ’n grot in Nieu-Meksiko ontdek en dateer uit ongeveer 3 600 vC.
Die inheemse mense het mielies nie net as ’n stapelvoedsel gekweek nie, maar dit ook gebruik vir seremoniële, religieuse en ontspanningsdoeleindes. Popcorn het ’n belangrike rol in hul daaglikse lewens gespeel, beide as bron van voedsel en as artefakte van kulturele betekenis. Die Asteke het byvoorbeeld popcorn in hul rites gebruik as bykomstigheid en versiering vir seremoniële kleredrag. Hulle het ook popcornkranse gemaak wat tydens feeste gedra en aan hulle gode geoffer is.
’n Zapoteekse begrafnis-urn wat in Meksiko gevind is en wat uit ongeveer 300 nC dateer, beeld ’n mieliegod uit met simbole wat primitiewe springmielies in sy hooftooisel voorstel.
Die aankoms van Europese setlaars in die Amerikas in die 15de en 16de eeue boekmerk die begin van popcorn se verspreiding buite sy geboortegrond. Die inheemse mense het popcorn bekendgestel aan die setlaars, wat dit terstond as voedingsbron oorgeneem het. Springmielies was maklik om te kweek, te berg en voor te berei, en as sulks, ’n waardevolle kommoditeit in die kolonies van daardie tyd.
In 1519 het Hernán Cortés sy eerste voorsmakie van springmielies gekry toe hy Meksiko binnegeval het. Popcorn was ’n belangrike voedingsbron vir die Asteekse Indiane, wat ook popcorn gebruik het as versiering in hulle seremoniële hooftooisels en halssnoere; die Asteke het ook popcornversierings om die standbeelde van hulle gode, soos Tlálok, die god van mielies, reën en vrugbaarheid, gedrapeer.
Die Fransiskaanse Spaanse sendeling Bernardino de Sahagún het só oor die Asteke geskryf: “And also a number of young women danced, having so vowed, a popcorn dance. As thick as tassels of maize were their popcorn garlands. And these they placed upon (the girls’) heads.” Nou ja; min sou ons kon geraai het dat popcorn ook die status van spirituele offerandes en artefakte sou inneem!
Met die vestiging van Europeërs in die Nuwe Wêreld het springmielies en ander mieliesoorte na alle inheemse Amerikaanse stamme in Noord- en Suid-Amerika versprei. Meer as 700 variëteite van springmielies is gekweek, waaronder ’n paar kampioene onder dié hoogspringatlete. Daar is selfs ’n gewilde springmieliesop en -bier uit hierdie mielies gebrou.
Die twee basiese tipes springmieliepitte word die vlinder- en die sampioenspringmielie genoem. As die vlinderpit ontplof, is dit groot en donsig met baie vlerke wat by elke pit uitsteek. Vlinderspringmielies is die algemeenste soort springmielies. Die sampioenspringmielies is meer kompak en soos ’n bal gevorm. Sampioenspringmielies is perfek vir prosesse soos karamellisering.
Om popcorn te verbind aan die mens se antieke kultuur, is surrealisties – dit voel dan nog soos gister dat hierdie “moderne” lekkerny ’n ereplek ingeneem het in ons popkultuur (pun intended!), tussen die groot sondaar, aartappelskyfies, en sy sobere boet, die pretzel. En steeds, na duisende jare, is die maak van popcorn suiwer magic. Die aanvanklike ontdekking van springmielies moes komies gewees het – en heel toevallig toe die wilde Zea mays (springmielie-mielie) blootgestel was aan hitte en die korrels begin op- en oopspring het. Imagine net die primitiewe mense se reaksie toe hulle dít sien!
Springmieliepitte het ’n harde buitenste dop, bekend as die perikarp, en ’n digte, styselagtige binnekant. Wanneer dit verhit word, verander die vog binne-in die pitte in stoom wat druk opbou totdat die pitte ontplof en die stysel omskep word in die donsige, eetbare deel wat ons as springmielies ken. Die temperatuur wat nodig is vir hierdie proses, is ongeveer 180 °C. Die popproses is ’n mini-ontploffing, en elke pit kan tot 40 keer sy oorspronklike grootte pop.
Teen die 19de eeu het popcorn ’n gewilde peuselhappie in die VSA geword. Dit is dikwels by feeste, sirkusse en ander openbare byeenkomste verkoop. Dit was ook ’n stapelvoedsel in huishoudings, waar dit oor oop vure of op stoofplate voorberei is.
Die Industriële Revolusie in die 19de eeu het beduidende veranderinge in die produksie en verbruik van popcorn meegebring. In 1885 het Charles Cretors, ’n lekkergoedwinkel-eienaar van Chicago, die eerste popcornmasjien gebou. Hierdie stoomaangedrewe toestel kon groot hoeveelhede mielies vinnig en doeltreffend pop, wat dit moontlik gemaak het om varsgepopte popcorn op straat en by openbare geleenthede te verkoop. Cretors se uitvinding het die popcornbedryf gerevolusioneer en dit in ’n kommersiële onderneming verander.
Popcorn het, soos reeds genoem, ’n gewilde versnapering by rolprentteaters in die vroeë 20ste eeu geword. Mettertyd was teatereienaars huiwerig om popcorn te verkoop, want dit het ’n gemors in die gangetjies voor die stoele veroorsaak. Maar hierdie bekostigbare en heerlike peuselhappie was té gewild om mee weg te doen. Teen die 1930’s was popcorn ’n stapelvoedsel by filmteaters regoor die VSA en dit bly vandag nog sinoniem met ’n fliekervaring.
In tandem hiermee het die springmielie-ontploffing (pun weer eens intended!) tydens die Groot Depressie in die 1930’s gevolg. Teen net 5c tot 10c per sak was popcorn een van die min luukses wat mense nog kon bekostig. Die gewildheid van hierdie goedkoop lekkerny het vinnig toegeneem, en springmielieverkope het ’n broodnodige inkomste aan baie sukkelende boere verskaf.
Tydens die Groot Depressie het die verkoop van springmielies ’n manier geskep vir teaters om winsgewend te bly. Die lekkerny se lae koste en hoë winsmarges het daarvan ’n ideale konsessie-item gemaak. Vandag is dit moeilik om te dink aan ’n besoek aan ’n rolprentteater sónder om springmielies te koop.
Dan is daar natuurlik diegene wat hulle popcorn as ontbytkos met melk/room en suiker genuttig het. Een so ‘n bekende was die vrou van John Kellogg, Ella Kellogg. Tot vandag toe is Kellogg, eertydse medikus en die skepper van ’n gesondheidsoord vir rykes, se ontbytgraanvlokkies, Kellogg’s Corn Flakes, legendaries en ’n bekende deelgenoot in talle huishoudings wêreldwyd. John Harvey Kellogg is ’n karakter op wie se naam mens gerus kan dubbelklik. Dié geniale en eksentrieke man het vreemde en liberale idees gehad, en het sy beskouings as Sewendedag-Adventis met sy sienings van ’n gesonde leefstyl probeer integreer . Dit sluit in die onthouding van sigarette, alkohol en masturbasie, asook die waarde van rehidrasie; die beskouings dat Amerikaners te veel vleis en te min vesel eet; die gebruik van jogurtenemas om probiotika in die kolon te aktiveer; en gereelde oefening. Vandag se beginsels van “clean eating” is reeds ’n eeu gelede deur Kellogg gepropageer. Hy het mielieblare gerooster en as ontbytgraan gepatenteer (die reeds genoemde Kellogg’s Corn Flakes, wat inderwaarheid ook as peuselhappie geniet kan word). Uiteraard was Kellogg die vader van die legio ontbytgrane wat met die jare die mark vir ontbytkos oorspoel het, en steeds oorspoel. ’n Mielie is ’n wonderlike ding; en as bron van inspirasie tydloos.
Die uitvinding van die mikrogolfoond in die middel van die 20ste eeu het tot nóg ’n belangrike mylpaal in die geskiedenis van popcorn gelei. In 1981 het die Amerikaanse maatskappy General Mills die eerste mikrogolfpopcornsak gepatenteer, wat dit makliker as ooit gemaak het om varsgemaakte popcorn tuis te geniet. Mikrogolfpopcorn het vinnig ’n huishoudelike stapelvoedsel en -versnapering geword, wat popcorn se posisie in die popkultuur verder verstewig het. Vandag is mikrogolfoondspringmielies ’n multimiljarddollarbedryf, en dit bly een van die gewildste geriefskosse ter wêreld.
Die gebruik van popcorn as lekkerny, versiersels en geskenke by feeste soos Halloween, Thanksgiving, Kersfees en Paasfees is al vir dekades ingeburgerde kultuur in die VSA. Die maak van groot popcornballe om kaggelrakke en deurkosyne mee te versier, is algemeen en resoneer met popcorn as verteenwoordigend van die gees van feestelikheid van duisende jare gelede.
..........
Die gebruik van popcorn as lekkerny, versiersels en geskenke by feeste soos Halloween, Thanksgiving, Kersfees en Paasfees is al vir dekades ingeburgerde kultuur in die VSA. Die maak van groot popcornballe om kaggelrakke en deurkosyne mee te versier, is algemeen en resoneer met popcorn as verteenwoordigend van die gees van feestelikheid van duisende jare gelede.
.............
Nodeloos om te sê: Zea mays, wat as nederige gewas eens as veevoer geag is, se ambisie om groter hoogtes te bereik het geen grense geken nie. In 1996 het springmielies hul weg na die buitenste ruim gevind en wel aan boord van die ruimtependeltuig Columbia. Nasa het springmielies in die ruimtevaarders se spyskaart ingesluit as ’n ligte gesonde versnapering. Die ruimtevaarders het die nuwigheid van springmielies in ’n nulgravitasie-omgewing geniet, alhoewel hulle versigtig moes wees dat die korrels nie opstyg en wegdryf nie!
Wat ’n mens bring by die volgende punt, naamlik hoe gesond popcorn is (let wel, die luggepopte, vetvrye soort). Popcorn is ’n volgraan, wat beteken dat dit al die dele van ’n graankorrel bevat – die semel, kiem en endosperm – daarvan ’n uitstekende bron van dieetvesel maak. Springmielies is ook laag in kalorieë, met ongeveer 31 kalorieë per koppie luggepopte springmielies. Dit is natuurlik vry van suiker en vet, hoewel bygevoegde botter, sout of ander geurmiddels die voedingsprofiel aansienlik kan verander.
Terwyl gebotterde en gesoute springmielies die klassieke weergawe bly, wys hierdie neutrale lekkerny sy veelsydigheid wanneer dit gekaramelliseer, met sjokolade bedrup, of met gesmelte kaas bedien word. Sommige maatskappye bied selfs springmielies met eksotiese geure soos truffelolie, wasabi, sriratja of sjampanje aan. En dit kan in sakke, bakkies, bokse of deftige gourmetblikke bedien word. Popcorn is inderdaad ’n demokratiese lekkerny wat as globale verskynsel ’n bewys is van veelsydigheid: Dit het aangepas by die smake en tegnologieë van elke era, en ’n geliefde lekkerny geword wat kulturele en geografiese grense oorskry. As simbool van vermaak en kulinêre genot het springmielies ’n ryk geskiedenis, ’n unieke wetenskap en kulturele betekenis wat (op dieper vlak) iets sê van die mens se historiese weerstandigheid. In my geestesoog sien ek ’n klomp Asteke wat hulle springmielies oor ’n oop vuur gepop en met heuning bedrup het – is dit nie antieke genius nie? Ryk en arm, oud en jonk, gesondheidsbewus of laissez-faire: Geen peuselhappie word so universeel aanvaar en so maklik deur die massas omarm nie – popcorn is inderdaad ’n wêreldburger en welkom in enige geselskap.
Lees ook:
Kommentaar
Ek het lanklaas na Jarre se Popcorn geluister. As hy jou skerp en vermaaklike rubriek gelees het, sou die musiek nie net aan die einde vervaag het nie. Ek wag toe tevergeefs vir daardie "pit wat minute agter die ander is: die ou korrelkop wat óók ’n skoot in die donker wil skiet." Skryf asseblief nog.
Nog een van Nini se bydraes wat so lekker lees, ek lees dit twee keer.