Speurhond Willem in Japan deur Elizabeth Wasserman: ’n kinderboekresensie

  • 0

Titel: Speurhond Willem in Japan
Skrywer: Elizabeth Wasserman
Illustreerder: Chris Venter
Uitgewer: Tafelberg (2025)
ISBN: 9780624095095
Epub ISBN: 9780624095101

Hierdie slim spanjoel het al ’n hele spul hoede op gehad, wyd gereis en baie skelms in die stof laat byt. Op die omslag van die tiende en jongste Speurhond Willem-boek pryk hy met ’n kasahoed en ’n Samoerai-swaard. Hy “wen” vir Adriaan ’n kompetisie met ’n  haikoe wat hy geskryf het en reis saam met Willem na Tokio. Adriaan weet wel teen dié tyd, ná nege sendings, van beter. Willem, wat hierdie keer “vermom” as Adriaan se emosionele-ondersteuningsdier saamreis, is eintlik die een wat in opdrag van die Internasionale Speurdiens na Japan moet vlieg.

Willem is ’n speurhond en geheime agent, maar hy reis nooit sonder Adriaan nie. Met hulle eerste sending het hulle Sybrand Swiffervalk se spoor in Turkye opgetel en hom deur Europa tot in Engeland gevolg. In ander sendings het hulle onder andere met wild- en  diamantdiewe slaags geraak, moes hulle ligloop vir seerowers, en het hulle selfs ’n draai by die Internasionale Ruimtestasie gemaak. Willem se speurvernuf is ook in New York, Skotland, Australië en die Amasone getoets, en so het lesers die tweemanskap deur die jare ook daarheen vergesel.

Met hulle splinternuwe avontuur in onder meer Tokio, Kioto en Osaka is Adriaan en Willem deel van ’n kompetisie waaraan ’n groep kinders in spanne van twee deelneem en elkeen ’n karakter van ’n gewilde mangastrokiesverhaal verteenwoordig en deurgaans ’n kostuum moet dra. Die kinders het reeds hulle kostuums aan wanneer hulle as hulle karakters mekaar ontmoet. Willem verduidelik aan lesers dat cosplay en manga en anima baie gewild is onder die Japannese en dat dit dus nie vreemd is as mense kostuums op straat dra nie.

........
Al klink minder skole en meer tegnologie moontlik vir lesers aanloklik, soos aanvanklik vir Adriaan, wys Wasserman slim op die gevare van oormatige outomatisasie.
........

Elizabeth Wasserman gebruik juis hierdie feit om die skurke, in hierdie geval robotte, van haar verhaal slim tussen die res van die karakters weg te steek. Die groepie deelnemers moet ’n aantal take verrig, en die kinders moet die robotte in die groep probeer klop. Maar wie is wie? En is Willem ooit slimmer as hierdie nuwe “rekenaargoeters”? Die regering dreig om skole en biblioteke se begrotings te snoei en daardie geld aan die ontwikkeling van meer gevorderde robotte te bestee as die robotte hierdie kompetisie sou wen.

Al klink minder skole en meer tegnologie moontlik vir lesers aanloklik, soos aanvanklik vir Adriaan, wys Wasserman slim op die gevare van oormatige outomatisasie. Die robotkarretjie wat hulle bagasie na hulle kamers toe aangery het, en die masjiene wat kos verkoop, was vir Adriaan baie oulik toe hulle daar aanland, maar ná ’n gesprek met Sani begin hy anders daaroor voel. Sy verduidelik hoe robotte al meer mense se werk oorneem.

.......
Die Speurhond Willem-boeke neem lesers op spannende én snaakse speuravonture, maar is en bly in wese reisverhale. 
 .......

Die Speurhond Willem-boeke neem lesers op spannende én snaakse speuravonture, maar is en bly in wese reisverhale. Wasserman slaag nes met haar Elf dae-tienerreeks met hierdie reeks steeds uitstekend daarin om vir nege- tot twaalfjariges feit en fiksie kreatief te kombineer en pakkende stories te skep en te vertel, én haar lesers daarmee te vermaak. Interessante feite oor ’n dorp, streek of land word nooit lukraak gelys nie, maar altyd sinvol by agtergrond of intrige of selfs karakterisering ingewerk. Gesprekke oor Japannese cuisine gebeur byvoorbeeld spontaan, en wanneer dit te vreemd raak, sorg dit vir goeie materiaal om humor in te bring. Rooiboontjies is ’n gewilde bestanddeel, en ’n rooiboontjiepasta as vulsel in ’n ryskoekie is vreemd genoeg vir ’n Afrikaanse kind se verbeelding om te rebelleer teen hoe dit moontlik kan smaak.

Vroeg in die verhaal sê Adriaan “Treine is ’n ding in Japan.” Hy is baie opgewonde wanneer hy uiteindelik op ’n koeëltrein kan ry. Lesers verneem dat hierdie vinnige netwerk van treine Shinkansen genoem word en dat die trein maklik teen 300 km/h kan voortspoed, ’n feit wat ek vermoed min jong seuns gaan vergeet. Interessante en ouderdomsrelevante feite word telkens natuurlik en in die kol by die storie ingesluit.

Dis lekker om só lees-lees te leer. Boonop leer Adriaan ook dat wysheid hoog geag word in die Japannese kultuur, en … soos hierdie boodskap ook vir Wasserman se lesers duidelik word, is dit nie iets “wat in ’n robot geprogrammeer kan word nie”!

Adriaan leer speel-speel baie op sy avonture saam met Willem, maar Speurhond Willem bly die held van hierdie prettige reeks. Ek wil in my beste Japannees sê: “Hai, Willem-san, jy ken jou storie,” maar my gunstelingwoord wat ek uit Speurhond Willem in Japan geleer het, rig ek aan die yamaboushi: “Yoshino-san, uketamou.”

Lees ook:

Leesstof vir die skoolvakansie! Speurhond Willem in Japan: ’n onderhoud met Elizabeth Wasserman

Lees- en leerpret met Bollie: ’n resensie

Kinderboeke: Van dansdrome na dansers – na rolmodelle

Kinderboeke: Terug skool toe met lekkerleesboeke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top