Leesstof vir die skoolvakansie! Speurhond Willem in Japan: ’n onderhoud met Elizabeth Wasserman

  • 0

Boekomslag: NB-Uitgewers

Speurhond Willem in Japan
Elizabeth Wasserman
Tafelberg Uitgewers
ISBN: 9780624095101

Elizabeth Wasserman praat met Naomi Meyer oor Elizabeth se jongste boek, Speurhond Willem in Japan.

Elizabeth, mense ken jou Speurhond Willem al baie jare lank. Ek wou as ’n grap gevra het of jy regtig ’n pratende hond besit, maar toe besef ek as hier robotte in die storie is, is dit dalk nie eens ’n verregaande vraag om te vra nie. Of is dit? Vertel my van Speurhond Willem in Japan – en watter avonture hy alles in hierdie verhaal beleef.

My hond kan vir seker praat. Hy het wel sy eie taal (Hond), maar ek het gou geleer om dit te verstaan.

Speurhond Willem in Japan is sowaar al die tiende boek in hierdie reeks. Dit is reisverhale en elke storie is ’n avontuur in ’n ander deel van die wêreld. Selfs eenkeer op die Internasionale Ruimtestasie! (Nommer 4: Speurhond Willem in die ruimte.) Hierdie keer reis Willem saam met Adriaan na Japan om deel te neem aan ’n kompetisie waar groepe kinders ’n aantal take moet voltooi. Almal dra kostuums wat hulle vermom as karakters in ’n gewilde Manga-strokiesprent. Dit word Cosplay genoem, en in Japan is dit glad nie so ongewoon as mense só aantrek nie. Maar alles is natuurlik nie soos dit op die oog af lyk nie. Van die “kinders” is in werklikheid robotte. Dit is belangrik dat Willem en sy spanmaats die robotte in hierdie kompetisie wen, anders kan dit slegte gevolge hê vir die toekoms van die kinders van hierdie interessante land. Miskien selfs vir alle kinders, die wêreld oor!

Veel is dus op die spel, en Willem moet help.

Speurhond Willem – hoekom nie Speurkat Willem of Speurpapegaai Willem nie? Is honde jou gunsteling-diere? Dink jy liefhebbers van ander troeteldiere sal ook van Willem hou?

’n Speurhond, veral ’n reisende een, werk net beter vir hierdie stories as ’n ander soort dier. Honde besit natuurlik baie talente wat ek goed kan inspan: Hulle reuksin is uitstekend, hulle is getroue kamerade en boonop oulik. Nie dat Willem daarvan hou om as “oulik” beskryf te word nie! Hy is immers ’n goed-opgeleide speurhond wat lank diens gedoen het in die Internasionale Polisie. Hy praat en verstaan ’n hele paar tale, hy is ’n meester van verskeie soorte Oosterse gevegskuns, hy speel goed skaak (al verneuk hy soms bietjie) en hy kan Adriaan met sy wiskundehuiswerk help.

Wie sou nie graag só ’n troeteldier wou hê nie?

.........
Hy is immers ’n goed-opgeleide speurhond wat lank diens gedoen het in die Internasionale Polisie. Hy praat en verstaan ’n hele paar tale, hy is ’n meester van verskeie soorte Oosterse gevegskuns, hy speel goed skaak (al verneuk hy soms bietjie) en hy kan Adriaan met sy wiskundehuiswerk help.
Wie sou nie graag só ’n troeteldier wou hê nie?
.........

Boekomslae: NB-Uitgewers

Wie is Adriaan en wat gebeur in hierdie boek met hom?

Adriaan is Willem se huismens. Toe hy nege jaar oud geword het, wou Adriaan bitter graag ’n hond hê en sy ouers het hom na die dierebeskerming-vereniging geneem om vir hom ’n jong hondjie uit te kies. Toe sien hy die effens oorgewig en reeds bejaarde gespikkelde spanjoel wat alleen in die hoekie van ’n staalhok sit.

Die res is geskiedenis.

In Japan moet Adriaan weer bontstaan om te keer dat Willem se speurneus hulle nie nóg dieper in die moeilikheid lei nie. Adriaan leer ook ’n paar handige dinge, soos hoe om ’n paar vernuftige judogrepe te gebruik om die boelies by sy skool ’n les te leer.

Was jy al in Japan, of watter dinge van Japan het jy uitgevind wat vir jou interessant was en wat jy in Speurhond Willem in Japan kon beskryf?

Ek woon deesdae aan dié kant van die Aarde waar die son eerste opkom en was juis besig om huiswerk te doen vir ’n reis na Japan toe hierdie storie my inhaal. Japan is in soveel opsigte anders as enige plek waar ek en Willem al ooit tevore heen gereis het. Die kos is vreemd, die mense is hoflik en eerbiedig. Boonop het die land ’n fassinerende geskiedenis wat ek kon gebruik om hierdie avontuur kleur te gee: sumostoeiers, ’n ou samoeraiswaard en kluisenaarpriesters wat in afsondering bo in dig beboste berge woon. Ek kon hierdie elemente meng met moderne tegnologie soos blitsvinnige treine, virtuele realiteit-lense en vertalers wat in die kostuums se oorstukke ingebou is. Om nie van die robotte te praat nie!

...........
Die kos is vreemd, die mense is hoflik en eerbiedig. Boonop het die land ’n fassinerende geskiedenis wat ek kon gebruik om hierdie avontuur kleur te gee: sumostoeiers, ’n ou samoeraiswaard en kluisenaarpriesters wat in afsondering bo in dig beboste berge woon. Ek kon hierdie elemente meng met moderne tegnologie soos blitsvinnige treine, virtuele realiteit-lense en vertalers wat in die kostuums se oorstukke ingebou is. Om nie van die robotte te praat nie!
..............

Waarom is Speurhond Willem in Japan ’n lekker leesboek vir hierdie kort herfsvakansie?

Soos al die Speurhond Willem-avonture wat hierdie boek voorafgaan, is dit ’n lekkerlees-verhaal vol aksie en spanning. Iets opwindends gebeur in elke hoofstuk, en boonop is hierdie hoofstukke net die regte lengte vir voorlees in die klas, of om as ’n slaaptydstorie te dien wat die hele gesin kan geniet.

Daar is humor en kameraadskap en boonop veel om te leer van Japan, die mense wat daar woon en hulle gewoontes.

Geniet die boek!

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: Watter boeke koop ek vir my gretige of sukkelende kinderlesers?

Jy’s seker nie ernstig nie

El Bowie Bakery by Toni Viva Muñoz: a reader’s impression

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top