Sondes van die vaders deur Lerina Erasmus: ’n onderhoud met François Bloemhof

  • 0

Sondes van die vaders
Lerina Erasmus
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798179065

Sondes van die vaders deur Lerina Erasmus het onlangs by NB-Uitgewers verskyn. François Bloemhof vertel vir Naomi Meyer van sy interessante pad met die manuskrip en die uiteindelike boek.

François, die boek Sondes van die vaders het onlangs onder Lerina Erasmus se naam verskyn. Jy het die afronding van die manuskrip behartig en die boek dus klaargemaak. Was die oorspronklike manuskrip reeds by die uitgewer, maar die skrywer nog besig om daaraan te werk? Of waar was die manuskrip teen die tyd wat jy dit in die hande gekry het?

Lerina het dit reeds ’n tyd tevore ingehandig. Soos met die meeste manuskripte gebeur, het dit nog werk en hersiening benodig. Dit was ook deels as gevolg van die genre; enige speurder in die werklike lewe sal weet daar is tydens ’n ondersoek baie balle wat in die lug gehou moet word. Die keurders het heelwat voorstelle gehad (sommige daarvan uiteraard teenstrydig) en Lerina was nog besig om daaroor te besin en kon nie veel veranderinge maak voor haar dood nie.

Ek het onwillekeurig gedink aan die opera Turandot en die feit dat Puccini dit nie self voltooi het nie. Die persoon wie se skepping dit was, of wat dit gekonseptualiseer het, se skoene is groot om vol te staan. Maar die een wat die eindproduk voltooi het is ook ’n kunstenaar met kundigheid en skeppings van groot waarde, anders sou hy nie genader geword het nie. Hoe was jou ervaring van die proses?

Op ’n totaal selfsugtige noot gebeur dit amper vir seker net een keer in ’n skrywer se lewe dat hy so ’n uitdaging en verantwoordelikheid kry. Ek hou daarvan om my grense te toets en sou so ’n taak op grond daarvan reeds sterk oorweeg het. Maar die vernaamste faktore was dat dit Lerina se laaste werk was en boonop die opvolg van Die leliemoordenaar, wat tog nie so onvoltooid gelaat kon word nie. En dit was op sigself ’n sterk storie wat verdien het om vertel te word. Ek het ’n maand lank gedink en toe ’n maand lank geskryf. Ek twyfel nie dat sommige wendings en details kwaai verskil van die keuses wat sy sou gemaak het nie, maar my mikpunt was om dit in die geheel getrou aan haar visie te hou.

Vertalers moet nadink oor die bronteks en hulle interpretasie daarvan, veral as dit by sosiolekte kom. Hierdie was iets anders. Tog: hoe goed ken jy Lerina Erasmus se ander werk? Het jy met die teks omgegaan asof jy dit sou wou skryf soos sy dit sou wou doen, of het jy jou eie kop en hart gevolg?

Ek was ’n keurder vir Die leliemoordenaar, dus was ek reeds vertroud met die storie tot op ’n sekere punt, so ook die manier waarop dit vertel is. Ek het dit nooit as “haar en my boek” beskou nie. Sekere stukke wat ek in een van my eie boeke heeltemal anders sou aangepak het, het ek so gelos omdat dit Lerina se manier van dink weerspieël. Aan die intrige het ek wel taamlik baie verander, maar dan met ’n geleende stem. Lesers moes nie soms kon dink dié gedeelte het ’n heel ander gevoel as die vorige, en dus hoor hulle nou my stem nie. Ek glo buitendien daaraan om my skryfstyl af en toe vir ’n nuwe storie aan te pas, en ek skryf vir verskillende ouderdomsgroepe, daarom het dit natuurlik gekom om Lerina se baie kenmerkende styl in te studeer en te gebruik. Dalk het ek my roeping as vervalser gemis …

Lerina Erasmus (1946–2018)

Boekresensie: Die leliemoordenaar deur Lerina Erasmus

Lerina Erasmus: 1946–2018

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top