Lerina Erasmus (1946–2018)

  • 2

Foto van Lerina Erasmus: Robert Hamblin

Gebore en getoë 

Lerina Erasmus is op 20 Augustus 1946 in Namibië, destyds Suidwes-Afrika, gebore. As ’n rooikopdogtertjie het sy saam met haar Ovambo-maatjies langs die Kunenerivier in die noorde van Namibië gespeel. “Ek het Ovambo gepraat. Nou ken ek dit nie meer nie,” vertel sy aan Elise-Marie Tancred (Rooi Rose, 26 November 1997).

Haar pa was ’n ouditeur en boekhouer van beroep en dit het gemaak dat hulle soos “sigeuners” van die een plek na die ander moes trek en sy het grootgeword van Namibië tot in Pretoria.

“Vir ’n klein dogtertjie was dit ’n vreemde wêreld van die een hotel na die ander met te min tyd om blywende vriendskappe met ander kinders te sluit,” deel sy Lochner de Kock mee (Rapport-Tydskrif, 21 November 1999). “My ma, ’n buitengewoon warm mens, het dit op haar geneem om my te vermaak. Van haar lippe kon ek die eerste keer die broers Grimm se verhale hoor, asook die romantiese eskapades van ridders, maagde en drake deur ’n meneer Spencer. En dan later ook die Griekse mitologie.”

Sy vertel ook aan De Kock dat daardie hotelkamers waar hulle so baie van hulle tyd alleen deurgebring het, was haar eerste verhoog. “Want ek en my ma het al daardie avonture en sagas uitgeleef. Die aktrise is gebore tydens eindelose reise van Klerksdorp tot Koekenaap, Gatsrand en Putsonderwater!”

Verder studie en werk

Ná skool is Lerina na die Universiteit van Pretoria waar sy drama gaan studeer het onder leiding van Anna Neethling-Pohl. Sy is aangewys as beste student en het saam met die streekrade se drama-geselskappe rondgereis. Só het sy waardevolle ondervinding opgedoen, maar het dit nie as jong aktrise so ervaar nie: “Destyds was ek baie vies. Ek wou in die teater speel, nie in skoolsale nie!” vertel sy aan Tancred.

In 1970 is sy en Gunther Schmikal, ’n Oostenryker, getroud en hulle het een seun, Stefan-Pieter. Die ontmoeting was iets wat amper in ’n storieboek kon gebeur het.

Sy is na ’n kostuumbal genooi. Die plekkie waar dit gehou is, was baie klein en die gasvrou het ongeveer 200 mense genooi. “Maar ek onthou dit was gelukkige dae waarin ’n mens met moord kon wegkom, solank dit liefdevol gepleeg is!” vertel sy aan De Kock. “Ek trek toe soos ’n sigeunerin aan, ’n soort Carmencita Erasmus met kamelias in my lang rooi hare. Toe ek instap, steek ek handeviervoet was – reg voor ’n sigeuner ... ’n lieflike manlike een – en die Groot Ontploffing gebeur! Soos julle kan raai, het ek die man in my lewe ontmoet. ’n Man genaamd Gunther Alfred Schmikal.”

Hulle het daarna saam as hippies met blomme in hul tone en hare deur Europa duimgegooi en oral waar hulle gekom het, vrede verkondig. Dit was ’n wonderlike vrye tyd.

Sy is ook gedurende daardie tyd gekies om as een van 10 buitelandse studente aan die gesogte Max Reinhardt Instituut in Wene te gaan studeer. “Ek het ongelooflik baie geleer,” sê sy aan Tancred (Rooi Rose, 26 November 1997), “maar net toe ek begin om ’n deurbraak te maak in die Oostenrykse teaterwêreld, het ons geld opgeraak. My enigste roem dáár was dat ek as ’n vreeslike mollige Felix die Kat op die verhoog verskyn het.

“Dit was wel ’n uiters stimulerende tyd in my lewe. Ek het groot name sien optree. Ek het gesien hoe hulle ’n gehoor bekoor en hoe ’n gehoor waansinnig raak oor teater. Teater daar is soos rugby in Suid-Afrika. Hulle slaan vuis oor watter aktrise die beste is.”

Lerina het haar daarna wel deeglik op die verhoog laat geld. Sy het klassieke rolle gespeel in die Griekse dramas, Elektra, Antigone en Medea en dit het haar laat voel dat sy lééf. En dit was nadat sy Medea gespeel het in die laat 1970’s dat sy afskeid van die teater geneem het. “Dit was die laaste optrede en ek het ’n vertolking gegee wat ek geweet het ek nooit sou kon herhaal nie,” verduidelik sy haar besluit aan Mariette Snyman (Rooi Rose, Oktober 2006). “Daardie aand het ek van die verhoog afskeid geneem. Ek het al my foto’s weggegooi – dit was soos ’n amputasie. Maar dit was ook tydig; ’n ruk later is my en Gunther se seun, Stefan-Pieter, gebore. Verhoogwerk neem jou dikwels ver weg van die huis. Jy kan radio- en TV-werk makliker met ’n gesin versoen.”

Lerina het in 1992 na die verhoog teruggekeer om die rol van Anna in Reza de Wet se Mirakel te vertolk. Sy het aan Martjie Roos (Beeld, 29 Junie 1992) vertel toe Stephan Bouwer haar gebel het om haar die rol aan te bied, sy dit eers nie wou aanvaar het nie. “As dit die derde blompot van links op die verhoog is, onder die voetligte, ja ...'' het sy skertsend geantwoord. Maar nadat sy die teks gelees het, het sy gou van wysie verander.

Daarna het sy haar toneelwerk voortgesit deur in televisiereekse soos Dokter, dokter en Drama, drama te speel, maar het haar meestal toegespits op die skryf van radioverhale. En dit het alles begin toe sy vir Stefan verwag het. “Ons het ’n nuwe Afrikaanse radiostorie deur Elmar Steyn opgeneem. Hy het skaars drie episodes geskryf toe hy ’n hartaanval kry. Ek en van die ander spelers moes noodgedwonge inspring om die storie verder aanmekaar te flans. Ek het dit nogal geniet, en daar was nie tyd om my te bekommer dat ek dit dalk nie sou regkry nie,” vertel sy aan Snyman.

In die skryf van die radioverhale kon sy staat maak op haar verhoogopleiding en -ondervinding, veral as sy visueel moes dink. “Met radio skep jy teater van die brein. Die luisteraars moet kan ‘sien’ hoe elke karakter lyk. Maak nie saak of ek vir ’n boek, die radio, TV of groot skerm skryf nie, ek dink in prentjies. Ek moet presies weet hoe ’n karakter lyk – tot haar tone – en hoe sy loop. Ek moet elke vertrek in die fynste besonderhede kan sien.”

Heelwat radioreekse het uit Lerina se pen gevloei – Hartjie my liefie, Noodlotskoppelmaai, Vriendinne – en sy het gesorg vir baie eerstes in die radiobedryf. So was Hartjie my liefie die eerste radioreeks waar daar in diepte gekyk is na die gay leefstyl in Suid-Afrika, asook na die modebedryf. Noodskoppelmaai was die eerste reeks wat uitsluitlik vir bruin akteurs geskryf is en Vriendinne het gehandel oor Afrikaanse vroue en hulle diepste begeertes.

Sy het ook die televisiereeks Moordspeletjies geskryf wat in 1988 uitgesaai is met Wilna Snyman in die rol van Caro, ’n moordverhaalskrywer. Lerina was ook verantwoordelik vir die hoofstorielyne van Die Glaskasteel, ook ’n televisiereeks, asook vir Dot & Kie.

Maar dit is vir die reeks, Die Mannheim-sage, wat Lerina groot bekendheid as skrywer verwerf het. In 1983 en 1984 is dit oor die radio uitgesaai. Dit het 1 500 episodes gehad en handel oor die ontstaansjare van Johannesburg en die stad se inwoners. Akteurs soos Tess van Staden en Leon van Nierop het die hoofrolle op radio vertolk en Lerina vertel aan Erla-Mari Diedericks (Die moderne vrou, 31 Oktober 1997) dat hulle die verhaal help skryf het “omdat hulle dikwels die karakters gevat en daarmee weggehardloop het”.

Die karakters in Die Mannheim-sage het later deel van die volk geword. Só het luisteraars die land oor getreur toe die een karakter, Ma-Fytjie, gesterf het. “Die aktrise wat die rol van Ma-Fytjie vertolk het, Annie Basson, het een dag in ’n kafee in gestap, maar niemand wou haar help nie,” vertel Lerina aan Diedericks. “Hulle was te hard besig om te huil omdat Ma-Fytjie dood was. Toe sy vir hulle vertel dat sý Ma-Fytjie se rol gespeel het, wou hulle haar glad nie glo nie. Hulle wou haar net uit die kafee uit hê, want hoe durf sy vir hulle sê dat sy hier in lewende lywe staan. Ma-Fytjie was dan dood!”

Lerina het Ma-Fytjie gegrond op ’n karakter uit haar kinderdae, Ma Martiena. Sy kon glad nie lees nie, maar wou altyd opsluit Lerina se skoolrapporte lees en nadat sy dit “gelees” het, vir Lerina gevra: “Was jy goed of stout?” Ma Martiena het Lerina se kinderdae regeer en was baie streng, maar ook wys, het Lerina aan Showmax vertel. "My man het haar toestemming gevra om met my te trou, maar sy het geweier, want hy is ’n wilde man van oorsee wat eienaardige kos geëet het."

Die radioreeks was só gewild dat die SAUK haar gevra het om ’n televisiereeks van 15 episodes te verfilm as deel van die SAUK se bydrae tot die Johannesburgse eeufees van 1986. In die televisiereeks het Hans Strydom die rol van Kit Malloy vertolk en Sandra Prinsloo die rol van Deborah.

Lerina kon egter nooit dink dat Die Mannheim-sage ’n derde lewe sou hê nie. In die vroeë 1990’s toe Perskor Lerina versoek het om ’n historiese roman te skryf, het sy die stof van die radio- en televisiereeks afgeskud en dit verwerk tot ’n roman. Haar ma het destyds die televisie- en radiomanuskripte gebêre, want sy het altyd geglo dat Lerina nog eendag ’n roman daaroor sou skryf. Maar met haar ma se dood het Lerina alles weggegooi. Sy moes toe van voor af begin, maar gelukkig “het die karakters helderder as ooit tevore teruggespring,” sê Lerina aan Diedericks. “Nou kan ek hul storie vertel soos dit moet wees, want ek was voorheen  beperk deur sensuur- en apartheidswette. Kyk, as dit kom by iets soos die liefde, moet jy ’n ding stel soos dit is. Ja, daar is liefdestonele, maar dit was moeilik om te skryf. ’n Ou tannie van 80 jaar wat getroud is met ’n omie van 94 jaar, het een keer vir my gesê: ‘Mens, wat práát julle so baie oor dié ding? Dis mos net tjoef-tjaf dan’s alles verby!’

“Die geheim is daarom om die leser mee te voer voordat jy by die ‘tjoef-tjaf’ uitkom.”

Die sukses van Die Mannheim-sage is gegrond daarop dat dit ’n historiese agtergrond het wat mans én vroue interesseer.  Dus moes Lerina weer van vooraf haar navorsing goed doen, maar, soos sy dit self stel, is sy ’n “closet-navorser”.

Die Mannheim-sage is in drie dele uitgegee waarvan die eerste twee, Die fortuinsoekers en Die goudkewers, onderskeidelik in 1997 en 1998 deur Perskor uitgegee is. Die derde deel, Die goudbaronne, is in 2006 deur Lerina self uitgegee, terwyl die eerste twee in 2007 deur Leguan Trading heruitgegee is.

Ná die publikasie van Die fortuinsoekers het Lerina aan Hilda Grobler (Vrydag, 21 November 1997) gesê: “Dit is wonderlik om die klein olifantjie in my hand te hou. Toe ek vir die radio en die TV geskryf het, was dit asof ek van sneeu beelde gemaak het!”
Oor haar navorsing vertel sy aan Grobler: “Ek skryf oor mense soos Cecil John Rhodes, Barney Barnato en Paul Kruger. Ek maak mense van hulle, maar bly so na aan hul karakters as wat ek kan. Dis net dat geskiedkundige figure so afstandelik is as ’n mens geskiedenis doen, want hulle is almal enorme ou manne wat daar ver en vreemd is. Begin jy navorsing doen, besef jy dat Paul Kruger byvoorbeeld baie goed kon spoeg!”

Oor haar werkswyse verduidelik Lerina aan Hilda Grobler (Vrydag, 21 November 1997): “Ek werk volgens ’n streng patroon. Eers kom die idee, dan die navorsing. Daarna volg die raamwerk. Dit moet ’n stewige raamwerk wees sodat ek kan draaie gooi en takke daaruit kan groei. As dit nie stewig is nie, loop ’n mens die gevaar dat dit sal inbuig, sal inval soos ’n hol matras. Dan kom die sub-raamwerke waarin die karakters en die gebeure verder ontwikkel.

“Dis wanneer jy die storie moet laat loop. Dinge wat jy glad nie voorsien het nie, gebeur. Dis wonderlik! Toe ek die radiodrama geskryf het, het ek reeds geweet presies wie elke karakter is en hoe hy lyk, maar ek het met wonderlike akteurs gewerk wat die karakters nog vollediger gemaak het. In die roman groei hulle verder.

Oor haar karakters en die ontwikkeling van die karakters sê sy aan Grobler: “As dit ’n nuwe storie is, kry ek die storie geskryf en dan begin ek die karakters uitrafel. ’n Mens moet alles van hulle af weet. Jy moet selfs weet hoe gereeld borsel ’n karakter sy tande. Jy moet hom begin ruik.

“Daarom het ek, waar moontlik, in die geskiedkundige verloop van die trilogie met werklike karakters gewerk. Binne die raamwerk het ek my fiktiewe karakters geplaas. Die Mannheims is fiktief – al dink mense hulle is nie! As jy ’n stad soos Johannesburg met sy geskiedenis vat en bekende karakters daarin plaas, sit jy nog steeds met ’n stad wat jy moet bevolk. Jy het karakters nodig en jy máák hulle.”

Die eerste boek, Die fortuinsoekers, beeld die beginjare van Johannesburg uit, toe die goudrif ontdek is en fortuinsoekers die plek binnegeval het om hul fortuin te ontdek. En dit is waar die heldin, Deborah, haar opwagting maak. Omdat haar stiefpa hulle plaas verloor het, is sy genoodsaak om bier af te lewer. Kit Malloy, ’n wilde Ier, gewese beroepsoldaat en wapensmokkelaar, voorspel moeilikheid as so ’n mooi jong vrou saans moet werk. Die ander been van die liefdesdriehoek is Karl Mannheim, erfgenaam van die mynbaas Kurt Mannheim. Karl is kunssinnig en wispelturig en is vriende met Barney Barnato, maar hy en sy vader kom nie goed oor die weg nie.

André Blom skryf in Insig van Mei 1998 dat die dade van die karakters goed ineengeskakel word met die geskiedkundige gebeure. Hy is ook sterk onder die indruk van die navorsing wat sy oor die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek moes gedoen het. Fiktiewe persone word goed verweef met die werklike historiese figure soos Paul Kruger, Rhodes, Barnato, Von Brandis en Cockney Liz deur gemaklike dialoog en beelding.

“Die verteltrant is direk en gemaklik en laat die sosiale lewe van die pionierstyd saam met die spannende persoonlike intriges ontvou. Die taalversorging is oor die algemeen goed, net jammer dat daar enkele drukfoute ingesluip het ... Maar dis mindere besware vir só ’n omvangryke boek (883 bladsye) en doen nie afbreuk aan die lekker loop van die spannende gebeure nie,” aldus Blom.

Goudkewers, die tweede boek van die trilogie, hervat Deborah se storie na die onstuimige jare van die Jameson-inval en die Anglo-Boereoorlog.

Die televisiereeks beeld die eerste twee boeke van Die Mannheim-sage uit.

Die derde boek, Goudbaronne, wat amper 10 jaar na die eerste twee verskyn het, speel gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog af. Kit Malloy is nou ’n alleenloper en het die wêreld deurreis, en is nog altyd lief vir Deborah. Hy is terug in Johannesburg en weer raak sy lewe ineengestrengel met dié van Deborah en haar seun, Kurt Mannheim. Deborah is nou ’n verbitterde vrou, maar ook ’n geharde besigheidsvrou wat nie ongedeerd uit die Anglo-Boereoorlog gekom het nie.

Dan ontmoet Victoria Malloy en Kurt Mannheim. Die jarelange onmin tussen die families traak hulle nie en hulle raak betrokke bymekaar. Danél Blaauw (Die Volksblad, 18 Augustus 2006) beskryf Goudbaronne as ’n baie lekker leesboek wat die leser vasgenael sal hou.

In Beeld van 23 Augustus 2006 beskryf Helene de Kock vir Lerina Erasmus as “’n gebore storieverteller. Sy weet goed hoe om driftig emosie by haar lesers (en kykers) te wek – ’n ononderhandelbare vereiste vir ’n goeie storie.”

Vir De Kock het Lerina Erasmus ’n “filmiese skryfstyl” en die “karakterisering is uitstekend”. “Die leser raak betrokke by die twee pare se liefdesintriges te midde van die onstuimige tyd waarin dit uitgebeeld word. Soms, net soms, wil mens Deborah skud dat haar tande klap want hoe kán een mens so aanhoudend moedswillig wees? Tog, die buitengewone aantrekkingskrag tussen Kit en Deborah boei mens dermate dat jy kwalik die boek kan neersit. Ook die ruimte in die boek word besonder goed uitgebeeld. Ou Johannesburg kry lewe en ook Parys (Frankryk) word goed uitgebeeld. Selfs madame Coco Chanel het ’n rol! Alhoewel enige skrywer maar moet lig loop vir beskrywing versus beelding, pak Erasmus beskrywings ligvoets en lekker aan. Dus lees mens graag en geniet die boek enduit.”

Al fout wat De Kock met Goudbaronne kan vind, is dat die boek self uitgegee is en daar gevolglik baie spel- en taalfoute aanwesig is wat met ’n goeie redakteur of redigeerder voorkom kon gewees het.  

Lerina het aan Madelaine Page in Keur van 5 Desember 1997 vertel dat haar man, Gunther, haar grootste kritikus is en hoewel hy ’n ingenieur is, heg sy baie waarde aan sy oordeel. “Ek skryf elke dag van so halfnege soggens tot omtrent vyfuur saans. Dan kom Gunther en gaan saam met my deur my dag se skrywery. As hy nie sy goedkeuring gee nie, gaan dit nie uit nie. Hy laat my nooit met ’n onlogiese struktuur verbykom nie. Dit is wonderlik, want hy beskou my skrywery uit ’n man se oogpunt.”

Lerina was in die 1990’s besig met ’n projek waaroor sy baie ernstig gevoel het. Sy het aan Anet Schoeman in Rooi Rose van 10 Junie 1998 meer hieroor vertel: “Dis my reënboog in my sak. ’n Groep van ons versorg mense wat op mynhope woon. Ons vat elke Donderdag vir hulle kos en ontferm ons oor hulle. Dis die soort dinge waarvoor ’n mens nie tyd het as jy jonk is nie. (...) Die lewe voel te kort vir alles wat ek nog wil doen. Die opwinding van ’n nuwe projek laat my voel ek lewe. Dis soos om ’n klont goud te ontdek as jy die dag op ’n wonderlike interessante stukkie inligting afkom.”

Leon van Nierop het hom in Beeld van 24 November 1998 as volg uitgelaat oor Die Mannheim-sage: “Die Mannheim-sage is een van die mees innoverende en opwindende inheemse liefdesverhale nog uit die pen van ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Met die kombinasie van uitmuntende karakterisering, prikkelende historiese gebeure en aangrypende drama is dit geen wonder nie dat hierdie meesleurende sage as die Gone with the Wind van ’n nuwe Suid-Afrikaanse samelewing in wording bestempel word. Die verhaal ondersoek die oorsprong van hierdie gekwelde land se twyfelagtige verlede en hoe hierdie gebeure uiteindelik in ’n inspirerende, demokratiese toekoms kulmineer. Onweerstaanbaar.”

Oor die verskil om vir radio en televisie te skryf en om ’n boek te skryf, vertel Lerina aan Barrie Hough: “As radioverhaal en TV-reeks word dit uitgesaai en dan is dit weg. ’n Boek hou jy in jou hand vas. Dis konkreter. En het dit my nie ’n kick gegee nie! Om dié boek vas te hou. Om vir die kamera te skryf, is nogal beperkend. Jy moet die akteurs, die begroting en talle ander dinge in gedagte hou. En jy maak op akteurs staat om aan jou teks gestalte te gee. Om ’n boek te skryf, is baie vryer. Dis ’n wonderlike ervaring om karakters in jou kop te laat praat. Hulle word daar mens. Dis asof hulle altyd met my praat.” (Rapport-Tydskrif, 4 Januarie 1998).

Terwyl Lerina die storie van die Mannheims geskryf het, het hulle gesin in ’n statige herehuis in Parktown in Johannesburg gebly. Die plek se naam was Mannheims Ruhe en dit is gebou in die tyd toe mense blitsvinnig ryk geword het, maar net so vinnig bankrot gespeel het. Toe die storie oor die radio uitgesaai is, is daar aan mense vertel dat dit “die plek is waar Deborah Mannheim gewoon het”, vertel Lerina aan Lydia van der Merwe (Sarie, 2 Desember 1998). Hulle het die plek in 1988 verkoop om Gunther se besigheid te finansier en het ’n plek in Parkwood gekoop – een van die ou “mynhuise” wat gebou is as deel van die bestuurders op middelvlak wat aan die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem het, se vergoedingspakkette. Die huis is reggemaak en met haar man en die argitek, wat ook ’n Oostenryker is, se invloed het die huis ’n “Oostenrykse klap” gekry.

Lerina het aan Beeld (3 Desember 2001) vertel dat toe sy drie jaar oud was, sy deur die Kinderbybel geblaai het en dit was haar eerste “boekervaring”. Haar ma en pa moes elke aand vir haar die storie van koningin Ester lees. “Geensins om enige piëtistiese redes nie, maar wel om Esther se swierige voorkoms op die kleurblad. Deur die knaende voorlesery het ek uiteindelik die storie woordeliks gememoriseer.

“Dit het uitgeloop op ’n partytjie-truuk wat my liewe ouers bedink het. Op ’n gegewe oomblik is ek na binne ontbied ‘om vir die mense te kom lees’. My gehoor was meestal sprakeloos en het my beloon met tiekies en selfs halfkrone. My eerste professionele optrede as aktrise? Waarskynlik het die gogga my nét daar gebyt!

“Ek onthou my ma, wat in ’n hangmat gelê het en vir my voorlees uit Sneeuwitjie en ander sprokies. En daar in haar wiegende, bootvormige verhoog, word Mamma vir my die wrede stiefma, en die meedoënlose jagter! Sneeuwitjie wat pleit: ‘Asseblief, laat my lewe! Moet my nie doodmaak nie!’ Maar sonder enige genade rig die jagter sy pyl op haar hart! W-h-a-a-a-a! huil ek! Só het ek my eerste katarsis beleef! Van daardie dag af was ek verslaaf aan feëverhale.

“Ná die ontdekking van sprokies het die wonderlike avonture van die Grieke gevolg. Gode wat sterflinge vreemde poetse gebak het. Leda en die swaan. Hoe sou so ’n tête-a-tête gebeur het? Die swaan was nou wel ’n geveerde Zeus, maar die twee het ’n tweeling verwek wat uit ’n eier gebore is! En een daarvan was die beeldskone Helena. Só het die destydse klam voetpaadjies van my tienerjare koers gekry in die sensuele misterie van die antieke tye.

“Dan was daar ook die romantiese riddersages van ’n Edmund Spencer wat my betower het. O, om soos ’n Britomart in staat te kon wees om in ’n towerspieël jou uiteindelike beminde te kan sien, en boonop te ervaar!

“Poësie! Die ontdekking van Shakespeare en Shelley, Burns en Blake. Gedurende my universiteitsjare het dit soos koors in ons bloed gebrand. Ingrid Jonker word ’n boere-Ché Guevara vir ons apartheidsbedompige siele.

“Nou, in die ryper jare van 50, wil ek ook hulde bring aan Tolstoi en Dostojewski wat my van intriges en familiepatrone geleer het. Tesame met Shakespeare was hulle tog die oervaders van sepies en sages. War and Peace is my immergroen gunstelingboek.

“John le Carré verdien ’n Nobel-prys vir die Gobelyn-tapisserie van karakters wat hy verweef het in boeke soos Smiley’s People. By dié meesterskrywer het ek sekerlik die meeste geleer.

“My nuwe manie is oor ’n towerknaap genaamd Harry Potter wat my betower het. Ek is 50 en terug by die towerstories van my kinderjare! Kinds of ewig jonk?”

In 2009 is Lerina vereer toe sy ingesluit is in die Foxwood-landgoed se Tuin van Beroemdes in Houghton in Johannesburg. Haar handafdrukke is daar in sement vasgelê.

Tien jaar het verloop voordat Lerina se volgende roman op die rakke verskyn het. In 2016 word Die leliemoordenaar gepubliseer. Dit is haar eerste misdaadriller en die verhaal se tydsagtergrond is tydens die apartheidsjare en dan ook in die hedendaagse Suid-Afrika.

Iemand het lank gelede vir Lerina ’n baie grusame storie vertel en hierdie storie het by haar bly spook. Toe het sy begin skryf en weer diep in die geskiedenis van Johannesburg gaan delf en dit saamgegooi met misdaad- en riller-eienskappe en Die leliemoordenaar was die gevolg.

Braam Brink en Adam Williams is twee vriende wat saam motorfiets ry. In 1985 hoor Braam by Adam van sy tyd as soldaat en wat hy gedoen het. Hy verdwyn egter in Angola en toe Braam ondersoek instel, word hy dood aangetref en is die bevinding dat dit selfdood was.

Ongeveer 30 jaar later is Braam se dogter, Daniella (Danny), die speurder wat ’n berugte reeksmoordenaar moet vastrek. Dit blyk egter ’n baie moeilike taak te wees, want nes sy dink dat sy hom het, wyk hy weer af van sy modus operandi. Aan die begin het hy elke drie weke as die rooi lelies blom, toegeslaan. Dan word die slagoffer se hart uitgesny en ’n grafsteentjie van klip met ’n lelie daarop uitgekerf, in die hart se plek geplaas.

Danny beweeg al nader aan die moordenaar, maar waarvan sy nie bewus is nie, is dat die moordenaar haar dophou en háár uitgekies het om hom vas te trek.

Sy het aan AJ Opperman vertel (Netwerk24, 17 November 2016) dat sy van mening is dat die moordenaar ’n obsessie gehad het: "Dat hy mense se harte wou verplaas. Die wrede harte. Met harte wat goed kan doen. Sy lelies is natuurlik die mooiste in die dorp.

"Dit het baie jare geneem, ook voor die fisieke skryf begin het. Ek het soms getwyfel. Daardie storie het by my gespook vir ’n baie lang tyd en ek het gedink die storie moet vertel word. En dan het ek maar rondgeloop daarmee en gedink ag, ja, dit gaan nie werk nie. Niemand stel meer belang in die apartheidsjare nie, kry ’n ander hoek.

"Maar die storie wou my nie laat los nie. En die gevolg is Leliemoordenaar. Daarom ook die twee tydperke waarin die storie afspeel."

Hulle het die dik manuskrip altyd saamgeneem wanneer hulle na hul huis op Leisure-baai gegaan het en dan het Gunther dit gelees: "Gunther was die een wat altyd geloof gehad het. Lochner de Kock het in ’n stadium daar vir ons kom kuier en hy het gesê hy wil saamlees. En hulle twee het met groot geesdrif gelees en weer en toe weer. En toe het ek gedink dit kan werk. Nadat ons hom deurgewerk het in Leisure-baai, het ek besluit ek gaan dit voorlê.

"Ek het die skrywer Deborah Steinmair gevra om dit te redigeer. Steinmair het toe vir my laat weet sy het dit nie geredigeer nie, maar dit is ’n verdomp goeie boek. Sy sê toe vir my om saam met Nèlleke de Jager middagete te eet en sy gaan vir haar die boek gee. En Nèlleke het my toe gebel."

Die boek het haar drie jaar geneem om te skryf. Sy het aan AJ Opperman vertel dat wanneer jy skryf, jy sommer alles doen: "Dan speel jy al die rolle – manlik en vroulik. Jy is die regisseur. Om dialoog te skryf, is maklik, want ek hoor mense praat. Hulle praat in jou kop as jy daai ses weke lank deurgebring het. Jy wil jou mense leer ken. En dan daarna vat hulle oor, skryf hulle die dialoog en vertel hulle wat aangaan. Dis gewoonlik as jy ’n droogte kry, dat jy verkeerd dons in een of ander plek en dan moet jy maar teruggaan."

Op LitNet skryf Riëtte Rust dat Lerina se misdaadroman beslis nie jou alledaagse misdaadroman is nie. "Eerstens kan die leser gou aflei wie die moordenaar is. Tweedens is Die leliemoordenaar een van die grusaamste romans in Afrikaans. Jy ril en gril tot in jou haarwortels. Derdens is die storie kompleks en oorspronklik. Leon van Nierop sê juis op die agterplat dis 'propvol warm intrige, spanning en onverwagse wendings'. Vierdens word die liefdes-element totaal onderbeklemtoon. En laastens worstel die leser met vrae wat die spanning geleidelik laat opbou. Soos: Sal Danny weens haar vrees vir vuurwapens kan skiet wanneer sy uiteindelik die monster vang?

"Dit het duidelik fyn skryfwerk gekos om van die moordenaar ook ’n mens, oftewel ’n volronde karakter, te maak. Hy is ’n gebroke man wat wraak neem op dié wat indirek verantwoordelik is vir die dood van sy vrou en kind. Eienaardig genoeg is die leser saam met hom verlig oor een van sy moordpogings.

"Erasmus se roman is hoogs toeganklik. As aktrise hoor sy waarskynlik ook haar karakters praat, so vlot vloei die dialoog. Soos dit ’n goeie romansier betaam, het sy aan elke karakter ’n eiesoortige praatstyl gegee. (...) Die skrywer se navorsing is puik. Erasmus sou moes ondersoek ingestel het na die (ware) Cradock Vier wat in die apartheidsjare vermoor is, moordwapens, die effek van sekere dwelms en die bosoorlog in Angola. Daarby hoort sy teen dié tyd ’n kenner van amarillisse te wees. Die uitbeelding van die milieu slaag eweneens, veral wat Danny se Westdene-huis betref. Wanneer sy haar intrek neem, weerspieël die plek absolute sielloosheid. Ook kenmerkend van daardie stadium van haar lewe. (...)

"Die roman bevat wel enkele jakkalsies. Hier en daar ontsier clichés die skryfwerk: hande is om ’n stuurwiel geklem, iemand skulp toe tussen vreemdes en iets bars soos ’n sweer oop. Soms gaan die skrywer ook te rojaal met ellipse te werk. Daarby is wagte tog aan diens, nie op diens nieDis ook nie in gemeen nie, maar gemeen. Dan word daar na die High Mile Club verwys, pleks van die Mile High Club. Karakters word ook meer as een keer in die solar plexus geskop. Nie alle lesers weet waarskynlik dat dit die gedeelte bo die naeltjie is nie.

"Hoewel die liefdeselement dikwels sterk in misdaadromans figureer, is dit nie hier van toepassing nie. ’n Jammerte, want ’n geliefde wat vroeër ingebring is, sou dalk net die hoofkarakter (wat obsessief is oor haar werk) meer tot haar reg kon laat gekom het én vir ’n bykomende lekkerlees-element gesorg het.

"In geheel gesien, is Die leliemoordenaar ’n welkome toevoeging tot die misdaadgenre. Teen die laaste paar hoofstukke haal jy weens die spanning so vlak asem dat dit voel of jy jou bewussyn gaan verloor. Dis ’n moet-lees vir rillerliefhebbers, maar word beslis nie vir sensitiewe lesers aanbeveel nie."

Helen Schöer skryf op Netwerk24 (5 Desember 2016) dat die leser weet wie die moordenaar  is en "dat hy met ’n streng kalender werk. Ek wou kreun elke keer as die speurspan ’n lokbokkom (red herring) opvolg en ’n ware leidraad miskyk.

"Die spanning bou op tot ’n groot konfrontasie. Gaan Danny kan skiet as dit nodig is? Wat die vraag nog komplekser maak, is dat die moordenaar se gebrokenheid, die kykies in sy kop en die terugflitse na sy verlede, van hom ’n mens maak. Hy wreek hom op die mense wat van hom ’n monster gemaak het en die leser kan nie help om sy bevrediging in sy laaste moordpoging te deel nie.

"Erasmus het uitstekende navorsing gedoen en die detail rondom die moord-instrumente, recces, die donkerste kant van die apartheidsregering en die Bosoorlog in Angola is fassinerende agtergrond."

Ná die geboorte van haar enigste seun, Stefan-Pieter, het sy besluit om haar tap shoes op te hang en meer op haar skryfwerk te konsentreer. "En toe word ek ouma van twee pragtige kleindogters. Dis nogal lekker om met hulle te speel. En toe het ek so ’n bietjie van ’n nare klap gekry van kanker. Maar nou skryf ek. Daar in die studeerkamer is my lêplek. Ek dink ek is net ’n storieverteller wat smokkel met karakters."

Op 20 Augustus 2018 is Lerina Erasmus in die Donald Gordon-hospitaal aan kanker oorlede. Sy word oorleef deur haar man Günter Schmikal, haar seun, Stefan-Pieter, sy vrou, Michelle, en twee kleinkinders.

In Die Burger van 22 Augustus 2018 skryf Sandra Prinsloo dat Lerina nooit haar passie vir haar werk verloor het nie: "Sy het daarby ’n wonderlike sin vir humor gehad; sy was ’n lieflike, sagte mens. Sy en haar ingenieurman, Günter, se verhouding was die love story van ons tyd. (...)

"Sy was definitief Anna Neethling-Pohl se topstudent; sy het haar eie sketse geskryf en daarin opgetree."

Leon van Nierop was baie hartseer nadat hy van haar heengaan gehoor het. "Die sukses van Wolwedans in die skemer kan toegeskryf word aan haar ontwikkeling en vertolking van die karakters. Sy het ’n sagte menslikheid gehad en ’n wonderlike humorsin. Sy het vier jaar gespeel in Wolwedans. Dit was ’n vreugde om haar op stel te hê; wat ’n verlies vir die bedryf."

Mysi Louw op LitNet: "Die Mannheim-sage het baie kleurvolle karakters gehad en die navorsing was tot in die fynste detail gedoen. Net iemand soos Lerina kon sulke flambojante karakters skep soos Kit Molloy, Deborah von Albein en Ma-Fytjie. Haar karakters was soos sy: intens en vrolik en vurig en lewensgetrou. Lerina se afsterwe laat ’n groot leemte wat nie maklik gevul sal kan word nie."

Publikasies

Publikasie

Die Mannheim-sage: Die fortuinsoekers

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2007
  • 2017

ISBN

  • 0628036361 (sb)
  • 9780620386623 (sb)
  • 9780798174558 (sb)

Uitgewer

  • Halfweghuis: Perskor
  • Johannesburg: Leguan Trading
  • Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Mannheim-sage: Die goudkewers

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2007
  • 2017

ISBN

  • 0628037120 (sb)
  • 9780620336630 (sb)
  • 9780798174831 (sb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Johannesburg: Leguan Trading
  • Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Mannheim-sage: Die goudbaronne

Publikasiedatum

  • 200
  • 2017

ISBN

  • 0620360097 (sb)
  • 9780798174855 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: L Erasmus
  • Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die leliemoordenaar

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174213 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Lerina Erasmus beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Pieter Jordaan

    Ek is besig om die Mannheim-sage te lees. Waarom word die radiovervolgverhaal nie weer uitgesaai nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top