Só skryf mens ’n akademiese artikel

  • 1

Hoe skryf mens ’n akademiese artikel vir ’n akademiese joernaal? Hannes van der Walt en Charl Wolhuter het hierop gefokus en met Estelle Kruger daaroor gesels. Hulle praat met haar oor hulle LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel: Die benutting van teorie om verdiepte insig in ‘n navorsingsprobleem te bekom.

Hannes en Charl, julle het die aspekte waarna die keurders van die artikels moes kyk wat in hierdie navorsingsproses genader is om die artikels te beoordeel, gebruik in ’n artikel om onervare navorsers toe te rus om tot verdiepte insig te kom in ’n navorsingsprobleem. 

Estelle, ja, soos ons lesers weet, is daar ’n hele aantal aspekte waaraan aandag gegee moet word in die proses van die skryf van ’n artikel vir ’n wetenskaplike joernaal. Een van daardie aspekte wat deur baie skrywers oor die hoof gesien word, of waaraan, indien hulle wel bewus is van die belangrikheid daarvan, hulle nie die nodige aandag gee nie, is die insluiting en die bou van ’n konseptuele en teoretiese raamwerk in ’n artikel. Ons het dus ’n bietjie rondgesoek, ook in verslae van LitNet Akademies-keurders, vir voorbeelde waar sodanige tekortkoming of gebrek uitgewys word. Die probleemstelling van ons artikel het juis gesentreer om hierdie probleem wat vry algemeen voorkom in artikels wat aan wetenskaplike tydskrifte voorgelê word. Ons het nie eintlik aan enige van die ander fasette van artikelskryf aandag gegee in hierdie artikel nie.

Daar was dus artikels met ooreenstemmende inhoud wat kon lei tot ’n benadering van die verskillende aspekte van ’n navorsingsprobleem. 

Dit is korrek, maar ons aandag was nie soseer op die “ooreenstemmende inhoud” van die betrokke artikels nie, maar eerder op die ontoereikende insluiting of selfs nie-insluiting van ’n konseptuele en teoretiese raamwerk in die voorgelegde artikels. Dit het aanleiding gegee tot ons besluit om hierdie artikel spesifiek oor teoriebou in ’n wetenskaplike artikel te skryf.

Tot watter mate het julle daarin geslaag om so ‘n navorsingsprobleem te formuleer? 

Ons, en gelukkig die twee keurders wat ons artikel nagegaan het, is van mening dat ons ’n gepaste en tersaaklike probleem raakgesien het en dit ook op so ’n manier geformuleer het dat ons ’n geslaagde artikel oor die hele vraagstuk van teoriebou in ’n artikel kon saamstel.

Hoeveel verskil julle metode van wat vroeër “grounded theory” (grondteorie) genoem is? 

Hannes: Dit is ’n interessante vraag, en sit ’n mens ’n bietjie aan die dink! Die werkwyse wat ons in ons artikel voorstel, is die presiese teenoorgestelde van grondteorie. Om hierdie stelling te verstaan, moet ’n mens eers kyk wat grondteorie behels.

Om prakties te verduidelik: Veronderstel ons weet heeltemal niks van die huweliksgebruike van die Vuurdansers in die verste suidpunt van Suid-Amerika nie, maar ons wil dit graag verstaan en kan uiteensit. Om dit te kan doen, gaan woon ons twee jaar lank onder die Vuurdansers. Ons gaan soontoe sonder enige teorie oor hulle huweliksgebruike, gaan doen waarnemings, maak aantekeninge, maak afleidings, en kom dan aan die einde van ons projek tot die bou van ’n teorie oor die huweliksgebruike van hierdie mense. Let egter daarop dat hoewel ons sonder enige uitgewerkte teorie soontoe gaan, ons nie sonder enige teoretiese (wetenskaplike) en voorteoretiese (filosofiese, lewensopvatlike) vooronderstellings en uitgangspunte gaan nie.

Wat ons in ons artikel voorstel, is nie ‘n vorm van grondteorie nie. Inteendeel, ons stel voor dat hulle ’n probleem deeglik ondersoek, onder meer in die vorm van ’n literatuurstudie, en dat hulle dan die resultate van hulle ondersoek/literatuurstudie deur die bril of die lens van die een of ander teorie moet bekyk en ondersoek. Grondteorie het wel ’n plek in die beoefening van die wetenskap, veral wanneer byvoorbeeld etnografiese navorsing gedoen word. Dan benader die wetenskaplike die objek van ondersoek sonder enige reeds-geformuleerde en ten volle uitgewerkte teorie, en kom aan die einde van die ondersoek tot so ’n teorie.

In ons artikel probeer ons aandag gee aan ’n meer gewone of alledaagse werkwyse: Die wetenskaplike het ’n probleem, ondersoek die navorsingsprobleem, onder meer deur literatuurstudie, en probeer dit dan deurgrond deur middel van een of meer vantevore deeglik uitgewerkte teorieë. Hierna volg ’n prosedure waaraan ons nie eens in ons artikel aandag kon gee nie, naamlik die verifikasie (bewys as waar) of die falsifikasie (bewys as vals of foutief) van die teorie of teorieë wat gebruik is. Maar dit is ’n onderwerp vir ’n ander gesprek.

Dankie Hannes. Julle meld dat julle waargeneem het dat hoewel die meeste opvoedkundetydskrifte van aansien in hulle riglyne aan artikelkeurders vra dat die keurders ook ’n uitspraak moet lewer oor die gehalte van die konseptuele en teoretiese raamwerke van artikels, hierdie onderwerp so goed as glad nie aangeraak word in verskeie van die dikwels-geraadpleegde opvoedkundemetodologie-handboeke nie. Wat dink julle is die rede hiervoor?

Hannes: Soos jy weet, is ek deesdae baie betrokke met die opleiding van navorsers om hulle navorsingsbevindinge in wetenskapliketydskrifartikels en boekhoofstukke te boekstaaf. Dit is tydens hierdie opleidingsessies dat ek agtergekom het dat daar nie voldoende aandag gegee word aan die insluiting van konseptueel-teoretiese raamwerke in artikels nie. (Dit is ’n wydverspreide verskynsel; dit kom in die meeste wetenskappe voor.) Teen die tyd dat die artikel geskryf word, is dit eintlik te laat om so ’n raamwerk te bou, aangesien die raamwerk al die aanvanklike navorsing moes gerig en gelei het. Ek dink die verwaarlosing daarvan hou verband met die feit dat wetenskaplikes (artikelskrywers) hulself tevrede stel met die insluiting van wat bekend staan as ’n literatuuroorsig of -studie. In die opleiding wat ek gee, probeer ek dit duidelik maak dat ons in die afgelope dekade of twee verby blote literatuurstudies of -oorsigte ontwikkel het en dat ons deesdae konseptuele en teoretiese of konseptueel-teoretiese raamwerke bou. ’n Groot deel van die opleiding wat ek gee, word bestee aan hoe ’n mens sodanige raamwerk bou. ’n Mens raak hierdie kuns nie oornag baas nie; sommige navorsers (veral diegene wat byvoorbeeld sterk positivisties of pragmatisties werk) sukkel maar daarmee.

Die oorkoepelende vraag wat deur hierdie artikel beantwoord moes word, was: Watter verdiepte insig kan ’n opvoedkundige oor ’n bepaalde opvoedkundige probleem verkry deur gebruik te maak van ’n selfontwikkelde konseptuele en teoretiese raamwerk? Watter antwoord sou julle kortliks kon formuleer?

Hannes: My antwoord hierbo werp al ’n bietjie lig op die saak. As ’n mens sou volstaan met net ’n literatuurstudie of -oorsig, dan het jy insig in die huidige stand van ons kennis (“store of knowledge”) met betrekking tot die vraagstuk wat ondersoek word. Sodra ’n mens die lig van ’n erkende en goed-uitgewerkte teorie op die resultate van die literatuurstudie of -oorsig daarop werp (dit deur die lens van sodanige teorie bekyk), dan kry ’n mens verdiepte insig in die probleem. Die teorie help jou dieper na die probleem kyk. Laat ek ’n metafoor gebruik: As ’n mens in die dag na ’n houtskoolvuur kyk, sien jy net swart kole en ’n rokie wat trek; as ’n mens egter deur ’n sweisbril daarna kyk, dan sien jy hoe rooi- en selfs witwarm die houtskool diep in die vuur is. Dit is wat ’n teorie jou help doen as jy na die resultate van ’n literatuurstudie kyk – dit bied verdiepte insig.

Ek het nog moeite om die sogenaamde Sosiale ruimte en etiese funksie of handeling-teorie van Van der Walt en die Vermoëns-teorie van Sen en Nussbaum toe te pas op ’n artikel wat oor (sê maar) die onderrig van Afrikaans handel. Kan julle help?

Wat jy hier stel, is ’n probleem waarmee baie navorsers worstel, naamlik dat die teorieë wat hulle voorhande het, nie noodwendig “werk” vir die betrokke navorsingsprobleem waarmee hulle worstel nie. Dit is nogal, soos die Hollanders sê, ’n hele klus om die regte, korrekte en gepaste teorie vir die onderhawige probleem te vind – ’n hele lang proses, veral as die navorser nie ervare is nie.

Vir heelwat van my vorige kollegas (as taal-, letterkunde- en kreatieweskryf-opvoedkundiges) het die interpretivisties-konstruktivistiese teorie ’n antwoord gebied op die vorige vraag. Is dit nie maar ’n antwoord op die meeste opvoedkundiges se behoefte aan ’n teoretiese of konseptuele raamwerk vir die skryf van ’n artikel nie?

Die antwoord op hierdie vraag kan sowel positief as negatief wees. Dit kan positief wees as die akademiese gemeenskap in daardie betrokke vakgebied gelukkig en tevrede is daarmee dat die interpretivisme-konstruktivisme deurgaan as ’n teorie. Ek beskou dit egter nie as ’n uitgewerkte teorie nie, maar eerder as ’n wetenskaplike benadering of metode. Laat ek dit anders stel: ’n Mens gaan interpretivisties-konstruktivisties te werk as jy die resultate van jou literatuurstudie deur die lens van ’n deeglik-ontwikkelde teorie bekyk en bestudeer.

Dit lyk of ’n mens dan moet soek vir die belangrikste bronne in die veld om deur hierdie lense van die Sosiale ruimte en etiese funksie of handeling-teorie van Van der Walt en die Vermoëns-teorie van Sen en Nussbaum  ondersoek te word. Het julle enige raad oor die proses van vertolking of interpretasie van wat bevind is ná die ontledingsproses?

My raad sou wees dat ’n mens die volgende stappe volg: Formuleer die probleemvraag vir die navorsing; doen die literatuurstudie; maak sekere gevolgtrekkings daaruit; soek dan rond vir ’n teorie of twee wat as teoretiese lens kan dien en waardeur die resultate van die literatuurstudie bekyk kan word; maak die nodige gevolgtrekkings; doen dan die empiriese studie (ter verifiëring of falsifiëring van die teorie); stel die bevindinge en maak aanbevelings, ook met betrekking tot die teorie wat gebruik is.

Ek sien dat julle wel besef dat ervare wetenskaplikes hierdie proses as meganisties van aard kan sien. Hoe sal ’n minder ervare navorser nou weet dat wat hy/sy gedoen het, nie net meganisties is nie, maar voldoen aan eienskappe van ’n  geldige of “ware” teoretiese raamwerk?

Soos ons in die artikel stel, kom hierdie soort insig maar net met tyd en ervaring. Dit is soos om te leer motor bestuur. Aanvanklik moet jy op elke klein dingetjie wat gedoen moet word konsentreer, maar lateraan word dit byna tweede natuur. Jy volg dan die stappe van teoriebou as ’n inherente deel van die wetenskapsproses.

Kan julle vir ons vertel van kursusse wat julle aanbied om jong en onervare wetenskaplikes op te lei?

Charl: Ek is nog voluit in die akademie betrokke as universiteitsdosent, en my navorsing in die vergelykende en internasionale opvoedkunde neem my dwarsoor die wêreld. In my hoedanigheid as hoogleraar op die terrein gee ek onderrig aan studente oral waar ek as gas- of buitengewone professor optree.

Hannes: Ek is nou vir die 18de jaar na my uittrede as dekaan besig met die aanbieding van kursusse in die skryf van wetenskaplike artikels. Hierdie kursusse (nie slegs tot die opvoedkunde beperk nie) word dwarsoor Suid-Afrika aangebied, waar die behoefte hom ook al voordoen.

Is daar enige nuwe navorsing op julle horisonne waarvan julle ons kan vertel?

Ja, ons werk elkeen afsonderlik aan ons eie navorsing, ook ons twee saam, soos in hierdie artikel, en dan is ons ook lede van groter spanne navorsers. Ons twee se gesamentlike fokus is op hierdie stadium op verskillende vraagstukke rondom burgerskapsonderwys. Hierdie projek sal ons seker ’n paar jaar lank besig hou.

Lees ook:

Die bou en benutting van ’n teoretiese raamwerk om verdiepte insig in ’n opvoedkundigenavorsingsprobleem te bekom

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    'n Konseptuele en teoretiese raamwerk behoort gekenmerk te word deur heldere begrippe wat in duidelik omskrewe terme uitdrukking vind. Met "wetenskaplike joernaal" word 'n vaktydskrif bedoel en "grounded theory" is gegronde teorie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top