Skryf ChatGPT deesdae dooie mense se boeke?

  • 0

...
Die vrae wat sedert my vrou se opmerking by my spook, is: Hoekom lees ek boeke deur skrywers (meestal onbekend) wat ’n heelal – ongeag of dit Ludlum, Tom Clancy, Vince Flynn, ensovoorts is – aan die lewe probeer hou, lank nadat die skepper dood is?
...

Skrywer: Joshua Hood
Titel: The Treadstone Rendition
Uitgewer: Head of Zeus
ISBN: 9781803285818

Koop die boek by Graffiti.

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

“Jy’t mos gesê Ludlum is dood,” merk my vrou op terwyl ek met die nuutste Robert Ludlum-skepping, The Treadstone Rendition, op die rusbank gaan lê. “Skryf Chat-outjie nou sy boeke?”

Ludlum, wat vir dekades die spioenasiekroon gedra het, is in 2001 oorlede en 22 jaar later leef sy ikoniese karakter, Jason Bourne, nog voort. So ook die Cover-One-reeks wat hy geskep het. Sy boek, The Janson Directive, is intussen ook in ’n reeks omskep, en asof dit nie genoeg is nie, is die Treadstone- en Blackbriar-reekse (dink in albei gevalle Bourne) onlangs afgeskop. Dit is ’n totaal van 29 boeke én counting.

...
Ek sweer, as ek môre op Facebook lees dat ChatGPT ’n nuwe Ludlum geskryf het, sal ek dit dadelik gaan koop net om my nuuskierigheid te les.
...

Die vrae wat sedert my vrou se opmerking by my spook, is: Hoekom lees ek boeke deur skrywers (meestal onbekend) wat ’n heelal – ongeag of dit Ludlum, Tom Clancy, Vince Flynn, ensovoorts is – aan die lewe probeer hou, lank nadat die skepper dood is? Hoeveel moeite word gedoen om die skepper se “bloudruk” te bemeester en korrek te verwoord? Is dit steeds dieselfde as die “stem” nie eens dieselfde klink nie? En die heel belangrikste: Sou ek enige van die skrywer se boeke gelees het, indien die skepper se naam nie lewensgroot op die voorblaaie geadverteer is nie?

Die antwoorde beïnvloed uiteraard ’n eerlike lesersindruk, want in baie gevalle is die laaste antwoord nee.

Maar.

Ek sweer, as ek môre op Facebook lees dat ChatGPT ’n nuwe Ludlum geskryf het, sal ek dit dadelik gaan koop net om my nuuskierigheid te les.

Dalk is ek soos ’n man wat na foto’s kyk om sy geliefde se soet herinneringe te herroep. En hoe meer ek kyk, hoe minder voel ek. En hoe meer mis ek. Daar was uiteraard net een Robert Ludlum.

Wie is Jason Hood sonder Ludlum? En sal ek enigiets uit sy pen lees wat nie ’n Ludlum-handelsmerk dra nie?

Hood is ’n voormalige 82 Airborne-operateur met ondervinding in Afghanistan, asook ’n SWAT-skerpskutter. Hy’s ook die skrywer van Clear by Fire (2015) en Warning Orders (2016). Albei is “search and destroy”-boeke, ek het nie van hom of sy boeke geweet tot sy betrokkenheid by die Treadstone-reeks nie.

Baie voormalige CIA/FBI-(?)-spesmagte-operateurs het in die laaste twee dekades die wapen vir die pen verruil en The New York Times se blitsverkoperlys gedomineer. Andy McNab en Chris Ryan het die ek-was-daar-genre se standaard hemelhoog gespan, en ek voel nie Hood is heeltemal daar nie. Hierdie boek bestaan net uit aksie sonder enige diepte. Sy karakters is ook nie vir my geloofwaardig ontwikkel nie. Die skrywer se krag lê in sy ondervinding. Ek kan duidelik sien dat hy nie op Google navorsing gedoen het nie, maar dat hy dit in die stof en son van die woestyn opgedoen het. Ek wonder dus die heeltyd hoeveel waarheid steek in sy plot.

Sal ek sy boeke koop? Wag, nie so haastig nie.

As jy die flair van ’n dramaturg of komplotteorieë verwag waarmee Ludlum vir dekades sy lesers gevangene gehou het, gaan jy teleurgesteld wees en dan is my antwoord nee. As jy ’n stewige hand van Eric van Lustbader (11 Bourne-boeke) en Brian Freeman (3 Bourne-boeke) verwag, gaan jy weer eens teleurgesteld wees.

Die Treadstone-boeke moet gelees word vir wat dit is: aksie.

Kortliks: The Treadstone Rendition is die vierde boek in die Ludlum-heelal. Treadstone 71 is ’n fiktiewe, hoogs geheime black-ops-CIA-program uit die Bourne-reeks. Amerikaners het gedurende die oorlog teen terreur vuurwapens aan die Taliban verkoop. Met die oorlog verby en troepe wat besig is om te onttrek, besluit die voormalige Navy SEAL-operateur, Dominic Porter, om alle bewyse te begrawe.

Abdul Nassin het nie net ’n hardeskyf wat Porter soek nie, maar ook ’n foto. As gevolg van die een-plus-een-formule in dié tipe boeke, het Porter ook ’n foto van hom. En ’n foto beteken ’n naam. Adres. Familie. En die plek waar jy kan skuil.

Nassin kontak vir Adam Hayes, ’n voormalige Treadstone-operateur wie se lewe hy 10 jaar gelede gered het. Maar omdat Hayes uit Treadstone is, moet hy man-alleen ingaan.

Om jou vraag nou te beantwoord: As jy die moeite gedoen het om my lesersindruk te lees, móét jy die moeite doen om die skrywer ’n waardige kans te gee. Ek het Robert Ludlum te lank verafgod. Ek het alle boeke wat met hom of Jason Bourne bemark is, gekoop met die hoop dat ek my eerste groot skrywersheld lewendig kon hou.

Lees ook:

Kunsmatige intelligensie: Kan ’n bot die Hertzogprys wen?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top