Skoleseminaar: Elda de Waal reageer op die TALIS-navorsingstudie

  • 0

Elda de Waal (foto verskaf)

Elda de Waal reageer op die Teaching and Learning International Survey (TALIS) se bevindinge oor veiligheid, ongelykheid en die algemene toestand van Suid-Afrikaanse skole.

Elda, jy het onlangs op RSG oor die TALIS-peiling se bevindinge gepraat. Wat is jou agtergrond?

In 1980 het ek begin skoolhou by Hoërskool Vereeniging omdat ek geen werk kon kry met ’n B Honneurs (Kommunikasiekunde) nie, English Second Language st 6 en st 10, en binne twee weke verlief geraak op skoolhou. Die onderwys het my met grasie behandel, want ek kon teen die leer uitklim om Departementshoof (Engels) te word en ook vir agt jaar lank as die Hoofnasiener van Matriek-Engelse letterkunde vraestelle in die destydse Suid-Transvaal aangestel te word.

Reeds as kind, en toe met verdere ervaringe in daardie vroeë jaar as onnie, het daar by my ’n passie ontwikkel om tog nie te vergeet dat kinders ook mense is nie. Dat ons ook opinies het. Dat al ons opinies nie noodwendig sommer net lagwekkend is nie. Dat ons in werklikheid die Bybelse voorbeeld moet raaksien waar Jesus pertinent vra dat diekinders—nie die wyse manne of die hardwerkende vroue nie — na hom toe moet kom. Met daardie passie wat reeds byna 24 jaar aan die ontwikkel was, het die begeerte om aan my passie uiting te gee gelei tot my voltooiing van die eerste Meestersgraad in Onderwysreg, beter bekend as Education Law, nogal met onderskeiding.

Hierdie passie van my om aan tieners (eintlik ander mense se kinders) met erns aandag te skenk en na hulle harte te luister terwyl ek skoolhou, het by tye sy donkerkant gewys: na die ervaring van ’n beroerte in Februarie 1995, wat grootliks aangebring is deur my oordrewe belangstelling om probleme wat niks met Engels te doen het nie op te los, het my duur te staan gekom. Nie net kon ek nie praat of loop nie, maar selfs my korttermyn geheue het permanente skade gekry. Daarom het ek besluit om ’n PhD (Onderswysreg) te doen sodat ek kon kyk of my brein nog op die een of ander manier kon optree soos vantevore. Na aanleiding van daardie suksesvolle studie (wat ’n hele paar jaar geduur het) het ek my voltyds gewy aan die ondersteuning, hulp, raad en besoeke aan skole, onderwysers, ouers, leerlinge wat op die een of ander manier óf self in die moeilikheid verkeer óf onregverdig behandel is. Volgende week gaan ek juis na ’n skool om te kyk hoe ek die onderwysers op die regte manier kan ondersteun en motiveer om hul taak as opvoeders van ons land se jeug met blye harte te doen deur onderwysreg te inkorporeer in hul werksaamhede.

In dieselfde radio-onderhoud op RSG het jy gesê die bevindinge van die peiling is nie vir jou ’n verrassing nie. Jy het gesê jy wens een van die rolspelers wil praat oor ’n ideale plan van aksie. My vraag aan jou is: wat is jóú ideale plan om Suid-Afrikaanse skole beter te laat werk?

As iets nie vir ’n mens ’n verrassing is nie, impliseer dit dat jy eintlik reeds iets daaraan kon gedoen het, met iemand daaroor kon gepraat het en/of maatreëls begin beplan het.

Wat sou Elda eerste doen?

Die Aanhef (Preamble) van ons Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 is ’n kosbare diamant, robyn of pêrel wat as suiwer riglyn behoort te dien om die nodige aandag te fokus op waaroor mens bekommerd is.

Lees dit.

Oorweeg wat die grootste bekommernis is.

Raadpleeg belanghebbendes.

Besluit op ’n korttermynaksieplan.

Wees bewus daarvan dat daar ook op die langtermynoptrede nodig is. Maak nie saak wat “dit” is wat pla of waaroor die bekommernis gaan nie.

Wat dink jy is die basiese behoeftes van kinders en wat benodig hulle?

As dit nie so ernstig was nie, sou ek nou geskater het van die lag. Dit is inderwaarheid onaanvaarbaar en bykans belaglik dat daar nie al volledig eerstens aan die toiletbehoeftes van skole dringende aandag geskenk is nie.

Myns insiens is die Departement van Basiese Onderwys net nalatig wat die veiligheid van skole betref: van my kant af het ek al ten minste tien boodskappe vir Elijah Mhlanga gestuur om te vra wanneer ek kan saam dink, saam beraadslag, saam oplossings soek. Dit bly ononderhandelbaar dat ‘n mens veiligheid op skool moet ervaar. Veral artikel 24(1) van die Grondwet wys daarop dat alle burgers die reg het op veiligheid wat nie nadelig vir ons welsyn of gesondheid mag wees nie.   

Hoe gemaak met die land se verskeidenheid van tale. Hoe lyk jou plan hier?

Laerskoolvlak kort eerste dringende aandag.

Hou indabas om die ouers se behoeftes eerstens te bepaal, die onderwysers se vrese te ontdek, ’n werklike opname te maak van hoeveel onderwysers per provinsie in watter tale veral op die grondslagfase sal kan skoolhou.

Hoe staan ’n mens op en kyk die wêreld in die oë die volgende dag? Sonder om sinies te raak?

’n Mens dank God vir die geleentheid om nog ’n dag as geskenk te ontvang; ’n mens trek jou skouers letterlik en figuurlik terug (sodat ook jou liggaamshouding korrek is); ’n mens glimlag vroegoggend soveel moontlik omdat dit amper onmoontlik is om te frons en te glimlag terselfdertyd; ‘n mens gryp die dag aan en mik daarop om vir een persoon iets te beteken op daardie dag.  

 As jy een storie van hoop het om te deel, doen dit asseblief.

Bheki Kunene was ’n hele paar gelede as jong hoërskoolseun betrokke by ’n fisiese aanval op een van sy juffroue en die saak het onder andere ook in die hof gedraai met die onderwyseres wat die skoolhoof daarvan aangekla het daarvan dat hy nalatig opgetree het om haar veiligheid te verseker. Vir Bheki het die saak met samewerking van die onderwysdepartement, na die Kinderhof gegaan waar hy aan strafbare manslag skuldig bevind is: Bheki het in jeugaanhouding (juvenile detention) beland waar hy besef het dat net hy sy lewe kan en moet omdraai.

In werklikheid het die skoolsisteem hom nie oorspronklik reg gehanteer nie: met sy pa in die tronk en met sy kreatiewe talent het hy as jeugaanbieder op een van Kanaal 2 se tienertelevisieprogramme as broodwinner vir sy ma opgetree. Ongelukkig het hy by bendes betrokke geraak, wat maar tipies was van veral waar hy destyds sy jeugjare deurgebring het.

Om ’n laaaang storie kort te knip ... in Maart 2015 het ek hom telefonies en per e-pos opgespoor en op 6 Mei 2015 het Bheki deur middel van Skype ingeskakel tydens my Honneurslesing met Onderwysregstudente (Education Law) oor die onderwerp "Leerlingdissipline op skool". Dit was hartverskeurend om te hoor hoe die sisteem hom in die steek gelaat het. En dit was ontroerend hoe dankbaar hy was dat hy toe die kans kry om met onderwysers persoonlik te kon gesels oor hoe hy sou wou hê dat die skoolsisteem hom moes ondersteun. Sy raad het ons almal se harte aangeraak – ten minste sewe van die studente het sy opmerkings ter harte geneem, begin toepas en in ’n daaropvolgende werksopdrag was dit duidelik hoe hulle perspektief op leerlinge met veral sosiale dilemmas hul klasgeehouding positief laat draai het.

Tydens ons Skype-sessie op die Vaaldriehoekkampus, NWU, het ek hom 'n paar vrae gevra.

Hierdie was die vrae wat ek vooraf aan hom gestuur het:

  • Bheki, If you think back now:  How could the school have supported you better?
  • Were the school rules of any help to you back then?
  • To what extent did the punitive measures you had to go through benefit you?
  • How do you rate juvenile detention?
  • Are there any suggestions you have for schools when they have talented learners, such as you were, from backgrounds that do not always offer real support?

Vandag is Bheki ’n sakeman van formaat:

https://successness.com/2019/03/bheki-kunene-founder-mindtrix/

Lees ook:

Suid-Afrikaanse skole so onveilig soos Suid-Afrikaanse strate

’n Pyplyn vir Afrikaans: Roedolf van der Westhuizen praat oor die MOS-inisiatief

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top