Skermgreep: Bring her back en Weapons – twee filmresensies

  • 0

Skermgrepe: Bring her back (YouTube) en Weapons (YouTube)

  • Leon van Nierop skryf ’n gereelde filmrubriek vir LitNet.

Bring her back
Met Billy Barratt en Sally Hawkins
Danny en Michael Philippou

Twee veelbesproke rolprente (sien Weapons later) is kort na mekaar uitgereik, en mense het gelate gesug: “Waarom al hierdie oordrewe gewelddadige duiwelsfeeste en hekseverering wat veral deur tieners ondersteun word?”

Bring her back kom uit dieselfde stal as Talk to me (2022), ook gemaak deur die talentvolle Philippou-broers, Danny en Michael. Hulle het koelkoosgruwelrolprente weer na die voorgrond verplaas en uit die graf laat herrys met daardie uitstekende riller, ’n rolprent waarin die diaboliese en grusame die botoon gevoer het, maar steeds geslaag het as genotvolle, teisterende vermaak.

Maar nou het ’n paar nuwe pogings versadigingspunt bereik. In Bring her back word ’n jong broer en suster na ’n “betroubare” toesighouer, Laura (briljant gespeel deur Sally Hawkins), gestuur. Daar is egter ook ’n getraumatiseerde seuntjie in haar huis wat nie kan praat nie en fisiek mishandel is, en gou besef die twee dat dieselfde lot op hulle wag.

.......
Hierdie is ’n tipiese Gotiese gruwelfees, nes The innocents (1961), maar die geweld raak soms ekstreem en masochisties genotvol. Geen hond kan soveel plesier uit ’n been put as sommige kykers uit Bring her back en Weapons nie.
.......

Hierdie is ’n tipiese Gotiese gruwelfees, nes The innocents (1961), maar die geweld raak soms ekstreem en masochisties genotvol. Geen hond kan soveel plesier uit ’n been put as sommige kykers uit Bring her back en Weapons nie.

Die indruk word gewek dat die regisseurs in Bring her back se geval baie lekker gekry het deur tot die uiterste te gaan en wreedheid lag-lag te verglans. Hulle het die hansworse van gruwels geword wat selfs It (2017) in die skadu sal stel.

Dit is ’n gevaarlike tendens, want Talk to me het geweet wanneer om brieke aan te slaan, in plaas van voorhamerhoue teen die voorkop te gee wat die kyker katswink slaan. Want in Bring her back word die bloed en martelings met die gulsigheid van ’n vampier opgeslurp. Swart komedie verander nou in ’n bloeddorstige tango terwyl daar al dansende bloed gesuip word.

Dit is ook jammer, en selfs tragies, dat Laura, die waansinnige vrou van Bring her back, wat veronderstel is om die kinders te troos en te rehabiliteer, se aanvalle en uitbarstings soos gomlastiek tot breekpunt toe gerek word. Dit werk negatief in op ’n rolprent waarvan die storie beter behandeling verdien.

Met gil-in-die-mou-flieks soos Hereditary (2018) en The innocents het die gruwels net onder die hoogwatermerk geëindig en daarom meer impak gehad. Daardie bangmaakflieks het, soos Sinners (2025), ’n belangrike bydrae tot die grieselfilmbedryf (horror cinema) se vernuwing gelewer, maar Weapons en Bring her back sal nie dieselfde status bereik nie.

Kyk die lokprent:

 



Weapons
Met Julia Garner en Alden Ehrenreich
Regisseur: Zach Gregger

Dit is welbekend dat hierdie gruwelrolprent, wat ’n mens aan die Spaanse Inkwisisie herinner, ’n meedoënlose aanslag op kykers se sintuie uitvoer wat dit verby alle grense stoot, maar aanvanklik ’n 100%-gradering op Rotten tomatoes gekry het voor die puntetoekenning effens begin daal het. Gewone gehore was, interessant genoeg, nie so ingenome hiermee nie.

Dit is dus bedenklik dat woorde soos “meesterstuk!” en “fenomenaal!” losweg rondgegooi word wanneer Weapons geloof word. Edgar Allan Poe draai in sy graf om!

Weapons word uit die oogpunt van verskillende karakters, soos in Rashomon (1950), vertel waar die een se weergawe meer diabolies as die ander is, maar verskil.

Om 2.17 in die oggend verdwyn 17 kinders en vaar die donkerte in. Wat het van hulle geword? Was hulle van die duiwel besete? ’n Onderwyseres (Julia Garner lewer knap spel) is die belangrikste verteller, omdat sy die verdwene kinders se onderwyseres was. Met die uitsondering van een seuntjie wat net oorbluf in sy bank bly sit het, het geen kind in haar klaskamer oorgebly nie.

Hierna word verskeie karakters aan die ergste gruwels denkbaar onderwerp. Erger as enigiets wat nog ooit gewys is, behalwe miskien in die kotsfees The human centipede (First sequence) in 2009, maar so bombasties geforseerd dat ’n mens die selfvoldane regisseurs se bedoelings in twyfel trek. Waarom ’n sweismasjien op die kyker ooptrek? Hitchcock, die meester  van die gruwelriller, het telkens bewys (behalwe in Frenzy in 1972) dat minder meer is. Dat suggestie ’n groter impak het as ’n moedswillige eksplisiete opehartoperasie sonder verdowing.

Natuurlik het tye verander, en ’n resensent moet saam met die tye beweeg en aanpas by nuwe modegiere. Maar waar Sinners presies geweet het hoe ver om te gaan, is Weapons soos ’n kind wat sy/haar vingers in ’n elektriese prop druk, geëlektrifiseer word en ’n gruwelike dood sterf terwyl ons as toeskouers laggend toekyk. 

.......
Dis tyd dat regisseurs van grillers, wat deesdae lokettreffers is, besin. Ons moet ’n tree terugstaan en besluit wat is masochisties, gevaarlik en orgasties genotvol, en wanneer ’n bedrewe film soos 1980 se The shining jou nagmerries heerlik teister.
.......

Ja, Weapons is in ’n mate ’n bloed-en-derms-satire en ’n verwronge huldeblyk aan hoe ver regisseurs deesdae waag om te gaan wanneer hulle pyniging en marteling uitbeeld, maar hierdie een doen geen baanbrekerswerk soos Night of the living dead in 1968 nie. Dis ’n warm brandyster waarmee die kyker gebrandmerk word met die woorde: “Jy het dit oorleef. O, maar jy is koel, dudel!”

Dis tyd dat regisseurs van grillers, wat deesdae lokettreffers is, besin. Ons moet ’n tree terugstaan en besluit wat is masochisties, gevaarlik en orgasties genotvol, en wanneer ’n bedrewe film soos 1980 se The shining jou nagmerries heerlik teister.

Wat verder verontrus, is die feit dat dit veral tieners onder 18 is, ten spyte van die hoë beperking, wat die meeste genot hieruit put. Die televisiereeks Wednesday het dalk dié mode begin om donker gruwels, duiwelsaanbidding en heksery op te tert met fraai kameraskote, kannibalistiese genot, koel akteurs en klinkende simbaalslae.

En, o ja. Jy sal ná Weapons nooit weer ’n aartappelskiller op dieselfde manier kan gebruik nie ...

Kyk die lokprent:

Lees ook:

Skermgreep: Sinners – ’n filmresensie

Skermgreep: 28 years later – ’n filmresensie

Skermgreep: Mickey 17 – ’n filmresensie

The watchers: ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top