
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Daar kom soms boeke of skrywers oor jou pad wat iets in jou wakker maak wat jy dink jy al vergeet het. ’n Skrywer wat so kom aanmeld het, en wat twee opeenvolgende boeke met dieselfde temas uitgegee het, is Sjaka S Septembir met sy verhaal van Biko April, die ewige soeker na geluk en sin in die lewe; Biko wat deur alter ego’s (soos die skrywer self) gedryf word en ook van hulle af weghardloop. Die skrywer skryf onder name soos Jan Afganistan, Adam Chaos en Diamant Wolf. Biko April het ’n Christiaan en ’n Jan Jakkals.
Die boeke as sodanig het my nie soseer wakker gemaak nie, maar deurlopende temas (soos die zines – “Klein tydskriffies met ’n groot hart” – Septembir 2026b:5) en verwysings na die Beatniks en daardie tydperk wel, want Biko April beywer hom, net soos byvoorbeeld Jack Kerouac, Allen Ginsberg en William Burroughs, onder andere vir vrye liefde, seksuele bevryding en ekologiese bewustheid. Biko skaar hom by Club 27 – kunstenaars wat op 27-jarige ouderdom gesterf het: Kurt Cobain, Jimi Hendrix, Janis Joplin, Van Morrison, Amy Winehouse. Biko identifiseer ook deur Viva Dada! met die Dadaïste (1916–1922 in Switserland) soos Duchamp, Tzara en Man Ray. Net soos Duchamp (“The Daddy of Dada”) wat die vroulike alter ego Rrose Sélavy gebruik het (gefotografeer deur Man Ray) werk Biko (en Septembir) ook dus met alter ego’s.
Hierdie temas en verwysings het my herinner aan inligting wat ek in my navorsing oor kabaret teëgekom het. Die skrywer self sit my toe op die spoor van This is the beat generation deur James Campbell, wat ek as hoofbron vir hierdie lesersindruk gebruik.
Ter inleiding wil ek eers oor die naam Sjaka S Septembir praat, ’n alter ego van Karl Gröger. Die skrywersnaam verwys na die verloop van ons Afrika- en slawegeskiedenis, die verwysing na die oorlogkoning Sjaka Zulu, en ook na die manier om maande van die jaar vir die slawe as vanne te gee. Die S is vir jou eie raaiskoot. Hierdie verbande moet die leser dadelik bewus maak van die politieke temas wat in albei die verhale skuil. Dié artikel bedoel geensins om enige van die twee romans, Die bardo van Biko April (2022) en Dharma-dwaas in Doodloopstraat (2026), te ontleed of te bespreek nie. Ek gaan bloot net raak aan verwysings wat my nuuskierigheid geprikkel het.
September skryf in sy artikel oor Porselynnkas op 20 Augustus 2026 die volgende, wat ook kenmerkend van die Beatniks was – alter ego’s:
Die meeste van die kernfigure het ook aliase (sic) gebruik. Bernard de Vaal word Sigmunt Floyed en JJ Pancakes; Alex van Zyl verskyn as Caltex Omega, Alexander Omega en Oupa Skedelwiel; Almarie Cloete was Miral en David du Plessis as Swart Streep. Hierdie name was nie bloot grappies of verhoogname nie. Hulle het ’n tweede laag identiteit geskep waarin die kunstenaar homself kon herontwerp – weg van ’n vaste, herkenbare identiteit en die kulturele betekenisse wat daarmee saamgaan. In sy Meestersverhandeling beskryf Septembir self hoe die deelnemers aan PORSELYNNKAS nuwe personas (sic) aangeneem het: Alex van Zyl het Caltex Omega geword, Bernard de Vaal Sigmunt Floyed en Almari Cloete Miral; terselfdertyd “everyone now recognized me by the name ‘Sjaka’” (Septembir 2009:32 in Septembir 2026c).
Sjaka S Septembir – en Biko April, want hy is die skrywende hoofkarakter in die twee romans – skryf oor diverse kulturele en ontwrigtende gebeure; hulle verwys dikwels na die knip-en-plak-zines; hulle dink oor politiek en ’n alternatiewe leefwyse. Sjaka word soms ’n “kontemporêre kulturele terroris” genoem (dit het my ontgaan wie so gesê het – vermoedelik Letti Kleyn?). Septembir se werk word gekenmerk deur stryd – stryd tussen vryheid en kettings, tussen emosionele spanning en die vrylating daarvan, tussen aanvaarding en verwerping. Om te bestaan op ’n ander manier kontrakultureel, avant-garde (hoewel dit weer nuwe grense aandui). Sy lewe is ’n soektog na sy betekenis, sy manier van bestaan, na sin ... die lewe is die soektog self, en die soektog is die lewe self.
Hierdie gebruik van die alter ego is duidelik in die lewe van Biko April, en dit bring mens by die verskil tussen alter ego, pseudoniem en wat Fernando Pessoa (wat voor die Beatniks gelewe het: 1888–1935) die heteroniem genoem het. Hy het ongeveer 75 sulke name gehad.
Daar word soos volg tussen die drie terme onderskei:
Alter ego: Cicero noem in sy skryfwerk ’n alter ego ’n ander stem of visie wat die individu se eie opinies uitdaag, ’n manier om sosiale of morele kwessies te verken, en mens ervaar die wêreld op ’n ander manier deur “a trusted friend” (alter ego, Wikipedia). Dit is dus die sekondêre identiteit wat individue aanneem om verskillende fasette van hul persoonlikheid te ondersoek, of om hulself op ’n nuwe manier uit te druk. Dit is nie ’n ander persoon nie, maar ’n ander faset van dieselfde persoon. Dit is presies wat Sjaka S Septembir / Biko April doen.
Pseudoniem: Dit is ’n vals naam wat ’n skrywer gebruik om sy identiteit weg te steek terwyl hy skryf. Hy neem dus nie ’n aparte identiteit aan nie. Dit word ook ’n nom de plume of skuilnaam genoem en het anonimiteit ten doel. Dit het veral in die 18de eeu begin in ’n poging om sensuur te vermy, maar ook ’n manier om uit te staan en artistiek snobisties te wees (Pseudoniem 2026). Ek dink wel dat dit soms by die alter ego kan aansluit, soos Banksy dalk?
Heteroniem: Dit is ’n gerealiseerde alter ego wat deur ’n skrywer uitgedink word, een met sy eie biografie, persoonlikheid, estetiese filosofie en spesifieke skryfstyl. Heteronieme is onafhanklike literêre entiteite wat buite die skrywer se kernidentiteit staan. Dit is ’n tipe pseudoniem, maar die skrywer skep ’n heteroniem as afsplitsings van hom- of haarself, ’n vorm van depersonalisasie. Soms neig Biko ook na hierdie definisie (Heteroniem 2026).
Die Beatniks (1944–1961, Campbell 2000:ix) het baie persoonlike en dikwels outobiografiese werk geskryf – net soos Sjaka Septembir, al sê hy voor in Dharma-dwaas die boek is nie gebaseer op die werklikheid nie, dis gebaseer op die werklikheid soos Biko dit beleef – waarin die karakters, wat op werklike persone se lewens geskoei was, die kern van die verhaal gevorm het. Hierdie karakters het dikwels ander name gekry, byna soos skuilname (pseudonieme), ook by die Beatniks: Jack Kerouac was Sal Paradise in sy roman On the road; Neal Cassady was Dean Moriarty in On the road; Allen Ginsberg was Carlo Marx in On the road; William S Burroughs was Old Bull Lee in On the road en William Lee in Burroughs se debuutroman, Junkie, sowel as in sy boek Naked lunch. Gary Snyder was Jahpy Ryde in Kerouac se The Dharma bums. In dieselfde boek verskyn Lawrence Ferlinghetti as Alvah Goldbook (Campbell 2000).
Sjaka S Septembir se hoofkarakter, Biko April, se leefwyse herinner sterk aan dié van die Beatniks, en die volgende deel van hierdie lesersindruk sal op die hoofkarakters van hierdie tydperk en groep fokus.
Campbell praat van die Kerouac-Ginsberg-Burroughs-troika – die drie hoofkarakters in die Beatnik-era (Campbell 2000:ix). Hierdie karakters was voortdurend op reis, net soos Biko, en die reis self word die ontdekking van identiteit. Die reis is belangriker as die bestemming. Biko vertaal Robert Persig se woorde (net soos hy Die Tibettaanse boek van die Dooies hervertaal): Soms is dit ’n bietjie beter om te reis as om te arriveer (Zen and the art of motorcycle maintenance – Septembir 2026a:64). Dink ook aan die beperkende ruimte van Biko April in die doodloopstraat – hy kan nie meer iewers heen nie; sy lewe bereik ’n cul-de-sac.
Hierdie doodloopstraat in Dharma-dwaas herinner verder aan Kerouac se The Dharma bums (1958), die roman met die Beat-Boeddhistiese konneksie. Op bl 196 vertel Campbell van Kerouac se verblyf van 63 dae en nagte alleen in ’n klein hut by ’n bosboustasie op Desolation Peak om sy reis in Dharma bums neer te skryf. Volgens Campbell (bl 195) is Han-shan se Cold mountain poems Kerouac se inspirasie vir hierdie roman en Han-shan word as die eerste Dharma bum beskou. Han-shan was uit die Tang-dinastie, ’n Chinese digter wie se werk Boeddhistiese, Taoïstiese en Konfusiaanse temas bevat. Han-shan het in die berge geleef – soos Kerouac in die tyd toe hy The Dharma bums geskryf het – en het sy gedigte op klippe, teen rotse en op boomstamme geskryf. Sy gedigte weerspieël eensaamheid, geestelike vryheid en verganklikheid, onbestendigheid – dit wat die Beatniks – en Biko April – ondersoek het: Zen-kuns, kontrakultuur. Han-shan het vermoedelik in die 9de eeu geleef – of dalk glad nie – en daar is bitter min oor hom bekend.
Soos Han-shan en die Beatniks soek Biko April ook via reis en Boeddhisme na die betekenis van alles, asook na betekenis as betekenis self.
Daar is verskeie ander ooreenkomste tussen Septembir se karakters en dié van die Beatniks. Almal is outsiders en nonkonformiste; hulle lewe teen die stroom van die alledaagse lewe met besonder baie uitdagings. April ervaar in Suid-Afrika natuurlik ook ander uitdagings as die Beatniks; hy weier om deel te word van die konvensionele leefstyl in Suid-Afrika se middelklas. Hy verwerp gesag en soek voortdurend na identiteit en betekenis te midde van die stryd in Suid-Afrika in die laat 1990’s (wat die gevolg was van die stryd in die laat 1980’s) en die eeuwending daarna. Baie karakters in die romans is kunstig, soos Biko, en die meeste soek na spiritualiteit in byvoorbeeld die Boeddhisme. Die karakters is rusteloos, kreatief met happenings, rebelleer teen alles, ook teen hulself en hul eie idees. Beide Septembir en die Beatniks se protagoniste soek na die outentieke ervaring en insig, veral deur hul kuns, zines en alternatiewe maniere van uitdrukking. Dit was ook die geval met die Dadaïste en die punks. Moraliteit, kultuur, geloof en identiteit word bevraagteken; hulle word almal antihelde. Kerouac het byvoorbeeld baie gesukkel met sy roem ná On the road: “Famous Kerouac could not keep his footing. He did not enjoy the attentions of journalists, or of the groupies of both sexes” (Campbell 2000:205).
September se karakters is gewortel in die Suid-Afrikaanse realiteite van sensuur (hoewel die Beatniks dit ook beleef het, veral met Ginsberg se Howl). Biko bevraagteken ook ras, taal en postapartheid, en gebruik veral satire en skoktaktiek om sy soeke oor te dra. Sy karakters leef postmodernisties, roekeloos desperaat, en is gevorm deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis en die apartheidstyd en -stryd.
Dharma-dwaas in Doodloopstraat se aard word reeds op die voorblad bekendgestel. Die voorblad toon ’n poskaart (wat reeds die reismotief voorstel) van Jean Genet, ’n teks deur Dostojewski (Notes from underground), die tikmasjien wat die skrywende Biko voorstel, en ’n man met ’n roos in sy hand tussen graffiti deur, wat ’n soort weerloosheid voorstel. Hierdie voorblad berei reeds die leser voor op die kontrakultuur, die punk, Dada en die Beatniks, ’n distopiese land en leefwyse. Hulle rebelleer teen orde en utopie omdat dit die prysgee van vrye wil en individualiteit beteken.
Die hoofkarakter sukkel met depressie, gedagtes aan selfdood, die verhouding met sy ouers, alles dieselfde as die Beats; hy soek vervulling in verhoudings met vroue, die romantiek, kreatiwiteit. Ander karakters word die voertuie vir sy reis, sy trein, sy vliegtuig, sy motor, sy vlerke. Biko is ’n Beatnik, die “beat” omdat hy inval by wat Kerouac gesê het: “a sort of furtiveness ... a kind of beatness” (Campbell 1999:29), en saam met spoetnik die ruimte in. Soos Kerouac, is Biko “never hip, and had never really tried to be ... like Burroughs, like Ginsberg, he was only being true to himself” (Campbell 2000:285).
Bibliografie
Alter ego. 2026. Wikipedia. 14 September 2026 geraadpleeg.
Campbell, James. 2000. This is the Beat generation. Londen: Vintage.
Heteroniem. 2026. https://www.dbnl.org/tekst/dela012alge01_01/dela012alge01_01_00876.php. 14 September 2026 geraadpleeg.
Pseudoniem. 2026. https://www.litterm.co.za/2015/03/17/pseudoniem. 14 September 2026 geraadpleeg.
Septembir, Sjaka S. 2022. Die Bardo van Biko April. Oudtshoorn: Turksvy Publikasies.
—. 2026a. Die Dharma-dwaas in Doodloopstraat. Oudtshoorn: Turksvy Publikasies.
—. 2026b. Klein tydskriffies met ’n groot hart. Die Burger. 20 Junie 2026, bl 5.
—. 2026c. PORSELYNNKAS: Die laaste Afrikaanse avant-garde? 20 Augustus 2026, bl 2.
Lees ook:
Sjaka S Septembir oor Nag van die slang-uil en die legendariese Staal Burger


