Sjaka S Septembir oor Nag van die slang-uil en die legendariese Staal Burger

  • 0

Remona Voges het met Sjaka S September oor Nag van die slang-uil, ’n aksie-komedie wat tot einde Julie op die Vrystaat Kunstefees se platform Snelstroom beskikbaar is, gesels. 

Foto van Sjaka S Septembir in Nag van die slang-uil: verskaf

Nag van die slang-uil vorm deel van die Vrystaat Kunstefees se inisiatief, Snelstroom. Kan jy kortliks oor dié inisiatief vertel asseblief?

Die Vrystaat Fees het proaktief te werk gegaan en besluit hulle gaan nie toelaat dat die koronavirus ’n stokkie voor hul fees steek nie. Snelstroom is ’n opbou na of lusmaker vir die hooffees in Oktober. Gaan kyk gerus self, kliek op https://www.vrystaatkunstefees.co.za/

Dink jy aanlynfeeste soos hierdie is die feeste van die toekoms? En dink jy dat COVID-19 nuwe lig op die belang van die kunste werp?

Ek dink COVID-19 wys juis dat ons nie oor die toekoms seker kan wees nie. Verandering is die enigste konstante en ons, die mees aanpasbare spesie op die planeet, sal moet leer om ons aanpasbaarheid te benut. Ek het geen idee wat die feeste van die toekoms vir ons inhou nie, maar ek is flippen nuuskierig en opgewonde daaroor … al kom elke nuwe geboorte met pyn. Die kunste sal moet gaan sielsondersoek doen, wat is ons doel? As strukture wankel, wankel die kunste nie, maar kunstenaars wat hul blind staar teen die sisteme wat in plek is, sal wankel. 

Vertel asseblief vir ons meer oor die agtergrond van Nag van die slang-uil? Waar kom die inspirasie vir dié stuk vandaan?

Die stuk is gebore uit ’n hartseer en depressing tyd my eerste huwelik was op die rotse en ek was platsak in die Kaap. ’n Teaterliefhebber het hom oor my ontferm en gevra dat ek sy huis in Nuweland sal oppas. Ek besluit toe om elke oggend terwyl ek daar bly, op te staan en iets te skep. Ek wou iets lig skep, om te vergeet van my eie omstandighede. Ek het bloot gespeel en dis waar Staal gebore is. Daarna het ek weer my voete gevind en toe kry die produksie Bal-Oog en Brommel vlerke. So, Nag van die Slang-Uil is toe eers agterweë gelaat, tot en met 2020 waar ons die show by die Woordfees vir die eerste keer opgevoer het.

Nag van die slanguil is deur die ou Staal Burger geïnspireer. Kan jy meer oor dié karakter vertel? Hoe verskil hy van die karakter waarmee mense in die sestigerjare bekend geraak het?

Ek het grootgeword in die 80’s toe RSG ’n opvolg op Staal Burger gedoen het: Koos, seun van Staal. Ek het dit slaafs geluister. Staal self ken ek maar deur my ouers. My speurder, Gert “Staal” Geldenhuys, is ’n rateltaai moderne speurder. Hy neig dalk meer na Deon Meyer se Bennie Griesel. Behalwe dat hy ook kletsrym!

Die produksie word  as ’n Boere Noir bestempel. Verduidelik asseblief vir ons lesers wat Boere Noir is?

Gedurende die repetisie van die teaterstuk het of Isabelle Grobler (die kunstenaar en my vrou) of Gideon Lombard met dié kategorie voorendag gekom. Boere Noir is Suid-Afrikaanse skaduagtige speurverhale Swart Luiperd, Staal Burger en Deon Meyer se Bennie Griesel val seker in die kategorie?

Watter akteurs is by die produksie betrokke?

Ek is op die verhoog saam met Gertjie Besselsen (van Mr Cat and the Jackal) wat die musiek live maak. Gideon Lombard het my gehelp met die regie.

Nag van die slang-uil is, soos genoem, vanjaar by die Woordfees opgevoer. Hoe was die ontvangs? En wat was vir jou ’n persoonlike hoogtepunt van dié produksie tot op hede?

Dit was ongelooflik hoe die show ’n gloed op ouer mans se gesigte gesit het. Uit my ervaring vind mans oor die algemeen minder aanklank by teater. Die stuk het lekker aksie en humor. Meeste van die gehoor het Staal Burger onthou en wou na die tyd met ons praat. Daarmee saam is dit lekker dat dit ook by tieners aanklank gevind het hulle is ’n moeilike gehoor om tevrede te stel. Dit was vir my heerlik dat die Vrystaatse Kunstefees die show ’n tweede lewe gegee het, na ek gedink het die hele jaar se speelvak is gekanselleer.

Wat is jou proses wanneer jy ’n teaterteks aanpak? Volg jy ’n streng skryfroetine of is jou skryfproses meer organies van aard?

Dit hang af van die teaterteks en die begroting. Nag van die Slang-Uil het ek in my eie tyd en op my eie onkoste aanmekaargesit. Dit was baie organies. Die Woordfees het teen die einde befondsing gegee vir die finale (en nodige) afwerking en dit moontlik gemaak dat ek vir Gertjie Besselsen en Gideon Lombard kon betrek. Bal-Oog en Brommel was baie meer beplan en die beplanning was meer klinies uitgevoer. Maar daar moet altyd ’n bietjie ruimte gegee word vir speel, om ’n ding ’n lewe van sy eie te laat kry.

Ervaar jy soms skrywersblok? Indien wel, wat doen jy om dit teen te werk?

Ek skryf altyd aan meer as een teks op ’n slag. As ek vasval met iets meer ernstig, dan los ek dit en skryf aan iets meer pret, of werk aan ’n paar gedigte. As dinge werklik in jou kop beknop voel, stap ek om die blok met ons hond Basjan of gaan vang ek ’n surf.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top