Sidney Gilroy (1980–)

  • 0
Foto: Gareth van Nelson, rooi rose (met toestemming geplaas)

Sêgoed van Sidney Gilroy

Oor Wêreldboekedag: “Die kulture en omstandighede wat ek deur boeke kon ervaar vanuit die gemak van my leunstoel, het wie ek ís verander. Boeke is die tydmasjiene wat ons komvandaan bewaar en ook die rigtingwysers om wat dalk mag kom, te navigeer. Boeke is vir my die stiksel wat samelewings heg. Elke dag moet Wêreldboekedag wees.” (LitNet, 23 April 2024)

Oor sy liefde vir boeke en lees, veral vir Afrikaanse boeke: “Ek glo nie ek het ooit iets anders as Afrikaanse boeke gelees nie. Soms, as ek ’n boek gelees het, moes ek ander boeke gaan uitneem om presies te weet waaroor daar in daardie spesifieke roman geskryf word. Ek dink ek was volleerd teen die ouderdom van 13 oor dinge wat meeste kinders in die 90’s eers teen ouderdom 15, 16 sou ontdek.” (Aan LitNet, Junie 2026)

“Ek het nooit juis die rebelse streek verloor nie. Selfs in my 30’s en 40’s, stamp ek gereeld kop met strukture wat ek uitdaag en bevraagteken.” (Aan LitNet, Junie 2026)

“Ek het hier en daar na skryfskole geloer – maar die struktuur en verwysingsraamwerk wat op jou afgedwing word, het ek ook as te versmorend gevind. Ek glo tot vandag toe dat daar geen klas en geen graad is wat jou kan leer skryf nie. Skrywers word gebore, nie gemaak nie. Jy kan net slyp wat reeds bestaan.” (Aan LitNet, Junie 2026)

“Vir my is die opwindendste ding rondom enige boek skryf, wanneer jy daardie heel eerste weergawe uit timmer en daar na ’n geswoeg en gesweet (en baie dink) skielik 100 000 woorde voor jou staan. Daar is iets verskriklik magies daaromtrent om karakters en verhale van iet tot niet te skep.” (Maroela Media, 10 April 2024)

Hoe sien hy homself as skrywer? “Sidney die skrywer is ’n tolbos-tipe ou met ’n gevaarlike verbeelding wat baie wilde dinge droom. Hy is ’n grootbek. ’n Moeilikmaker. Alewig besig om te kyk hoe ver presies hy dit kan druk. Om voor groot getalle mense uit die vuis uit te praat, skrik hom nie af nie en hy hou daarvan om rondom en tussen mense te wees.” (Maroela Media, 10 April 2024)

En Sidney die mens? “Sidney die mens is baie ver verwyderd van Sidney die skrywer af. Hy is ’n bleeksiel. Wat baie lees. Hard werk. Te veel oefen en ver ente langs die see of in die berge gaan stap. Alleen. Hy verkies sy eie geselskap of dié van diere. Die twee het net een ding in gemeen: ’n liefde vir Afrikaans en vir skryf. Die een verdra die ander vir die onthalwe van vrede vir almal.” (Maroela Media, 10 April 2024)

“Ek sou beide misdadiger en speurder kon wees. Wil ek? Nee. Om een van die twee te wees is om naby aan die swart naaf wat net onder die oppervlak van die mensdom vloei te leef. En dít dink ek is onuithoubaar. Soms dink ek kriminele het hulself oorgegee aan die swart en donker en vieslike van wat ’n mens kan wees en ander kere dink ek dié wat hulle wil vang, is op ’n makabere manier gefassineerd deur die einste donker dieptes van die menslike siel.” (LitNet, 20 Augustus 2020)

Wat laat hom aanhou skryf, en spesifiek in Afrikaans? “Skryf is maar soos ’n dwelm. Lees ook. Ek is verslaaf aan albei. Ek kan ook Engels, Nederlands en ’n bietjie Portugees en Swahili praat, maar nie een voel so naby aan my nerf as Afrikaans nie. Dit is in my DNS, dis my fabriekstelling. Party mense drink of dobbel, ander gim of draf hulle dood of gaar geld of besittings op. Ek skryf. Dis my kink.” (Netwerk24, 12 September 2021)

Die vroegste invloede op sy skryfwerk en hoe dit steeds in sy werk manifesteer? “Ek was gelukkig dat ek van jongs af enigiets mog lees. JM Coetzee, André Brink, Chris Barnard, Karel Schoeman, Dan Sleigh, CM van den Heever, Marlene van Niekerk, Hennie Aucamp, te veel om op te noem, het ek almal in my tienerjare ontmoet. Dis nie sinne of paragrawe wat ek onthou nie, maar die boek as geheel, en die momentum of rigting wat dit uit- of aangewys het. Die onderstrome ónder die illusie van ’n verhaal wat as vermaak vir die leser opgedis word. Ja, lees is vermaak en ontsnapping, maar goeie boeke is ook die enigste manier behalwe geweerlope om kulturele verandering teweeg te bring. Stil-stil sus dit ons na tasbare verandering.” (Netwerk24, 12 September 2021)

“Misdaadfiksie is gewild omdat dit vermaak, ontvlugting bied. Ek het al twee mislukte motorkapings oorleef, maar omdat ek vir tye in ander lande gelewe het waar misdaad basies nie bestaan nie, het ek tot die insig gekom dat mense ’n behoefte het om skrik gemaak te word. Ons wil weet van die gruwelike dark underbelly, want dit laat ons veilig voel. Misdaadfiksie is die heel gewildste onder mense wat elke dag veilig is.” (Rapport, 30 Januarie 2022)

“Dis nie skryf wat ’n mens verander nie, maar léés. Ek het van ’n jong ouderdom af besef ’n boek is ’n tydmasjien wat jou toelaat om ’n totaal ander, dikwels ontoeganklike wêreld binne te gaan, ’n wêreld wat jou horisonne verbreed, waar jy enigiets kan wees wat jy wil wees, waar jy leer verstaan wat agter mense se oë aangaan … wat jou laat besef ook fiksie – en nie net feiteboeke nie – kan jou help om die mensdom beter te verstaan.” (Rapport, 30 Januarie 2022)

“Ek kies geen spesifieke genre nie. Dit het nou maar só gebeur dat my karakters maaifoedies en werfetters is wat gevang moet word, dus die speurder en die kriminele elemente. Ek sal beslis in ander genres ook wil skryf. Of ek daarin sukses sal behaal, sal net die tyd leer. Goeie karakters, geloofwaardige, interessante stories en ’n leser wat emosioneel by die boek betrokke raak, bly egter die kern van enige verhaal, ongeag die genre.” (Netwerk24, 12 Maart 2024)

“Deur te skryf aktiveer ek my kreatiewe sy.” (Maroela Media, 10 April 2024)

“Ek werk hard daaraan om my eie, unieke stem as skrywer te vind en groot, indrukwekkende woorde waarvoor jy ’n woordeboek moet nadersleep, is nie in my taalregister nie. Jy kan nie deur woorde slim klink of die leser boei nie. Myns insiens hoe minder woorde jy hoef te gebruik om iets aan iemand te verduidelik, hoe beter ’n skrywer is jy.” (Maroela Media, 10 April 2024)

Watter advies sal hy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde regte wêreld te betree? Watter advies moet hulle ignoreer? “Jy sal nooit weer so jonk wees soos in hierdie oomblik, hierdie dag nie. Moet nie verder uitstel nie. Neem aksie. Die lewe gaan nie vir jou wag nie. Wees aanpasbaar. Dinge werk bitter min uit soos ons dit beplan het. Wees dankbaar. Die son sal net oor jou aanhou skyn, as jy dit vir ander ook gun.” (afrikaans.com)

Gebore en getoë

Sidney Gilroy is op 1 Junie 1980 in Virginia op die Vrystaatse goudvelde gebore. Hy is die oudste van drie seuns en hulle het ’n ouer suster. Hulle van, Gilroy, kry hulle van ’n Ierse voorvader wat met die groot Ierse hongersnood in 1847 na Suid-Afrika gekom en toe met ’n Afrikaanse meisie getrou het, vertel hy aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 5 Junie 2020).

Sy pa, Werner, was ’n militêre man – ’n valskermspringer in die weermag. Hy het sy opleiding in Bloemfontein klaargemaak en is daarna grens toe. Sidney vertel aan LitNet dat sy pa nie eintlik gepraat het oor sy weermagdae nie, hoewel hy lewenslange vriende uit sy weermagdae gehad het. Hy het ook later ’n geesdriftige versamelaar van weermagmemorabilia geword.

Ná sy pa se weermagdae het die gesin na Virginia verhuis. Vanweë sy pa se werk by die destydse staatsinstellings wat verantwoordelik was vir die onderhoud van vakansieplase en wildsreservate, het die gesin baie rondgetrek: “Ek het die meeste van my kinderjare grootgeword op vakansieplekke soos Willem Pretorius, Maselspoort en Jim Fouché.” (Aan LitNet)

Die gesin trek in 1986 na Harrismith, waar sy pa vir die Qwa Qwa-ontwikkelingskorporasie gewerk het. Hy het baie na die Ooste en ander plekke gereis om beleggings vir die tuislande te bekom.

Sidney se ma, Annatjie, het deur sy grootwordjare as klerk by Eerste Nasionale Bank gewerk. Sy het haarself deur indiensopleiding as boekhouer gekwalifiseer.

Sidney beskryf sy grootwordjare só: “My grootwordjare op die platteland was [’n tyd] van ongekende vryheid. Dit was ander tye tóé. Eers teen hoërskool moes ek skoene en langbroeke begin dra, en die wye strate, koppies, waterstrome, riviere, bergpoele, kranse en woude om Harrismith was my speelplek. Met ’n BMX-fiets onder jou bas was die wêreld vir jou ’n oop, onbekende pad wat verken moes word.”

Hy onthou juffrou Coetzee, sy graad 2-juffrou (destyds sub B), baie goed, veral hulle “storietyd” elke dag: “Ek was absoluut versot op die boekies wat vir ons voorgeskryf is om ons te leer spel, skryf en lees. Die laerskool op Harrismith het ook ’n baie groot biblioteek gehad en dit was verpligtend vir elke kind om tweeweekliks ’n boek te gaan uitneem. Om die waarheid te sê – ons het ’n toegewyde Biblioteekklas in ons klasrooster gehad. Daar het my liefde vir lees ontstaan en dit is net verder gevoed deur my oupa, ouma en ma, wat ywerige lesers was. Daar was altyd ’n stapel boeke iewers in die huis.

“Later het ek van die skoolbiblioteek na die dorpsbiblioteek gegaan. Binne ’n jaar het ek al die ‘kinderboeke’ klaar gelees. Skelm het ek toe van die ‘grootmensboeke’ probeer uitneem. Ek skat ek was 13 jaar oud. Die bibliotekaris het my gekeer en daarop aangedring dat ek ’n nota van my ouers moes inhandig wat haar toestemming gee dat ek volwasse romans mag uitneem. Ek het die nota self geskryf en self geteken. Ek was redelik goed daarmee om my pa se handtekening na te maak.”

Sidney beskryf homself as ’n baie “rebelse tiener” gedurende sy hoërskooljare. Hy het alternatiewe musiek verkies, en terugskouend dink hy nou dat baie van die jeug gedurende die jare 1994 tot 1998 ’n “gevoel van intense verandering en angs” beleef het: “Onthou dat ek uit die era kom waar die politieke bestel só was en ons ooreenkomstig grootgemaak is om daarin te funksioneer, en toe skielik is die politieke bestel só – en daar word verwag van die kinders wat toe op die rand van hul jongmenslewe staan, om naatloos by die nuwe realiteit en hierdie kwansuise ‘veranderde’ samelewing in te skakel.”

Van sy hoërskoolloopbaan onthou Sidney die “baie passief-aggressiewe kinders en polarisasie wat onder die dekmantel uitgespeel het”. En hoewel die “nuwe” Suid-Afrika alreeds op papier daar was, was die ou Suid-Afrika nog baie lewendig in baie van sy vriende se huise.

Hy brei verder uit: “Vir ’n kind van 15 was dit ’n onsekere, deurmekaar tyd, en as jy nog puberteit ook in die pot gooi, word dit ’n drukkoker van hormone en misplaaste verwagtinge. Ek het min geleer. Ek het die onderwysers en my ouers hel gegee. Ek het baie op my motorfiets rondgerits en al die verkeerde dinge gedoen en probeer. Ek het sommer op 14 by ’n kroeg en restaurant begin werk en my eie geld verdien.

“My rebelsheid, die verkeerde vriende en my (soms onwettige) streke het my ouers genoop om vir my ’n alternatiewe skool te soek om my hoërskoolloopbaan te voltooi. Geen skool in die Vrystaat sou my in neem nie.”

En dit is hoe hy op Newcastle in KwaZulu-Natal beland het en sy skoolloopbaan daar voltooi het. Die koshuis wou hom nie hê nie, dus moes hy in ’n losieshuis gaan bly. “Ek was op die ouderdom van 16 as ’t ware alreeds deel van die grootmenswêreld. Dít was nie ’n slegte ding nie en dit het ’n lewenslange drang na onafhanklikheid in my ingeprent.

“By my nuwe skool was daar twee onderwysers wat my lewe verander het. Juffrou Clark, ons skoolhoof, was nie skaam om haar rottang op my te gebruik nie. Nog minder was juffrou Delport, my aardrykskundeonderwyseres, huiwerig om my te dissiplineer [...]. In ’n kwessie van twee jaar het hulle my van ’n rebelse tiener tot ’n leerlingraadslid gewetter wat matriek met drie A’s en volle universiteitstoelating behaal het. Ek is hulle ewig dankbaar.”

Hy matrikuleer in 1998 aan die Hoërskool Newcastle.

Verdere studie en werk

In 1999 is Sidney na die Universiteit van Pretoria, waar hy ingeskryf het vir ’n BA Visuele Kommunikasie-kursus. In sy eerste jaar het hy ook inligtingskunde en kunsgeskiedenis studeer. ’n Skoolmaat van hom het in matriek al daaroor gepraat om hierdie kursus te doen: “Net twintig studente is elke jaar gekeur. Ek was ietwat rigtingloos oor wat ek met my lewe wou doen en het toe maar die toelatingseksamen gaan skryf en voor ’n universiteitskomitee verskyn met ’n portefeulje wat ek vooraf moes saamstel. Dit was ’n geval van ‘jy doen dit, so ek gaan ook probeer’. Tipiese tiener-naïwiteit en daardie soeke na rigting. Ek was effe uit die veld geslaan toe ek gekeur word vir die kursus en my vriend nie.”

Pretoria was vir die jong Sidney, rou uit die platteland van die Vrystaat, asof hy in Londen of New York beland het – geensins voorbereid op die kultuurskokke wat in sy eerste jaar op hom gewag het nie. “Hier was al die strate geteer, jy kon nie sommer net van die een kant van die dorp na die ander kant stap nie, en daar was duisende, duisende mense wat nie een teruggewaai het as jy verby hulle ry nie!

“Ek was nie ’n koshuisbrak op universiteit nie. Groot gedeeltes van my kindertyd is in kos- of losieshuise spandeer en nadat ek skool verlaat het, het ek gesweer ek sou nooit weer in ’n koshuis woon nie. Min het ek geweet dat drie studente in ’n woonstel saam ook maar ’n kommune van soorte is! Ons karig gemeubileerde woonstel was in Parkweg, Arcadia, geleë en reg oorkant die Pretoria Kunsmuseum. Ons was ’n klipgooi van die Uniegeboue af. My woonstelmaats was die een ’n mediese student en die ander ’n grafiese kuns- en fotografiestudent. Ons uitkyk was heel boheems en daar is beslis te veel gekuier en gefuif. Eksamentyd was dit egter ’n ander storie – dan het die strate en die kroeë van Sunnyside ons maar min gesien.” (Aan LitNet)

Sidney vertel verder aan LitNet oor daardie jare: “As ’n jongmens besef jy nie altyd dat die dinge wat jy sommer lukraak en deur toeval beleef, eenkeer-in-’n-leeftyd-geleenthede is nie. Ek skud nou nog kop vir myself as ek dink hoe ons sommer van ons balkon af gestaan en luister het hoe Pavarotti by die Uniegeboue optree, of hoe ons in die park gesit en kyk het hoe die Da Vinci-skatte vir ’n uitstalling by die kunsmuseum versigtig uit kratte gelig word.”

Die kursus waarvoor hy ingeskryf het, het ten doel gehad om studente vir die advertensiewêreld op te lei. Maar hy was meer geïnteresseerd in die inligtingskunde- en kunsgeskiedenis-deel daarvan: “Professor Duffey en Diane Victor by die Kunsdepartement het veel meer met my reggekry as die lektore in bemarkingsbestuur of visuele-kommunikasie-teorie. Aan die einde van my tweede jaar het ek besluit dat ek nie werklik in die advertensiewese wil wees nie, en ek het opgeskop. Kort daarna het ek ’n paar kursusse in projek- en operasionele bestuur gedoen en toe by die formele sektor aangesluit in ’n baie junior posisie in die industriële-dienste-sektor.”

Visuele kommunikasie was een van sy vakke op universiteit. Hy het ’n intense belangstelling in hoe mense visueel met mekaar en met massas kommunikeer, vertel hy aan LitNet: “Ek betrap myself gereeld dat ek mense dophou en hulle dan groepeer in tipes volgens die maniere, uitdrukkings, klerestyl of kulturele merkers wat hulle deel.”

Hy begin in 2015 deeltyds as stokperdjie skryf, maar het ook ander belangstellings. Hieroor brei hy uit: “Ek stel ook belang in kankernavorsing. In 2019 het ek ’n dokter ontmoet wat ’n enorme hoeveelheid navorsing op die gebied van kankerbehandeling gedoen het. Sy oogmerk was om die erg-wetenskaplike terme wat saam met kankerbehandeling kom, meer verstaanbaar te maak vir Jan Publiek. Ons albei het besef dat wanneer jy met kanker gediagnoseer word, jy in ’n skok verkeer en wat ’n dokter of spesialis vir jou sê, heel moontlik soos Grieks vir jou klink en jy basies uitgelewer is aan roetine-behandeling. Daar is ook verskriklik baie teenstrydighede as dit by kankerbehandeling en die beskikbare opsies kom.

“Saam het ons ’n boek geskryf en ’n webwerf begin wat hierdie navorsing en behandelingsopsies in meer verstaanbare, omgangstaal aan die publiek bied. Dit is nie mediese advies nie. Dit is slegs die nuutste feite en navorsing op ’n verteerbare, maklik verstaanbare manier.”

Sidney was operasionele bestuurder by ’n telematiese-inligtingstegnologie-maatskappy, en toe dit laat in 2020 duidelik word dat COVID-19 nie vinnig die wyk gaan neem nie, het hy besef hy kan kies waar hy wil woon en hom op Reebok, saam met sy “ander helfte en twee katte”, tussen Mosselbaai en George gaan vestig.

Om te skryf, was nooit iets wat Sidney oorweeg het nie of iets wat hy wou doen nie. Ook was hy nie ’n uitstaande Afrikaanse student nie, maar hy het baie gelees: “Ek het nooit my rebelse streep verloor nie en dit is amper deel van my DN om in opstand te kom teen magstrukture en instansies van mag wat voorskryf of my in ’n spesifieke vorm te probeer in giet of klassifiseer. Om kreatiewe skryfkunde te gaan studeer het vir my na ’n mors van my tyd gelyk.”

Op ouderdom 35 het Sidney besluit dat as hy nie iets daadwerkliks gaan doen nie, gaan hy nooit so ver kom om te skryf nie. Hy het begin met kortverhale skryf en die verhale het later op ’n hopie by die huis gelê. Hy het baie van Annelie Botes se skryfwerk gehou en het haar as skrywer hoog aangeslaan. En toe hy haar adres by ’n verlangse familielid kry, het hy die bul by die horings gepak en sy kortverhale aan haar gepos.

Oor die res van sy skryfstorie vertel Sidney verder: “Ek het vir maande niks teruggehoor nie. Op ’n dag daag daar hierdie bruin, gebruikte Unisa-koevert by my huis op. Die vorige geadresseerde se naam is doodgetrek en my besonderhede is op die koevert aangebring. Binnekant is ’n brief en my kortverhale wat aan my teruggestuur word. Die brief was van Annelie af. Sy was heel hoflik, maar baie reguit. Sy het my goed uitgetrap oor waar ek oral fouteer met my skryfwerk, oor hoe ek nog nie my skrywerstem gevind het nie, oor my windgatgeit om ander se styl na te aap en hoe ek myself eintlik in die knie skiet deur dit te doen. Sy het my ook gewaarsku dat wanneer ek nou na my kortverhale gaan kyk, ek net rooi strepe, uitroeptekens en teregwysings op elke bladsy gaan vind. Dit was ook so: die kortverhale wat sy teruggestuur het, het gelyk asof daar ’n oorlog van epiese proporsies met ’n rooipen daarop plaasgevind het.

“Ek was redelik bekaf – totdat ek die laaste paragraaf van haar brief lees: ‘Sidney, jy het talent. Jy kán skryf en goed ook. Maar talent is net 10% van wat jy nodig gaan kry. Nóú gaan jy moet leer werk ook.’

“Só ontstaan ’n vriendskap tussen my en Annelie Botes wat oor ’n paar jaar gestrek het. Ons het oor en weer per e-pos gekommunikeer en met tyd het my kortverhale verbeter en die gereeldheid waarmee sy my moes kasty, het afgeneem. Sy was later die eerste persoon om my eerste volwaardige manuskrip vir ’n roman te lees. Tot met haar dood het sy geen oordeel of opinie oor die manuskrip of my skryfwerk verder uitgespreek nie. Sy het net gesê toe ons mekaar vir die eerste keer by ’n kunsfees in lewende lywe ontmoet: ‘Jy sien?’

“Van die kortverhale wat ek destyds geskryf het, het ek vir kompetisies ingestuur en dan en wan ’n kortlys gehaal of ’n prys gewen. Een van hierdie pryse is deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging toegeken en die prys was ’n skryfskool: een oggend saam met ’n gepubliseerde skrywer. Daardie skrywer was Etienne van Heerden. Ek het aan sy lippe gehang. Nie net omdat ek al so baie van sy boeke gelees het nie, maar omdat hy nie voorskrywerig was nie – hy het werklik net sy liefde vir skryf met die aspirantskrywers gedeel.

“Ná afloop van die skryfskool het ek met hom gaan gesels. Ek het geen filter nie en hy moes op ’n stadium gevoel het ek bombardeer hom met vrae en my eie opinies. Hy het terloops genoem: ‘… jy skryf nou kortverhale, hoekom probeer jy nie ’n roman nie?’ Ek het dit as ’n tipe ‘dare’ van Etienne se kant af gesien. Ek het van die skryfskool vertrek met die voorneme om hom daarop te neem, en ’n paar maande later was Klikbek, my debuut, in manuskripvorm.

“Omdat ek geen ervaring of kennis van die uitgewersbedryf gehad het nie, het ek die manuskrip op een slag aan ál die uitgewers in Suid-Afrika gestuur. Lapa het met ’n kort nota laat weet: ‘Hierdie boek is onpubliseerbaar.’ Baie van die ander uitgewers het net mooi niks terug laat weet nie. Ek het van die manuskrip vergeet – totdat ’n dame van Human & Rousseau my op ’n herfsoggend skakel en my meedeel dat hulle my graag ’n kontrak wil aanbied om my debuut en die boeke daarna te publiseer.”

En dit was dan die begin van ’n (tot dusver) baie suksesvolle skryfloopbaan van misdaadfiksie en ook die verskyning van ’n nuwe speurder, sersant Sollie Mthembu, op die Afrikaanse literêre misdaadtoneel.

Klikbek verskyn in 2019 by Human & Rousseau en haal in 2020 die kortlyste van die kykNET-Rapport-Filmprys, die UJ-Debuutprys en die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur.

Sollie was eers net ’n idee vir die speurder in sy roman, vertel Sidney aan Elna van der Merwe: “Eers veel later, soos met al my karakters, het hy uit die waas van my onderbewussyn gestap en so daadwerklik voor my gestaan dat ek nie gedurf het om verder aan hom te torring nie. Ek dink wat Sollie Mthembu anders maak, is sy menslikheid en sy getrouheid aan die werklikheid. Hy is nie ’n held nie. Hy is maar ’n man in sy laat 30’s wat sy loopbaan op dreef probeer kry om ’n beter lewe vir hom en sy mense te skep.

“Hy het rekenings om te betaal, ’n moeilike vrou, vele onsekerhede en dinge uit sy verlede wat hom jaag. Hy is tegelyk doodnormaal en uitsonderlik in hoe hy sy werk aanpak en hoe hy werklik in ’n veiliger samelewing glo. Selfs in die volgende boeke in die reeks bly hy steeds iemand wat maar net mens is; wat bomenslike dinge moet doen om die vloedgolf misdaad in ons land te probeer keer.”

In Beeld van 29 Oktober 2019 skryf AJ Opperman ná ’n onderhoud met Sidney: “Die ongeskrewe broederband tussen mans sowel as sekere aspekte van manlikheid wat dikwels verswyg word, kom onder die loep in Klikbek.”

Hierop brei Sidney verder uit dat daar baie meer as voorheen gepraat word oor toxic masculinity: “Ons ervaar ’n tydstip in ons samelewing waar mans na hulself in die spieël moet kyk en bestek opneem van al daardie dinge wat op ’n mens se skouers rus. Die idee dat jy nie jou gevoelens mag wys nie, dat jy nie mag uitpraat nie.”

In Klikbek word die vetes tussen drie Vrystaatse families uitgebeeld. ’n Boer verdwyn en dan beland sy eerste groot saak op Sollie Mthembu se lessenaar. Die storie was egter nie aanvanklik as ’n spanningsroman bedoel nie, maar net as die verhaal van drie families, sê Sidney: “Soos met my kortverhale wou ek gehad het dit moet die werklikheid weerspieël. Ons het so ’n diverse land. En ons het soveel diepte in ons mense en in ons stories. […]

“Sollie is baie na aan my hart. Dit handel maar ook oor man wees. Dit was vir my baie moeilik om Sollie te skryf. Ek is ’n groentjieskrywer en ek moes hom aan die lesers voorstel. Hy moes nie van die begin af perfek gewees het nie. Die lesers moes hom ook sien groei.”

Die Vrystaatse megaboer Tillman Wagenaar verdwyn, begin Francois Bekker (Beeld, 23 September 2019) sy siening van Klikbek se storie. Wagenaar is, benewens dat hy ’n ryk boer is, ook ’n vriend van die polisiekommissaris. En die polisie in Bloemfontein is op die agtervoete en ’n suksesvolle afhandeling van dié verdwyning is baie nodig.

Bekker skryf verder: “Sollie se ondersoek na die omstandighede waarin ’n vooraanstaande boer verdwyn het, word ’n kitskursus in motief, oorsaak en gevolg onderlê deur jaloesie en wraak as twee moorde die saak verder kompliseer. Die spil waarom die drama draai, is die spogplaas Onverwacht wat ’n ‘laslapkombers van ander mense se ongeluk en mislukking is’.”

Vir Bekker is die gebruik van Bloemfontein en die Vrystaat as “literêre ruimte” iets wat maar min in die Afrikaanse letterkunde gebeur, ’n “welkome korrektief”.

“Wanneer Sollie die pad vat na die fiktiewe dorp Rhynveld toe, ontvou ’n tipiese Vrystaatse landskap voor hom – die pad lê reguit voor hom uitgestrek met ’n wye niks op die horison. So onopgesmuk egter as wat die omgewing blyk te wees, so kompleks is die mense en interpersoonlike verhoudings waarmee hy gekonfronteer word,” skryf Bekker verder. “Met sy getemperde register en woorde wat voel soos ’n vars bries op ’n soel somersdag is Klikbek’n teks wat sy leser van begin tot einde boei. Voeg hierby verrassende kinkels soos die raaisel oor die ontvoering en moorde verdiep. Met ’n sterk storielyn en knap karakterontwikkeling is dit ’n verhaal, om by PG du Plessis te leen, met ’narrative pull’.

“As karakter word Sollie Mthembu ’n prisma waardeur die leser kan sien hoe konvensies en sosiale kodes wat tot die verlede behoort, springlewendig is daar waar die kollig nie is nie. Sollie se lewensreis van Matatiele in die Oos-Kaap tot by Parkweg-polisiekantoor is aangrypend. Die letsel aan sy gesig is ’n fisieke herinnering aan die geestelike pyn wat die verlede aan so baie mense in ons land besorg het.

Klikbek is ’n onthutsende debuut waarin die psigiese letsels van die karakters pynlik en genadeloos blootgelê word.”

En op LitNet is Herschelle Benjamin net so positief oor Klikbek: “Klikbek se karakters sal my lank nably as dinamiese karakters wat as mense so duidelik in my geestesoog vertoon het. Die pas waarteen die vertelling verloop, is ook maklik en het nie te veel probeer om spanning uit te rek nie. Gilroy gaffel die leser so deeglik dat jy op die uitkyk is vir die volgende keer as die storie ’n anderste wending aanneem.

“Nader aan die einde van die boek besef mens dat die saak nog nie opgelos is nie en dus wag jy vir ’n oortuigende slot. En so was dit gewees. Maar op so ’n manier dat jy as leser en ons hoofkaraker, Sollie Methembu, nooit sou kon dink dat sy eerste saak as speurder tot só ’n einde sal kom nie.

“Hierdie fiksie sal ek beslis aanbeveel en dit verdien eervolle vermelding as ’n goeie debuut. Daarby het Klikbek ook die potensiaal om as rolprent of dramareeks kykers te boei op die skerms. Wie weet ... dalk eendag. Tot dan, lees eerder die boek en onthou my woorde: Genotvol. Boeiend. Verfrissend.”

Gilroy se tweede boek, Middernag (Human & Rousseau, 2020), word bekroon met die kykNET-Rapport Filmprys vir 2021. Die akteur Beer Adriaanse was een van die beoordelaars vir hierdie prys en hy het só geskryf oor Middernag: “Die deurslaggewende faktor in Middernag is egtheid. Die wêreld, karakters en dialoog flikker soos iets uit ’n Carte Blanche-segment – cinéma vérité in boekvorm. Die karakters herinner aan die gesigte wat ’n mens sien as jy op pad na iewers gou petrol in ’n plattelandse dorpie ingooi. Die dialoog is so ongekunsteld en eietyds, amper voyeuristies, asof ons by die misdaadtoneel afluister hoe die speurders met mekaar praat. Egtheid is egter nie goed genoeg nie, en wanneer Middernag die sogenaamde realisme vir die verbeeldingryke verruil, ontpop ’n swetterjoel filmiese tonele en oomblikke wat tuis sal wees op enige silwerdoek.” (Netwerk24, 12 September 2021)

In Middernag ontmoet die leser weer vir Sollie Mthembu van Bloemfontein en sy kollega van die Parkweg-polisiestasie, kaptein Maartin Brummels. Hierdie keer is daar weer ’n verdwyning – dié van ’n kleuter van ’n doodnormale gesin op Harrismith. Die bevelvoerder van die polisiestasie op Harrismith skakel vir Brummels om te kom help, maar nog voordat hy sy tande in die saak kon kry, word die verminkte lyk van ’n dogtertjie in ’n roomyskarretjie, ook op Harrismith, gekry. Brummels besluit om vir Sollie te vra om te kom help.

Fanie Olivier sluit sy bespreking van Middernag só af (Rapport, 13 September 2020): “Middernag is vlot geskryf, in lekker Afrikaans met genoeg spulsheid. Die verskuiwende perspektiewe hou die vertelling boeiend, maar te veel intriges sorg dat die leser te hard moet werk.

“Dit is egter ’n boek wat maklik oor die opvolghekkie kom wat ’n tweede werk dikwels bied. Vorentoe sal Gilroy sekerlik ook die slaggat vermy om ’n klomp uiteenlopende dinge te betrek. Intussen het Sollie Mthembu en Maartin Brummels die Vrystaat stewig hul kontrei gemaak.”

In die onderhoud met Emilee Swart op LitNet vertel Sidney dat hy van die krimigenre hou omdat hy met karakterskepping kan speel: “Die karakter kan doodmaak of uitspattig vreemd wees, want ’n krimi gaan juis oor die aksies van die karakters wat buite die normale idee van aanvaarbare gedrag is.”

En dan ook die motiewe agter die gedrag van die karakters en wat hulle dryf: “Wat my baie boei, is die sake wat klaarblyklik geen antwoord het nie. Geen emosie. Geen motief. Geen noembare gewin uit die oorledene se dood. Ek vermoed dáár lê die saad van die monster. En wat my altyd laat terugsteier, is dat die monsters maar mense soos ek en jy is. Dit sê iets oor ons, die samelewing.

“Elke monster was eens aan ’n moeder se bors. Hoekom breek sommiges ander? Wat het hulle gebreek? Dit besorg my slapelose nagte. Ek glo baie sterk daarin dat alle pyn gelyk is en dat haat en geneigdheid tot geweld se oorsprong in onafgehandelde pyn gesetel is. Ek wil hulle almal oplos, want dan kan ek die monster agter die lem of geweerkolf of vuiste verstaan. En daarin lê die oplossing vir ons misdaadvraagstuk in Suid-Afrika.”

Sidney se karakters wat hy beskryf, is “vreesaanjaend”, skryf Emilee Swart, en hulle is vir hom só werklik dat dit voel of hulle naby die leser is, maar die karakters kan ook vir Sidney as skrywer soms verras: “Soms is die karakter so duidelik geskets dat ek my verbeel ek sien hulle terloops in inkoopsentrums raak of ek voer ’n gesprek met iemand en hulle antwoord van diep in my onderbewussyn af.

“Wanneer ’n karakter se verhaal tot stand kom, is ek nie altyd bewus dat daardie karakter juis die moordenaar is nie. Soms is ek net so verbaas oor wat my karakters aanvang as wat die leser sal wees. Ek volg die naaf tot ek die skuldige beet het.”

Oor die moorde in Middernag vertel Sidney ook dat hy verskeie psigopate nagevors het met die skryf van hierdie krimi: “Hoe dieper ek in die gat afgekyk het, hoe nader het die donkerte onder my eie vel gekruip. Die antagonis het uiteindelik self besluit wat hy of sy gedoen het – ek het dit net verwoord. Vrees, selfs by my as skrywer, was die drywer agter die tonele.

“Die speurder som dit mooi op toe hy op die toneel verskyn: ‘[H]ierdie is nie sy kind nie, moet hy aanhoudend vir homself sê.’ En later: ‘Sy was dalk nie sy kind nie. Sy is nou.’”

Op LitNet skryf Zelda Mans wat Middernag anders maak as die “gewone” krimi: “Eerstens wil dit voorkom of daar twee protagoniste is. Kaptein Brummels en sersant Mthembu se persoonlike verhale word meesterlik inmekaar gevleg. Hulle uiteenlopende verhale vanuit verskillende etniese agtergronde is boeiend en goed gedoen. Die twee karakters wyk ook af van die tipiese protagonis wat gewoonlik in speurromans aangetref word. Nie één vloek of het ’n ‘verslawing’ nie. Hiermee verbreed die skrywer beslis die genre.

“Tweedens is daar die realistiese gebeure wat op plekke dalk absurd mag voorkom. Dit het aan my gekrap, want alles wat in die verhaal gebeur, kan tog in die werklikheid ook gebeur. Dit is net vreemd om dit swart op wit te lees.

“Ek beveel Middernag vir almal aan wat al gewens het vir ’n boek wat van die gewone resep afwyk. Ongeag die literêre bagasie wat elke leser het voordat die roman gelees word, besit die roman die vermoë om die leser in die middernagtelike ure steeds oor die raaisels te laat wakker lê.”

Vlam, Gilroy se derde roman met Sollie Methembu as speurder, verskyn in 2022 en Stefaans Coetzee (Rapport, 30 Januarie 2022) het geglo dat Gilroy nie op Middernag sou kon verbeter nie, maar hy het. Vir Coetzee is Vlambaie meer as ’n “misdaadroman” en spook dit by die leser baie lank na die “tipiese dosis krimi-goedvoel-dopamien uitgewerk” het. In Vlam skuif Sidney se fokus na Sollie se binnewêreld, sy huwelik en ander dinge wat vir hom belangrik is.

Sidney vertel aan Johan van Zyl (Rapport, 30 Januarie 2022) dat Vlam oor keuses gaan: “Maar ek is redelik seker manlike en vroulike lesers gaan die storie totaal verskillend ervaar, aangesien mense altyd verdeeld is oor vroue wat weerbaar en onverskrokke is.

Vlam is die voorlaaste boek in ’n beplande reeks van vier, en tot dusver had elke aflewering sy eie persoonlikheid omdat ek nog nooit veel van repetisie of reëls of resepte gehou het nie – ek sal myself mos heeltemal verloor tussen Ena Murray en Chris Karsten.

“Ek wil Sollie se verhaal eerder op ’n hoogtepunt laat eindig voordat ek die lesers begin uitmergel. In die slotboek – wat reeds voltooi is – tref lesers Sollie ’n paar jaar later aan. Wanneer hy sekere dinge bereik of besef het, is sy storie klaar.”

Aretha Hattingh, wêreldbekende kunstenaar, se bekende kunsgalery buite Parys in die Vrystaat brand heeltemal af en in die middel van die puin vind die ondersoekers die lyk van ’n vrou op ’n stoel. Sollie word na Parys gestuur om die saak te gaan ondersoek. Maar Sollie het verander, skryf Stefaans Coetzee in sy resensie. “[H]y het gewig verloor, ophou skeer en sy skouers hang sedert sy vrou, Nyandi, hom verlaat en met hul twee kinders teruggetrek het Lesotho toe. Parys se stasiebevelvoerder, kaptein Petunia Moraleng, laat hom boonop dadelik onwelkom voel terwyl hy ná die brand spook met allerhande vrae: Was dit ’n fratsongeluk? Selfmoord? Dalk moord? […]

“Al Alretha se skilderye is in die brand verwoes, maar nou maak iemand miljoene rande deur ’n Aretha Hattingh-kunswerk aanlyn op te veil. [..]

“Hoewel Vlam afsonderlik van die eerste twee boeke gelees kan word – dalk móét dit! – voel ek as aanhanger halfingeloop, moontlik omdat ek ná Middernag as jong pa uitgesien het na Naledi se geboorte en Sollie wat moet leer om saans doeke om te ruil, maar toe stuur Gilroy Nyandi terug Lesotho toe.

Vlam is ’n roman sonder tierlantyntjies of groot woorde; geskryf deur iemand wat uit sy pad gegaan het om die storie flink te laat vloei. Die hoofstukke is kort – party bestaan uit ’n enkele sin of paragraaf.

“Maar alles – die plot, ruimte, perspektiewe, skryfstyl, karakterisering en dialoog – werk saam om lesers in te trek vanaf die enkele sin op die eerste bladsy: ‘Jy moet my help. Teen die tyd wat jy hierdie brief lees, is dit dalk reeds te laat.’

Vlam is aan te beveel vir alle Afrikaanssprekende (volwasse) lesers, ook dié wat nié normaalweg spanningsromans lees nie. Hulle sal ten minste verwonderd wees oor die skoonheid van ons taal.”

Op LitNet skryf Nini Bennett-Moll: “Gilroy skryf soepel prosa en sy ruimtelike beelding is goed. Die persoonlike dokument van Aretha, óók ’n fortuin werd en in die besit van die sprankelvrou, word tussen die hoofstukke deur verstrooi as stukkies brief- of dagboekinskrywings – ’n slim truuk van die skrywer om die spanningskurwe verder te verhoog. Op die internet verhandel anonieme NFT-transaksies van onbekende Hattingh-meesterstukke teen miljoene, maar is dit werklik verdag?”

En dan sluit Bennett-Moll af: “Alles in ag genome is Vlam ’n geslaagde en bevredigende roman. Alhoewel daar lesers mag wees wat die intrige ná twee derdes die boek in sal kan oplos, beloof dit as leesvermaak nóg ’n gewilde keuse in Gilroy se repertoire van ontspanningsliteratuur.”

Sidney vertel aan Elretha Britz (Netwerk24, 12 Maart 2024) dat hy droom van ’n plek wat afgeleë is waar daar geen internet, spertye, rekeninge en, bowenal, haas is nie: “Alles vergaan rondom my totdat ’n manuskrip voltooi is. Met die redigering en herskryf volg ek ’n meer gestruktureerde benadering. Dit neem maande van gedissiplineerde skryfwerk, baie dink en natuurlik daai lieflinge van jou se nekke te knak totdat die prosa vloeibaar en genotvol lees terwyl jy getrou bly aan jou oorspronklike karakter, temas en intrige.”

Sidney beskou homself as ’n karaktergedrewe skrywer. “Wanneer karakters hulle by my aanmeld, bestee ek heelwat tyd om hulle te verken en na hul stories te luister. Dit gebeur alles in my kop. Teen die tyd dat ek voor die rekenaar inskuif, bestaan die hele boek reeds in my verbeelding. ’n Skrywer kan natuurlik nie altyd die karakters beheer nie. Die storie kan dus ’n ander wending neem wat ek juis met ’n sterk karakter soos Arno in Bloedsomer ondervind het.

“Ek het al die sterk karakters in die boek gelyk gegee, op één voorwaarde: Die leser moet ’n emosionele band met hulle kan vorm, al is dit met die skurk.”

In 2024 word Sidney se volgende spanningsroman, Bloedsomer, by Human & Rousseau uitgegee. Die leser ontmoet weer vir Petunia Moraleng wat stasiebevelvoerder op Parys in die Vrystaat was. Sy het egter intussen haar rang verloor en is na Mooibaai verplaas: “Die bedompige klimaat voel soos ’n tronksel en sy mis die ooptes van die Vrystaat en, daarmee saam, bekostigbare blyplek. Speursersant JP Hendriks, aan wie sy deesdae rapporteer, toon boonop nie ’n greintjie simpatie nie.

“Een Vrydagoggend in Desember vang ’n vakansieganger met sy hommeltuig se kamera ’n afgryslike toneel vas. Tussen die voetstukke van ’n geroeste windpomp in ’n afgeleë stuk veld lê ’n bebloede bondeltjie mens. Minder as 24 uur later word ’n foto van nog ’n slagoffer in ’n stegie van die onderdorp wyd op sosiale media versprei.

“Petunia en JP bevind hulself oornag as die hoofondersoekers in ’n duistere moordsaak. En die enigste leidraad is ’n albaster wat in die eerste slagoffer se hand vasgeklem is.”

In Huisgenoot (22 Maart 2024) gesels Sidney met Elna van der Merwe oor Bloedsomer en die temas wat daarin voorkom: “Ek kry nou nog nagmerries oor wat ek in my navorsing raakgelees het. Orgaandiefstal, een van die temas in Bloedsomer, is ’n feit soos beurtkrag en belasting. Dit gebeur natuurlik ook in Suid-Afrika. Daar verdwyn elke vyf uur ’n kind, sowat 1 000 volwassenes per maand.

“Net 70% van hulle word weer gekry, hetsy lewend of dood. Of dit nou vir orgaanoorplanting of moetie is, mense word van hulle organe verlos teen astronomiese betaling vanuit die diep sakke van kriminele sindikate en skelms.”

Sidney se motto vir Bloedsomer is “The world is a vampire” en oor hierdie keuse verduidelik hy aan Van der Merwe: “Haweloosheid is ook ’n tema in die boek – mense wat niks het nie en van asblik na asblik, aalmoes na aalmoes, en van slaapplek na slaapplek deur die lewe sukkel. Hulle het letterlik niks wat van hulle gestroop kan word nie, niks wat hulle die wêreld kan bied nie. Hulle hou siel en vlees bymekaar op hoop alleen. Die leser kom egter tot die skrikwekkende gevolgtrekking dat selfs dit deur kriminele van hulle gestroop kan word. Die wêreld is inderdaad ’n vampier.”

In Bloedsomer is dit die fiktiewe kusdorpie Mooibaai in die Suid-Kaap, wat Sidney as agtergrond vir die gruwelike moorde gekies het: “Met hierdie keuse wou ek amper iets soos Cabot Cove in die Murder she wrote-reeks skep waar Petunia ongehinderd skelms kan vang sonder dat sy haar oor sensitiewe tone en voete van klei hoef te bekommer. As lesers hulself of hul dorpie raaklees in Bloedsomer, is dit dalk ’n skuldige gewete wat karring …

“Ek is effens oorbluf en diep dankbaar dat lesers se terugvoer oorweldigend positief is. Ek het al my geld op Petunia verwed, en sy het my nie teleurgestel nie. Ek vermoed sy kruip onder die lesers se velle in tot in hul harte. […]

“En dokter Nienaber is die karakter wat my teleurgestel het. Ek het nog altyd mense wat die eed van Hippokrates afgelê het, met die hoogste agting bejeën. Gedurende navorsing het ek egter begin agterkom dat dokters soms ook aandadig is aan onnoembare gruweldade.”

Francois Bekker (Rapport, 3 Maart 2024) is baie beïndruk met Sidney Gilroy se Bloedsomer: “Bloedsomer is in die eerste plek ’n diep menslike verhaal oor mense wat seergekry het en in ’n daaglikse stryd gewikkel is om kop bo water te hou. Wat gaan eintlik hier aan, is die tergende vraag waarmee die leser gekonfronteer word. En waarom doen die booswigte dit wat hulle doen? ’n Aangrypende storie en skitterende karakterisering is die vernaamste boublokke wat bydra tot die gravitas van die roman. […]

“Met duidelik omlynde karakters wat sinvol bydra tot die verhaalgegewe ontvou ’n storie van familiegeweld en afwesige vaders. Omdat die leser aangegryp word deur die snellers van misdadigheid, besef ’n mens dat boosheid nie uit die lug val nie. Beskou ons die geval van Arno en Roan sien jy, as jy mooi oplet, ’n verwronge palindroom. Twee persoonlikhede met verskillende reaksies op wat verkeerd is in die wêreld.

Bloedsomer is ’n intelligente misdaadroman wat die innerlike krag en wysheid van vroue belig in ’n wêreld waar mans te dikwels nog die septer swaai, ongeag die gevolge van hul dade. Die waardige manier waarop Petunia die terugslae in haar lewe hanteer om ten spyte van alles haar beste te gee, dwing die hoogste respek af. […]

“Daar is geen haas by Sidney Gilroy om sy storie te vertel nie. Met ’n pakkende verhaal kry hy dit reg om die leser nie alleen te boei nie, maar om ons diep te laat nadink oor die sosiale euwels van ’n ongelyke samelewing. […] Die aksietonele hier teen die einde van die roman getuig van die skrywer se voortreflike skryftalent. Met ’n ambisieuse reikwydte is Bloedsomer straks Gilroy se beste spanningsverhaal tot nog toe.”

En op LitNet is Stefaans Coetzee in sy lesersindruk net so ingenome met Bloedsomer: “Gilroy, wat reeds met ’n filmprys benoem is, is ’n maestro in filmiese woordskepping. Hy skilder duskant se lewe so kleurvol, ek sien die boek voor my afspeel. En dit is juis omdat duskant so real is dat ek nie net hul pyn en sukkel aanvoel nie, maar ook hul voetspore na hoop volg. Ek skiet selfs ’n gebedjie na bo: Laat Sloet Baadjies asseblief tog na die plaas, Moordenaarskuil, loop.

“Waarvan Gilroy nie wegbreek nie, is sy wenresep om sterk sosiale temas aan te pak. Dit gaan oor meer as armoede en domestic noir. In Bloedsomer vlek hy nie net die tema van afwesige vaders oop nie, hy sny ook in die gedagte van vaders wat liefs afwesig moes wees. Ons kry ook ’n indiepte kyk in die soeke na manwees en ’n verlore siel wat enigiets sal doen om te behoort. Selfs sal moor vir verwondering. Die sin op bladsy 58 laat hierdie leser koud word: ‘Hy gaan ’n statement moet maak sodat niemand hom daarna sal kan ignoreer nie.’ In Die Clowns se hiërargie, lees ons, verdien jy jou rang met bloed, lojaliteit en verskrikking, en daarsonder is jy net ’n wannabe gangster.”

Coetzee sluit af: “Francois Bekker, Jonathan Amid, Anschen Conradie, Trisa Hugo en Jeanette Andrews is van die stemme wat Bloedsomer se lofpsalms sing; ek sluit by hulle aan. En om die onvermydelike vraag te beantwoord: Konstabel Petunia Moraleng het sonder twyfel soos speursersant Sollie Mthembu in lesersharte geklim.”

Carla van der Spuy (LitNet) is die meeste getref deur hoe goed en oortuigend Sidney Gilroy daarin geslaag het om in ’n vrou se kop te klim: Dit moes moed en emosionele insig gekos het. En dan nog boonop iemand van ’n ander ras en kultuur as syne. Patricia is ’n sterk, vreeslose, uitgesproke en komplekse karakter – nie ’n katjie om sonder handskoene aan te pak nie. Sy is aanvanklik onpeilbaar, maar eendimensioneel is sy nie.

“Gilroy slaag daarin om onder die harde en formidabele uiterlike ’n mens met empatie en deernis te beskryf. ’n Vrou met ’n groot hart wat met toewyding werk, al dink jy aanvanklik sy is te afstandelik. […]

“Geen boek is te donker vir humor nie, want dit verlig die spanning vir ’n wyle. Soos: ‘Dominee Robertson is ’n kort man wat lyk asof hy die bolaag van sy bleskop in ’n tragiese insident met ’n plat graaf verloor het. Sy bakore ding met sy hoof mee om die vernaamste posisie.’

“So skryf hy ook: ‘Asof beurtkrag so pas opgehef is, gaan die ligte in JP se kop aan.’

“Sy beskrywings soos ‘Die portrette is vol dramatiese tonele van swane wat op mere vaar of hemelhoë gebergtes waarbo wolke in die blou hemelruim dryf’ laat mens glimlag.

“Oor die slot swyg ek. Kom ons sê maar net dis nie wat mens verwag nie. Hou maar jou hart vas – veral met die ontplooiing van die Roan/Arno-karakter.

Bloedsomer is Gilroy se vierde en hopelik nie laaste boek nie. (Sy werk is al as spanningsfiksie, misdaadromans, domestic noir, verhoudingsromans en rillers beskryf.) Ek wil weer van en meer oor Petunia lees, en ek hoop sy word gou bevorder. Sy verdien dit.”

Die nuutste titel uit Sidney se pen is Roulette, wat in 2025 deur Human & Rousseau gepubliseer is.

Francois Bekker is weer baie opgewonde oor Roulette. Op Netwerk24 (25 Augustus 2025) vergelyk hy Sidney se Bloedsomer en Roulette met AP Brink se ’n Droë wit seisoen en John Miles se Kroniek uit die doofpot as romans waar prosa sterker weeg as polisieprosedures en waar belangrike sosiale probleme die ware gruwel was. Gilroy se “taalregister oorheers sy inhoud. Dié Vrystaatse skrywer sal selfs ’n inkopielys digterlik verwoord.”

Bekker vertel dan meer oor die inhoud van Roulette: “Dit is gedeeltelik plaasroman en gedeeltelik krimi. Die verhaal skop in 1998 op die plaas Erfdeel met ’n spel Russiese roulette af. Daarna vertrek die drie Ludick-broers, Lötter, Duan en Oscar, en hulle 13-jarige suster, Lara, asook drie vriende, na Ballito.

“Die verhaal spring hierna 27 jaar vorentoe. Na Saterdag 17 Mei 2025. Soos ons lees, vind ons uit Lara is in 1998 dood en net haar dagboek het oorgebly.

“Gilroy kompliseer sy sesde misdaadroman met nóg ’n misdaadlyn. Hanneke Bregelmans meld haar huismaat, Joubert Meintjies, by die Parkweg-polisiestasie as vermis aan. Dit beteken sersant Sollie Methembu is terug. Enkele dae later word Joubert se pa dood in ’n huurmotor naby die Bram Fischer-lughawe gevind. […]

“Die 45-jarige skrywer van Virginia is ’n maestro in filmiese woordskepping. […] Ons weet iets gaan die mooi versteur, en sidder hoe hy dit gaan doen. Die hoofstukke is kort. Van die hoofstukke is ’n enkele bladsy – dit dra by tot die tempo.

“Iets wat ek konsekwent in Gilroy se boeke en kortverhale optel, is sy opregte liefde vir sy medemens. Hy skryf oor mense se seer asof hy hul wonde wil genees.

“Op bladsy 89 sê Lötter vir sy pa: ‘Ons gaan nie net aan nie, Pa. Ons hanteer dinge net anders.’ Dit is hierdie verhouding tussen die broers wat my die meeste intrek. Elkeen se stryd, veral Oscar s’n, is geloofwaardig. Selfs hul pa se stryd, wat sy dogter en sy vrou kort ná mekaar verloor het.

“In die jaar dat Afrikaans 100 herdenk word, is Roulette ’n pragtige krimi om vir die nageslag na te laat. Hulle sal sien dat selfs moordverhale met ’n palet verwoord kan word.”

Erla Diedericks, ook ’n skrywer, gee haar lesersindruk van Roulette op LitNet: “Gilroy is bekend daarvoor dat hy die genre van plaasroman dekonstrueer. Hy keer die patriotiese mite van goeie Afrikanerwaardes en die boer met sy roer op sy kop.

Roulette is plattelandse noir op sy beste, waar Gilroy sosiale kommentaar lewer deur in die Afrikaner se erfstukkas te loer na daar waar die familiegeheime en die donker kant van die mens verberg word. Hy kyk na veral die manlike psige, en dis juis dít wat die boek so interessant maak. Wat onder die soeklig kom, is manlike seksualiteit – spesifiek die gevolge daarvan – en toksiese manlikheid.

“Is die Afrikanerhuis waar seuns grootgemaak word soos kroonprinse een van die teelaardes hiervan? Moenie huil nie; moenie sag wees nie; moenie emosies wys nie. Sien wel mans as kompetisie, vroue as jagtrofees, gay mans as sondig en geweld as oplossing van alles. Gilroy wys wat gebeur as hierdie denkwyse seëvier en nie in die bek geruk word nie.

Roulette gaan oor die stiltes wat tussen mans bestaan wat niemand hardop oor wil praat nie, en waarna daardie stiltes lei – geweld, moord, ’n gebreekte samelewing. In dié boek kry mans egter wel ’n stem deurdat dit net die manlike karakters is wat vokaliseer.

“Op die ou einde van die dag is Roulette egter steeds ’n volbloed misdaadroman met speurder Sollie weer as die hoofkarakter. Ná al sy vorige probleme, is Sollie dié keer op sy voete. Hy en sy vrou is weer bymekaar, die kinders doen goed en hy is onlangs bevorder. Maar selfs hy is nie gevrywaar van sy eie familiegeheime nie ...

“Familiegeraamtes en wreed vermoorde mense begin orals opduik. Die oorspronklike en gru maniere waarop die slagoffers vermoor word het my laat gril, maar ook jaloers gemaak as spanningskrywer. Dêmmit, die man se kop is donkerder as myne! Hy pas dan ook ’n baie interessante maar treffende tegniek in die boek toe (ek kan dit nie hier verklap nie) wat omtrent die stresvlakke opjaag.

“As jy die boek wil lees as skerp waarneming van die Afrikanerpsige en as postmodernistiese speurverhaal, doen so. As jy net wil sit met ’n glasie nats en ’n paar hande vol biltong en saam wil raai wie die moordenaar is, voel vry. Sidney Gilroy se Roulette bied bevrediging op alle vlakke.

“PS Ek het die moordenaar verkeerd geraai – f jou, Sidney, my ou pêl!”

Ook op LitNet sluit Deborah Steinmair haar “Boekevat met Deborah” oor Roulette só af: “Hierdie knap spanningsverhaal handel oor verlies en verspeelde kanse. In ’n risikospel soos Russiese of ander roulette is daar, soos Erla Diedericks uitgewys het, inderwaarheid net verloorders.

“Gilroy het sy plek ingeneem as Afrikaanse misdaadskrywer om mee te reken. En die Vrystaatse landskap en plaaselement verleen iets sinister, ’n ambience van stokou erfskuld en benepenheid, ’n patriargale nagmerrie wat voortgesit word deur ma’s wat seuns tot in die afgrond bederf en ’n opset wat nog steeds bevoordeling aanmoedig. Dis sosiale kommentaar en ook bloot ’n naelbytleeservaring.”

In ’n 2023-onderhoud wou afrikaans.com by Sidney weet watter boek (of boeke) hy as geskenk sou gee en hoekom. Of watter een tot drie boeke ’n groot invloed op sy lewe gehad het en hoekom.

Sidney vertel: “Ek is ’n versamelaar van Afrikaanse boeke wat 40 jaar of ouer is, soms 80 jaar! Daarom boer ek in tweedehandse boekwinkels of stoorplekke waar ou boeke opgegaar word. Dit is verbasend dat [daar] boeke van die eerste items is wat in ’n boks gesmyt word om weg te gee wanneer mense trek of iemand afsterf en daar ’n huis is om te ontruim. Van die juwele wat ek al gevind het en onlangs as geskenke gegee het, is In die omtes van die hart deur Petra Müller, Kromburg deur CM van den Heever en Armosyn van die Kaap deur Karel Schoeman. Al drie hierdie boeke het ’n groot invloed op my gehad.”

Gilroy voel baie sterk oor die “diefstal” van e-boeke – boeke steel of ’n onwettige PDF-weergawe van ’n boek oor WhatsApp of Telegram versprei. Hy het op Facebook onder meer só daaroor geskryf (die volledige artikel is op LitNet te kry onder die titel “Boeke verniet = Afrikaans vernietig”): “Daar is nie meer geld vir die skrywer nie. Die R9 tot R23 per boek wat die skrywer ontvang, is weg. Die maande, in sommige gevalle jare, se navorsing en skryfwerk was verniet. Die ure wat die skrywer spandeer het om die boek te skryf, weer te skryf, wéér te herskryf en te redigeer, was verniet.

“Daar is nie meer geld vir die redakteur nie. Die redakteur wat die boek in sy oorspronklike vorm moes evalueer en goedkeur, het dit verniet gedoen. Die tallose notas, verstellings, navorsing en voorstelle wat aan die skrywer gegee is en die gepaardgaande leiding wat verskaf is, was verniet.

“Daar is nie meer geld vir die taalversorger nie. Die persoon wat met ’n vergrootglas deur die teks beweeg het, het dit verniet gedoen. Elke uur wat hy of sy spandeer het om die juiste woorde na te vors, spelling na te gaan, sinne te weeg en aan te pas, was verniet. […]

“Daar is nie meer geld vir die boekfeeste nie. Die sale wat gehuur is, die advertensies wat vrygestel is, die stalletjies wat geboek is, die voorbrand wat gemaak is, die kunstenaars, skrywers en akademici wat sou kom, die kaartjies wat verkoop sou wees, die gesprekke wat gevoer sou word en die boeke wat verkoop sou word, was verniet.

“Daar is nie meer geld vir die taal nie. Die skrywers wat skryf, die uitgewers wat uitgee, die tydskrifte, koerante, radio en televisie wat bemark, die joernaliste wat berig, die akademici wat oplei, korrigeer en bekroon, die taalkundiges wat kategoriseer, bewaar en verbreed en die drukkers wat boeke druk en versprei – dit alles was verniet.”

Publikasies

Publikasie

Klikbek

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780798178112 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2020 Kortlys kykNET-Rapport-Filmprys
  • 2020 Kortlys vir UJ-Debuutprys
  • 2020 Kortlys ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Middernag

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780798180542 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2021 kykNET-Rapport Filmprys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vlam

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780798182188 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2023 Kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Bloedsomer

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780798184212 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Roulette

Publikasiedatum

2025

ISBN

9780798185127 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Artikels oor Sidney Gilroy

Artikels deur Sidney Gilroy

Sidney Gilroy se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2026-07-16 gepubliseer.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel (Wyno Simes en Annelien Diedericks) vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top