
Foto: Canva
Dit is ’n triesterige windjie wat aan die sinkplate van die buitekamer se dak pluk. Gering soos dit is, kry die wind dit steeds reg om die dakplate só te lig dat sonlig in vaal stroke oor die karige inhoud van haar en Slaaimie se blyplek val.
Peonie vou haar pienk japon stywer om haarself. Sy stuur ’n moeë blik oor die mistroostige agtererf. Die geute en dakplate van die huis sien nie veel beter daaruit nie. Die eenvoudige skakelhuis in Humewood, een van Port Elizabeth se ouer buurte, is al bykans 60 jaar oud. En daar binne is dit so koud soos hier buite. Hoe korter die dae van Juliemaand word, hoe meer dringend kruip die koue deur die klein sinkhok waarin hulle nou noodgedwonge moet bly. Sommige aande verbeel sy haar terug in die luukse meenthuis in Bloemfontein wat sy en Slaaimie gedeel het voordat die balju alles kom opskryf het.
Peonie weeg hul blyplek. Die sinkkamer ruik na stof en molm. Die ontblote sementvloer is met oliekolle bevlek. Die toilet werk met ’n ketting wat uit die dak hang en die enkele elektriese lig het geen skerm om nie. Voorheen het Ouma se tuinjong die plek vir die berging van sy toerusting gebruik. Nadat hy deur Slaaimie verjaag is, word alles op die huis se stoep gepak. Ouma kla elke derde dag oor die grassnyer, plastiekdromme en halfvol verfblikke wat die wêreld vol staan. Om nie eers te praat van die begroeide blombeddings en gras wat kniehoogte staan nie. Slaaimie koop haar om met slaptjips van die kafee af. Soms ’n liter Coke. Ander kere verduidelik hy mooi dat dié net tydelik is.
Hulle sit nie meer om dieselfde vuur nie.
Sy sal nooit die uitdrukking in haar ouma se oë vergeet toe sy en Slaaimie windverwaaid en tam daar opgedaag het nie. Die rit op die bus was 12 ure lank. En die taxi wat hulle tot in Humewood moes vat, het gestink. Sy het verskonend hul situasie verduidelik. Slaaimie hét ’n werk. En ’n plan. Ouma moet net besef watse slim mens hy eintlik is. Haar ouma het aanhoudend bly staar na die enkele tas waaraan Slaaimie vasgehou het asof daar goud in is. Binne die tas, weet Peonie, was daar slegs die handvol “ordentlike” hemde wat hy vir sy lives op Facebook dra. Uiteindelik het haar ouma ingestem. Wat anders kon sy doen?
Kort nadat hulle die sitkamer in die eenslaapkamerhuis betrek het, was die gort gaar. Hulle tap te veel badwater. Slaaimie vreet al die polonie op. Die botter is alweer klaar. Die krag hou nie. Daar is silwerware uit haar trousseaukis weg. Daar is ’n permanente trek van afkeer om Ouma se mondhoeke. Of haar oë is stip op Slaaimie gerig waar hy teen die kombuismuur hurk, met die sigaret wat hy tot teen die filter rook. Uiteindelik boender sy hulle uit die huis uit en hulle beland hier in die sinkhok.
Peonie weet nie vir hoe lank hulle nog só kan aanhou nie. Sugtend stoot sy haarself van die enkelbedmatras af op. Nou dring Ouma op kontant aan. Een keer per week vir die water wat hulle tap, die krag wat hulle gebruik of die aande wanneer daar werklik niks oor is om te eet nie.
Hulle gaan vrek van die koue as die warm Karoowinde die ysige koue reënweer later vanaand oor die Baai stuur. Dit kom. Sy weet dit. Intussen moet hulle cope. Kook wat hulle kan bekostig op die eenplaatgasstofie wat Slaaimie vir die kantsnyer by Cash Crusaders gaan ruil het. Data vir hul fone wat net tot 12 uur daardie nag geldig is. En ’n lendelam olieverwarmer vol gate, wat Slaaimie met kougom gedokter het.
Ouma bly horende doof en siende blind vir hul lyding. Sy was dae laas in die agterjaart. Dalk oor Slaaimie wat alewig oor die droë gras paradeer. Op en af loop hy totdat daar naderhand ’n voetpaadjie tussen die polle vorm. Soms bly hy daar buite tot lank ná die son gesak het. Sy moet hom uitlos. Hy moer maklik nóg ’n gat in die dun sinkplate van hul blyplek.
Slaaimie se kop is besig. Hy werk aan planne. Hééltyd draai die ratte in sy kop. Sy hou haar oë op die grond as hy so met homself begin praat. Slaaimie is die een wat die geld inbring. Deesdae is dít maar min. Die CCMA-plan met die anti-vaxxers het hulle lank aan die gang gehou, maar daar is al hoe minder van Slaaimie se gehoor wat hul geld vir hom sal e-Wallet.
Wanneer Slaaimie onrustig raak, speel sy vir hom “Pretty Belinda” op YouTube. Hy laaik daai song. Of sy sit sy Bic-pen waar hy dit kan sien. Somtyds wuif Ouma haar die huis in deur die kombuisruit. Sy is altyd dankbaar vir die soet koppie tee wat dan volg. Sy sê sy bly haar kleinkind.
Terwyl sy aan die tee teug, wonder sy of Ouma weet wat in die aand in die sinkkamer aangaan. Sy wat die kamera vashou terwyl Slaaimie vir sy kykers op OnlyFans perform. @bictricksZA het bykans ’n duisend volgelinge. En sy vermoed dat Slaaimie dit eintlik heimlik geniet om vir “sy mense” op te tree. Dit bring dan en wan iets in. Hy is altyd uitgeput, maar rustiger daarna. En vir ’n dag of twee kry haar lende ook rus. Slaaimie is rooi en opgeswel van die pille wat hy moet drink om hard te kan bly vir ’n uur of meer. “Baie sensitief ...” mymer hy altyd.
Die volgende oggend is hy vuur en vlam vir sy volgende uitsending. Dié keer vir die duisende wat hom op sosiale media volg. Nou is Slaaimie nie naak met sy bene oopgesper op die matras op die sementvloer nie. Nee. Hy trek een van sy beste hemde aan wat sy vir hom in ’n emmer moes was en die strykyster by Ouma moes afbid. Hy haat dit as daar soveel as één naat uit plek uit is. Vir ’n goeie 15 minute beloer en bekyk Slaaimie homself eers in die kamera se weerkaatsing op die skerm voordat hy live gaan. Alles moet perfek wees en hy vererg hom liederlik as sy tussenbeide tree om slaap uit sy oë of krummels uit sy mondhoek te vee. Soos vanoggend toe hy die silwer gordyn amper van sy spykers afgepluk het.
Nou sit hy soos ’n brulpadda op die krat terwyl die kamera hom van sy bors af boontoe opneem. Ondertoe het hy skaars klere aan – ’n groen onderbroek met die rekke wat om sy lieste gaap sodat sy sy frummelrige saadsakke teen sy binnebeen sien kleef. Hy ruik eng. Dis ’n warm oggend ná die koue nag en ’n sweetreuk slaan van sy klam kieliebakke af op en trek oor die agtererf.
Hy beduie en praat voor die lens van die selfoon se kamera asof die staatspresident of ’n weermag beleggers hom op hierdie oomblik dophou. Spoeg skiet by sy mondhoeke uit soos hy entoesiasties verduidelik van sy planne wat beslis in die howe sal triomfeer. Sy luister aandagtig en wonder onderlangs of Slaaimie al ooit die binnekant van ’n hofsaal gesien het. Sý weet die waarheid; die leke wat hom slaafs op sosiale media volg en geredelik vir hom geld stuur, bly salig onbewus. Slaaimie van Breda het nog nooit in sy lewe ’n regshandboek vasgehou nie, watwou gekwalifiseer as ’n advokaat. Mens kan alles wat nodig is google.
As hy uiteindelik klaar geprofeteer en geïnspireer en banggepraat het, strek sy dik, harige wysvinger tot by die stop-knoppie. Die rooi liggie van die foon se kamera vervaag. Vir ’n wyle bly Slaaimie asof hy gehipnotiseer is op die krat sit.
Dan vlieg hy orent. Hy slaan met sy vuis op sy klam handpalm. Bliksems wat in sy oë vliet. Vir elke hou spoeg hy ’n woord uit: “Yes! Ek! Het! Dit!”
Asof hy die sleutels tot die Krugermiljoene in sy kop ontdek het, begin hy babbel, verduidelik en praat. Sy hande vlieg opgewonde voor haar gesig verby. Sy hoor net elke derde woord.
“Verstaan jy dan nie?” vra hy gefrustreerd as sy hom net aanstaar. “Dis die gróót een, Peonie! Die big deal!”
“Ek weet nie so mooi nie, Slaaimie ...” antwoord sy hom versigtig.
Uit pure frustrasie klem hy sy vuis om haar mond. Haar lippe tuit voor sy rooi gesig. Sy ruik sy vrot asem toe hy dit vir haar begin uitspel.
“Luister nou fokken mooi, Peonie,” sê hy met oë wat wil uitpeul. “Ek gaan dit net een keer weer verduidelik, dan beter jy dit snap. Daar is no time to lose, poppie. Fokkol!”
Die volgende oggend moet sy ook aantrek. Slaaimie gaan nie meer alleen live gaan op sy sosiale media nie. Sy moet by hom aansluit. Vooraf moet sy by Ouma gaan aanklop en haar smeek om vir haar van die klere in die gangkas uit te haal. Die klere wat haar ma destyds gelos het.
Alhoewel die materiaal ragfyn is van ouderdom, voel Peonie spesiaal in die helderblou pakkie wat sy uitkies. Vir die eerste keer in jare laat Slaaimie haar toe om onderlaag op haar gesig te smeer. En lipstiffie mag sy skielik ook weer dra. Gelukkig is haar maskara nog nie droog nie.
Vir dae aaneen oefen hulle die repertoire wat sy saam met hom moet opvoer: Sy, die nuutaangestelde tegniese beleggingspesialis met binnekring-inligting oor ’n enorme bedrag geld wat ’n ryk konsortium boere vanuit Texas, Amerika in Suid-Afrika wil belê. Hy, Slaaimie, is die prokureur wat almal vertrou en wat as kandidaat gekies is om die “kwalifiseringsrondte” vir die “belegger” te voltooi alvorens enigiemand ’n sent sal kry. Natuurlik is ál die geld vir Afrikaanssprekende gesinne van ’n sekere finansiële klas bedoel wat graag ’n nuwe, sterker tuisland vir “hul soort” wil vestig.
Sy het elke woord tot vervelens toe saam met Slaaimie geoefen en sy was doodseker dat sy so mooi en foutloos soos hy voor die massas sou kon praat, maar toe die rooi liggie van die kamera begin skyn, knoop haar tong.
Slaaimie moet by haar oorneem. Sy sit net daar en smaail. Voel soos ’n swaap. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe rooi sy wange gloei. En die wit spoeg wat in sy mondhoeke begin skuim. Hy is briesend. Sy gaan bars wanneer dié uitsending verby is.
Sy hét gebars. So erg dat Ouma al skreeuend met haar vlieëplak deur die agterdeur verskyn het. Sy moker vir Slaaimie agter teen sy kop. Niks keer egter die man wat tóé wydsbeen oor haar staan nie. Vuishoue reën op haar neer terwyl hy haar aan haar hare heen en weer pluk.
Uiteindelik is dit ’n ander man wat Slaaimie van haar af wegtrek. ’n Polisieman wat naby woon, sien sy deur haar traanbelope oë. Ouma moes hom geskakel het.
Hulle sluit vir Slaaimie toe.
Die volgende dag het sy sy bail gaan betaal nadat hy sy enkele oproep gebruik het om haar te bel: “Dit het gewerk. Die geld stroom in. Kom haal my. Ons fokkof.”
Peonie tik ’n laaste bietjie concealer stick aan haar oogbank. Dankie tog vir make-up en profiling. Al twee wangbene lyk nou dieselfde, as sy net ver genoeg van die kamera bly sit, skat sy.
“Kom jy?” vra Slaaimie wanneer hy by die deur van die sinkkamer inloer. Hy dra vandag weer sy bloustrepie-hemp. Sy hare is gesny. Die chip in sy voortand is met goud vervang. Hy ruik na Brut.
“Is jy seker ons het genoeg cash vir ons eie plek?”
Hy grim-lag voordat hy haar antwoord.
“Dom fokkers. Daar is nét gister 40K in. Teen die naweek sal daar meer as ’n halfmiljoen in daai rekening wees as ons aanhou soos ons aanhou. Kom!”
In die taxi op pad na hulle nuwe meenthuis in Bluewater Bay kyk sy aanhoudend of sy die donkerpers kring onder haar linkeroogbank in die skerp sonlig kan sien. Slaaimie sal versigtig moet wees. Concealer maak ook nie áls toe nie. Hy beter begin slaan waar dit nie op kamera sal wys nie. En hulle gaan juis vanaand weer live.
Peonie draai haar gesig ’n klein bietjie. Sy oefen in die spieël. Toe hulle destyds by Klub 69 die movies gemaak het, het die kameraman haar geleer om met haar oë te werk om die mans op te werk nog voordat sy begin strip. Teen die tyd dat haar top waai, moet hy al dáárdie kyk in sy oë hê wat maak dat hy sy beursie uithaal. Net so moet sy met die tannies maak wat na hulle luister en haar bewonder. Slaaimie sal self die praatwerk doen. Sy het haar les geleer en hy herinner haar kort-kort daaraan.
Toe haar foon vibreer, skakel sy die funksie af voordat sy na die boodskap van ’n onbekende nommer kyk. Fok tog, Slaaimie het ingekom sonder dat sy hom sien. Hy gryp die foon en kyk van wie af die whatsapp is.
“Is hierdie weer een van jou ou lovers?” brul hy voordat hy gelees het. Hy swaai die foon so naby aan haar gesig dat sy kan sien hoe taai die skerm is op die kol waar dit nie gekraak is nie.
“Ag Slaaims, man, jy weet mos jy is my one and only!” Sy steek haar hand uit om haar foon te vat, maar hy hou dit eenkant toe, aktiveer die skerm en lees die boodskap van die vreemde nommer. Hy word bleek en sy oë begin ronder bult as hy lees: You fucked up big time toe jy my ma se geld gevat het. Ons kom vir jou. LL.
“Pak! En roer jou dik gat. Ek kry die goed uit die kluis.”
Peonie bly versteen staan. Slaaimie ruk haar aan haar skouers dat daar ’n skietpyn deur haar nek trek. “Pak, sê ek! Weet jy wie is Leon Landsberg? Daardie fokker het elke bliksemse speurder op sy payroll.”
“Waarheen gaan ons?”
Dit lyk of Slaaimie ’n beroerte wil kry. Peonie draai om en sleep die nuwe pers tas onder die bed uit.
Leon Landsberg het die koerante gebel. Die Burger en Rapport berig maar net te geredelik oor die oud-Bokvoorspeler wat teen hulle te velde trek. Slaaimie is met meer as ’n miljoen rand van Leon se ma weg. Geld wat hy glo drie jaar tevore vir haar in kripto sou belê het. Geld wat intussen verdwyn het. Toe Leon se ma navraag doen oor die stand van haar belegging vanuit die woonstel wat sy in haar seun se erf bewoon, bars die bom. Anna Landsberg was baie opgewonde – kripto het deur die dak geskiet. Volgens haar was die miljoen rand wat sy drie jaar gelede vir Slaaimie oorgeplaas het, nou miljoene der miljoene werd. Daar was natuurlik niks oor nie. Slaaimie het elke liewe laaste sent gebruik. Spoggerige motors. Die enorme meenthuis in Pretoria. Etes by duur restaurante en klere van die beste winkels af. Juwele en klein geskenkies. Dís hoe sy destyds vir hom geval het.
Arme Anna Landsberg kry ’n beroerte van al die stres en bekommernis nadat sy vir maande nie meer vir Slaaimie in die hande kon kry nie. Nou is sy ’n invalide en Leon Landsberg koorsagtig op hul spoor. En daar is ander ook. Bykans dertig ander beleggers wat Slaaimie se gesig onmiddellik herken het as die vent wat met hul geld vort is. Die storie in die koerante verstil, maar die heksejag op sosiale media duur voort.
Hulle vlug. Om na Ouma se huis in Humewood terug te gaan, is nie ’n opsie nie: Die berigte in die koerante het skermgrepe van hul video’s op Facebook geplaas. Ouma se huisnommer is duidelik in die agtergrond sigbaar. Hartseer wonder Peonie of ’n skare joernaliste, ontstoke beleggers en speurders dalk haar Ouma gaan boelie het. Slaaimie vrees vir die dag wat die skare vir hulle sal opdaag. Sy ook. Slaaimie is nou al wat sy oor het.
Hulle bly aan die beweeg. Eers na ’n ander meenthuis in Port Elizabeth. Toe sommer uit die dorp uit toe Slaaimie opmerk hoe aandagtig die bure hulle aanstaar. Toe na Jeffreysbaai. ’n Paar nagte in ’n hotelkamer op ’n gehuggie in die Karoo. Slaaimie wat sy donker hare ligter laat kleur. Sy wat haar lang lokke moet afknip. Sy lyk nou soos ’n seun. Sy voel nie meer mooi nie. Dit keer Slaaimie nie. Asof die adrenalien daarvan om konstant aan die vlug te wees ’n soort opwinding in hom aanvuur, klim hy elke aand op haar en dan bars sy onder die ambisies van sy lende. Asof hy die woede oor wat hulle in Port Elizabeth verloor het op haar mees private plek wil uithaal. Elke dag is sy gesig meer somber as hy van die OTM af terugkeer. Die geld word minder en minder. Hy slaan haar meer en meer. Hulle saai nie meer op Facebook uit nie. Hulle moes ander goedkoper telefone koop en nuwe SIM-kaarte kry. ’n Klein, goedkoop karretjie aanskaf en toe – nuwe name.
Slaaimie kies hul nuwe personas. Hy word Egbert Kriel, ’n afgetrede staatsaanklaer wat ’n fortuin met erdwurms losgeboer het, en sy word Diana Forrester, die ekoloog van Europa wat dié blink nuwe tegnologie na Suid Afrika bring.
Sedgefield is waar hulle twee maande later ’n huis teen ’n astronomiese huurprys bekom. Na vele mooipraatjies stem die agent uiteindelik in. Die deposito en twee maande se huur vooruit wis meer as die helfte van die geld wat in die bankrekening oorgebly het uit.
Slaaimie is nou Egbert, wie se blonde hare netjies gekam bo sy ronde bril en blas voorkop uittoring. En sy is nou Diana. ’n Slanke Europeër met ’n bob-kapsel en ’n aksent wat nóg Duits, nóg Italiaans klink, maar beslis buitelands op die oor val. Hulle is haas onherkenbaar van die mense wat hulle maande gelede was. Selfs Ouma sou haar nie inlaat as sy nou aan haar voordeur moes gaan klop nie. In haar klerekas hang die snyerspakkies en die baadjies wat Egbert oor die internet bestel het. Oorbelle en ’n hangertjie waarin nagemaakte pêrels pryk, lê op die spieëlkas. Die botox wat Egbert se hele gesig verlam se effek begin wys. Die webwerf en sosialemediakanale het Egbert teen die spoed van lig op sy mankerige laptop opgestel. ’n Kenteken, fopnommers vir die kantore en foto’s van vreemdelinge in hul tuine word geplaas. Nie een van die Facebook-tuinbougroepe se lede is daarvan bewus dat hulle meteens die wonderkuur vir die sukkelende ekonomie landwyd begin adverteer het nie: ’n boerdery met min insette, enorme wins en pasgemaak vir enige garage of tuin in enige voorstad. Almal gaan, soos hulle, skatryk daaruit word. WurmWerd Inc is gereed om te vlieg.
Kommentaar
Briljant!
Uitstekend, om die minster te sê!
Absoluut briljant!
Puik! Dankie ...