Saartjie Botha-onderhoud: US Woordfees 2017

  • 4

Saartjie Botha gesels met Naomi Meyer oor die US Woordfees van 2017.

saartjie_botha

Saartjie Botha

Saartjie, die US Woordfees skop oor ses weke af – op 3 Maart. Waar kan mense orals sien wat alles op die program is vanjaar? Moet mens ’n Woordfeesboekie hê om die program te kan sien?

Die Woordfees het ’n splinternuwe webwerf met die volledige program in verskillende formate beskikbaar. Ons het ook, al moet ons dit self sê, vanjaar ’n besonder mooi feesgids met pragfoto’s van 100 deelnemende kunstenaars. 

Dié fees is ’n jaarlikse instelling. Wat is anders op vanjaar se program: lokale, venues, plekke, stelsels?

’n Fees kan net opwindend bly as daar elke jaar nuwighede en verrassings op die program is. Ons is verbind tot die groter gemeenskap van Stellenbosch en is opgewonde om HS Cloetesville se skoolsaal vir die eerste jaar as venue te gebruik. Die grasperk voor Wilgenhof is herdoop tot Bloekomhoek. Ons sien af van die seekosrestaurant daar, en het topklas “food trucks” met ’n groter verskeidenheid bekostigbare kos. Ons gebruik vir die eerste maal Stellenbosch se biblioteeksaal as deel van ons boekeprogram. Saans het ons stand-up komedie in die ATKV-boektent, verskeie opwindende gesprekke met etes, en ons werk met die Stellenbosch Wynfees saam om ons opelugkonserte by Coetzenburg in ’n ander klas te plaas. Die filmfees het aansienlik uitgebrei en ons skop vanjaar se fees af met ’n stylvolle bal in die stadsaal.

Wat is lekker op vanjaar se program en na watter produksies, films, boekprogramitems, musiek, ens sien jy self baie uit?

Die ekonomie druk en ons moes ekstra-hard soek en werk om ’n opwindende program te kon saamstel. Die program is dalk ernstiger as vantevore: dis ’n jaar vir besinning. Daar is natuurlik steeds oorgenoeg ligte vermaak vir balans. Ek self sien baie uit na Piekniek by Mpande née Dingaan, Sing jy van bomme, Die fliek en die Tuiskoms/Homecoming-konsert. Ek kan nie wag vir Op ’n dag, ’n hond van John Miles en Ryk Hattingh se Huilboek op die skrywersprogram en die wonderlike visuelekuns-program nie. Sien ook baie uit na die Tim Kliphuis Trio en die US Koor se eerste optrede van die jaar. 

Vertel asseblief nog van ander mense wat betrokke is by die fees, soos Elmari Rautenbach en Peter Martens. Waaraan reël hulle, en is daar nog mense wat spesiaal uitgesonder kan word? 

Ons het ’n uitmuntende span koördineerders wat absolute spesialiste op hulle onderskeie gebiede is. Elmari is verantwoordelik vir die skrywersprogram, Alex en Zelda Hamilton vir visuele kuns, Peter Martens vir klassieke musiek, Danie Marais vir die filmfees en Frieda le Roux en Tim du Plessis vir die diskoersprogram. Die klein span in die kantoor is verantwoordelik vir die res van die program, en ook die aanbieding van die fees: Marlise Klopper doen bemarking en handelsmerkbestuur, Porra van der Merwe logistiek, Brechmari van Wyk is ons tegniese bestuurder, Ulrike Vorndran is in beheer van gasvryheid, Corinne Harmse hanteer ons finansies, Khanita Rhode vervoer en kommersialisering, en Este Pelser is vanjaar se bedryfsbestuurder. Die Woordfees werk ook baie nou met WOW saam om ’n sterk fokus op leerders en opvoeders in die program in te sluit. Dis ’n uiteenlopende groep mense, en ons werk baie hard en onder kwaai druk, maar dit is seker van die mees bevredigende werk wat daar is. 

’n Praktiese vraag: As mense Woordfees toe kom, waar kan hulle bly, waar kan hulle eet en hoe kan hulle by hul onderskeie venues in die dorp uitkom?

Feesgangers bly waar hulle gaatjies kry – van superluukse verblyf tot koshuiskamers. As jy nog nie plek bespreek het nie, doen dit nou onmiddellik – verblyf in Stellenbosch is reeds baie skaars. Daar is wel nog bekostigbare verblyf beskikbaar in die Strand, Somerset-Wes, die Paarl en Wellington, en ook Kaapstad se kant toe. Stellenbosch het ’n wonderlike restaurant- en koffiewinkelkultuur – jy gaan nie ver soek om baie lekker te eet nie. Ons het ook spesiale aandag aan die restaurante op die leesterrein gegee en hoop dat ons kwaliteit vanjaar die beste tot nog toe gaan wees. Parkering bly ’n groot kopseer, maar maak gerus van ons pendeldiens gebruik. Parkeer by HS Stellenbosch of oorkant Rhenish en ons betroubare pendeldiens laai jou af net waar jy wil wees. 

wys-saartjie-onderhoud

  • 4

Kommentaar

  • As iemand, enige iemand, dalk weet waar en hoe laat Tebogo op Dinsdag, 7 Maart, optree, laat weet my asb tog. Volgens die program het hy die Idols gewen. Daar's egter nie 'n aanduiding dat mens moet bespreek om hom te sien optree nie.
    Maar daar's geen inligting oor WAAR en HOE LAAT hy op 7 Maart optree nie.
    Groot baie dankie
    Louise van Vishoek.

  • gerrit boonstra

    Aan Saartje, ek het verlede Woensdag by Woordfees na Reza De Wet se toneelopvoering DRIF in die Fismer-lokaal van die US gaan kyk. Ek skryf hierdie kritiek, omdat ek werklik teleurgesteld is. Die rede is eenvoudig dat ek nie kon hoor wat die akteurs sê nie, behalwe Andre Roothman, wat heeltyd hard en duidelik gepraat het. Die probleem was nie soseer die akteurs nie, maar die lokaal se opset waarmee die regisseur hom/haar totaal misreken het. Die toneel het hom in 'n sitkamer afgespeel wat in die middel op die grondvlak van die Fismer opgestel is, met die gehoor in 360 grade rondom. Dit het beteken dat die akteurs meermale met hulle rue na die gehoor gespeel het en daarby sonder daardie mikrofoontjie om die ore. (Daarby het daar 'n storm gewoed in die verhaal.) Dis veral die jong mishandelde meisie en die onderdanige boggelrug wat uiteraard sag gepraat het weens hulle tipe rol. Nogtans, wat 'n teleurstelling, want ek het so lank daarna uitgesien om Reza se "Drif" te sien EN TE HOOR. Miskien moet ek dit nie voor Saartjie , as hooforganiseerder, se deur plaas nie, maar die kritiek bly geldig.

  • Temmie Campbell

    Ek is op soek na die kortverhaalbundel Wys wat by die Woordfees te koop was! Groot asseblief​.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top