Titel: Rooisand. Die verhaal van Dirk en die Bondelswarts
Skrywer: Jeremy Vearey, vertaal deur Kirby van der Merwe
Uitgewer: Human & Rousseau (2024)
ISBN: 9780798184670
e-Pub ISBN: 9780798184687
1
Jeremy Vearey, aanvanklik opgelei as ’n Engels-onderwyser, het bekendheid verwerf as outobiograaf met Jeremy vannie Elsies (2018) en Into dark water. A police memoir (2021). Sy lewensloop word só saamgevat op die agterplat van sy debuut: “Van laaitie tot politieke kryger, bandiet tot generaal-majoor, ondergrondse operateur tot presidensiële lyfwag”. Rooisand. Die verhaal van Dirk en die Bondelswarts is sy eerste roman. Dit is geskoei op die verset van die Bondelswarts (!Gamiǂnūn) in die vroeë 20ste eeu teen koloniale oorheersing en die verlies van grondgebied in die droë suidelike streek van vandag se Namibië en die gebied noord van die !Garieprivier (Oranjerivier). Rooisand is die vertaalde weergawe van Crimson sands. The story of Dirk and the Bondelswarts met Kirby van der Merwe as die vertaler. Die titel word vroeg in die roman verklaar: “Ons noem [die rooisand] die asem van Tsuiǁgoab, ons groot voorvader wat in die rooihemel woon” (38).
Die roman word bemark as “’n historiese roman wat afspeel in Namaland, ... ’n epiese, panoramiese oorlogsroman wat strek van Tsumeb tot Upington van Lüderitzbuch (sic) se interneringskampe tot die droë rivierlope van die Visrivierskeurvallei”. Voor in die roman lui die verantwoording dat die “boek ’n fiktiewe dramatisering van ware gebeure [is]”, en “saamgestel [is] uit verskeie bronne, waaronder publikasies sowel as persoonlike onderhoude”.
Om hulself te verskans teen onrealistiese verwagtinge oor die ooreenkomste tussen gebeure gebaseer op “ware feite” uit die verlede en die roman as fiksie, bied die skrywer en uitgewers ’n uitgebreide verklaring: Vir “dramatiese en narratiewe doeleindes bevat die verhaal fiktiewe tonele, saamgestelde en verteenwoordigende karakters en dialoog, en is die tydsraamwerk aangepas.” In ’n verdere aanduiding van die spanning tussen werklikheid en verdigsel word verklaar dat die “menings wat in hierdie boek uitgespreek word, die karakters s’n [is] en verteenwoordig nie noodwendig dié van persone wat deur die karakters verbeeld word nie”.

Jeremy Vearey as outobiograaf in Jeremy vannie Elsies (2018) en Into dark water. A police memoir (2021)
Ter wille van historiese outentisiteit word ’n aangepaste kaart van Duits-Suidwes-Afrika met ’n vermenging van Duitse en Afrikaanse plekname afgedruk, asook ’n uittreksel uit die onlangs verskene Nǀuuki Namagowab Afrikaans English ǂXoakiǂxanisi/Mîdi di ǂKhanis/Woordeboek/Dictionary (2022) oor die korrekte uitspraak van woorde in Nǀuu en Nama (kyk ook Sands en Jones s j). Soos die omvattende bronnelys van byna vier bladsye dien dié gegewe as bewys van die skrywer se erns in sy omgang met die “werklikheid” en “geskiedkundige feite”. Vir die leser is dit ’n aanduiding dat hoewel die verhaal as fiksie aangebied word, dit nie uit die lug gegryp is nie, maar berus op “die geskiedenis”, “die waarheid” en “die werklikheid”. Dié verband word met ’n kaart, diepgaande navorsing en selfs voorligting oor die presiese uitspraak van outentieke Namagowab- en Nǀuuwoorde gestaaf.
Die protagonis in die verhaal is Dirk Aruseb wat in 1905 van die Katolieke kinderhuis op Pella in die noordweste van die Kaapkolonie gehaal word. Die sewentienjarige “met sy strooikleurige peperkorrelhare en grys oë [wat die boelies op skool in Pella ’n Bosluis-Baster genoem het]. ’n Halfnaatjie, altyd eenkant, nes die fiskaal op ’n tak ...” en “’n maer seun met ’n bossiekop vol blonde borselhare” word in opdrag van Nana Kruiper opgeneem in die geledere van die Bondelswarts (15).
Die verhaal sentreer eerstens om die geheimsinnigheid rondom Dirk se herkoms: Wie is sy ouers, en veral, wie is sy ma? Tweedens volg die storielyn, tydens die Bondelswarts se guerrillastryd in die vroeë 20ste eeu, Dirk se wording tot in sy 34ste jaar, van ’n impulsiewe jongman, geneig tot oorhaastige besluitneming en absolutistiese menings, tot ’n gebalanseerde versetleier.

Crimson sands deur Jeremy Vearey (die roman, oorspronklik in Engels)
Wie is die Bondelswarts wat naas Dirk in die ondertitel as fokuspunt aangedui word? Die Bondelswarts word só in Rooisand gekarakteriseer: “Die Bondelswarts was nie ’n stam, ras of nasionaliteit in die homogene sin van die woord nie, maar ’n vegtersbond saamgestel uit mense van diverse afkoms wat verenig het om kolonialisme te bestry in Namaland.” Op die omslag is gestileerde afbeeldings van die legendariese kaptein Jakob Marengo en die bekende foto van ’n groep gewapende Bondelswarts-manskappe met bandeliere teen die agtergrond van ’n rooi woestynagtige landskap wat paratekstueel die realistiese toonaard van die roman onderstreep.
Die roman word opgedra aan Peter Jacobs, Gary Kruser, Patrick Ricketts, Anton Fischer en “die Bondelswarts van Namaland beide suid en noord van die !Garieprivier, sowel as dié van Lokgwabe in Botswana”. Die skrywer verklaar dat hierdie mense se oorvertelde geskiedenis “in die land van hierdie verhaal” sy skryfwerk “gevoed” het. Die roman word verder spesifiek opgedra aan “Bla, waar hy ook al tuiste vind in ǀKaggen se ryk”. “Bla” verwys waarskynlik na Patrick Ricketts wat bekendheid verwerf het as ’n lid van uMkhonto we sizwe (Willemse 2024). Die ander persone na wie verwys word, was ook eenmaal, soos Vearey, lede van daardie eertydse ondergrondse organisasie, ook bekend as die gewapende vleuel van die African National Congress (Vearey 2018:89, 105, 114). Die volgende sin vat die band van en opdrag aan hierdie persone saam: “Sonder ons reis in die wêreld van dié verhaal sou die vertel daarvan nie moontlik gewees het nie.” By die lees van hierdie roman sal die rol en plek van versetvegters telkens resoneer.
2
Die roman is, afgesien van ’n proloog en ’n epiloog, verdeel in vyf hoofafdelings, met 49 hoofstukke. Die eerste afdeling, “Die swart Napoleon”, behels die opname en inlywing van Dirk Aruseb in die Bondelswarts van Maart tot Mei 1906. Verskeie figure, onder wie Jakob Marengo, die strateeg na wie die soldate van die Duitse besettingsmag as “swart Napoleon” (34, 100) verwys, dien as Dirk se begeleiers. Hy leer by die manlike begeleiers “die kuns van koverte verkenning en om die vyand ongemerk te jag”; hy leer van insypeling, skietkuns, “om brande in ’n oorlog te gebruik en vyande met ’n beenmes te vermoor” en om giftige pylpunte te maak (47, 35 ev, 48, 87).
As ’n lid van die Bondelswarts se uitgebreide verkennerskorps leer hy van die vroue Nana en Klara die belang van die politieke en gewapende stryd: “[D]ie stryd bly die grootste liefde” (35, 38, 50; kyk ook 72, 73). Hy leer ken die Bondelswarts se samestelling van mense met “’n mengsel van uiteenlopende tradisies ... [wat] nie deur die gewone strategie van verdeel-en-heers verslaan word ... nie” (33; vgl ook 39, 59–60, 64, 67). Hy beleef verskeie skermutselings waarin die Bondelswarts as guerrillabende die oorhand kry ten spyte van die Duitsers se superieure, maar ongeskikte wapentuig (25, 38; kyk ook 112–3). Van die Bondelswarts word gevange geneem en Marengo word in Mei 1906 na ’n tronk in Tokai, Kaapstad afgevoer (100–1).
“Die gesel van die janfiskaal”, die tweede hoofafdeling, dek die periode Mei tot November 1906. Die oorlog kry ’n persoonlike dimensie wanneer ’n Duitse offisier en sy makkers in hulle soektog na Dirk, wat voorheen ’n jong meisie uit hulle kloue gered het, ’n nedersetting in die woestyn uitwis (117–8). In Lüderitzbucht kom hy te wete van die duisende Bondelswarts-gevangenes wat in die Haaieiland-konsentrasiekamp onder die verskriklikste omstandighede aangehou word, waar talle aan ondervoeding en maagkoors en weens ongelukke sterf. Die skedels van gevangenes word vir wetenskaplike ondersoek na Europa verskeep (133–7).
In die derde afdeling, “Die vos van alle vosse”, Mei 1907 tot Maart 1908, onderneem Makai Kruiper, broer van Nana, om Dirk te midde van sy ongedurigheid met die Bondelswarts se leiers se integere voering van die stryd, te lei op “die weg van die eland” (154). Met kaptein Simon Kooper – die vos van alle vosse – en Agerob word Dirk begelei in ekologiese bewustheid en die etiket van die jag, en hoewel hy “sy eland vind”, is hy nog nie in staat om die dier se galblaas te eet nie, ’n rite vir volwasse oorwoënheid (157–9). Ten spyte van Makai se siening dat Dirk “nie sterk van verstand en gees is nie”, en “die janfiskaal [in hom] woed” en “nog nie die gees van die eland geëet nie”, beveel Kooper hom om die onlangs vrygelate Marengo in Upington te help ontsnap (166). Die Bondelswarts-netwerk van verkenners voer die sending suksesvol uit, maar nie sonder gevalle van weerwraak nie. In ’n geveg met ’n Duitse eenheid word Marengo “gedood”, maar dis ’n skyndood wat Nana georkestreer het (188). In ’n latere skermutseling word die groep verslaan, maar Kooper slaag daarin om te ontsnap, terwyl die vyand Dirk erken as die Bondelswarts se “nuwe vuurvreter in hul voorste linie” (204).
Anders as die vorige afdelings met kort periodes van vertelde tyd, dek die vierde afdeling, “Die val van die janfiskaal”, ’n periode van 11 jaar, van April 1908 tot April 1919. Dit omvat die voorlopige einde van die Bondelswarts se versetstryd en die Suidwes-Afrika-veldtog, ’n faset van die Groot Oorlog, ook genoem die Eerste Wêreldoorlog, tussen die Duitse gebiedsmag en die Uniale weermag tussen 1914 en 1918. Na verskeie veldslae word die Bondelswarts as koherente groep teen 1908 verslaan en verstrooi. Kaptein Kooper, een van die laaste erkende leiers, is op die punt om ’n vredesverdrag met die Duitse gebiedsmag aan te gaan, wat syns insiens ’n geleentheid vir ooreenkomste, asook die heropbou van die Bondelswarts bied. Dirk is glad nie gediend met dié strategie nie en Kooper stel hom vry van sy verpligtinge sodat hy “[sy] kop en gees bevry van [sy] janfiskaal” (209).
Ten spyte van sy begeleier, Makai, se waarskuwings raak Dirk betrokke by sy Bondelswarts-kameraad, Scotty Smith, se struikrowery en skelmstreke. Uys Pienaar red hom in die agterstrate van Upington van sy selfbejammering en help hom om “buite oorlog” te leef, met dié woorde: “Ons plig is om die stryd te oorleef en die vyand te laat sterf vir wat hulle glo húlle land is” (228). Vir meer as twee jaar bly hy op die plaas met Pienaar totdat Abraham Morris hom uitnooi om as verkenner by die Unieweermag aan te sluit, ’n besluit wat sy lewensmaat, Pienaar, se aangenome dogter, Trix, laat uitroep: “[H]et jy daai oorlog meer nodig as dit vir jou?” (236).
........
Ondanks sy eie vertwyfeling oor sy onsekere herkoms, eien Makai Kruiper, Dirk, sy susterskind as ǀA’uniǂKhomani, ’n bevestiging van sy inheemsheid: “Hierdie is jou bloedgrond” (212). Kamakus, die naam wat Makai hom aan toeken, is die Namagowab-woord vir die inheemse medisinale plant kloudoring, en suggereer ’n veelduidigheid, tegelyk vegtend én helend (236).
........
Ondanks sy eie vertwyfeling oor sy onsekere herkoms, eien Makai Kruiper, Dirk, sy susterskind as ǀA’uniǂKhomani, ’n bevestiging van sy inheemsheid: “Hierdie is jou bloedgrond” (212). Kamakus, die naam wat Makai hom aan toeken, is die Namagowab-woord vir die inheemse medisinale plant kloudoring, en suggereer ’n veelduidigheid, tegelyk vegtend én helend (236). In hierdie afdeling word die spanning tussen Dirk en sy ontwikkelende alter ego Kamakus toenemend bloot gelê (236–7). Per geleentheid behandel Dirk in die woestyn ’n beseerde medeverkenner met kloudoring, en doen daarmee sy naam Kamakus gestand (252).
As verkenner, onder die titel en naam sersant Kamakus Kruiper, lei Dirk saam met Morris ’n aantal troepe deur die woestyn vanaf Walvisbaai na die suide. Sy Uniemag-eenheid beleef vele wedervaringe en skermutselinge, onder meer ’n Duitse vliegtuigaanval waartydens troepe en krygsgevangenes gedood word. Later dien Dirk as ’n tronkbewaarder in Windhuk en as ’n transportryer. Met vredesluiting voorspel Morris: “Húlle oorlog mag verby wees, maar ons s’n [dié van die Bondelswarts] is nog nie” (269).
Die laaste hoofafdeling, “Laat ons op die slagveld sterf”, neem die vertelde tyd van Mei 1919 tot Junie 1922 onder die loep. Met die Groot Oorlog van die Europese moondhede en hul alliansies oor, vertrek Dirk na Namaland in die suide. Hy sluit hom aan by die oorblywende Bondelswarts wat in afwagting is op hul kaptein, Jakobus Christian, wat uit ballingskap terugkom (291–4). Onderweg ontmoet hy Marta Kharias, een van die verkenners met wie hy ’n verhouding aangaan en wat hom aanmoedig om van sy “vermomming” ontslae te raak en sy lot as Kamakus, die gebalanseerde leier van die Bondelswarts, op te neem (309).
’n Ander Bondelswarts-leier, Abraham Morris, word “soos ’n messias” ontvang en mobiliseer ’n mag om op te staan en teen die nuwe administrateurs, die Unieregering, se nuwe hondebelasting en beperkende regulasies te veg (309, 310). Onderhandelinge met die owerheid is nie suksesvol nie en na vernietigende lugaanvalle word Morris en honderde vegters en burgerlikes gedood en kaptein Christian tot oorgawe gedwing, ’n taak wat Dirk opgelê word (337). Klara oorleef die vyandighede, knoop ’n verhouding met ’n kommunistiese aktivis in Kaapstad aan, en staan op die punt om te vertrek om internasionaal die saak van die “Duitse en Unieweermag-gruweldade teen die Namavolk” internasionaal te bevorder (339).
Die roman eindig met die epiloog waarin Marengo aan Dirk sê dat “[sy] reis eindig met [hom]” (342). Dirk ontmoet Nana en slag ’n mak eland en eet uiteindelik die galblaas, ’n noodsaaklike keerpunt in sy wording as Kamakus Kruiper, die ǂnorab, die spies van die Bondelswarts (343). Soos Klara, vertrek hy ook Suid-Afrika toe om kontak te maak met Jimmy la Guma, ’n gemeenskapsaktivis met sterk kommunistiese en Afrikanistiese standpunte.
3
.........
Rooisand word as ’n epiese oorlogsroman bemark en dit is inderdaad wat dit is. Dit het vanselfsprekend geword dat ’n oorlogsroman realisties aandoen met voorstellings van vyandighede en veldslae asook die uitwerking van individuele besluitneming en trauma op karakters en hulle omgewing.
.........
Rooisand word as ’n epiese oorlogsroman bemark en dit is inderdaad wat dit is. Dit het vanselfsprekend geword dat ’n oorlogsroman realisties aandoen met voorstellings van vyandighede en veldslae asook die uitwerking van individuele besluitneming en trauma op karakters en hulle omgewing. Leo Tolstoi se Oorlog en vrede (1868) oor die Napoleontiese oorlog in Rusland word allerweë beskou as een van die uitstaande voorbeelde van die genre. Georg Lukács (1963:43) merk op dat Tolstoi soms “’n episode uit die oorlog neem wat van besondere belang en betekenis is vir die [...] ontwikkeling van sy karakters” en dat hy spesifiek daardie episodes kies waardeur die Russiese weermag en die Russiese bevolking “lewendige uitdrukking” kry.
In Rooisand word die beplanning, uitvoering en uitkomste van verskeie skermutselings en veldslae in besonderhede beskryf met die grafiese voorstelling van wreedhede, moord en ontheemding. Reeds in die eerste hoofstuk is daar sprake van “die stryd van Schansvlakte” (23 ev) en later van die beslissende Slag van Seatsub (202 ev), terwyl historiese bekende veldslae soos die Slag van Vaalgras (78) en die Slag van Otjimbingwe (207) in verwysings voorkom.
’n Kenmerk van die epiese roman is dat die vertelde tyd ’n aansienlike periode in die lewe van die protagonis dek. In Rooisand dek die vertelling die wedervaringe van Dirk Aruseb vandat hy Pella in Maart 1905 verlaat het tot op die vooraand van sy reis na Kaapstad in Julie 1922, ’n periode van 17 jaar. Hierdie periode val saam met die verset van die Bondelswarts teen Duitse imperiale oorheersing, maar na aanvanklike sukses word hulle geleidelik tot oorgawe, knegskap en armoede gedwing met die daaropvolgende verstrooiing van hul mense, en die verlies van rykdom en grondgebied.
Oorhoofs kan Rooisand as ’n historiese roman bestempel word. Die historiese roman het sedert die 18de eeu in gewildheid toegeneem (Lukács 1963:19). In dié genre word meesal die leefwyse, maatskaplike omstandighede en tydsgees van ’n vergange era vooropgestel, aannames wat gewoonlik met argivale bronmateriaal ondersteun word. Getrouheid aan ’n bepaalde tydvak word dikwels as ’n toetssteen vir dié soort romans aangelê. Dit is juis die veronderstelling van eksterne verwysing, dus dat historiese romans ’n historiese tydvak mimeties moet weergee, wat in die nawerking van postmodernistiese en postkoloniale literêre teorie onder verdenking gekom het. Dit is egter nie die plek om uitgebreid die spanning tussen historiografie en historiese fiksie te bespreek nie – kyk hiervoor Willie Burger se “Historiese korrektheid en historiese fiksie: ’n respons” (2015).
........
Konvensies van vergange eras ten opsigte van byvoorbeeld geslag en seksualiteit, etnisiteit en “ras” verskil vandag hemelsbreed van wat selfs ’n paar dekades gelede as normatief aanvaar is. Dit het tot gevolg dat afwykings van tradisionele strukturering belangwekkende gevolge het.
........
In postkoloniale teorie word die verwagte realisme van historiese romans bevraagteken, veral met verwysing na die instandhouding van gevestigde maatskaplike belange soos vertellings oor koloniale besetting en die legitimiteit van setlaar-aanspraakmakers op grondgebied en tradisies (Dalley 2014:52). Konvensies van vergange eras ten opsigte van byvoorbeeld geslag en seksualiteit, etnisiteit en “ras” verskil vandag hemelsbreed van wat selfs ’n paar dekades gelede as normatief aanvaar is. Dit het tot gevolg dat afwykings van tradisionele strukturering belangwekkende gevolge het. ’n Voorbeeld hiervan sou wees dat wanneer ondergeskikte karakters wat in die historiese romans van ’n letterkundige tradisie onderbeklemtoon is, fokaliseer en hulle stories vertel, dit formele en ideologiese gevolge vir die kritikus se omgang met die roman het (Dalley 2014).
In Rooisand is dit ter sake dat fokalisering deur die verhaal in hoofsaak deur die waarneming en sienings van Dirk Aruseb, ’n “Bosluis-Baster” met ’n geheimsinnige agtergrond, vertel word, waarmee naas sy persoonlike ontwikkeling ook perspektiewe op kolonisering, politieke en militêre stryd verwoord word. Dit is trouens ter sake dat die verhaal aangebied word vanuit die oogpunt van karakters wat as teenstanders en dus ook as slagoffers van imperiale oorheersing figureer. Dit is voorts opvallend dat vroulike figure deurlopend as besonder sterk en leidend aangebied word, terwyl in die diskoers oor koloniale beheer die verset daarteen vooropgestel word.
’n Opmerking van Lukács oor die gevolge van oorloë is hier van belang, naamlik dat die Napoleontiese oorloë van die vroeë 19de eeu tot verskillende Europese nasionalismes aanleiding gegee het. “The Napoleonic wars everywhere evoked a wave of national feeling, of national resistance to Napoleonic conquests, an experience of enthusiasm for national independence” (Lukács 1963:25). Die oorlogservaring lei tot die herwaardering van ’n groep of ’n gemeenskap se geskiedenis wat afspeel in hul aandrang op politieke selfbeskikking, die herskikking van magsverhoudings en die produksie van kulturele werke waarin hul nasionale belange bevorder word. “The appeal to national independence and national character is necessarily connected with a re-awakening of national history, with memories of the past, of past greatness, of moments of national dishonour, whether this results in a progressive or reactionary ideology” (Lukács 1963:25).
.........
Die kulturele herevaluering van dominante kultuurhistoriese perspektiewe en die uitbou van kritiese perspektiewe gebaseer op ondergewaardeerde en inheemse kennis, gebruike en tradisies was desgelyks deel van hierdie stryde om demokratisering en die vorming en bevestiging van nuwe identiteite ...
.........
Die stuiptrekkings van koloniale beheer en minderheidsregering in Namibië en Suid-Afrika het sedert die 1970’s en 1980’s beslag gekry in die totstandkoming van demokratiese bestelle in hierdie state. Sou ons Lukács se waarneming in ag neem, is daar ’n saak uit te maak dat demokratisering in beide lande, politieke aktivisme en die gewapende stryd tot die vestiging van hierdie aangepaste ekonomiese en politieke ordes bygedra het. Die kulturele herevaluering van dominante kultuurhistoriese perspektiewe en die uitbou van kritiese perspektiewe gebaseer op ondergewaardeerde en inheemse kennis, gebruike en tradisies was desgelyks deel van hierdie stryde om demokratisering en die vorming en bevestiging van nuwe identiteite – Lukács se herontwaking van nasionale geskiedenis en herinneringe aan die verlede, synde prestasie of oneer. Ten opsigte van hierdie beskouing sou Rooisand, ’n roman wat afspeel in die eerste kwart van die 20ste eeu, beskou kon word as ’n werk wat inspeel op ons huidige versugtinge en tydsgees, naamlik die oorgangstyd tussen die 20ste en 21ste eeu.
4
Dirk Aruseb beleef sy eerste optrede as lid van ’n Bondelswarts-kommando wanneer hulle die huis van die verraaier wat hul legendariese leier, Jakob Marengo, wou vermoor, bestorm. Dit is Maart 1905; Dirk is 17 jaar oud en hy leer sy eerste les in vergifnis en die etiek van oorlogvoering. Marengo spaar die man wat sy lewe wou neem, met die woorde: “Jy wou my vermoor omdat jy ’n paar stukkies goud meer ag as my lewe. Ek kan jou net hier voor jou familie doodmaak, maar ek is nie jy nie” (12). Dié gebeure is die voorspel tot die teenstrydige gevoelens wat in Dirk woed, ’n stryd tussen emosie, instink en jeugdige voortvarendheid enersyds, en die rede, kennis en historiese bewustheid andersyds. Dit is Marengo wat hierdie interne stryd in die metafore van die veld uiteensit:
Dirk hoor [Marengo] skaars, gefassineer deur die fiskaal wat, so lyk dit, die muis met sy snawel martel. Die voël los die muis en spring op en neer op die tak tot die muis se liggaam verslap. Toe skeur hy die muis se pens oop en begin aan die derms vreet. Ék moet soos jý wees, dink hy.
“[M]ag ons tog nooit soos die janfiskaal in hierdie oorlog word nie. Onthou, óns loop op die spoor van die eland, die Shaa, die naam wat ons voormense hom gegee het, [sê Marengo].” (15)
Vir Dirk word dié spanning deel van sy wedervaringe. Telkens duik die vraag na sy herkoms op, nie net wie hy is nie, maar “bo en behalwe aan wie hy wil behoort” (140), ’n identiteitsoeke wat saamhang met die janfiskaal- en eland-leitmotiewe. In die roman dra die janfiskaal die bybetekenis van impulsiewe strydlustigheid en die eland teenstellend dié van krag en oorwoë, deurdagte handeling wat “ǀKaggen se seën en guns” moontlik maak (166; kyk ook 15, 91, 123, 153–4, 158, 160, 166, 269, 342).
Dirk is na die verkragting van sy ma gebore, maar hierdie besonderheid van sy herkoms word aanvanklik van hom weerhou of met leuens verdoesel, hoewel dit duidelik is dat diegene in die nabye kring van Nana van die waarheid bewus is (56; kyk ook 14, 16–7). Die ware toedrag van sake word drupsgewys onthul, en Dirk kom daarvan te hore terwyl hy ’n gevange Duitse soldaat folter (123). Sy pa is ’n Duitse soldaat, Dieter Drechsler, vir wie hy by hul eerste ontmoeting weinig respek het (195; kyk ook 37–8, 123). Teen die einde van die verhaal is dit Nana wat self met die naakte waarheid vorendag kom (342).
Die afwesigheid van voorbeelde van rigtinggewende ouerlike sorg laat Klara vermoed dat hy maklik deur sterk figure mislei kan word en dat dié neiging gestuit moet word (79). ’n Aantal sekondêre figure vul deur die loop van die verhaal dié leemte. Naas Marengo, Nana en Klara dien ander figure as begeleiers in Dirk se ontwikkeling as ’n verkenner en toekomstige leier. Dit sluit die Bondelswarts-vegters Agerob en Makai Kruiper in wat elk fasette van die Bondelswarts-geskiedenis en kultuurgewoontes en -gebruike aan Dirk oordra en sy inheemsheid en toekomstige rol as samebindende, gebalanseerde leiersfiguur bevestig (161–2, 212).
Dirk se betrokkenheid as lid van “die Bondelswarts se militêre vleuel” by skermutselings en veldslae beïnvloed sy lewensuitkyk (55, 53). In sommige situasies doen hy hom voor as ’n touleier en transportryer, ’n “mak Hottentot”, gedienstig en ondergeskik met ’n “onderdanige skuifelpassie” (82, 107, 114, 115), en in ander omstandighede moet hy hom beheer om nie sy vermomming te verklap nie. Elkeen van die posisies word ’n parodie van koloniale verwagting. (Terloops, die teenstanderfigure in die Duitse weermag is meesal eenduidig, sodat hul verhouding met die sentrale figuur eendimensioneel van aard is.)
Dirk is bestem vir leierskap, maar moet geleidelik sy ongeduldige, wederstrewige aard te bowe kom (204). Mettertyd word hy opgeneem in die kring van die Bondelswarts se krygsraad en kry hy verskeie opdragte (87–9). Die grootste hiervan is die ontsetting van Marengo en die historiese taak om as Kamakus Kruiper as die ǂnorab, die spies van die Bondelswarts, te dien (343).
5
Sekondêre figure in ’n roman staan uiteraard in verhouding tot die protagonis. Dit is hul handelinge of gebrek aan handeling wat die storie van die protagonis voortstu. Hierdie figure verteenwoordig bepaalde posisies en idees wat ter sake is vir die ideëlaag en handelinge in die roman. Van die manlike figure is hier bo genoem, maar dit is opvallend dat die rigtinggewende rolle aan vrouefigure toegeken word. Die name van die vernaamste vrouefigure – Nana, Klara en Marta – is nie toevallig nie. Die name is sprekend van hul onderskeie funksies en verhouding tot die protagonis en die idees wat hulle verteenwoordig. Nana word veelal met ’n ouer vrou en gerespekteerde grootmoeder verbind, Klara met klaarheid, helderheid en beroemdheid, terwyl Marta vroulikheid suggereer. Selfs mindere sekondêre figure soos Saartjie wat die Duitse soldate misbruik, roep die bekende slagofferfiguur Saartjie Baartman op, terwyl Trix Engelbrecht, ’n verkenner, eers as bordeeldame (dink aan “turning tricks”) en later as onderwyseres werk.
Een van die eerste vrouefigure wat Dirk teëkom, is die “kort, stewig geboude” Nana Kruiper wat in beheer van ’n netwerk verkenners, meesal vrouerekrute, is en wie se skimagtige teenwoordigheid en besluitneming tot deurslaggewende behandelinge aanleiding gee (17, 28, 133). Klara is haar tweede in bevel en gaan aanvanklik ’n kortstondige huwelik met Dirk aan, terwyl sy ook as een van sy begeleiers dien (53). Sy lei hom tot ’n dieper begrip van hul stryd wat nie net weerwraak teen onreg behels nie, maar ook teen materiële ongelykheid en die ekonomiese onderwerping en uitbuiting van mense (51–2; kyk ook 113–4). Sy verteenwoordig die internasionalistiese, antiimperiale en modernistiese beskouings in die roman. Marta Kharias met haar seun Nicodemus (met die implisiete naam van toekomstige oorwinning in sy naam) kom in die laaste hoofafdeling van die roman aan bod. Sy is ’n uitgesproke konkurrent teen kollaborateurs met die maghebbers en dié een wat deelagtig is om Dirk sy lotsbesef as Kamakus, die oorwoë leier, te volvoer.
........
Hierdie drie vroue figureer sentraal in die wording van die protagonis, maar hulle word glad nie verbind met die tradisioneel huishoudelike nie. Hul persoonlike verhoudings is verwikkeld. Gegee die vroeg-20ste-eeuse romanagtergrond, sou lesers die redelike verwagting kon hê dat ’n mate van onderskikking aan manlike gesag sou deurskemer. Daar is egter deurgaans geen teken van onderdanigheid aan mans nie.
........
Hierdie drie vroue figureer sentraal in die wording van die protagonis, maar hulle word glad nie verbind met die tradisioneel huishoudelike nie. Hul persoonlike verhoudings is verwikkeld. Gegee die vroeg-20ste-eeuse romanagtergrond, sou lesers die redelike verwagting kon hê dat ’n mate van onderskikking aan manlike gesag sou deurskemer. Daar is egter deurgaans geen teken van onderdanigheid aan mans nie. Hierdie figure wys sonder uitsondering die hooffiguur en ander mans se tekortkominge uit, terwyl hulle self beslissende besluite neem of leiding in rituele neem.
Opvallend is die voorstelling van seks as instrument van mag en beheer. Gewelddadige en kommersiële seks word in verband met koloniale oorheersing gebring. Die verbreking van heteronormatiwiteit dien verskeie doeleindes: enersyds die ondermyning van tradisionele manlikheid en andersyds die oorskryding van behoudende maatskaplike en politieke grense. Ten opsigte van laasgenoemde: Teen die einde van die roman het Karla ’n lesbiese verhouding met die Afrikaner Jean van der Poel (338 ev). Dié verhouding konnoteer vroue se selfstandige besluitneming oor hul seksualiteit, en eweneens die oorskryding van heersende kleurgrenskonvensies aan die Kaap, asook die verbintenis tot politieke selfbeskikking en internasionalistiese denke.
6
Rooisand is ’n ambisieuse roman ondersteun deur ’n magdom navorsing wat sy net wyd uitwerp om ’n verskeidenheid tematiese aspekte te ondervang: onder meer die geledinge van die etiek van stryd en verset; ideologiese en godsdiensverskeidenheid; die rol van die kerk in kolonisering en verset; die beginpunte van die Duitse uitwissing van teenstanders; konsentrasiekampe en rassuiwerheidteorieë; en die suggestie van die verklanking van gesigspunte rondom eietydse debatte oor die geskiedenis en bydrae van “minderheidsgroeperings” tot die demokratisering in suider-Afrika. Terloops: Die toespelings op die geskiedenis van uMkhonto we sizwe, en selfs die Mandela-agtige voorstelling van Marengo, maak die verbintenis met ’n omvattender suider-Afrika-geskiedenis van meet af aan duidelik: “[die koerantberig] met ’n gepaardgaande foto van ’n triomfantelike Marengo, vuis in die lug, saam met ’n vrou genaamd Klara Christian”, ’n tablo wat herinner aan die vrylating van Nelson Mandela met Winnie aan sy sy op 11 Februarie 1990 (163).
Die navorsing word meesal goed verwerk en geïntegreer met die fiktiewe karakters en gebeure. Die tydruimtelike en kontekstuele beskrywings is ryk en die inkleding van die skermutselings, veldslae en konsentrasiekampe is meesal oortuigend. Dit val op, heel te verwagte, dat die vertelling en beskrywings deurspek is van militêre taalgebruik en perspektiewe. Die klandestiene aard van verkenning dra die stempel van outentisiteit, met die gevolg dat dié aspek grotendeels oortuig, selfs al kom dit uit onverwagte oorde soos figure wat in die Duitse weermag dien en ook as informante vir die Bondelswarts optree.
........
Die uitgebreide navorsing laat egter ook ’n spoor van irriterende oordaad. Die derdepersoonsverteller en van die karakters word met agtergrondinligting belas wat soms net té ingelig of té gesofistikeerd vir hul omstandighede aandoen.
........
Die uitgebreide navorsing laat egter ook ’n spoor van irriterende oordaad. Die derdepersoonsverteller en van die karakters word met agtergrondinligting belas wat soms net té ingelig of té gesofistikeerd vir hul omstandighede aandoen. Soms is die inligting oor landspolitiek en ideologiese beskouing só gedetailleerd dat dit nie geloofwaardig is in die monde van die karakters wat dit oordra nie. Is dit hoegenaamd geloofwaardig dat mans wat waarskynlik slegs elementêre skoolopvoeding het, ’n sin soos die volgende en bepaald die gekursiveerde frase sou kon kwytraak? “Hulle gaan ons gevalle soldate se hoofde afslag en uitvoer na Duitsland vir Europa se jongste navorsingsgier, iets genaamd eugenetiek” (41, klem toegevoeg).
’n Aantal kort voorbeelde in verband met taal behoort dié aspek verder te illustreer (daar is ’n hele aantal ander voorbeelde veral ten opsigte van militêre waarneming). Marengo betrek vroeg in die vertelling Engelse terminologie (wat ten minste in die Afrikaanse vertaling geen noodsaak het nie): “Die Nederlanders noem dit kameeldoring, die Engelse camel thorn”; of “[O]ns mense noem hom janfiskaal. Vir die Engelse is hy die butcher bird oor hy sy prooi so slag” (15). Daar is geen aanduiding hoe ’n karakter in die dorre binneland ver van die sofistikasie van ’n Engelse stad en kolonisering aan hierdie vaardigheid kom nie, of waarom die Engelse verwysing hoegenaamd ter sake is nie.
’n Karakter wat “pas uit Duitsland aangekom het”, babbel onder druk onophoudelik. Dirk fokaliseer en die gevangene se uitstorting van angstigheid word woordakkuraat as denke in die indirekte rede weergegee (86). Daar is geen aanduiding dat Dirk veeltalig is en dus dié vorm van Duits kan verstaan nie. Elders lees hy Duitse koerante, terwyl hy ook ewe maklik Engels lees, begryp en verstaan (142, 340). Die enigste taal wat hy “net plek-plek verstaan”, is Nama (30), terwyl hy kennelik nie dieselfde mate van onbegrip vir tale soos Duits of Engels het nie. Dié veeltalige vaardigheid word inderdaad as “raar” uitgewys, maar nie in verband met Dirk nie; op bl 168 lees ons: “’n Nama-courtisane wat Duits, Engels, Hollands en Kaaps kan praat, is inderdaad raar, eksoties.”
.........
Die neiging tot presentisme, waarmee bedoel word dat handelinge en gebeure in die verlede met hedendaagse idees en perspektiewe beoordeel of beklee word, kom geredelik in die roman voor ... In postkoloniale fiksie word dié strategie dikwels gebruik om leemtes en kulturele vooroordele in historiografiese oorlewering uit te wys. In Rooisand is die duidelikste voorbeeld van presentisme die aanbieding en voorstelling van die prominente vrouefigure.
........
Die neiging tot presentisme, waarmee bedoel word dat handelinge en gebeure in die verlede met hedendaagse idees en perspektiewe beoordeel of beklee word, kom geredelik in die roman voor. Hierdie boek is nie ’n historiografiese teks nie, maar historiese fiksie, sodat dié neiging nie sonder meer af te wys is nie. In postkoloniale fiksie word dié strategie dikwels gebruik om leemtes en kulturele vooroordele in historiografiese oorlewering uit te wys. In Rooisand is die duidelikste voorbeeld van presentisme die aanbieding en voorstelling van die prominente vrouefigure. Dié vrouefigure is deur die bank gesofistikeerd en ingelig, selfs intellektueel, wat by die eerste aanblik as laat 20ste-eeuse tipes aandoen en as ongeloofwaardig beskou sou kon word. Daar sou egter geredeneer kon word dat dié soort representasie die afwesigheid van vroue in die historiografiese rekord blootlê, en dus ’n legitieme deel van die diskoers oor die representasie en die historiese verswyging is.
Soms is daar gevalle waar vorme van presentisme egter wel steurend is. Weer ’n kort voorbeeld: Sou die frase “uit die kas” (136) met verwysing na die bekendmaking van homoseksuele voorkeur in vroeg-20ste-eeuse taal gebruik gewees het? ’n Ander voorbeeld: ’n Courtisane praat “ook Afrikaans, ’n dialek van Kaaps” (168). Dit is ’n stukkie presentisme wat saamhang met hedendaagse taalpolitiek wat in sekere kringe bedryf word, waar 18de- en 19de-eeuse vorme van Kaaps-Hollands verbind word met die taal van die verknegte Kaapse onderklasse en Afrikaans met Afrikaner-nasionalisme en Standaardafrikaans. Kaaps, die konsep, is ’n skepping wat aan Adam Small toegeskryf word, nadat hy dit in die tweede druk van Kitaar my kruis in 1973 geformuleer het (Small 1973:ix–x). Die wyse waarop die term Kaaps in die roman aangewend word, is ahistories en dit sou sinvoller gewees het as die eertydse term Hollands gebruik was.
Om sin te maak van die subteks van die roman, is dit nuttig om die geskiedenis van die Bondelswarts te vergelyk met Veary se romanmatige representasie. Optekeninge van die Bondelswarts is reeds in die laat 16de eeu gemaak, en tussen 1780 en 1785 het die reisiger François le Vaillant sy ontmoeting met die “hemelsche Kaminoequas” (!Gamiǂnūn) beskryf (Wallace 2011:52; Le Vaillant 1840:109, 108).
Winifred Hoernlé skryf reeds in 1925 in ’n artikel op geneem in ’n latere versameling, uitgebreid oor die oorsprong van die Bondelswarts:
One form of this legend was told to me by Abraham Kafir, a headman of the Bondelswarts in 1913. There were once, so he said, five brothers, each of whom was the founder of a tribe of the Nama. … [One of the younger brothers is] said to have founded the !Gami ǂnun … the !Gami ǂNun are the people of the black bundle or Swart Bondel. (Hoernlé 1985:42–3)
Die vooropstelling in die antropologiese en historiografiese geskrifte is dié van ’n onafhanklike groepering met ’n lang voorgeskiedenis en ’n interne organisasie wat in sigself betekenisvol is. In die roman word slegs skrams na dié voorgeskiedenis verwys: “Ons voorvader Jonker Afrikaner het hierdie plek gebou en dit ǁKhauxa!nas genoem, wat in Namagowab beteken, ‘verdedig die volk teen die vyand’. In Nederlands word dit toe Schansvlakte, verskanste vlakte” (19; kyk ook 16, 284). Vroeër word dié bykomende stukkie geskiedenis bygevoeg:
Hierdie vesting is gebou deur onse voorvader Jonker Afrikaner. Hy het in die 1840’s sy kraal hier staangemaak ná hy uit die Kaap weggetrek het saam met Khoemense wat verseg het om vir die witman te werk, te same met drosters. Hulle het hulleself Afrikaners genoem, die Hollandse naam vir Afrikane. (17)
Die Bondelswarts word egter voorgehou as ’n vroeg-20ste-eeuse “strydmag van mense wat almal insluit: wederstrewige Boere, drosters uit die Britse leër en selfs ’n Australiër ... Solank jy teen die Duitsers óf die Britte en hulle maatskappye baklei, is jy welkom” (52; vgl ook 33, 54, 59–60, 67, 154, 171, 154, 288). Die voorstelling van die Bondelswarts as “’n vegtersbond” is die duidelikste aanduiding van die belangrike tematiese onderstromings in die roman, naamlik die geldigheid van gewapende verset as ’n militêre manifestasie en skepping van ’n mitologie van die groepering en veral hul nasate as (trotse) krygers. Daarnaas figureer dié groepering as die toonbeeld van hibriditeit wat etniese en stamlojaliteite relativeer: In die woorde van die histories beduidende figuur Marengo: Hul stryd is verontmensliking, oorlewing en ’n voortbestaan “vry van stam- en sektariese verdeling” (70).
Rooisand is ’n waardige debuut en Veary het ’n roman ryk aan komplekse idees geskep, waarvan die terugskrywende impak teen dominante koloniale diskoerse nie onderskat moet word nie.
- Hein Willemse is ’n besoekende professor in die Sentrum vir Kreatiewe Skryfwerk en Afrikatale, Sol Plaatje Universiteit, Kimberley.
Bronnelys
Anon. 1986. The military code of Umkhonto we sizwe. Dawn Souvenir Issue, ble 44–7. https://disa.ukzn.ac.za/sites/default/files/pdf_files/DaSI86.1681.5785.000.000.1986.27.pdf.
Dalley, Hamish. 2014. Postcolonialism and the historical novel: epistemologies of contemporary realism. Cambridge Journal of Postcolonial Literary Inquiry, 1(1):51–67. DOI:10.1017/pli.2013.3.
Hoernlé, Winifred. 1985. The social organisation of the Nama and other essays. Johannesburg: Witwatersrand University Press.
Le Vaillant, F. 1840. Reize in de binnenlanden van Afrika, langs de Kaap de Goede Hoop in de jaaren MDCCLXXX tot MDCCLXXXV. Tweede deel. Vertaler JD Pasteur. Leyden, Amsterdam: Honkoop en Allart.
Lukács, Georg. The historical novel. Vertaal deur Hannah en Stanley Mitchell. Boston: Beacon Press.
Sands, Bonny en Kerry Jones. S j. Dictionary portal. Sadilar. https://dictionary.sadilar.org/#/about.
Schapera, I. 1930. The Khoisan peoples of South Africa. Bushmen and Hottentots. Londen: Routledge & Kegan Paul.
Small, Adam. 1973. Kitaar my kruis. Tweede druk. Kaapstad: HAUM.
Tolstoi, Leo. 1993. War and peace. Hertfordshire: Wordsworth.
Vearey, Jeremy. 2018. Jeremy vannie Elsies. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2021. Into dark water. A police memoir. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2024. Rooisand. Die verhaal van Dirk en die Bondelswarts. Vertaal deur Kirby van der Merwe. Kaapstad: Human & Rousseau.
Wallace, Marion (met John Kinahan). 2011. A history of Namibia. Johannesburg: Jacana.
Willemse, Hein. 2024. Vele onthou Bla as ware mensch. Netwerk24.com. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/hein-willemse-vele-onthou-bla-as-ware-mensch-20240306.
Lees ook:
’n Onvoltooide tapisserie: fakkeldraer Vearey se Jeremy vannie Elsies
Video: NP Van Wyk Louw-gedenklesing ‒ Jeremy Vearey (18 Junie 2020)
Kommentaar
Baie dankie, Prof Hein Willemse.
Vearey raak onbewustelik een groot waarheid aan. In sy voorstelling van die Bondelswarts as 'n bevrydingsbeweging eerder as 'n stam, (wat Prof Willemse, soos ek ook, betwyfel) raak hy aan die senuwee van onenigheid wat, sedert die Hollanders voet aan wal gesit het, die Namas en ander Khoi-Khoin se ondergang was, tot vandag toe. Cf die onderlinge stryd of verskille tussen Goringhaikonas en Goringhaiquas in die jare 1652-1671. Die geskiedenis wys vir ons dat hulle nooit kon saamstaan nie en dat dit tot hulle ondergang gelei het, ironies genoeg net soos die Afrikaners. Dít terwyl hierdie land soos ons dit vandag ken net werklik sal vooruitgaan as ons ons eng politieke verskille opsy skuif en saamwerk, ter wille van ons kinders en kleinkinders. Miskien is hierdie les iewers in Rooisand opgesluit.
Broer, you get it. I must still read the 📖 book but ja, jy het die my broer.
Congratulations 🎊 👏 💐 🥳 I kan met trots die deel met South Africans.
Dankie,
Olive van die Dorp, Matroosfontein