...
Wie die kleine nie eer nie, is die grote nie werd nie.
...
In die huidige debat oor resensies moes ek my net weer vergewis van ’n paar van my eie, subjektiewe uitgangspunte oor die resenseer van boeke, of daar nou oor nuwe boeke geskryf word en of daar oor nuwe boeke gepraat word.
Moet nooit iets negatief oor ’n boek skryf nie. Dis nie nodig om op foute en verspeelde kanse van die skrywer te hamer en die skrywer so geniepsig of hard te behandel dat hy of sy met moeite, of dalk nooit weer nie, kan herstel. Jy kan dink wat jy wil van ’n boek, maar jy hoef nie alles te sê wat jy weet of dink, of dink jy weet nie. Die meeste mense floreer op komplimente, mits die komplimente eerlik is.
Wanneer ’n redaksielid van ’n tydskrif jou vra om net kortliks iets oor ’n paar kleuterboeke te skryf, moenie ’n lang, substansiële stuk skryf wat die belangrikheid van kleuterboeke beklemtoon nie. Skryf wat gevra word. En skryf dan elders ’n artikel oor daardie kleuterboeke. Wie die kleine nie eer nie, is die grote nie werd nie.
As ’n boek se onderwerp, tema of gedeeltes van die inhoud jou nie aanstaan nie, kan jy eerder die boek na iemand anders toe laat gaan vir resensering as om ’n negatiewe resensie te skryf.
As ’n koerantredakteur vir jou sê resensies vir kinderboeke moet op die vlak van en in die taal van kinders (sic!) in graad 10 geskryf word – want hy weet hoe kinders praat en hy weet hoe kinderboeke werk – skryf maar die resensie soos hy dit vir die spesifieke koerant wil hê. Maar gaan skryf dan ’n artikel waarin daardie boeke tot hulle reg kan kom en die skrywer en illustreerder die erkenning kan kry wat hulle toekom.
Probeer om sowel bekende as minder bekende skrywers, ook nuwelinge, se werk te resenseer. Afrikaans het sowel die reeds suksesvolle skrywers se werk as die nuwelinge se werk nodig.
Wanneer jy spesifiek kleuter-, kinder- en jeugboeke moet resenseer, benut dit as ’n geleentheid, al is dit hoe gering, om hierdie vertakkings van die letterkunde te bevorder – ter wille van die lesers vir wie die boeke in die eerste plek bedoel is, maar ook ter wille van die groter sisteem.
Omdat die wye spektrum terreine van kleuter- kinder- en jeugliteratuur op alle maniere moontlik uitgebou moet word, moet daar plek wees vir talle soorte resensies. Probeer die vakterrein op soveel wyses moontlik bevorder deur resensies vir verskillende soorte publikasies te skryf – vir sosiale media, vir tydskrifte en koerante en vir vaktydskrifte. Die aard van die resensies – oor presies dieselfde boek – sal grootliks verskil, maar vir almal en alles is daar ruimte. Uit die verskeidenheid kan bydraes na vore kom wat Afrikaanse kleuter-, kinder- en jeugliteratuur ’n al sterker plek in die wêreld van die Afrikaanse, Suid-Afrikaanse en internasionale letterkundes laat help ontwikkel.
Lees ook:
Beginnerskrywer gebruik resensies as "bomme" teen haar mededingers
Bekgeveg oor resensies: Aardbewing in ’n miershoop of tydige waarskuwing?
Willie Burger oor boekresensies, beïnvloeders en die boekebedryf
Kommentaar
Dankie, Betsie, vir hierdie waardevolle invalshoek!
Dankie hiervoor! Waardevolle wenke oor die skryf van resensies. Ek stem veral hiermee saam: "Wanneer jy spesifiek kleuter-, kinder- en jeugboeke moet resenseer, benut dit as ’n geleentheid, al is dit hoe gering, om hierdie vertakkings van die letterkunde te bevorder – ter wille van die lesers vir wie die boeke in die eerste plek bedoel is, maar ook ter wille van die groter sisteem."