Reisskets: Met kapmes en galblaas

  • 0

Swaziland

Swaziland se vlag

Die bruid steek die kapmes stewig in die middel van die beeskraal. Trane van vreugde loop oor Anna se wange. Ná dertig jaar het sy die grond gebreek in Napoleon se kraal. Die kapmes is tradisioneel ’n werktuig, onontbeerlik vir die vlytige vrou. Met die mes sê sy: Ek het gekom om te bly tot die dood ons skei; die houthandvatsel ’n teken van lewe. Die ysterlem ’n simbool van die dood.

Mense juig en jodel, klink bottels bier druppend uit die ysbaddens. Sappige stukkies bees word van die vuur af bedien, die vet spat in die poeierstof van Swaziland se laeveld. Drie dekades ná hul troue in ’n kerkie in Lesotho, kry die bruid haar dag.

Ek het Anna enkele weke voor die troue ontmoet en is summier na die grootste dag in haar lewe uitgenooi. Anna, ’n onderwyseres, en Napoleon,’n ingenieur, was albei in hul vroeë vyftigs. Hul kinders was reeds op universiteit. Immer nuuskierig, vra ek: Waarom ’n tradisonele troue ná soveel jaar? Napoleon verduidelik. Hulle was in Lesotho en hul familie kon nie daar wees nie. Hy moes nogtans lobola vir Anna betaal, vyftien beeste, voordat hulle kon trou. Daardie dag het hulle ’n belofte gemaak. Eendag sou hul ’n Swazi-troue hê; eendag wanneer Anna die ekwiwalente waarde van daardie vyftien beeste se lobola vir Napoleon se familie kon gee. Alleenlik dán, mag die tradisionele troue plaasvind. En dis waaroor alles vir enige Swazi–bruid gaan ─ die tradisonele plegtigheid waar sy amptelik haar pa se kraal vir haar man se kraal verlaat.

Anna en Napoleon woon in Mbabane, maar die troue is honderde kilometer daarvandaan by Napoleon se tuiskraal. Al loop jou pad ook in die groot stad, huis blý die kraal van jou voorvaders. ’n Paar dae voor die groot dag, vra ek aanwysings. Versigtig vis ek oor ’n trougeskenk. Gee bruilofgaste vir die bruidspaar ’n geskenk soos in die Westerse tradisie? Gesien die uitstaande lobola, moet ’n mens ’n geskenk vir Napoleon se familie gee? Anna huiwer nie ’n oomblik nie: “Jy kan vir my ’n bankrekening oopmaak.”

Die bruid, haar gevolg en uitgebreide familie kamp langs ’n droë rivierloop, skaars tweehonderd meter van die bruidegom se kraal af. En ja, die bruidspaar mag mekaar nie gedurende dié tyd sien nie. Die troue duur drie dae, maar gedagtig aan die ongemaklike uitstaande saak van ’n bankrekening, woon ons net die derde dag by. Beter dat daar nie tyd vir lang gesprekke is nie, besluit ons. Ons ry vroegoggend op dag drie uit Mbabane en laai dosyne vars broodrolletjies en ’n verskeidenheid konfyte by die groot mangoboom in Napoleon se kraal af. Ons stap met die voetpad na die rivier met ’n persoonlike geskenkie vir die bruid. Ek druk ’n koevert met kontant in haar hand en gee pad na die vuur waar die beesvet oor die oop vlamme sis.

En toe begin ons partytjie hou. Napoleon was ’n vrygewige bruidegom. Hy het nie een bees nie, maar twee gestuur, vertel Anna se vriendin. Die reuk van geskroeide bees hang in die lug. Die mans kuier om die vure en onder die skadubome met bier en vleis. Ons word gulhartig by die feestelikhede ingetrek en word happie vir happie sappige vleisies van die vuur af gevoer.

Toe die son reg van bo begin brand, begin Anna se gevolg om haar skarrel. Almal staan nader toe ’n ou man skuifel-skuifel aangedans kom met, wat ons later sou uitvind, ’n bees se galblaas. Hy druk die geelbruin vloeistof oor Anna se gesig, oor haar regterarm en -been. Die familie skreeu en jil terwyl Anna lustig ronddans. Nou sal sy sterk en gelukkig wees, verduidelik ’n vriendelike neef.

Die galblaas, kroonjuweel van die bruid se hooftooisel word vasgesteek (Foto: Johan Opperman)

Ons word na Napoleon se kraal aangejaag. Ook daar kry ons stukkies vleis uit die vlamme en ’n koue bier uit ’n groot drom yswater. ’n Groepie vroue in swart geplooide rompe met eenderse blou en wit doeke om die skouers, bring borde vol rys en vars gesnyde tamaties. Ons kan regtig net nie meer eet nie, maar die dromme red ons. Oorverdowend word die skare tot stillstand gedwing. Almal storm vir ’n goeie uitsig. Die bruid en haar gevolg kom! Die dromme word mal toe twee jong meisies met swaar wielietjietasse tussen die bosse te voorskyn kom. Anna se lobola word afgelewer.

Lobola in 21ste eeu (Foto: Johan Opperman)

Dans-dans volg eers die jong manne; daarna die ouer mans met lendedoeke en velvoorskote. Lang stringe krale swaai ritmies om die swetende lywe. Dan verskyn die eerste bruidsmeisie in haar rooi, wit en swart doek met die Swazi-embleem. ’n Tweede en derde bruidsmeisie in rooi, wit en swart stap uit die bosse. Anna loop gebukkend, toegewikkel in ’n dik kombers. Haar gevolg steek haar speels-aggressief weg tot die prosessie in die middel van die kraal is. Die kombers word afgegooi en Anna staan in al haar prag ten aanskoue van die huweliksgaste. Ten spyte van die hitte dra sy ’n handgemaakte sjaal van dertig beessterte. Haar hooftooisel van swart volstruisvere wieg sag in die windlose somersmiddag.

Later toe Anna en Napoleon die kraalvloer met hul eerste dans open, val iets in die stof. Die strooimeisies hardloop vervaard nader. Dis die galblaas! Die kroonjuweel van die tiara het losgekom. Die skare kreun; die lusiba is ’n teken dat Anna se lank-oorlede pa toestemming gegee het dat sy dogter die kraal mag verlaat. Maar gou-gou word die galblaas weer met ’n ekstra paar haarnaalde aan Anna se haarnet vasgespeld. Die fees kan voortgaan!

Dansgroepe van die twee families daag mekaar in die stof van die beeskraal uit. Mense lag, klap hande, moedig aan en uiteindelik lei Napoleon Anna die stofkring binne. Hulle dans soos jong verliefdes, beloof met hul passies en lywe liefde en toewyding. Ek hou Napoleon dop. Sweet stroom hom af, maar sy oë bly op Anna. Sy bly die liefde van sy lewe, bieg hy later. Sy het gewerk sodat hy universiteit toe kon gaan en hom vyf kinders gegee. Dit is haar dag. Ek kyk na die baie jong meisies met die ferm liggame. ’n Tweede vrou? vra ek meegevoer deur die bier en die dromme. Nee, Anna is die enigste vir hom, sê hy as hy haar hand neem en hul doodmoeg in die stof gaan sit.

Die bruidspaar vat ’n ruskans (Foto: Johan Opperman))

Ons kuier tot laat. Die kindertjies slaap op karosse, die dansers is pootuiten die kos is op. ’n Jong man kom vra of hy met my dogter kan trou. Hy wag nie vir ’n antwoord nie en vertel dat hy ’n paspoort nodig het om in Suid-Afrika te studeer. Hy lyk verergd dat ek nie ’n dogter het nie. Iemand anders kom vra werk. ’n Groepie tienerseuns wat ’n bal rondskop vra of Johan nie hul sokkerspan wil borg nie.

Toe weet ons, ons beter ons ry kry, Die groot dag is verby. Die partytjie is klaar. Die lewe gaan aan; net te veel verwagtinge klop aan ons deur.

Lees ook:

Reisskets: Arme Eva

Reisskets: 'n Meer wat wegraak

Gekamoefleer teen die lewe

Reisskets: Biker-biskop in die Afrikabos

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top