Reading for comprehension deur Michael le Cordeur: ’n onderhoud

  • 0

Foto van Michael le Cordeur: verskaf; prent van boekomslag: Naledi

Reading for comprehension
Michael le Cordeur
Naledi
ISBN:  9781067234515

........
Ons almal wil hê ons kinders moet beter lees, maar niemand weet wat om te doen nie.
........

Michael le Cordeur praat met Naomi Meyer oor leesbegrip – en oor Michael se boek Reading for comprehension, wat onlangs by Naledi verskyn het.

Michael, baie geluk met die boek Reading for comprehension. Jy het jarelange agtergrond in Opvoedkunde. Waar sien jy die meeste behoefte vir ’n boek soos hierdie een – in die klaskamer, of onder studente, of in die algemeen – iewers anders?

Baie dankie vir die gelukwensinge. Dit was twee jaar se harde werk. In hoofstuk een haal ek my kollega, Jonathan Jansen, aan wat sê: “Studente kom universiteit toe sonder dat hulle oor die vaardigheid beskik om op die vlak te lees wat van hulle verwag word.” Hierdie tendens kom op alle vlakke van ons samelewing voor. Die behoefte vir ’n boek soos hierdie een bestaan dus in die eerste plek in die ouerhuis, omdat ek in hoofstuk een reeds vir ouers leiding gee waarvoor hulle moet uitkyk om te weet of hul kind ’n leesprobleem het al dan nie. Dan is dit ’n noodsaaklike instrument van die onderwyser in die klaskamer. Ons almal wil hê ons kinders moet beter lees, maar niemand weet wat om te doen nie. Die boek bied nuttige strategieë vir ouer en onderwyser, asook vir onderwyser-opvoeders wat onderwysstudente moet afrig om te gaan skoolhou.

Waarom dink jy is dit belangrik om met begrip te kan lees?

Die boek beklemtoon dat lees die vaardigheid is waarvan alle ander kennisvaardighede afhanklik is. Tog is die lae vlak van lees onder alle Suid-Afrikaanse leerders ’n groot bron van kommer. Volgens die 2021 Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) kan 81% van ons leerders in Graad 4 nie op die vereiste geletterdheidsvlak lees nie en het hulle geen begrip van wat hulle lees nie. As ons wil hê dat kinders die inhoud van die vak moet bemeester, moet ons hulle help om met begrip te lees. Dit geld vir alle vakke.

Hoe leer mens vir ’n kind, wat verslaaf is aan ’n skerm, dit aan om met begrip te lees? Is dit moontlik? Is dit nie ’n verlore saak nie? Ons lees voortdurend in die media dat kinders in hierdie land nie met begrip kan lees nie. Sal die boek kan help met raad en oplossings?

........
Ons leef in ’n digitale tyd. Terselfdertyd: Ja, dit is moontlik. Die boek beklemtoon juis dat elke kind gehelp kan word (tensy dit biologiese probleme is), indien hulle betyds hulp ontvang.
........

Ons leef in ’n digitale tyd. Terselfdertyd: Ja, dit is moontlik. Die boek beklemtoon juis dat elke kind gehelp kan word (tensy dit biologiese probleme is), indien hulle betyds hulp ontvang. Ouers is die rede waarom ’n kind verslaaf is aan ’n TV-skerm. Dis hulle wat die TV aanskakel sodat hulle tog net “rus vir hulle siel kan kry” en dit is hulle wat versuim om die TV af te skakel en vir hul kind saans ’n storie te lees (want dis mos baie lekkerder om na die sepies te kyk – soms saam met die kinders). In hierdie boek bied navorsers van die Universiteit Stellenbosch en WITS-Universiteit oplossings en leiding aan onderwysers, onderwyser-opvoeders en onderwysstudente oor hoe om leesprobleme en leesuitdagings te hanteer.

........
Ouers is die rede waarom ’n kind verslaaf is aan ’n TV-skerm. Dis hulle wat die TV aanskakel sodat hulle tog net “rus vir hulle siel kan kry” en dit is hulle wat versuim om die TV af te skakel en vir hul kind saans ’n storie te lees (want dis mos baie lekkerder om na die sepies te kyk – soms saam met die kinders).
........

Wat van grootmense – nog moeiliker! Hulle is gewoond daaraan om ’n ding op ’n sekere manier te doen. Hoe kan hulle dit aanleer om met begrip te lees? Gaan die boek ook vir die volwassenes kan help? 

Ja, wat vir kinders geld, geld ook vir volwassenes. Ook hulle moet soms die TV afskakel en ’n boek optel en lees. Voor my bed lê daar konstant drie boeke: ’n roman, ’n digbundel en ’n feitelike boek, soos die kweek van krisante, my stokperdjie. Baie volwassenes kan nie saans slaap nie. Dis dan dat ek ’n boek vat en lees ... Per slot van rekening is jy ’n rolmodel vir jou kinders. Kinders doen wat ouers doen. Kyk gerus na my artikel hieroor:

Le Cordeur, MLA. 2012. Taalonderwysers (en ouers) as lesers van kinderliteratuur en hoe dit leerders se ingesteldheid teenoor lees kan beïnvloed. Tydskrif vir Taalonderrig, 46(1):139–58.

Wie is die mense wat saam met jou aan die boek geskryf het?

Dit is almal akademici aan die Opvoedkunde-fakulteit van die US en op een uitsondering na almal magister- en doktorale studente vir wie ek as studieleier opgetree het. Elkeen van die 10 hoofstukke handel oor ’n onderafdeling van die leesproses, byvoorbeeld die identifisering van leesprobleme (M le Cordeur); die skep van ’n leeskultuur (M Nieuwoudt); lees in die grondslagfase (Z Barends); lees in die intermediêre fase (M Messina); lees in die algemene onderwysfase (J Gerber); lees in die VOO-fase (A Schultz); lees in die Wiskunde-klas (L Tshuma); en lees in die multikulturele klas (M Basson en J Nel). Ek sluit af met ’n hoofstuk wat alle onderwysers aanmoedig om ook leesonderwysers te wees.

Dis nou amper eksamentyd. Sal dit help om die boek op hierdie laat stadium aan te skaf? Anders gestel: Gestel jy is ’n ouer en jou kind sukkel in die skool. Sal dit sinvol wees om die boek te gaan koop en saam met jou kind na sy vrae te kyk as hy voorberei vir die eksamen?

........
Die boek sal beslis kinders help met eksamens.
........

Die boek sal beslis kinders help met eksamens. Die boek wil ouers en onderwysers help om alle kinders vanaf die grondslagfase ’n nuwe rigting in te slaan sodat almal nuut na die proses van lees sal kyk. Jansen is dit eens dat die boek ’n moet is vir alle onderwysers van lees, aangesien dit leerders se leesbegrip sal verbeter, wat weer tot akademiese sukses sal lei.

Het jy enige ander wenke wat jy met ouers of algemene lesers wil deel?

Soos reeds gesê: Lees saans vir jou kind ’n storie. Raadpleeg die SBA (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) se webwerf. Daar is pragtige leesboekies wat gratis afgelaai kan word. En koop asseblief die boek deur by die uitgewer te bestel. Elke onderwyser en elke skoolbiblioteek moet oor so ’n boek beskik.

Sien die skakel hier onder.

https://naledi.co.za/product/reading-for-comprehension/

Lees ook:

Top matriekuitslae ≠ beste onderwysstelsel

Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae

Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering

VVA-Leeskonferensie: "Elke kind wil lees"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top