RE:

  • 0

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Ek erken hiermee ontvangs van die kurrikulumuitleg, handboeke en leesboeke. Soos u versoek het, sal ek weekliks verslag doen oor haar vordering met taalvaardighede, kuns-en-kultuur-opdragte en wiskunde. Verder sal ek ook laat weet oor haar gesondheid en algemene gemoedstoestande.

Na ons vorige gesprek in u kantoor oor my bevoegdheid om tuisonderrig vir Anna te gee, wil ek sommer nou al laat weet hoe dit met haar gaan. Ons het onlangs al leesboekies verbrand en om die vuur gedans uit pure vreugde en die bevrydende besef dat sy nooit weer sulke twak hoef te lees nie. Susan kry ’n nuwe pop. Regtig? Hier is ’n voorstel vir ’n meer relevante verhaal. Susan kry nuwe hoop vir die lewe na sy gediagnoseer is met Atrial Septal Defect. Ek lees daagliks vir haar voor uit Cormac McCarthy se The road. Heel gepas vir ’n pa se stryd om vir ’n kind ’n beter lewe te probeer gee. Sedertien skryf Anna haar eie stories, en haar vaardigheid itv storielynvorming en karakterisering is noemenswaardig. Kuns-en-kultuur-begrippe is nog in die beginstadium aangesien daar geen sulke begrippe in die vyf jaar wat sy in u skool was, gevestig is nie. Die “kuns” in u kantoor (aka selfhelp-printouts van Pinterest af) dui op die onderwysdepartement se kollektiewe beskouing van wat “kreatief” is. Haar wiskunde het dramaties verbeter en sy tel al soos ’n droom. Vandag is ons al by 34 – heel toevallig die aantal dae wat ek haar al tuis onderrig. Dit is ook die aantal dae wat haar “maatjies” anderpad kyk as sy nader kom.

Groete

John

 

Re: Project icecream

John, I need an extra 5k tonight or the deal is off. Don't fuck around, 'cause I don't.

Mister X

 

RE: Anna peetouers

Yebo

Ek weet actually nie hoe om dankie te sê vir julle bereidwilligheid om Anna se peetouers te wees nie. Dis moerse lekker om te weet jou eie broer is up for it. Na Deirdre se dood het ek ’n paar klippe laat val en een hiervan is om te verseker dat Anna oukei gaan wees indien iets voorval. Ughh! Klink aaklig om dit so te sê, maar you know what I mean. Aangeheg is al die docs vir die lewensversekering stuff. Jy moet net teken en terugstuur. Jammer vir die admin.

Ek skuld jou ’n bottel Jack.

Lekker

John

 

RE: Project icecream

Mister X

The agreement was that you get everything sorted for the 15k cash I gave you last week. If this doesn't go through, rest assured that I will spill all the beans and track you down. This is about my kid. So please get this sorted asap.

John

 

My allerliefste, Deirdre

Dit is so verfrissend om ’n brief te kan skryf en alles uit te blaker. Verskoon maar as dit jou swaarmoedig maak daar op die ander plek in die heelal. Dinge is maar net heavy.

Ons mis jou. Ek en Anna speel gereeld jou gunstelingmusiekstuk: Tchaikovsky se “Dance of the Sugar Plum Fairy.” Sy trek haar balletrokkie aan en ek buig laag, neem haar hand en dan is ons op ’n groot verhoog. Sy raak so gou moeg dat ons bykans na elke draai gou ’n break moet vat vir ’n bietjie asemskep.

Die dokter sê daar is ’n 90%-kans dat dit hierdie keer gaan werk. Die chirurg wat laasjaar die botch job gedoen het, die een met die mooi hemde en spikey hare … hy was bloot oneerlik. G'n mention van die risiko's nie. Ek het elke liewe sent wat ek gehad het, vir hom gegee. En by almal geld geleen. Ons pensioen is in sy sak. Ek mis jou kalm hand op my skouer. Jy sou geweet het wat om te doen.

Soos ek hier sit en skryf, hoor ek hoe swaar sy asemhaal. Ons leef maar van two-minute noodles en tuna. So nou en dan is daar geld vir bacon en eggs en ’n bier vir my.

Ek is verskriklik lief vir jou en wanneer Anna vra wat met ’n mens se siel gebeur na jou lyf dood is, dan tel ek haar op my skoot en begin maar neurie. Liefde kan ’n leemte vul, maar nie ’n gat in ’n kind se hart toestop nie. Die operasie is oor ’n paar weke. Ek is bang. So, so bang. Met wie gaan ek dans as die operasie uitfok?

John

 

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Dit gaan baie goed met Anna. Sy is steeds moeg, maar ons streng akademiese roetine hou haar aan die gang.

Ons dae begin douvoordag om nege-uur. Sy kom by my kamer in en slaan my met ’n kussing oor my kop en spring op die bed. Iets wat ons beide weet totaal en al aanvaarbaar is in ons huishouding. Dan volg die hersiening van belangrike lewenskeuses. Rwandese koffiebone moet altyd growwer gemaal word as Ethiopiese bone. Hierna volg dagbeplanning en droomuitleg. Leuens en verdraaiing van werklike drome van die vorige aand word aangemoedig vir die doel van absurditeit en karakterontwikkeling.

Elke les word noukeurig nagesien en punte word gegee vir vordering. Swak storielyne en herhaling van vorige drome word swaar gestraf met drie bladsye se dramatiese voordrag uit Graeme Smith se biografie. En ons werk ook pret by die strafproses in, byvoorbeeld: Elke keer wanneer die woord “bat” of “batting” verskyn, moet daar met gepaste klanke die swiervlug van ’n vlermuis uitgebeeld word.

Gebruik gerus hierdie werkswyse in u skool. Dit sal uitnemendheid verseker.

Groete

John

 

RE: John Testament vir Anna

Beste Ma en Pa

Dankie vir die teken van hierdie dokument. Julle is reg, dit is vreemd dat ek nie iets agtergelaat het vir Kobus nie. Hy is my broer, maar hulle het nie plek op hulle erf vir ’n 1998 Toyota Corolla met ’n uitlaatpyp wat meer rook as ’n staalfabriek nie. Die kar is max R15k werd en dit gaan direk na Anna se universiteitsfonds toe. Sy kry al my boeke, maar die selfhelpgoed wat tannie Sonja vir my elke jaar vir Kersfees gee en dan kom kyk of ek dit op my boekrak het, moet asb in die donkerste hoek van die aardbol opgeskeur en vertrap word. Verder kry sy maar goed soos die printer en die art deco bank in die sitkamer. O ja, Deirdre se trourok en haar trouring gaan na Kobus toe tot sy 18 is.

John

 

RE: Project icecream

John

We are good to go. But need the 5k. We got a guy in the office that needs to do the final clearance. He usually charges 10k to do the job. So count yourself lucky. You have until tonight to do this. Btw, should you decide to track me down or fucking open your mouth on anything … I know where you live. And I also know more about you than you think.

Mister X

 

RE: Bredell Property Management

Geagte meneer Bredell

Ek vra verskoning dat ek nog nie die huurkontrak vir volgende jaar vir u gestuur het nie. Weens persoonlike omstandighede gaan ek dit ongelukkig moet kanselleer. Die kontrak bepaal dat sou ek minder as twee maande kennisgewing gee, ek die helfte van die deposito verloor. Sal u asseblief so gaaf wees om die oorblywende R8 000 aan my terug te betaal? Moenie worry oor die rente nie. Wanneer sal u hierdie kan uitsorteer?

John

 

My allerliefste, Deirdre

Ons was vandag weer by die dokter. Hy sê Anna verswak redelik drasties. Die bloed wat nie suurstofryk is nie, kies blykbaar kortpad en meng met die ander bloed wat wel suurstof het. Haar voete is daagliks meer geswel en haar konsentrasie hou nie langer as vyftien minute nie.

Op ’n ander noot: Daai pienk fiets wat jy vir haar op haar vierde verjaarsdag gekoop het, het gister weer ’n bietjie die buitelug gesien. Ons het maar die kantwieletjies weer vasgesit en interessante outfits gekies vir die tog deur die woonbuurt. Victorian top hat en ’n geborduurde sambreel. Als vir R200 by die Crazy Store. Sy is ’n natural met die Britse aksent. Ek het gesê: “Dear Anna, would you be so kind as to accompany me to my abode for an afternoon cup of tea?” Sy het van haar fiets afgeklim en gecurtsy: “John, I will be delighted to join you. Shall we go horseriding in the afternoon?”

Anyway. Ons mis jou baie en ek is verskriklik bang. Nie net oor die operasie nie.

 

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Ek volg net op aangaande die versoek om die R2 350 skoolfonds wat my nog verskuldig is. Net weer in kort: Anna se laaste maand by die skool voor sy siek geword het, was in Mei en ek het aan die begin van die jaar betaal tot Junie. Wanneer sal hierdie vereffen word?

 

RE: Project icecream

John

I got the money, thanx. All clear. I will SMS you the login details and the name you must use for all admin. If you do not send the email on the date and time we agreed on, you will die.

Mister X

 

RE: Anna peetouers

Ahoi, Brother

Ma sê julle gaan binnekort weg vir twee weke. Is daar nie dalk ’n kans dat julle net kan uitstel met ’n week nie? Ek hou ’n groot party vir wanneer Anna uit die hospitaal kom en ek wil baie graag hê julle daar moet wees. Asseblief, man. Doen dit vir haar.

Ns. Ek verskaf bier.

 

RE: John Testament vir Anna

Beste Ma en Pa

Sorry ek mail nou, my foon is nie lekker nie.

Ek en Anna mis julle baie. Kan ons nie dalk sommer vanaand gou ’n draai maak so 19:00 se kant nie, dan eet ons iets? Gaan nie ’n draai by die winkel kan maak nie, maar ek nooi julle sommer nou al vir die party wat ek hou vir Anna as sy uit die hospitaal uit kom.

Laat weet gerus!

Ns. Anna is mal oor steak.

 

My allerliefste, Deirdre

Ek kan nie meer nie. Het die week ons flat begin oppak en ek het gister op die vloer gaan lê en huil. Slaap al vir sewe ure straight. Ek het ook vir my broer en my ouers gejok. Daar sal nie ’n party wees nie, want ek het nie eens meer ’n flat dan nie. As jy hier was, sou jy net daai mondhoeke van jou getrek het en gesê het ek moet chill want alles is vir ons dogter.

Ek is in diep moeilikheid, lief. Oor ’n week val alles uitmekaar. Behalwe Anna. Sy begin ’n nuwe lewe. Op alle fronte. Ek was nog nooit so gefokus nie. Stuur emails en vul vorms in om seker te maak alles is reg vir als wat na die operasie gaan gebeur.

Lief, ek is so so bang. Ek is bang hulle slaan my. Ek is bang Anna cope nie. Ek is bang almal verwerp my. Hulle gaan my slaan, Lief. En alles net vir ’n kind met ’n gat in haar hart.

Al wat ek eintlik wil doen is om ’n roomys saam met haar op die strand te eet. Net nog een laaste keer na sy uit die hospitaal kom. Ek twyfel of dit gaan gebeur. Ek wil saam met haar stap op die strand, en dan miskien as sy al krag het, saam met haar in die vlak water staan en spring en skree as ’n brander ons vang.

Nog twee, drie dae voor sy onder die ligte gaan lê en lomerig raak van die narkose.

Ek is bang, Lief. Bang vir alles.

Roomys saam met Anna. Dis al wat ek wil hê.

 

Out of office: John Verwey

To whom it may concern

I will be unavailable until further notice.

Regards

John

 

Deirdre

Anna is gesond!

Ek kan nie nou lank skryf nie. Sy het weer haar arms om my nek gegooi en onbedaarlik gehuil. Nog slaperig. Sy lyk al hoe meer soos jy.

My liefste, liefste mens. Hoe lyk dit in die hemel? Dink jy daar is ’n plek vir my?

 

RE: Pa en Ma

Ek is jammer oor als.

Dit is nie julle skuld nie.

Ek is baie lief vir julle. Kyk asb mooi na Anna.

 

RE: Anna peetouers

Brother

Ek is jammer oor alles.

Jy hoef my nie te vergewe nie. Kyk mooi na haar. Vat haar vir ’n roomys op die strand as jy kans kry. Sien jou wanneer ek jou sien.

 

Dokter Carr

Ek het onlangs baie e-posse geskryf, maar hierdie een doen ek met die hand. Sonder jou hande sou Anna nie vanoggend haar arms om my nek gegooi het en daarop aangedring het dat ons Muizenbergstrand toe gaan nie. Sy is tans by my broer. Die uitstappie sal ’n paar jaar moet wag.

Dit sal my tot op my sterwensbed toe pla dat ek nie die moed het om jou in die oë te kyk en te sê wat ek lankal moes nie. ’n Stranduitstappie kos sowat ’n R100 en die operasie wat u gedoen het om my kind aan die lewe te hou, min of meer twee honderd keer soveel. Ek het by jou gesteel. Dit is verskriklik. Ek het dit beplan en dit is nog erger. Wat die ergste is, is dat ek jou verraai het vir ’n draairoomys.

Ek is jammer. En sal vir nog baie jare wees.

 

Anna Verwey: Mediese fonds no: CB89453

Geagte meneer Cremer

My foon is al vir ’n paar dae af. Ek is seker u sal verstaan.

My naam is nie Steven McDonald nie en my dogter se naam is nie Deirdre nie.

Hiermee verklaar ek, John Verwey, dat, weens die hulp van die veragtelikste man op aarde, my dogter binnekort weer netbal sal kan speel sonder dat die opposisie vir haar lag as sy op die veld gaan sit en hyg.

Ek stel dit hier op skrif dat ek nie enige persone se name sal noem of betrek by my bedrog nie.

Ek neem volle verantwoordelikheid hiervoor.

Indien jy ooit tyd in jou besige skedule het om mense uit te buit wat jou twee Ferrari's befonds (ja, ek het hierdie gegoogle), vat jou dogter wat dieselfde ouderdom as Anna is (google), vir roomys op die strand. ’n Hart hou nie vir ewig nie.

Jy hoef nie te worry oor saaknommers nie.

Ek is op pad polisiestasie toe.

John

 

Lees ’n kort onderhoud met Wilken Calitz oor “RE:” hier:

Korona-kortverhaalfees: Wilken Calitz oor "RE:"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top