Korona-kortverhaalfees: Wilken Calitz oor "RE:"

  • 0

Wilken, vertel asseblief hoe jy aan hierdie verhaal gekom het en waar jy was toe jy dit geskryf het.

Ek het so ’n paar maande gelede met ’n hartchirurg gesels en hy vertel my van ’n ma wat haar kind na hom toe gebring het vir ’n operasie. Die seuntjie was op sy einde en hierdie dokter was hul laaste uitweg. Na al die mediesefondsadministrasie afgehandel is, is die operasie gedoen en die kind het herstel.

’n Maand of wat later besoek die ma weer die dokter. Sy gaan sit voor hom en sê: “Dokter, ek is nou gereed om tronk toe te gaan want ek het nie ’n mediese fonds nie; al die papierwerk is vervals.” Die dokter was so oorweldig deur die liefde wat sy vir haar kind gehad het dat hy die hele ding net laat vaar het. Ek het self ’n dogtertjie en sal sonder twyfel dieselfde doen as sy nou moes siek word.

Ek het direk na die gesprek met die dokter gaan sit en die verhaal neergepen, maar uit die oogpunt van ’n pa en ’n dogter. My woonstel in Wynberg, waar ek sit en werk, kyk uit oor die rugkant van Tafelberg en is 200 meter van die plaaslike polisiestasie af. Tydens die skryf het ek heeltyd geskrik as ek polisiesirenes hoor!

Het jy die verskillende “boodskappe” of stemme apart geskryf en agterna in die verhaal byeengebring, of het alles in die volgorde gebeur soos wat dit in die verhaal verskyn?

Ek het nie enige ander inligting oor die dokter se storie nie. Dit is soms ’n goeie ding om net die basics te weet. Ek moes dus gaan dink aan hoe om ’n logiese en interessantste verloop van gebeure te skep. As ’n ouer weet hy gaan moontlik tronk toe oor ’n maand of twee, is daar ’n magdom dinge wat in plek moet val: Wie kyk na jou kind? Wat gebeur met jou eiendom, jou kar en jou werk?

“RE:” is basies ’n klomp back-and-forth e-posse tussen al die rolspelers wat hy betrek om sy plan te laat slaag. Mister X is ’n bedenklike figuur uit die onderwêreld wat die mediese fonds se vervalsing behartig. Hulle dreig mekaar heeltyd en die stemtoon in hierdie e-posse is kras en gepas vir die scenario’s. As hy met sy broer korrespondeer is dit weer ontspanne en “Ahoi, brother,”-tipe taalgebruik. Met die dokter is die taalregister weer formeel.

Die volgorde waarin die gebeure geskied en die e-posse gestuur en ontvang word, het redelik maklik in plek geval. Wat wel moeilik was, was om die plot line so op te stel dat die leser heeltyd wonder wat volgende gaan gebeur. Ek dink die rol van ’n skrywer is om ’n deurdagtige skattejag te beplan. Elke brokkie inligting is ’n leidraad en die laaste skat (laaste sin of woord) moet jou katswink slaan.

Jou romandebuut Swart swaan het vanjaar by Penguin verskyn, net toe die nasionale inperkingsmaatreëls ingestel is. Het die pandemie en gevolglike inperking jou pret as skrywer bederf?

Vreemd genoeg, het die kieme se manewales my ’n goeie skeut skryfpret besorg. Voor lockdown het ek van een show na ’n volgende gejaag en nooit tyd gehad om net te sit en lekker te skryf nie. Soos ek hier sit, is ek opgewonde om vanaand te begin timmer aan ’n nuwe toneelstuk. Niks jaag my nie en niks stres my uit nie.

Daar is egter ook ’n keersy tot inperking. Stories klop by mens aan terwyl jy besig is met alledaagse dinge: in die banktou wag, ’n bier drink in ’n restaurant, wanneer iemand jou beursie steel en weghardloop. Daai oomblikke wanneer iemand iets onverwags sê of doen, kwyn uit die aard van saak wanneer jy net in jou woonstel is vir maande aaneen. Ek dink ek is weer reg vir die rat race. Net vir so twee maande sodat ek ’n paar storie-idees kan gaps.

 

Lees Wilken Calitz se kortverhaal, “RE:”, hier:

RE:

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top