Prins deur Ryan Pedro: ’n resensie

  • 0

Prins deur Ryan Pedro (Kwela, 2025)

Titel: Prins
Skrywer: Ryan Pedro
Uitgewer: Kwela (2025)
ISBN: 9780795711169

 Van prinse en postures

Die titel van Ryan Pedro se jongste digbundel, Prins, roep allerlei assosiasies by my op. Belangriker is egter die wenk wat die skrywer die leser gee deur ’n aanhaling uit Die Prins, Niccolò Machiavelli se bekende politieke handleiding vir prinse uit die 16de eeu, as motto vir die bundel te gebruik.

Dié 16de-eeuse geskrif was beroemd én berug vanweë die vernuwende manier waarop dit geskryf is, in die volkstaal,  Italiaans, eerder as in Latyn, die wye verskeidenheid verwysings wat Machiavelli gebruik het om sy argumente te illustreer, en die kontroversiële manier waarop dit in konflik gekom het met die morele leringe van die Katolieke Kerk en ook met bestaande filosofiese en politieke tradisies.

........
Eerder as ’n handleiding is dit egter ’n poging om bepaalde vorme van manlikheid op te teken en te wys watter wêrelde van ervaring en emosie dit onderlê. 
........

Iets hiervan herken ’n mens in Pedro se gebruik van spreektaal, die spektrum van verwysings en die manier waarop dit ingaan teen tradisionele maniere van dink, hier veral oor manlikheid. Eerder as ’n handleiding is dit egter ’n poging om bepaalde vorme van manlikheid op te teken en te wys watter wêrelde van ervaring en emosie dit onderlê. Dit is veral die aanhaling uit Machiavelli wat ’n mens help om in dié rigting te dink: “Everyone sees what you appear to be, few experience what you really are.”

’n Ander belangrike aanhaling is dié uit die werk van die literatuursosioloog Jérôme Meizoz wat geskryf het oor die postuur (Engels posture) wat skrywers inneem deur die manier waarop hulle optree (hulle klere, haarstyl, toebehore, gebare, onderhoude, openbare voordragte) en deur wat hulle skryf. Die Meizoz-aanhaling wat Pedro as motto by afdeling 1 gebruik, verwys na die verskillende maniere waarop ’n skrywer so ’n postuur vir homself kan skep (“the notion of posture also shows the range of self-creation he can dispose of, which include inventive recurrences, hybridities, borrowings, not to mention parodies and reversals”) en hoe hy daardeur met bepaalde groepe kan identifiseer (“move from the individual act to the overall logic of groups”).

Dit is dan presies wat Pedro doen met die beelde van manlikheid wat hy in hierdie bundel ophaal: Hy leen, hy vermeng beelde met mekaar, keer hulle om en parodieer hulle ook. Die inset- of programgedig “[VOICE OVER] DIAMOND BOY” (die bundelopset herinner aan ’n draaiboekteks met al die gedigtitels in hoofletters) teken byvoorbeeld ’n beeld van manlikheid gehaal uit hip-hop en tree ook dadelik in gesprek met die Afrikaanse poësietradisie om aan te dui waar die digter staan. Eerder as om deel te wees van die Afrikaanse literêre wêreld oftewel “literary plantation” met sy voorkeur vir gedigte oor die geskiedenis en slawerny, identifiseer hy met die helde van hip-hop wat goue kettings dra en hulle tande met diamante versier (kyk ook na die gedig “[WARDROBE] GRILLZ”). Hy stel meer belang in goud as “literary merit” en wil ’n “kroonprins / van die underground” wees met ’n “lectric-boks” as sy troon (kyk ook na die woordspel rondom “throne” en “thrown”).

Daarom is die bundel opgedra aan “al die degenerates, hoodlums en bastards wat lurk in die wings van die throne room”. Hier hoor ’n mens ook Ronelda Kamfer se wegkeer van die literêre establishment om kontak te maak met ’n ander gehoor in bepaalde gedigte in Chinatown.

Nadenke oor die spreker se rol as digter duik meermale in die bundel op. In “INT. BADKAMER – WASBAK/MEDICINE CABINET – VROEGOGGEND” in afdeling 1 besef die spreker dat sy vermoë om met woorde te werk ’n kroon is wat nét nie gemaklik op hierdie prins se kop wil sit nie. Is hy ’n prediker, ’n spreker van halwe waarhede, ’n historikus of “perfect custodian van dié language / die literature” wonder hy in ’n poging om te weet: “wie is ék?”.

Ook in die vierde afdeling se “[FANTASY SCENE] SET IT OFF” verset die spreker hom – soos in die insetgedig – teen die literêre toneel waarvan hy deel uitmaak en maak hy dit duidelik dat hy ’n ander weg wil opgaan:

los die handshakes, die hugs, die smiles, die peace
los die 8 hours, die 8 glasses, die leafy greens, die therapy
los vir Fanon, vir Butler, vir Meizoz, vir Bakhtin
los hai Van Wyk Louw rewrites

jy’t te veel sauce
vir hai shit

skryf poems
vir baddies
nie vir critics nie. 

Die bundel bestaan uit vyf goed deurdagte afdelings wat elk op sy eie manier omgaan met konstruksies van manlikheid. Afdeling 1 gebruik beelde van manlikheid, gehaal uit TV-reekse soos The wire en The Sopranos. Op elke punt en in elke gedig word daar egter ook verby die model en stereotipe gekyk na wat daaragter lê. In “[CHARACTER] ’N MARLO STANFIELD TYPE” (’n toespeling op ’n karakter in The wire) rig die spreker hom tot die leser wat graag ’n agtergrondstorie van ’n koue ma, ’n dronk pa en die eggo’s van ’n stamboom vol geweld wil hoor. Sy uiteindelike beskuldiging is: “jy hou nie van ’n complex nigga nie, jy soek net ’n nigga met ’n kompleks.” Dit is ’n belangrike sleutel vir die lees van die bundel: Die beelde van manlikheid wat die digter hier aanbied, wil veral ons begrip van bepaalde vorme van manlikheid kompliseer en verwikkel.

........
Sy uiteindelike beskuldiging is: “jy hou nie van ’n complex nigga nie, jy soek net ’n nigga met ’n kompleks.” Dit is ’n belangrike sleutel vir die lees van die bundel: Die beelde van manlikheid wat die digter hier aanbied, wil veral ons begrip van bepaalde vorme van manlikheid kompliseer en verwikkel.
........

Die volgende afdeling vertel in twee terugflitsgedigte die verhaal van hoe die spreker se idees van manlikheid onder andere deur sy pa gevorm is (die afdeling begin dan ook met ’n motto wat na vaders verwys). Veral die tweede gedig, “[FLASHBACK] JESUS PIECE”, skakel op veelseggende wyse met die voorafgaande gedigte. Hier word vertel hoe pa en seun gaan inkopies doen en by die Spur eet terwyl sy ma ’n kerkdiens van Father Tjappies (’n prediker met sterk trekke van ’n rapper) bywoon. Die seun kyk in ’n tydskrif na foto’s van sy hip-hop-helde Kanye West en Jay Z, en veral laasgenoemde se “Jesus Piece”, ’n stuk juweliersware vol swart diamante wat Jesus uitbeeld. Sy pa kry tot groot ontsteltenis van sy ma vir hom die diamant-oorstuds wat hulle in die tydskrif sien. Gaandeweg word daar dus ’n prentjie geteken van hoe sekere modelle van manlikheid hulle neerslag vind in ’n identiteit en bou die bundel ’n netwerk van beelde (hier deur ’n terugverwysing na die “diamond boy” van die eerste gedig).

Die derde afdeling is gewy aan seuns, en aan hulle verhoudings met hulle pa’s en met hulle vriende. Daar is ’n gedig wat verwys na die “daddy issues” wat nie noodwendig “sexy / in niggas” is nie, maar tog aangespreek moet word in terapie. Die rol wat geweld in die vorming van manlikheid speel, tree na vore in “[PARTY SCENE] BOYZ INNIE HOOD” wat gaan oor ’n geveg tussen die spreker en ’n ander seun by ’n partytjie: Dis ’n soort inisiasierite waarin die opponent nie net vyand is nie, maar ook iets van ’n “brother” en ’n “lover”. “[FLASHBACK] ASHLEY” vertel op sy beurt die ontstellende verhaal van die brutale verhouding tussen die spreker se vriend Ashley en sy gewelddadige pa.

Die vierde afdeling keer weer terug na die assosiasie van manlikheid met geweld. Dié keer verwys die motto na ’n roman van David Diop waarin ’n karakter vra waarom sy fors en kragtige liggaam slegs met konflik, oorlog, geweld en die dood geassosieer word en nie ook met “peace, tranquility and calm” nie. “[WARDROBE] BALACLAVA” teken dan die beeld van ’n jongman wat vanweë sy voorkoms geassosieer word met geweld teenoor ander, maar eintlik nog besig is om te leer hoe “om fearless te klink / in die taal van / die wind / hoe om nie / te huil / al om die hoeke / van die ruin wat ek / geword het nie”. Daar is dus dikwels ’n teenstrydigheid tussen die beeld wat die “prinse” in hierdie bundel na buite projekteer en hulle innerlike ervaring.

Die hoogtepunt van die bundel kom in die laaste afdeling. Daar is twee gedigte, die eerste in die vorm van ’n draaiboekteks, terwyl die tweede klink na die beskrywing van ’n video afgebreek in bepaalde onderdele, elk met ’n “timestamp” en “description” daarby. Die diep melankoliese toon van hierdie afdeling blyk uit die feit dat die eerste gedig verwys na hoe iemand op ’n skaatsplank val op die growwe oppervlak van ’n parkeerterrein oomblikke voor sonsopkoms, “nét voor die feral oggend gereed maak vir pounce”. Die sonsopkoms, die nuwe dag, tyd self maak dus soos ’n wildgeworde dier jag op hierdie figuur.

........
Dit word ’n liriese beeld van manlikheid waarin bravade (“hardste motherfuckers alive”), geweld en gevaar gekombineer is met ongelooflike weerloosheid, verdriet en melankolie oor die inspanning wat dit verg om staande te bly in ’n wêreld wat soveel teenstrydige rolle vir mans voorhou.
........

Die tweede gedig, “[SKATE PART] RIDING WITH DEATH: ’N PRINS PART”, is ’n lieflike, liriese beskrywing van Prins, nogeens op sy skaatsplank. Dit is asof die spreker – na die selfmoord van een vriend en die selfmoordpoging van ’n ander – homself probeer losskaats van die hede en terug na ’n gelukkiger verlede. Hy sê: “daar was ’n tyd / wat ons nie was nie / wat ons nie so worthless gevoel het nie”. Die volgende dele van die gedig beskryf dan die rit saam met die dood (“riding with death”) op sy skaatsplank; dit is ’n metaforiese rit waarin elke onderafdeling sinspeel op die oomblik “wanneer dié balancing act finally tot ’n einde kom”. Dit word ’n liriese beeld van manlikheid waarin bravade (“hardste motherfuckers alive”), geweld en gevaar gekombineer is met ongelooflike weerloosheid, verdriet en melankolie oor die inspanning wat dit verg om staande te bly in ’n wêreld wat soveel teenstrydige rolle vir mans voorhou. Die gedig eindig met ’n hervatting van die manlikheidstema en die vader-seun-verhouding wat in die bundel oorheers:

dead boys
ons issie
dead boys
die spitting image
van ons pa’s
gebore
om te sterwe
niks
om te
verloor
nie.

Hier wys Pedro ook, soos elders in die bundel, hoe subtiel hy met woord en beeld, met die afwisseling tussen kort afgekapte reëls en langer prosa-agtige reëls, met intense inlewing en ironiese afstand kan omgaan, ook hoe bruut en terselfdertyd teer hy kan skryf.

Ná hierdie hoogtepunt volg die bedankings waarmee bundels gewoonlik afsluit en eers dáárna die “[POST-CREDTS SCENE] I LOVE YOU SASHA GREY” wat tegelykertyd ’n liefdesbetuiging en noodkreet is, aan die geliefde gerig.

Prins is ’n bundel wat ’n leser soos ek (ou bewoner van die “literary plantation”) hard laat werk om die gapings in my kennis en ervaring te vul, wat my meermale laat voel ek glip en gly op oppervlakke wat ek net skramsweg ken. Terselfdertyd laat die bundel my vol bewondering vir die rou energie, die woordvaardigheid, die vormavontuur, die deurdagte konsep waarop dit gebou is en die merkwaardige insig wat dit bied in dit wat onder die maskers en postures van hierdie prinse verberg lê.

Lees ook:

Pienk Ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: Poësie oppie man af, broos en grensverskuiwend

Ryan Pedro se toespraak by die ontvangs van die 2021 UJ-debuutprys

Pienk ceramic-hondjies deur Ryan Pedro: ’n onderhoud

’n Transnasionale poëtika in Afrikaans: ’n onderhoud met Louise Viljoen

Postkoloniale melancholie in Ronelda S Kamfer se Hammie (2016)

Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top