Pienk ceramic-hondjies
Ryan Pedro
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795709869
Pienk ceramic-hondjies
Is dit ’n digter of ’n hip-hop artist? Is dit verse of verses? Hoekom kan dit nie albei wees nie?
Dit sou ’n netelige poging van enige iemand wees om die debuutbundel Pienk ceramic-hondjies in enige literêre boks te plaas. Uit die staanspoor maak die digter dit duidelik dat hy glad nie op soek is na enigiemand se aanvaarding of verstandhouding teenoor homself, sy mense en sy werk nie. Inteendeel, dié jong digter, Ryan Pedro, kom ingemarsjeer met al sy weerlose introspeksie, oorrompelende beeldvorming, en ’n djass beat wat druk op sy headphones.
Pienk ceramic-hondjies is op die oog af aangebied as ’n lens waardeur die digter sy lesers inlaat oor vraagstukke rondom coloured masculinity, kultuurkodes, familie, identiteit, ras en klas. ’n Lens wat nog nie vantevore op só ’n manier aangebied was nie, deurdat die digter met die byvoeging en interteksualiteit van (hip-hop) songs, ink op papier inspan nie net om sy praatverse te laat leef nie, maar ook om sodoende ’n sensoriese ervaring te skep vir sy lesers. ’n Manier wat veral dalk jong lesers sal interesseer en waardering sal betoon.
Dis veral skoolbanke waaraan mens dink met die lees van Pienk ceramic-hondjies – hoeveel jong bruin laaities en girlies nog nie hulself raakgelees het in Afrikaanse poësie nie. Hul lewenservarings, hul verwysingsraamwerke en ’n konfrontasie met kwessies waarmee hul dalk kan vereenselwig.
Pedro wat dig “kobus, no offence, truth is / my hond hou maar net nie van wit mense nie”; en “as my ma-hulle begin stry, en ek myself verloor”; of “vasgenael op die mat voor die tv / jou oë fixed op die screen / toe krillin in die lug opgesuck word.” En dan in die aangegrypende trilogiegedigte – vrydag, saterdag en sondag – waarin hy veral manlikheid in aanskou neem. Hierin is ’n slim pa wat op sarags by die huis bly en uncles in die “backyard” met “rye rye / bruin / empties”.
Dit sou nie regverdig wees om te dink dat Pedro slegs ’n negatiewe kant van manlikheid onderskraag nie. Inteendeel, nes alles uit lig en skadu’s bestaan, wys hy ook die gelykstaande bewondering en glory daarvan. Mens kon ook verderaan dink aan Pedro as digter self wat juis beide kante hiervan uitbeeld.
En dis meer as net performative. Dis ook die gebruik van ’n laaitie wat deur waarnemings sy hele wêreld probeer verstaan, waarin die onskuld met die durf mekaar ontmoet.
Jonger hy in ’n skoolsaal wat nie verstaan hoekom hy uit die FAK-bundel moet sing nie, terwyl die een laitie wat as “die second coming van haban” gesien word met sy “mooi afrikaans” en wie “naweke oorgenooi ... word” buitekant staan en tjank:
sy vacant oë gerig op die primary school
aan die anderkant van die draad
waar ’n rusty swing
soos iemand wat vergeet is
huil in die wind.
Die verwikkeldheid van klas in die uitmergeldende nabyheid van witheid in veral plattelandse dorpe is waarop die digter ’n tipe identiteitskrisis ondersoek. Binne homself, sy gesin en sy dorp. Dalk is die hele bundel soos die titel van die eerste gedig ’n “portret van ’n coloured laitie as ’n mixtape”, en hoe daai mixtape sou klink, is dalk huiswerk vir die leser.
Pedro is doelgerig in sy verse, en dis veral die stiltes tussen verse waarin mens steeds ’n meesleurende dryfkrag aanvoel. Hy gaffel jou veral in slotreëls en neem jou deur ’n reis wat baie fyn beplan en kordaat uitgestal is. Aan die een kant kan dit jou laat voel dat die reis se intimiteit so oorweldigend is dat dit jou flenters deurboor, maar aan die ander kant is daar ook ’n grootsheid wat gemaklik op sy eie staan.
My grootste bewondering in Pienk ceramic-hondjies is vir seker die manier hoe Pedro taal aanwend en plek-plek rinneweer(op ’n goeie manier). Afrikaans was nog nooit in enige kettings geplaas in terme van die evolusie van die taal in die jeug se mond nie. Dit kan ook aangevuur wees deur bruin digters soos Nathan Trantraal, Ronelda S Kamfer, Jolyn Phillips, Shirmoney Rhode, om maar ’n paar te noem, wat binne hulle werke konstant die maatstaf van Afrikaans en AfriKaaps soos hy oppie tong en innie hart lê, uitgedaag het. Dalk nie met opset nie, maar dis juis daarom dat jonger digters soos Pedro ’n plek tussen hulle kan inneem met ’n bundel wat Afrikaans binne homself uitdaag.
Pleinweg, dit is net op so ’n manier geskryf en verweef dat juis daai jong bruin laities en girlies meer gemaklik daarmee voel – want wie leef regtig in vandag se tyd die “standaard beskaafde” Afrikaans voluit in mond en hart uit.
In Pienk cermanic-hondjies is die barber, die minoras, ’n ouma se huis, die gameshop, die old-school uncles, ’n hond aan ’n ketting, die jaart ... heilige goed in ons kultuur. En dalk bowenal als, die ceramic-hondjies wat in soveel bruin gesinne se voorkamers prontuit staan. En dis juis in hierdie bekende plekke en dinge waarin Pedro sy digterlike vakmanskap so skerp aanwend. Soveel dat jy jou eie relatiewe verhoudings daarmee bevraagteken. Of dalk herbesin. En dit skep ’n ander tipe emosionele verantwoording om elke hoek en draai wat ek nog in min poësie ervaar het.
Ten slotte, Pienk ceramic-hondjies is ’n meesterlike debuutbundel van ’n opwindende jong digter wat onbeskaamd sy eie plek in Afrikaanse letterkunde inneem.
Lees ook: