Plakboek: #litnetwoord2015

  • 0

 

'n Woord kan 'n tydsgees vasvang. In 2013, toe LitNet die eerste keer LitNet se Suid-Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie aangebied het, was die woord op almal se lippe "e-tol". Een van 2014 se mees emotiewe woorde was "beurtkrag". Wat is 2015 se Afrikaanse woorde – woorde wat ontstel, prikkel, of die heersende gesprek saamvat?

Hier verskyn vanjaar se inskrywings van #litnetwoord2015.

Lees die eerste golf inskrywings hier.

Lees ook die tweede golf hier.

Lees ook die derde golf hier.

Saam met sommige van die een-woord-inskrywings vanjaar het daar ook woordomskrywings en -verduidelikings arriveer. Dit word hier geplaas. Hieronder verskyn ook foto's en 'n handvol laat inskrywings.

Hierdie kompetisie is nou gesluit en geen inskrywings word meer aanvaar nie. Kortlyste verskyn later hierdie week en die wenner sal gedurende Desember aangekondig word. 


 

Marianne Ferreira

My woord van die jaar is “sege”. Rede: Die mees argaïese woord in Afrikaans wat steeds jaar na jaar deur koerante gebruik word om ‘n oorwinning aan te dui. ‘n Woord wat ook 2015 oorleef het! Beslis die woord van die jaar! Ek wil voorspel hy gaan ook 2016 s’n wees!!

Paula Fourie

My woord is "erfsonde" -  maar 'n sekulêre, argetipiese verstaan daarvan. Dit voel vir my die wiel draai al hoe meer en almal, almal voel mettertyd die aksies van hulle voorvaders aan hulle lyf. Ek voel dit, Afrikaans voel dit en ek weet die nasate van die korruptes sal dit ook voel.  Zuma se kinders en kleinkinders sal dit ook eendag voel. En die groot grap, die groot geneuk is dat dit in die meeste gevalle geen doel dien nie ... diegene wat dit moet voel is dan lank reeds salig in die graf.

Athol Fugard

"Loop" - beteken dit deesdae dieselfde as die Engelse "trending"...?

Braam de Vries

Hastag of hashtag is 'n woord of frase wat veral op sosiale media soos Twitter voorafgegaan word deur 'n #-teken en wat dan die hoofsaak van 'n spesifieke onderwerp kortliks saamvat. Dus nie die  #-teken nie maar  wel wat daarop volg. Die # -teken is deel van die hashtag woord of woordgroep soos alle ander dergelike aanduidings, bv: * of 'n swart kol of 'n  - teken wat soms in paragraafindeling gebruik word. Die teken self word in sowel Nederlands as Afrikaans 'n hekkie (hekje) genoem. Die teken het dus op sigself nie die "betekenis" van gesiggiewoorde (emoji)  nie, dis hoogstens 'n aanduiding van Let Op die Volgende.

Helene de Kock

Tydgees  

Let wel, ek weet "tydsgees" word verkies, maar ek het "tydgees" oral in my MA en PhD gebruik en dis so deurgelaat. Ek voel "tydgees" vat al die politieke, religieuse en sosiale woelinge vas.

Willem Botha

meertaligheid  

Ons beweeg orals na eentaligheid – wat ’n verlies en ontkenning van ons diversiteit.  Hopelik word Stellenbosch nie maar net nog ’n eentalig Engelse universiteit nie.

Lien Botha

Praat jy! Dit was ‘n allerverskriklike jaar. Woer-woer, woestheid, sprakeloos, boernoes, tevergeefs, witgat, boemerang, seepbel en helaas: BOOMSKRAAP!

Zandra Bezuidenhout

taalghoeroe

Al wat leef is deesdae taalghoeroes, maar koop hulle daagliks ’n Afrikaanse koerant?

André Kearns

jeug

Ek dink my woord van die jaar is “jeug”.

Met die fokus op die Suid Afrikaanse “jeug”:

* Youth’s high “cost” to education or access to education
* Youth unemployment or access to employment
* Worldview of the South African youth
* Youth leadership
* Loosely connected South African youth – their interconnectedness across status groups 

Wilna Adriaanse

student

Ons is vanjaar by uitstek bewus gemaak daarvan dat hierdie kinders van die reënboog op leë beloftes grootgemaak is.

Ena Jansen

abba
 

Ek gaan vir “abba” – die woord wat ek onlangs by WAT geborg het en wat vir my so sterk verband hou met die onderwerp van my boek Soos familie.

Net een kind kan op ’n slag ge-abba word; vandaar dat dit so intiem is en dat baie wit kinders so bevoorreg was dat hulle ge-abba kon word, wat implisiet beteken het ‘n swart kind kon dan nié op sy ma se rug wees nie. Ek weet dis simplisities gestel, maar hoe dan ook: my keuse is vir abba, ’n spesifiek Suid-Afrikaanse woord en weliswaar van meer as vanjaar.

Anzil Kulsen

poenankies

Betekenis: oulik of minlik.

Nie so 'n algemeen bekende woord nie, veral bekend onder bruin mense en dan ook in die Noordkaap. Die woord het ek gebruik in my jeugroman, Zita.

Rede vir benoeming: Dis die soort woord wat NIE in 2015 in enige debat of enige of nuusgebeure gebruik is nie. Dis tog jammer, sou ons meer situasies, mense en gebeure in die land gehad het wat poenankies eerder as korrup wou wees, het ons almal moontlik in die oorvloed en rykdom van ons land se bronne gedeel.

Jo-Ansie van Wyk

My woord van die jaar is "teflonpresident", byvoorbeeld President Zuma se vermoë om alle aanklagte teen hom te ontduik en geen aanspreeklikheid vir sy en die van sy regering te dade te aanvaar.

Jean Oosthuizen

My woord van die jaar is “bliksempos”. Ek sien dit nie in die nuwe HAT nie maar hulle het dit op ʼn T-hemp gedruk wat ek by HAT gekry het, soos op die foto.

Martin Steyn

Ek kies “DROOM”. En noudat ek dit in hoofletters getik het, sien ek vir die eerste keer dat dit die spieëlbeeld van "moord" is – dis nogal ongelukkig, maar ek hou by my keuse – dis seker ook nie heeltemal onvanpas nie. 😉

Danie Marais

Ek’s bevrees die woord wat vanjaar die lelikste dwars in my krop kom steek het, was “witheid”. Maar op ’n ligter noot was verlede week se “emotikontjies” as verkleinwoord vir “emotikons”  by ’n rubriek van Wilhelm Jordaan vir my beslis die verkleinwoord en vertaling van die jaar.

Rudie van Rensburg

Sommer tong-in-die-kies: “flenter” ('n flank wat heeltyd in die senterposisie rondhang), een van die oorsake van ons Wêreldbekerrugby-treurmare.

Amanda Groenewald

Taaldebat

Rede: in 2015 vind die Afrikaanse taaldebat oral verwoed plaas - veral die laaste ruk by die US (Open University) en by die UV. Die afskaling van Afrikaans wek oral (en op alle vlakke) baie emosie. Dit maak nie saak of jy daarvóór of daartéén  nie, die meeste mense reageer baie heftig hierop.

Herman Lategan

Trammakassie is 'n verouderde Maleise woord wat gereeld in die ou dae in die Kaapse Moslem-gemeenskap gebruik is. Dit beteken dankie. 'n Ander woord daarvoor is sjoekran. Ek kies dié woord as ʼn eenvoudige voorbeeld van die ryk invloed van verskillende kulture op Afrikaans, iets wat ons in hierdie tye van ongeskakeerde dogma, banale ideologie, versmorende kortsigtigheid en liederlike mensehaat nie moet vergeet nie. Dankie dus vir soet woorde, veral woorde wat ons liefdevol oor grense heen laat groei, vloei en beweeg. In dankbaarheid en in Afrikaans. 

Gerrit Rautenbach

woordenaar (Positief - woord-towenaar; negatief - woord-moordenaar)

Etienne Viviers

Pluto

pluto

Pluto (foto verskaf)

Paul van der Westhuizen

Atmosvuur of Atmosvuurjie

Dit is ‘n vuur wat aangesteek word vir ‘n atmosfeer en nie vir ‘n spesifieke doel soos braai nie. Kan ook ‘n kaggelvuur wees, maar nie noodwendig om te verhit nie maar wel om atmosfeer te skep. ‘n Atmosvuur kan byvoorbeeld ‘n mooi sonsondergang in die Kalahari met ‘n besonderse atmosfeer inkleur.

AG Nel

Speelkind

(In plaas van buite-egtelike kind)

Dit kom uit 17de-eeuse Nederlands en is soveel beter as die meerbekende "hoerkind".

Debbie Loots

Split is my Afrikaanse Woord van die Jaar, om verskeie redes.

Sekere mense dink dit is slegs ’n Engelse woord. Dit is nie. Split is van Nederlandse herkoms en, behalwe vir ’n magdom ander verklarings, en terme wat daaruit spruit, beteken Split in Afrikaans ook “tweespalt”, “verdeeldheid” en “onenigheid”. Split omskryf vir my die hedendaagse gevoel rondom ons politiek, ons taal, die kerk, asook netelige rasse- en genderkwessies.

Ek hou van die woord se "Engelsheid", sy andersheid, die "slang"-gebruik daarvan; dit plaas Split op die kantlyn, saam met die misverstaandes, die benadeeldes: the Other. Alles redes waarom Split ook die naam is van my debuutroman.

Jason Lloyd

Papbekpolitikus

Met die heengaan van André P Brink het Breyten Breytenbach die onderstaande woord gebruik binne die konteks dat Brink meer gedoen het vir Afrikaans as enige “papbekpolitikus”. Ek dink die woord is treffend.

Hanneke Jordaan

Vlaktonies

Nuusgebeure wat daagliks verskyn (hoe grusaam/wreed/ onverstaanbaar) laat die mens naderhand ook "vlaktonies" /"vlaksinnig" in-/waarneem.  Anders gaan mens slegs agter geslote deure wil bly. ..

Harry de Bruin

My seun Herman noem ‘n baie koue dag ‘n sopkoue dag, ook: ‘n koerierbakkie ‘n pakkiebakkie.

Sanette Ralph

Niks

As ek geld gehad het sou ek graag die word NIKS wou borg met 'n sertifikaat aan my man Pieter. Genade ,hoe ouer hy word hoe meer NIKS en letterlik NIKS doen hy in en rondom die huis. Hy doen net NIKS en hy weet dit.  

Kirby van der Merwe

"Ja-nee"

Hardop gesê in geselskap, gebrom in die mou in reaksie op studenteoproer, parlementêre manewales, polisie- en weermag-slapgatgeit, Heyneke Meyer edm. Soos in: "Ja-nee, wat verwag jy van ..."

Stephanus Muller

As ek nou moet sê wat die sterkste woord van die jaar vir my was, dan is dit nie ’n Afrikaanse woord nie, maar #RhodesMustFall, of RMF. Dit het die tektoniese plate laat skuif in Suid-Afrika.

Dominique Botha

Zunami ... soos uitgebeeld in hierdie spotprent in  Beeld:

zunami

Spotprent deur Niel van Vuuren in Beeld (30/11/15)

Coenie de Villiers

My woord is HARLABOERLA.  Dis hoe die wêreld vir my voel telkens as ek die koerant oopslaan, en smaak my nie dit gaan internasionaal veel beter as hier by ons nie.  Die nuwe wêreldorde hou ook nie veel belofte in vir die nuwejaar nie.  Dus kan dit gerus maar ‘n lekker Afrikaanse woord wees wat ons bestaans-chaos omskryf!

Amanda Claassens

Die woord wat onmiddellik by my opkom, is ‘n Afrikaanse beskrywende woord vir die alomteenwoordige “touch screen” op bykans elke moderne sellulêre telefoon. Ek hou van die woord “tasskerm” omdat dit lekker maklik op die tong val, en heel beskrywend is van die fenomeen wat my teen die mure uitdryf as ek probeer tik daarop ... J

C Klopper

Afrodoks

'n Soort paradoks eie aan Afrika en besonder gewild in SA.

Voorbeeld: Pres Zuma se aankoop van 'n nuwe straler terwyl die land op die rand van bankrotskap staan.

SP Benjamin

Blits

Dis die woord wat vanjaar oral rondgegooi was. Hierdie sportmalnasie bly honger. En vanjaar het hulle hul oorvreet aan spoed en blits. [Wade van Niekerk, Rabada (krieket), IRB Wêreldbeker2015, ICC Wêreldbeker Krieket, 7's-rugby.]

Amelia Burger

  • Onsnaaks (nie in enige woordeboek nie, maar ek dink dit vat die “gees” van 2015 in SA saam)
  • Tweegevreet (in ’n ander konteks as ’n Hertzoggie ook)
  • Ghoemahare (sommer omdat Kaaps in Standaardafrikaans verwelkom word – wel, darem deur die HAT en ’n paar ander mense)

Juliana Coetzer

Lyflastig (Geïrriteerd-verveeld)

Elbie Stewart

My woord van die jaar is "poespas".

Dit beskryf my jaar van 'n mengelmoes ervarings. Onder andere 'n vakansie in Nederland, België en Parys.

Roné McFarlane

"dekoloniseer"

Weet nie of dit 'n erkende Afrikaanse woord is nie, maar definitief 'n woord wat vir baie opspraak gesorg het in 2015 en in die volksmond gebruik is as dit dan nie in woordeboeke bestaan nie.

André Badenhorst

My woord is "luister". Dit was die titel van die video wat later tot gevolg gehad het dat die Wims nie na oproepe ter wille van Afrikaans geluister het nie.

Wessel Stoltz

Ek was (on)gelukkig genoeg om daardie rugbywedstryd in Brighton by te woon waar die Japanners ons 'n bloedneus gegee het, so my woord van die jaar sal definitief "doodsnikdrie" moet wees. 

Lunéll Kruger

meelewing

Dit lyk my dis waarheen die wêreld beweeg, met baie geboortepyne in die proses.

Germien Pauw

Vryval

Vryval van die Rand, morele waardes,  Afrikaans aan US, SA onder Zuma regering, SAA ...

Christo Viljoen

My woord is: beurtwater – die naderende rantsoenering van water as gevolg van die sterk daling in die watervlakke van SA se damme, die voortslepende droogte, en die feit dat geen groot damme in die afgelope 25 jaar binne SA se grense gebou is nie. (Die Lesotho-hooglandskema lê buite ons landsgrense). Ons het gewoond geraak aan beurtkrag; die volgende om aan gewoond te raak is beurtwater.

Hana Viljoen

My woord is: rubriekfabriek

Dit is 'n koerant-rubriekskrywer wat op groot maat rubrieke uitdraai, met die gevolglike daling in gehaltebeheer en gegorrel net om die ruimte vol te maak. 

Marietjie Jordaan

My woord is verryk. 

Dit is 'n teken van ons tyd dat hooggeplaastes hulleself verryk ten koste van die armes (minderes). Dit kan egter ook 'n positiewe betekenis hê deurdat die Letterkunde en Musiek my lewe verryk.

Maretha Maartens

Verander

  • Open Stellenbosch eis dat 'n taalbeleid en 'n klimaat op kampus moet verander.
  • Deur die sosiale media het die wyse  verander waarop 'n inisiatief soos Open Stellenbosch momentum kan kry.
  • Die NG Kerk het 'n beleid oor selfdegeslagverhoudings verander ... en weer verander.
  • Deur die instroming van vlugtelinge na Europese lande het die gesig van Europa vir altyd verander.
  • Die Parlement het verander: debatvoering, Pay back the money, uitsmyters.
  • Die droogte het voedselsekuriteit, ongeëergdheid oor water, voorstedelike tuine en landbou laat verander.
  • Met die Oscar Pistorius-saak het direkte media-uitsendings Jan Alleman se vae begrip van wat tydens 'n geregtelike verhoor plaasvind, verander. 
  • Die Reënboognasiedroom het verander. Eers die ANC, dan die land, sê die Staatspresident.
  • Die hoop wat op antibiotika as wonderkuur gevestig was, het radikaal verander. 
  • Deur die Banting-eetplan het duisende lywe verander en is tradisionele konsepte oor die regte diet aan die verander. 

Amanda le Roux

My woord is "verskraal" want dit sê so presies wat ek dikwels waarnee - in verskillende omstandighede ...

Gesprekke waar mense te lui is om goed te artikuleer en die gesprek se betekenis verskraal word.

Wanneer iets vertaal word op 'n manier wat die betekenis verskraal.

Onderwys verskraal (veral wiskunde-onderrig en taalonderrig agv verskraalde opleiding van onderwysers).

Vriendskappe

Sommer nog baie goed … ek vind die woord baie nuttig - veral in my eie gedagtes …

Corlina Pienaar

Ek nomineer “(die) withemde” as woord-van-die-jaar, nav die eerste gewelddadige verwydering van parlementslede uit die Nasionale Vergadering in ons (moderne) parlementêre geskiedenis.  Die amptenare wat die EEF-lede moes vewyder het gou in die omgang as die “withemde” bekend begin staan, nav hul bykans eenvormige drag.  (Waarskynlik was dit ‘n parodie op die Nasionaal-Sosialistiese “Gryshemde”-beweging wat in 1933 in Suid-Afrika gestig is uit simpatie met die Nazi’s van Duitsland.)

Susan Brits

My woord is APPELLEER.

(Die afgelope tyd appelleer almal teen alle uitsprake. Vanaf politiek tot kerk!)

Deborah Steinmair

Ek het gedink aan iets wat ek nou die dag in die woordeboek raakgelees het: norrapatat. Dit beteken bergaartappel. Dis vir my gepas lukraak omdat die jaar totaal buite verband en rede was, grotesk en surrealisties. Maar as 'n mens die woord moet verduidelik, help dit ook nie.

Michael le Cordeur

Toeganklik

Dit is opvoedkundiges se taak op te sorg dat  alle leergeleenthede vir die jeug toeganklik maak en so vir hulle geleenthede skep om maksimaal te ontwikel.

Marita van der Vyver

My woord van die jaar is "sekulêr". Ongetwyfeld. Nog nooit voorheen het ek dit so gereeld gebruik nie. Van die Charlie Hebdo-slagting in Januarie tot die nood van Siriese vlugtelinge wat Europa binnestroom tot die onlangse terreuraanvalle in Parys, ek en baie ander mense moes "sekulêr" soos 'n vlag begin rondswaai om demokrasie te verdedig.

Catharina Scheepers

Wat van "tjankboelie"?  

(Kombinasie van tjankbalie en boelie. In Engels bestaan die nuwe term reeds as "cry-bully". Maar in Afrikaans werk dit nog beter!)

Dit is 'n liggeraakte, maklik ge-affronteerde persoon wat aggressief die slagoffer speel (moontlik namens ander), en bv aggressief op sosiale media veldtogte loods teen wie-ook-al beskou word as polities inkorrek omdat hul nie met sy/haar mening saamstem nie. Kom voor in die omgewing van universiteite   😉

Waldemar Gouws

My keuse vir die kompetisie is die woord lyster. Oftewel Bolands, miskien ook Kaaps, vir “luister.” 

Marike van der Watt

My woord van die jaar is hommeltuig (eers 'n onskuldige tydverdryf, en nou word dit vir oorlog aangewend ...). 

Floris Brown

"HartVanger"

'n Woord wat persone in Suid-Afrika lof toeswaai vir al die positiewes wat hulle in ander se lewens belê. Ook organisasies regoor ons land. Hul opbouende sweer van invloed.

Johannes M de Kock

Taaldebat

Tom McLachlan

“Koulrofobie” – die morbiede vrees vir (bose) narre.

Ons president tree immers soos ʼn vreesaanjaende nar op.

Nico Fourie

Ek sien die koerante praat van "hommeltuig" vir die Engelse "Quad Copter".

Ek dink die woord SPINNEKOPTER is baie meer gepas en oorspronklik.

Andreas van Wyk

Zumalia

Amanda de Stadler

Hommeltuig

Fuifkyk (binge watching - kinders wat hulle "ooreet" aan TV en die sosiale media)

Rommelstatus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top