
Die Vrystaat Kunstefees word vanjaar van 15 tot 19 Julie in Bloemfontein gehou en plaas met trots van die omgewing se ongelooflike plaaslike talent in die kollig – van skrywers en regisseurs tot visuele kunstenaars en akteurs. Vanjaar se program bars uit sy nate van kreatiwiteit met plaaslike stemme wat hul merk op die nasionale verhoog gaan laat.
Een van hierdie vertonings, is Verbode gedagtes in stereo met Jani Marais.
Jani is ’n dosent, navorser en vryskutteaterkunstenaar, en in hierdie toneelstuk – haar eie – besin sy oor dinge wat die meeste mense ervaar maar nooit hardop durf sê nie. Hierdie toneelstuk stel dit wat ons dink versus dit wat ons sê in sterk kontras, en bevraagteken of dit beter is om te sê wat in jou kop aangaan of om daardie gedagtes agter slot en grendel te hou.
Die toneelstuk is geïnspireer deur die Facebook-blad “I regret having children” en verken die gedagtes van ’n jong, suksesvolle sjef.
Jani skryf die volgende oor die stuk: “Verbode gedagtes in stereo is ’n intieme eenpersoon-vertoning. Dit kyk na al daardie ongesproke goed – van poep in die openbaar en jok vir jou vriendin oor hoe sy in haar trourok lyk, tot dieper, donkerder gedagtes. Dit hoop om die stigma rondom sekere ervarings te verminder, sowel as om vir individue wat hierdie gedagtes beleef , ’n stem te gee sonder om hulle aan kritiek bloot te stel.”
Dit laat my natuurlik onmiddellik na die web haas om meer te lees oor die Facebook-blad – wat jou natuurlik net dieper in die hasegate insleep. Dié blad het 81 000 volgelinge op Facebook en is ware stories van ouers. Jy kan anoniem bly met jou bydraes. Dit lei my na https://www.reddit.com/r/regretfulparents.
Een na die ander inskrywing bevestig dat mense, veral vroue, nie kans sien om in die openbaar te erken dat ouerskap hulle koud laat nie.
Some-Quail-5802 skryf: “I’m sad that other people are in the same boat but I feel a little less alone and I hope the rest of you know you’re not alone either.”
Technical Alfalfa528 skryf ’n maand gelede dat moederskap vir haar ’n teleurstelling is en dat sy dit onvoorwaardelik haat. ConsiderationFew4728 skryf hy haat vaderskap, en as dit met ’n subskripsie gekom het, het hy dit onmiddellik gekanselleer.
SeaGurl skryf drie jaar gelede op reddit: “Honestly, I'm glad places like that exist. When I had my first just a few years ago, I felt like a failure because I still had my own desires. A flip did not get switched in me to only live for my kid. Turns out, I wasn't alone and that feeling was totally normal. But society has glamorized motherhood and told us what a magical thing it is, when in reality it can be really really hard at the same time. Even if you do have an actual parenting partner.”
Jani, hoe het jy op die tema besluit en wat is jou boodskap daarmee?
Die tema om daardie intieme, taboe gedagtes te deel lei uiteindelik na vroue se ervarings van swangerskap en kinders hê. Dit is nie so romanties soos wat baie mense sê dit is nie. Dit is moeilik, uitputtend en soms verwoestend. Die karakter Karien besin oor hoe moederskap haar menswees sal beïnvloed: “Ek is bang. Ek is bang dat my identiteit gaan verander van ‘suksesvolle sjef en onafhanklike vrou’ na ‘ma’. Slegs ‘ma’. Twee letters wat my hele bestaan definieer.” In haar verhaal, sowel as die ware stories wat vertel word, word daar erken dat wanneer ’n mens kinders kry, jou identiteit verander. Meer as dit, jy verloor wie jy was voor jy ’n ouer geword het. Mense probeer hulself weer vind, dele van hulself terugeis, weer kontak maak met wie en wat hulle was voordat hulle ouerskap betree het. Die realiteit is egter dat dit bloot onmoontlik is. Jy kan jou identiteit herskryf, maar “ma” sal altyd deel daarvan wees.
Verbode gedagtes in stereo is ’n verhaal van een vrou se ongesensureerde, ongeredigeerde ervarings, maar is ’n stem vir almal; ’n klankbord waar mense kan besef hulle is nie stukkend nie, hulle is nie siek nie, hulle is mens, en menswees is nie romanties nie.
Vertel my ’n bietjie van jouself?
Ek het in die Oos-Kaap grootgeword, maar bly nou al vir die afgelope 19 jaar in Bloemfontein. Vir die eerste 10 jaar van my lewe was ek die jongste kind van twee. In 2006 het my ma swanger geword met my boetie, en as 'n tienjarige het ek net-net genoeg verstand gehad om die proses dop te hou. Dit was seker my eerste blootstelling aan die realiteite van swangerskap en ouerwees. Ek is gelukkig genoeg dat ek in 'n huis vol liefde en oop, eerlike kommunikasie grootgeword het, maar ek besef ook dat dit nie almal se realiteit is nie (om verskeie redes).
Het jy self kinders of vriende met kinders wat hul gedagtes met jou deel?
Ek het nie self kinders nie – en dus verwag ek weerstand van gehoorlede af. Wat gee vir my ('n ongetroude vrou sonder kinders) die reg om hierdie uitsprake te maak? Benewens deeglike navorsing oor die onderwerp het ek al talle individue teëgekom wat dapper genoeg was om hulle ervarings met my te deel. Bygesê, ek beplan ook nie om self kinders te hê nie. Dit wat met my gedeel is en dit wat ek op die Facebook-blad gelees het, het my dieper laat dink oor wat dit als behels om kinders te hê, en dit het my laat besef dat dit nie vir my is nie. Ek sê nie mense moet nie kinders kry nie, maar dat dit 'n deurdagte proses moet wees, in plaas van 'n "logiese volgende stap" in mense se lewens.
Is “spyt oor kinders hê” ’n onderwerp wat in jou vriendekring of in jou eie kop opkom?
Spyt oor kinders hê het nog nie so openlik in gesprekke uitgekom nie. Drome oor 'n alternatiewe lewe het wel. Mense praat oor wat hulle als sou doen as hulle nie kinders gehad het nie, en alhoewel dit nie noodwendig dieselfde as spyt is nie, is daar tog 'n verlange na "wat kon gewees het". Ek sien dan ook skuldgevoelens wat daarmee gepaard gaan, en dit is juis wat ek met hierdie stuk wil aanspreek: dat dit doodnormaal is om hierdie gevoelens te ervaar en dit met ander te kan deel.
Wat het jou tot hierdie teks gebring?
Ek het per toeval op die "I regret having children"-blad afgekom. Soos wat dit meer en meer op my "feed" begin verskyn het, het ek besef dat daar 'n oorweldigende aantal mense is wat so voel. Dit het seker ook iets te doen met my weerstand teen die status quo en dit wat as "normaal" beskou word. Ek glo daarin dat lewensdinge bevraagteken moet word. Daar is niks fout daarmee om dan terug te keer na jou oorspronklike denke toe nie, maar ten minste is dit dan 'n ingeligte keuse. My behoefte dat die samelewing oor taboe onderwerpe moet begin praat was 'n sterk dryfkrag agter die skryf van die teks. Taboe onderwerpe is gereeld die bron van emosionele kommer, en hoe kan 'n mens 'n probleem oplos as jy nie eens daaroor mag praat nie?
Het jy alleen geskryf? Het jy baie herskryf en die teks met iemand bespreek?
Ek het die konsep self verwerk in teksvorm en die spesifieke tonele van die verhaal self geskryf. Die teks het wel deur 'n lang proses van skaaf en herskryf gegaan toe die produksiespan daaraan begin werk het. Ons het saam gewerk om die teks te kry tot by 'n punt waar dit 'n gestruktureerde storie gevorm het wat gehore sal kan volg. Ek is nog onervare wanneer dit kom by skryf, en die ekstra perspektiewe van my regisseur (Thys Heydenrych) en my verhoogbestuurder (Daniëlle Doubell) het my gehelp om my storie te verfyn.
Is dit moeilik om die teks te skryf én die aktrise te wees, of watter vryheid of voordele hou dit vir jou as aktrise in?
Dit is die eerste keer dat ek my eie teks uitvoer, en ek moet sê dit het sy voordele én nadele. Ek veronderstel die grootste voordeel was dat dit dit aansienlik makliker gemaak het om my woorde te memoriseer (grappie). Ek dink daar is iets baie spesiaal daaraan wanneer 'n akteur die geleentheid het om 'n teks uit te voer wat handel oor 'n kwessie wat na aan sy of haar hart lê. Dit maak vir my die proses opwindend op 'n vlak wat nie altyd moontlik is in 'n bestaande teks nie. Daarby moet ek noem dat dit ook 'n waardevolle leerskool was. Ek en Thys het gereeld koppe gestamp oor die konsep en die uitvoering daarvan, maar ons goeie werksverhouding het die proses glad laat loop (of ten minste so glad soos koppe stamp kan wees). Tydens repetisies moes ek myself aanhoudend herinner dat ek die akteur is en dat ek vir Thys moet vertrou om sy rol as regisseur uit te voer. Dit was moeilik om te laat gaan en my teks aan iemand anders oor te gee terwyl ek nog steeds betrokke was by die produksie as akteur.
Wat bring Thys as regisseur in die teks na vore wat jy dalk misgekyk het?
Thys as regisseur het my nog altyd gehelp om insig te kry in 'n karakter se ware motivering. Buiten die hulp wat hy verskaf het om die teks te verfyn, het hy my dieper laat dink oor die karakter en haar uitkyk op die lewe. Om saam met Thys te werk behels baie ure van gesprekke voer, vrae vra, spekuleer oor karakters en die ontdekking van 'n karakter se gedagteprosesse. Dit is hierdie gedagteprosesse wat vir my die verskil maak tussen 'n eendimensionele karakter en 'n komplekse, geloofwaardige funksionele mens op die verhoog.
Is jy opgewonde om ’n debuutproduksie by die fees te hê, en waar is die produksie hierna te sien?
Ek is tegelyk opgewonde en vreesbevange oor hierdie produksie. Ek dink die meeste kunstenaars ervaar hierdie konflik van emosies wanneer hulle hul kuns in die openbaar ten toon stel. Daar is trots en passie vir jou kuns, maar aan die ander kant is daar natuurlik die angs oor die uiteindelike sukses van die kunswerk. Op hierdie stadium is die Vrystaat Kunstefees vir my 'n platform waar ek die sukses van hierdie toneelstuk kan toets. Afhangende van die terugvoer sal ek die stuk dalk na ander feeste toe wil neem. Ek hoop dat ek uiteindelik die teks sal kan publiseer en ook in Engels vertaal. Ek wonder ook of hierdie teks nie dalk ideaal sal wees vir 'n radiodrama nie. Ons sal maar moet wag en sien.
Hoekom moet elke feesganger hierdie vertoning kom kyk?
Ek dink Verbode gedagtes in stereo is 'n stuk wat op verskillende maniere met verskillende mense sal resoneer. Die hoop is natuurlik dat dit dialoë sal begin skep oor onderwerpe wat oor die algemeen as onvanpas beskou word. Daar mag dalk oomblikke in die stuk wees wat mense kan ontstel, maar ek glo dat sodra gehoorlede hulself begin vra: "Maar hoekom laat hierdie toneelstuk my so en so voel?", is daar klaar 'n vorm van selfbewussyn geskep. Ek glo vas daar is baie mense wat nodig het om te weet dat sekere Verbode Gedagtes wat hulle ervaar, eintlik nie so verkeerd is nie. As jy 'n ouer is wat al ooit oorweldig gevoel het deur jou kinders, is die stuk vir jou geskryf. En as jy nie 'n ouer is nie, dan is hierdie stuk daar om jou te wys wat die realiteit van ouerskap kan wees. Dit kan bevredigend en opwindend wees, maar dit is allesbehalwe idillies.
Hoe pak jy elke vertoning aan?
Elke vertoning bevat ware verslae van ware mense wat deur middel van onderhoude ingesamel is, sowel as plasings op die Facebook-blad. Elke vertoning se verslae is ook anders, met vars stories wat op die dag of voor die vertoning ingesamel is. Die rede hiervoor is om die stuk toepaslik te hou vir die hede en die gemeenskap waarin die gehoor hul bevind. Mense moet hulle waarhede kan deel. Waarom? Sodat ander die geleentheid het om te leer, om te weet dat wat hulle voel, oukei is, om te besef waarvoor hulle hul inlaat.
- Kaartjies kos R120 vooraf of R150 by die deur. Vertonings is op 15 Julie om 16:00, 16 Julie om 17:30 en 19 Jul om 17:00 in die kykNET Albert Wessels-ouditorium. Die vertoning is 60 minute lank en geen onder 16’s word toegelaat nie. Bespreek by Webtickets.

