Pirow Bekker, ’n huldeblyk

  • 0

As daar een ding is wat Pirow Bekker verafsku het in sy lewe, was dit om ’n toespraak te maak, of ook om na ’n toespraak te moet luister.1 So ek is heeltemal tevrede as hierdie dalk meer van ’n gesprek is as ’n toespraak, soos ek glo Pirow ook sou wees … en as dit by gesprekke kom, was Pirow in sy element. Hy was ’n gesprekvoerder van formaat. Hy het geluister met oorgawe, hy het onthou wat jy vir hom vertel het en hy sou altyd, na deeglike oorweging, vir jou sy wel oorwoë opinie of raad gegee het. So as daar enigiemand is wat wil deelneem aan hierdie gesprek, voel asseblief gemagtig.

Pirow is gebore in 1935, tussen die oorloë in die depressietyd. Hy skryf in sy boek Beurtelinge: “Ek kyk na ’n familiefoto wat ek tussen my ma se versameling kiekies kry. Die foto is die enigste van my waar ek heel klein is. Ek het ’n digte bos hare gehad, dink ek. Hoe sien ek dit? Ek staan met my rug na die kamera, my hande uitgestrek teen my ma. Jare later identifiseer sy: ‘Jy wou hê ek moet jou optel.’ So staan ek die voorfront mis.”

Sy vroegste herinnering was toe hulle gesin op die plaas Suidoostebank tussen Reddersburg en Smithfield geboer het. Deur familiepolitiek moes hulle toe Suidoostebank verlaat, ’n verlies wat hy swaar aan gedra het tot sy dood toe. Suidoostebank het in sy latere werk die simboliek van ’n idealistiese paradys van sy jeug aangeneem ... ’n paradys wat verlore is en altyd buite bereik bly. Hy skryf: “As kind wat met die Bybelverhale grootgeword het, was Suidoostebank die paradys. Daar was die tuin met sy lang laning vye- en kweperbome ... Daar was die Eufraat, al was dit net ’n spruit. Aan Suidoostebank het ek my hele lewe lank gedink soos Dante aan Florence terwyl hy in ballingskap was.”

Oor sy bynaam “Pirow” skryf hy: “My pa was nie juis ’n politieke dier nie, maar hy het groot eerbied vir geleerdheid gehad ... Oswald Pirow was met my geboorte baie in die nuus. Hy was regsgeleerde en politikus. Maar dis sy regsgeleerdheid wat my pa getrek het. Hy wou my Pirow doop, maar die familie was daarteen gekant. Ek moes Skriftuurlike name kry. Toe gee hy my syne: Petrus Jakobus, en noem my Pirow.”

Op ouderdom 13 verhuis die gesin Oos-Kaap toe om na bedlêende ouma Bekker om te sien, en ook op soek na beter boerderyvooruitsigte op die plaas Draaifontein in Die Moot, naby Glenconnor en Sapkamma. Dit was egter van korte duur, en net meer as ’n jaar later word sy pa ernstig siek en besluit hulle om terug te trek Suid-Vrystaat toe. Enige vooruitsigte op ’n hoërskoolloopbaan by Kirkwood is tot niet.

Hy beland toe in die hoërskool op Smithfield in 1949. Sy pa sterf aan vermoedelik maagkanker op 1 Maart 1950, ’n verlies wat ’n onuitwisbare indruk op die 14-jarige Pirow gelaat het. Sy pa se afsterwe het ’n periode van groot swaarkry vir die gesin beteken. Pirow het reeds verskeie suksesvolle en minder suksesvolle skryfpogings agter die blad gehad en besluit, sonder enige bepaalde plan, om £300 by ’n familielid te leen om verder te studeer in Bloemfontein. Ten spyte van ’n moeilike ontgroening en ander uitdagings behaal hy aan die einde van sy eerste jaar die hoogste punte in Afrikaans-Nederlands (en wen ’n stel Kinderensiklopedieë!), en ’n studiebeurs van Nasionale Koerante word aan hom toegeken. Dit was ’n deurbraak en hy kon onder andere sy eerste tikmasjien aanskaf. Hy begin ook stories vir die koerant skryf oor die studentelewe en gebeure op kampus.

Hier word hy ook raakgesien deur jongnooi Annatjie Bosman, wat die begin is van een van die merkwaardigste liefdesverhale ooit. Sy skryf in haar dagboek: “Ek het ’n man gesien, jong ... Ek weet nie wie hy is nie. Ek weet net dat hy daar by Die Bult is.” Pirow besluit op verdere studie deur aandklasse en doen aansoek vir ’n onderwyspos binne bereik van Bloemfontein. Heeltemal toevallig begin hulle saam skoolhou in Dewetsdorp en die romanse blom. Sy skryf in haar dagboek: “Hierdie ou rooi roos. Is dit jy hierdie, Annatjie Bosman? Ek sal ’n lewe ongelukkig wou wees as ek net ’n week met hom so volkome gelukkig kan wees.” Die jaar was 1958 en die troue was op 4 April 1959. Dié van julle in die uitgewersbedryf, neem kennis: Die boek wat nog uitgegee moet word, is ’n versameling van Pirow Bekker se liefdesverse vir Annatjie...

Tussen onderwys, studies en koerantman wees was daar min tyd vir ander dinge vir die jonggetroudes, maar daar was darem tyd om die eersteling, wat die familiename dra, Petrus Jakobus, ook genoem Pirow, te maak, en hy is gebore op 28 Augustus 1960. Hy is nou al dekades in Amerika en ook die pa van nog ’n Pirow en drie ander kinders. En op 22 Oktober 1961 maak Anna Johanna, of Anke, haar verskyning. Hy skryf ook in hierdie tyd in vir ’n MA-graad en aanvaar ’n pos by die Bloemfonteinse Onderwyskollege, gevolg deur ’n halwe jaar in Stellenbosch en ’n doseerpos by Unisa. Ook verwerf hy ’n doktorsgraad wat toegeken word tydens die eerste gradeplegtigheid van die ou RAU.

Die tyd in Pretoria by Unisa baar ook ’n nuwe onderneming: die Wonderland-naskoolsentrum langs die Apiesrivier in Sunnyside wat hulle sewe jaar lank bedryf het, totdat dit in die slag gebly het met die verbreding van Schoemanstraat. Hieruit kom die novelle Die sentrum.

Deur al die studies, werke en ondernemings het Pirow altyd die drang gehad om te boer. In die vroeë sestigs het hulle ’n klein plasie, Skilpaddop, in Knoppieslaagte gehad waarop mielies verbou is. Hiervandaan is hulle na Monumentpark in die voorstede van Pretoria. Dit is ook hier waar ek gelanseer is. ’n Winterlaatlam op 16 Julie 1969 saam met die maansending.

Monumentpark was te ver van al die gesinsaktiwiteite en hulle verhuis in die vroeë sewentigs na Maroela-woonstelle in Sunnyside, op die 18de verdieping. Terselfdertyd koop hulle ’n plaas langs die Vaalrivier tussen Parys en Vredefort genaamd Doornhoek. Die plaas is in die familie tot in 1993 – ’n ware toevlugsoord van die stad. Doornhoek figureer in vele van Pirow se gedigte en stories. Hier “boer” hy met beeste, bokke, bye en vrugte.

In 1973 aanvaar Pirow die pos as hoof van die Dokumentasiesentra van die RGN, wat effens van ’n opdraandestryd was weens interne politiekery. Hy sou hier bly tot in 1979, waarna hy hom voltyds aan sy skryfwerk wy.

In 1997 verhuis hulle na Groot Brakrivier, en dis hier waar hy vir jare na sy siek broer Koot omgesien het, terwyl ma Annatjie vir dogter Anke in Johannesburg  gehelp het.

In 2002 verhuis hulle na Boggomsbaai langs die see, waar hulle vir 13 jaar sou bly. Met verslegtende gesondheid en Annatjie se jare lange stryd met demensie, verhuis hulle in 2015 terug na Pretoria, waar hulle in ’n nuwe huis op dieselfde erf as dogter Anke en haar man Kobus se huis intrek. Met Anke, Kobus en hulle dogter Christie wat sorgvuldig na hulle omsien, het ma Annatjie se demensie en Pirow se gesondheid mettertyd só geraak dat die hartverskeurende besluit geneem is om hulle na ’n versorgingsoord in Pretoria te verskuif.

Dit is hier waar Pirow die nag van 26 Junie geval het en sy reeds vervangde heup gebreek het. Hy het geval terwyl hy besig was om te werk aan finale veranderinge aan sy nuwe digbundel, Die bloei van blomme. Die maand wat gevolg het, was, in sy eie woorde, “loutere hel” en hy is eindelik die aand van 30 Julie oorlede. Anke het ’n bomenslike taak verrig om hom deurentyd op te pas, met dokters te onderhandel, ma Annatjie heen en weer te karwei en te vertroos, terwyl Kobus en Christie in die agtergrond ondersteun het. Ek en my broer Pirow en die res van die familie wil net aan Anke, Kobus en Christie ons oneindige dankbaarheid uitspreek vir hierdie liefdesdaad.

Pirow Bekker sal onthou word as ’n eggenoot, pa, oupa, oupagrootjie, skrywer, navorser, dosent, joernalis, vriend en kollega wat ’n onuitwisbare indruk gemaak het op enigiemand wat sy pad gekruis het. Al het hy sy lewe lank die “voorfront misgestaan”, was hy ’n formidabele intellek wat ’n loopbaan gebou het vanuit die as van ’n rampspoedige jeug. Hy het hoë standaarde gehad, maar hy het ook die merkwaardige manier gehad om met almal op gelyke voet te kon praat, van die mees nederige plaaswerker tot die intellektuele reuse van sy era. Hy was ’n fyn en nuuskierige waarnemer wat ’n vismot in ’n bollig sien en ’n gedig daaruit skep. Hy was ook intens privaat en het nie die kollig opgesoek nie. Sy werk wissel van uiters digte tekste wat menige leser, resensent en keurder al laat kopkrap het, tot hartroerende liefdesgedigte aan sy geliefde Annatjie. Met Pirow se heengaan is die era van die sestigers finaal verby.

Pirow Bekker – jy wat altyd sag trap terwyl jy hardloop – mag jy nou die eerste vy gaan pluk in die laning op jou Suidoostebank.

Nota:

1 Hierdie skrywe is by Pirow Bekker se begrafnis voorgedra.

Lees ook:

Persverklaring: Die bloei van blomme deur Pirow Bekker

Pirow Bekker (1935–2025)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top