
Frikkie Brood en RR Ryger voor die boekbekendstelling.
“Vandag gaan ons bietjie stoei met hierdie nuwe boekie van jou! Jeeha!” en “ek gaan ’n hele paar vuurwarm vragies vra”. Glad nie jou gewone verwelkoming by ’n boekbekendstelling nie.
Maar dan, die twee op die “skrywerspodium” – in hierdie geval ’n tafel voor ’n wynmuur waarop staan “??” – is alles behalwe “gewoon”.

Die boekbekendstelling is by Neil Ellis Wyne op Stellenbosch gehou.
Ek wil my dus verstout om met hierdie anderster “oorsig” oor die boekbespreking by Neil Ellis Wyne verlede week ook effe van die gewone formaat af te wyk. Dink terug na die dae van The Golden Girls met Sofia se bekende woorde: “Picture this: Sicily 1912.”
Kom ons dra dit oor na die hede: “Picture this: Stellenbosch 2023.” Die geleentheid is ’n “boekbespreking” van RR Ryger se nuutste boek Drank, seks en David Bowie. Dis die tweede aand van Ryger en Brood se Roadshow. Die derde is op Swellendam.

Aapstreke op die “skrywerspodium”.
Frikkie Brood (Ryger se seun) het ’n ponytail, baadjie en dun dassie. Sy ronde brilletjies laat hom effe nerd-agtig voorkom en toe hy sy mond oopmaak, is dit ’n muisagtige stemmetjie waarmee hy die onderhoud aanpak. Ryger is in ’n T-hemp en stapskoene, glas wyn amper ’n verlengstuk van sy arm.
Hoewel die geleentheid 17:30 vir 18:00 is, is dit later 18:30 en geen teken van gesels nie. Dis nou gesels agter die skrywerstafel nie. Want in die proelokaal dreun dit soos mense lag en stories uitruil. Ryger sê: “Ons gee nog so ’n paar minute, is nie aldag wat mens sulke lekker wyn en salami kry nie!”

Frikkie en Ryger gesels oor die boek, maar ook nie.
Toe almal se glase (vir die hoeveelste maal) gevul is, raak ons rustig. Frikkie en Ryger gesels oor die boek, maar ook nie. Frikkie steek vier broodrolletjies met ’n vleisvurk en die gesprek is amptelik geopen. Hy beskryf vir Ryger as ’n “stapelgek literêre skisofreen” wat ook al bekend gestaan het as “Kroegvlieg Wikkelspies”. Wyle Charles Malan het Ryger glo as ’n “mal mens” beskryf.

Gaste is getrakteer op heerlike wyne.
Daar is ’n kartonboks langs Ryger waaruit hy gereeld rekwisiete haal: ’n sagte speelding, rugkrapper, later ’n watergeweer waarmee hy vir Frikkie papnat spuit. Frikkie verklaar dat die boek se titel “so ’n nice ring to it” het en Ryger antwoord dat hy een maal met die titel “Drank, seks en Alan Chami” vorendag gekom het, maar geen uitgewer was geïnteresseerd nie. Toe wysig hy dit effens vir die nuwe boek.
Dis op die internet dat ek hierdie inligting oor hom oplees:
Michael Green skryf onder die skuilnaam R.R. Ryger verskeie romans en novelles wat die laermiddelklas-mense se subkultuur van ’n vergryp aan seks, alkohol en dwelms uitbeeld.
Op laerskool besef hy reeds dat hy ’n boek kan skryf, toe hy ’n storie oor ’n pangaman skryf en sy onderwyser ’n loopbaan as moordverhaalskrywer voorspel. Vanaf sy matriekjaar skryf hy kortverhale wat hy aan Die Huisgenoot voorlê vir publikasie, maar geeneen word aanvaar nie. ’n Kenmerkende kortverhaal was byvoorbeeld “Die beer van Katanzaro” met die tema van ’n man wat mense met ’n byl kap, maar hierdie temas was klaarblyklik nie in die tydskrifte se smaak nie. Hy word algemeen bekend nadat hy ’n artikel vir Scope skryf waarin ’n foto van hom verskyn waar hy op die toilet sit met sy broek om sy enkels en hy beskryf word as die gekste skrywer in Suid-Afrika. Sy werke is tiperend van ’n subkultuur van nihilisme en ’n vergryp aan seks, alkohol en dwelms, met die fokus op die laermiddelklas-mense. Hiermee sluit hy aan by die werk van onder andere Jeanne Goosen, Ryk Hattingh en die grafiese Bitterkomix-reeks van Anton Kannemeyer en Tinus Horn.

Cobus du Plessis en Regardt van Rooyen.
Hy het onder Michael Green vyf boeke geskryf: Vreemde verskynsels, Nagbewegings, Sieners, Die derde rugbybal en Hondsdol. Onder RR Ryger verskyn tot op hede sewe boeke: Die hol gevoel, Beertjie en sy boytjies, Die spoed van die lewe, Skoenlapper, Dominatrix en ander verhale, ’n 101 bakgat maniere om te lewe en sterwe en die nuutste, Drank, seks en David Bowie.

Hugo Truter en Kobus Louwrens by die geleentheid.
Na vele staaltjies oor Ryger se sibbe en die mal goed wat hulle as kinders aangevang het en die opmerking dat sy suster Trish later ’n baard gegroei het, is daar darem die versugting dat hy eendag ’n kabaret met David Bowie se minder bekende liedjies na ’n kunstefees soos die KKNK wil neem. Hy erken dat “Bowie gehelp het om die boek te skryf”, want al waarna hy tydens die skryfproses geluister het, was Bowie se musiek.

RR Ryger en Frikkie Brood
Die twee skeer oor en weer gek: Ryger kamstig onbewus van Frikkie se sterk geletterdheid en geleerdheid; Frikkie kamstig verbaas oor Ryger se geheimsinnigheid oor of hierdie storie waarlik gebeur het. “Laat die leser raai,” word verklaar.

RR Ryger se boeke wat te koop was.
Voor mense regtig kan vrae vra, word pryse getrek om wyne met Ryger se etikette op weg te gee en die kuier duur voort. Ryger antwoord darem wel op die vraag oor wat sy gunsteling-Bowie-liedjies is: “Slow Burn” en “Golden Years”.

Wyne met Ryger se boekvoorblad op is in gelukkige trekkings weggegee.
Kan ek jou dus meer van die boek se inhoud of Ryger se skryfproses vertel? Nee. Maar ek kan wel sê dat ek nog nooit by ’n boekbekendstelling soos hierdie een was nie, ook dat ek seker nie gou weer so iets sal beleef nie.
Was die aand pret, het hy boeke verkoop, het mense oor sy skryfwerk gesels? Ja op al drie vrae. En as dit die standaard is van ’n goeie boekbekendstelling kry hierdie duo volpunte.
- Foto’s: Clifford Roberts


Kommentaar
Sê asb vir Mnr RR Ryger, ek hoop die RR staan vir Rolles-Royce, want ek het nog nooit so lekker gery nie en ek voel nou sommer loslyf.