
Die Afrikaanse skrywer RR Ryger se nuutste boek Drank, Seks en David Bowie is nou slegs by Amazon as ’n e-boek te koop.
Waaroor gaan die boek?
Ronnie Ryger, ’n luigat, suipende digter wat die afgelope paar jaar meer blatjang gekook het as gediggies uitgedink het, is in die moeilikheid. Sy verlede, in die vorm van drie psigopatiese wrekers, haal hom in. Ronnie probeer sy vrou en stiefseun beskerm deur hulle in die donker te hou oor wat aan die kom is. Sy broer, Andre, is darem daar om te help en ook om die verlede te probeer uitpluis. Want die Rygers het uiters vreemde vormingsjare gehad met ’n ma wat botter op haar kinders se koppe gesmeer het en eerder daarvan sit en droom het om met die country-sanger Lance James weg te loop, as om kinders groot te maak. Geen wonder nie dat Ronnie se suster besluit het om ’n baard te groei en in e-posse aan Andre te wonder of die Rygertjies nie eintlik resusapies is nie.
Hierdie fiktiewe biografie se titel is ook nie verniet Drank, seks en David Bowie nie. Daar is sommer baie drank, baie seks en baie David Bowie in.
Bowie? Ronnie wil ’n kabaretvertoning by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees hou waarin hy van Bowie se minder bekende liedjies sing. Dis nou, as hy die huidige krisis in sy lewe oorleef!
Meer oor Ryger

RR Ryger se prosadebuut, Die Hol Gevoel, is destyds deur sommige kritici, soos wyle Charles Malan, as moontlik die werk van ’n “mal mens” beskryf.
Ryger het hom nie deur dié beskrywing van stryk af laat bring nie en het met Beertjie en sy Boytjies geantwoord. Dié ontstellende werk oor ‘n droster wat ’n verkragtingspoor laat, is deur die resensent Murray la Vita met die “magiese lirieke” van Jim Morisson van The Doors-faam vergelyk.
Verrassend genoeg het Ryger in sy volgende boek, Die Spoed van die Lewe, ‘n pelgrimstog na Morrison se graf in Frankryk aangepak.
Sedertdien het verskeie ander boeke gevolg, met ’n 101 Bakgat Maniere om te lewe en sterwe die mees onlangse een.
Waarom ’n e-boek?

Ryger vertel:
“Ek het die boek al ’n paar jaar terug geskryf en dit vir een van die groot uitgewers in ons land gestuur. Die uitgewer se keurder was baie positief, maar die uitgewer het om die een of ander rede nie kans gesien om die boek uit te gee nie.
“Intussen het ’n ander uitgewer my genader wat my eerste boek “Die Hol Gevoel” wou herdruk. Ek het toe gesê wel, dis baie nice, maar hier is vir jou my nuwe boek. Hy en sy keurder was altwee baie opgewonde, maar die maande het verbygegaan en niks het gebeur nie. Toe ek eindelik die uitgewer weer in die hande kry, het ek die idee gekry die ou het geldelike probleme gehad, so dit was dit.
“Ek probeer toe nog ’n uitgewer en die knaap was aanvanklik ook positief net om stilstuipe te kry. Toe ek hom weer in die hande kry het hy gehum en geha en toe sê ek, ag weet jy wat, die tyd gaan verby en kom ek probeer dan maar self die e-boek-storie.”
Oor Garry G, wat die voorblad geskep het
Garry G is ‘n filmmaker en musikant. Sy werk kan op sy YouTube kanaal sowel as op verskeie ander sosialemediabronne gevind word.
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC2HCu25IS-D5y12bL3_MWZA
Instagram: https://www.instagram.com/gareth_green_tea/
- Foto’s van RR Ryger is deur Garry G.

