Phoebe word ambassadeur vir roerende projek

  • 0

Die Gedigtefees in McGregor vier hulle 10de jaar en word eerskomende naweek van 18 tot 20 November gehou. Die tema is “Touching the Wild / Die Wildernis in” en ’n boek wat baie goed by dié tema inpas, word daar bekendgestel.

Patricia Schonstein, ’n romanskrywer, digter, kinderboekskrywer en kurator van bloemlesings, span kragte saam met The Cactus Foundation en stel by die fees The Phoebe book of poems for children bekend.

The Cactus Foundation  is deur Sarah Clayton gestig in reaksie op kinders se wrede marteling en poging om ’n klein hondjie dood te maak in opdrag van hul pa. Die hondjie se naam is Phoebe en sy is nou die ambassadeur vir die projek.

Sien haar storie op https://cactusfoundation.africa/phoebes-story/.

Patricia vertel: “Ek het by die projek aangesluit om boeke vir kinders te skryf wat hulle sal inspireer om vir die Skepping te sorg en ’n liefde vir diere te ontwikkel.” Die boek is pragtig deur Izak Vollgraaff geïllustreer.

Die boek sal die eerste in ’n reeks wees. Feesgangers kan vir Phoebe, Patricia en Sarah tydens die fees ontmoet.

Tien ander boekbekendstellings word oor die naweek gevier. Onder meer is Douglas Reid Skinner, Willem Fransman jnr en Christine Coates op die program, saam met die Poetry in McGregor 2021 Anthology. Dit is een van die jaarlikse hoogtepunte op die feesprogram.

Die Gedigtefees word weer vanjaar by Temenos as anker vir die naweek se verrigtinge aangebied. Dit bestaan uit 65 aanbiedinge, wat ook ‘n paar oop-mikrofoon- sessies insluit vir dié wat spontaan hul gedigte wil kom deel. Antjie Krog, Wendy Woodward, Ian McCallum, Harry Owen, Ilze Olckers, Jacques Coetzee, Kobus Moolman, Archie Swanson, Stephen Symons, Lara Kirsten, Sue Woodward en Diana Ferrus (saam met Die Mengelmoes Digters) is deel van die lang lys indrukwekkende digters wat vanjaar op die program is.

Gedigte in Afrikaans en Engels van die jaarlikse gewilde alternatiewe zine Ons Klyntji sal voorgelees word deur Sindiswe Busuku, Tom Dreyer, Churchil Naudé, Curtley Jones en twee van Ons Klyntji se redakteurs, Toast Coetzer en Alice Inggs.

The Jeugprogram sal kuns, fotografie en gedigwerkswinkels vir ongeveer 90 leerders bied ‘n week voor die feesverrigtinge begin. Dit sluit graad 1–12-leerlinge van McGregor Fountain Waldorf Skool, McGregor Primêr en McGregor College in.

Die volledige program is op die webtuiste: https://poetryinmcgregor.co.za.

Bespreek kaartjies deur Quicket.

Lees ook:

Press release: 10th Poetry in McGregor festival, the festival programme

Persverklaring: Die McGregor Gedigtefees vier 10 jaar!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top