Pharos se Klein woordeboek/Little Dictionary bedoel vir groot en klein: ’n onderhoud

  • 0

Omslag van Klein woordeboek: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9781868902576; yskasmagnete: Canva

Klein woordeboek/Little dictionary
Annemie Stoman en Pharos se redaksionele span
Uitgewer: Pharos
ISBN: 9781868902576

........
Ons teikenmark is jonk en oud, Afrikaans en Engels – enigiemand wat ’n betroubare, sakpas naslaanbron saam met hulle wil dra. Al wat jy nodig het, is die nodige woordeboekvaardighede om jou weg deur die boek te vind.
..........

Naomi Meyer praat met Annemie Stoman oor die nuwe Klein woordeboek wat Pharos pas uitgegee het.

Hallo, Annemie! Wat is die doel van hierdie boek se grootte?

Die Klein woordeboek is ’n kompakte naslaanwerk wat ontwerp is vir vinnige toegang tot hedendaagse taalgebruik – sakpas en maklik om te gebruik vir enige vaardige woordeboekgebruiker. Die kompakte formaat beteken ook dat dit bekostigbaar bly sonder om gehalte en betroubaarheid prys te gee.

Die boekie se grootte (of die gebrek daaraan) maak dit aanloklik om te sit en daaraan te begin lees soos 'n storieboek. Top, tor, toring, torring, tossel, tot, totaal, totdat, totsiens, totstandkoming, tou, towenaar. Swallow, swap, swarm, swat, sway, swear, sweat, sweater, sweep, sweet, sweetener, sweets, swell, swelling, swollen. Mens kan nie ophou lees nie en blaai om. Telkens met die vertaling daarby. Is dit ook wat julle beoog het?

Die idee agter die Klein woordeboek is dat mense dit altyd by hulle kan dra om vinnig toegang te hê tot ’n betroubare naslaanbron. Die ervaring wat jy beskryf, waar ’n mens vasgevang word deur die ritme van woorde en hul vertalings, is presies hoekom baie mense lief is vir woordeboeke, en met die Klein woordeboek is dit ’n ervaring wat jy op enige plek kan hê.

........
Die idee agter die Klein woordeboek is dat mense dit altyd by hulle kan dra om vinnig toegang te hê tot ’n betroubare naslaanbron. Die ervaring wat jy beskryf, waar ’n mens vasgevang word deur die ritme van woorde en hul vertalings, is presies hoekom baie mense lief is vir woordeboeke, en met die Klein woordeboek is dit ’n ervaring wat jy op enige plek kan hê.
..........

Wanneer jy begin blaai, of dit nou doelgerig is of net uit nuuskierigheid, gaan jy op ’n onverwagse ontdekkingsreis deur taal. Ons maak al ons woordeboeke met die hoop dat die gebruiker se liefde vir taal en woordeboeke sal groei.

Wie is julle primêre teikenmark? Afrikaanse of Engelse mense, jonk, oud, skoliere, studente, taalmense?

Ons teikenmark is jonk en oud, Afrikaans en Engels – enigiemand wat ’n betroubare, sakpas naslaanbron saam met hulle wil dra. Al wat jy nodig het, is die nodige woordeboekvaardighede om jou weg deur die boek te vind.

Hoe kies mens wat om in te sluit in so 'n klein boekie? Hoe kies mens wat om weg te laat?

Dit was sonder twyfel ons grootste uitdaging! Daar is ’n paar elemente wat nie onderhandelbaar is nie, byvoorbeeld hoofwoorde wat in alfabetiese volgorde gerangskik is. Dan is daar elemente wat ons ingesluit het om die woordeboek so gebruiksvriendelik moontlik te maak. Van dié elemente is genommerde homonieme, genommerde vertalings, lettergrepe, woordklemme, afgekorte woordsoorte, infleksie, ens. Wat die kies van hooflemmas en vertalings betref, het ons seker gemaak ons vang die hedendaagse taalgebruik vas en ons laat die verouderde woorde in vrede rus.

Klik op die prent om deur te skakel na ’n duideliker weergawe van hierdie foto.

Behalwe woorde met hul vertalings in Afrikaans en Engels, wat kan mense nog in die Klein woordeboek aantref?

Moenie deur die grootte mislei word nie – hierdie woordeboek is 'n linguistiese Switserse mes! Die Klein woordeboek bevat, soos reeds genoem, onder andere lettergreepverdelings, hoofklemme, homonieme en genommerde vertalings, en dan ook woordsoorte, die verlede tyd van werkwoorde, meervoude, trappe van vergelyking ... Daarbenewens kan die gebruiker duisende afleidings, dus woorde in ’n woordfamilie, met hul vertalings naslaan. Ons het ook ’n kompakte afkortingslys ingesluit.

Leer julle, die redaksionele span, nog iets van nuwe woorde as julle so iets skep?

Elke dag! Een van die bevredigendste aspekte van leksikografiese werk is dat jy ’n getuie is van hoe taal leef en groei. Ons ontdek nie net nuwe woorde nie, maar ook hoe ou woorde nuwe betekenisse kry, hoe uitspraak verander en hoe kulturele verskuiwings in taal weerspieël word.

Klik op die prent om deur te skakel na ’n duideliker weergawe van die foto.

Watter woorde het julle opgeval as nuut en byderwets – in Afrikaans en in Engels?

In Afrikaans het ons inskrywings soos beïnvloeder (sos media), bot (reken) en diepvervalsing (reken) opgeneem en afkortings soos KI. In Engels het ons items soos admin (soc media), status (soc media), cookie (comp) en stream (comp), afkortings soos AI en akronieme soos COVID-19/Covid-19 opgeneem. Wat opvallend is van dié woorde, is dat dit hoofsaaklik rekenaar- en sosialemediaterme is. Beide velde is ewig veranderend en daarom is die woordeskat altyd besig om te groei.

Wat nog opvallend is, is hoe vinnig hierdie woorde van niksheid na noodsaaklikheid beweeg het. ’n Paar jaar gelede het baie van dié woorde nie bestaan nie; vandag is dit universeel.

........
Wat nog opvallend is, is hoe vinnig hierdie woorde van niksheid na noodsaaklikheid beweeg het. ’n Paar jaar gelede het baie van dié woorde nie bestaan nie; vandag is dit universeel.
.........

Is Afrikaans meestal aan die vertaal, of skep Afrikaans ook nuwe woorde waarby die Engels soms moet aanpas, of waaruit die Engels moet vertaal?

Oral in die wêreld is daar al hoe meer taalkontak tussen verskillende tale, en Engels is die taal wat sekerlik die meeste ander tale beïnvloed weens die magdom nuwe woorde wat daagliks in Engels geskep word. So ja, Engels se globale dominansie, veral in tegnologie en populêre kultuur, beteken dat baie nuwe terme eers in Engels ontstaan, maar Afrikaans is nie net 'n passiewe ontvanger nie.

Ons sien twee interessante prosesse: eerstens, Afrikaans se kreatiewe aanpassing van Engelse woorde, bv beïnvloeder, wat die Engelse influencer is, en diepvervalsing, wat die vertaling vir deepfake is.

Tweedens skep Afrikaans soms woorde of uitdrukkings wat dan teruggaan na Engels – veral in die Suid-Afrikaanse konteks. Woorde soos bakkie en braai het hul eie lewe in Suid-Afrikaanse Engels gekry.

Die werklikheid is dat moderne tale in konstante interaksie is. Geen taal bestaan in isolasie nie, en die gesondste tale is dié wat kan ontleen, aanpas en terselfdertyd skep.

Wat was vir julle die lekkerste gedeelte van die werk aan hierdie boek?

Definitief die kuns in beknoptheid sonder die verlies van betekenis, en om te sien hoe die woordeboek saam met die res van die samelewing ontwikkel.

Waar koop mens dit, en wat kos dit?

Die woordeboek is beskikbaar by die meeste vooraanstaande boekwinkels teen R180.

Lees ook:

Pharos se nuwe Senior tweetalige skoolwoordeboek as skatkis: ’n onderhoud met Delana Fourie

Taal en tydsgees: ’n onderhoud oor al Pharos se woordeboeke

Pharos se grondslagfasewoordeboeke: ’n onderhoud met Annemie Stoman en Delana Fourie

Die aanlynwoordeboekgebruiksvaardighede en -probleme van redigeerstudente ten opsigte van ’n prototipe- akademiese redigeerwoordeboek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top