Persverklaring: ’n Rits Fiësta-benoemings vir Suidoosterfees

  • 0

Die Suidoosterfees is weer vanjaar sterk verteenwoordig onder die benoemdes vir die 16de kykNET Fiësta-toekennings – ’n geleentheid wat erkenning gee aan die gehalte, verbeeldingrykheid en impak van Afrikaanse teater op die feeskringloop.

Met ’n nuwe tuiste by Tribuo, maar steeds met kykNET as naamborg, bekroon die ikoniese kykNET Fiëstas jaarliks die beste werk wat by die Suidoosterfees, KKNK, Toyota Innibos, Vrystaat Kunstefees, Momentum Aardklop en die Toyota Stellenbosch Woordfees op die planke gebring is.

Vanjaar se Fiëstas spog met ’n uitgebreide lys van 25 kategorieë wat uitnemendheid oor ’n wye spektrum genres op én agter die verhoog erken. Wenners word op 22 Maart tydens ’n glansgeleentheid by The Bay Hotel in Kampsbaai aangekondig.

Verwelkingslied

Verwelkingslied (Foto: Gys Loubser)

Verwelkingslied, Breyten Breytenbach se laaste verhoogstuk wat kort voor sy dood in 2024 spesiaal vir die Suidoosterfees geskryf is, is in sewe kategorieë benoem. Dié produksie het in 2025 by die fees gedebuteer en het met Momentum Beleggings Aardklop as medevervaardiger groot aftrek op die feestekringloop gekry.

Breytenbach se drama is benoem as produksie van die jaar en beste aanbieding van 2025, en die skrywer het ook ’n nominasie vir beste nuutgeskepte Afrikaanse/Suid-Afrikaanse teks ontvang.

Dawid Minnaar, wat gehore onthuts gelaat het met sy verstommende uitbeelding van die karakter Meester, wat op Breytenbach self gebaseer is, is as beste akteur benoem, en Antoinette Kellermann as beste aktrise vir haar vertolking van Ou Aktrise. Die stuk is spesifiek met Kellermann in gedagte geskryf en aan haar en Marthinus Basson, met wie die wêreldberoemde Afrikaanse skrywer ’n noue teaterband gehad het, opgedra.

Marí Borstlap, wat die uitdagende taak gehad het om Verwelkingslied te regisseer, het ’n benoeming in die beste regisseur-kategorie ontvang, en die veelbekroonde Fahiem Bardien vir beste prestasie in beligtingsontwerp.

Verwelkingslied word vanjaar by die KKNK op Oudtshoorn opgevoer met die ondersteuning van onder meer die Festival Enterprise Catalyst en die Jobs Fund, en dit kom maak ’n laaste draai by die Suidoosterfees wat van 29 April tot 3 Mei in Kaapstad plaasvind.

Kompoun

Kompoun (Foto: Gys Loubser)

Nog ’n 2025-vlagskipdrama van die Suidoosterfees, Kompoun, het drie Fiësta-benoemings ontvang. Dié verhoogdrama met Angelo Bergh en Melissa de Vries het ook in 2025 by die fees gedebuteer en is sedertdien by die Nasionale Kunstefees in Makhanda en die Toyota Stellenbosch Woordfees opgevoer. Dit is ook op die KKNK se program vanjaar. KKNK en Woordfees is die Suidoosterfees se produksievennote van die toneelstuk.

Jolyn Phillips se verwerking van Ronelda Kamfer se wyd vertaalde roman het ’n benoeming as beste vertaling of verwerking van ’n bestaande werk ontvang. Die regisseur Lee-Ann van Rooi is vir haar uitstekende stelontwerp genomineer in die beste visuele prestasie-kategorie.

Angelo Bergh, wat saam met Melissa de Vries feesgehore se harte verower het met hul uitnemende spel, is as beste nuweling genomineer. Bergh se nominasie spruit uit sy spel in Kompoun én Vannie wal af, ’n NATi Jong Sterre-produksie wat in 2025 deur die Suidoosterfees opgevoer is.

Die een wat bly

Die een wat bly, ’n ko-produksie van Suidoosterfees, KKNK en Momentum Aardklop, spog ook met ’n rits Fiësta-benoemings, onder meer as produksie van die jaar.

Die regisseur Wessel Pretorius, wat saam met die geselskap vir die teks van die verhoogstuk verantwoordelik was, is in twee kategorieë benoem: beste regie en beste nuutgeskepte Afrikaanse/Suid-Afrikaanse teks.

Grant van Ster, Shaun Oelf en Daneel van der Walt was op die verhoog in dié gewilde stuk waarin dans en drama gekombineer word. Van der Walt het ’n nominasie as beste aktrise verwerf terwyl Van Ster en Oelf vir beste prestasie in dans/beweging benoem is.

Die geselskap het ook ’n benoeming vir beste ensemble ontvang, en Oelf vir beste prestasies in klank- en musiekontwerp.

Drama, komedie en kinderteater

Hortjies dig (Foto: Gys Loubser)

Hortjies dig, Francois Toerien en Juanita Swanepoel se aangrypende verhoogdrama oor die lewe van Peter Blum, een van Afrikaans se mees omstrede digters, het ’n benoeming aan Joanie Combrink as beste vroulike byspeler besorg.

Dié drama wat deur Jean Meiring vervaardig is, het in 2025 by Suidoosterfees gedebuteer met Combrink en Chris van Niekerk in die rolverdeling.

Die kleedkamer, ’n komedie van 30 minute wat verlede jaar met Brendon Daniels en Deon Lotz as deel van die Suidoosterfees se Kort voor lank-program opgevoer is, is vir ’n Fiësta as beste komedie benoem. Ferdinand Bekker het die stuk vir die Suidoosterfees geskryf en die regie is deur Gaerin Hauptfleisch behartig.

Shaka S. Septembir is vir Stinkie, los uit! Don’t touch! op Suidoosterfees 2025 se kinderteaterprogram genomineer in die kategorie beste prestasie in kinder- en jeugteater.

Musiekproduksies

Verskeie musiekproduksies wat tydens die fees in 2025 opgevoer is, is in die pylvak vir Fiësta-toekennings. In die afdeling beste kontemporêre musiekvertoning is Nataniël se Duif., ’n ko-produksie met die KKNK, benoem, asook Konsert van hoop en Vrouestemme: Voices of Power.

Anna Davel en Ilse Klink se Davel & Klink in harmonie het ’n benoeming as beste musiekproduksie: podium losgeslaan, en Viva Italia! An Operatic Songbook vir beste prestasie in klassieke musiek: vokale uitvoering. Die Charl du Plessis Trio is genomineer vir Swinging Classics in die kategorie beste prestasie in klassieke musiek: instrumentele uitvoering.

Die Suidoosterfees vind in 2026 in Kaapstad plaas van 29 April tot 3 Mei, en beloof ’n propvol program met produksies wat die fees se verbintenis tot gehalte en innovering opnuut gaan demonstreer. Die volledige feesprogram is op suidoosterfees.com beskikbaar en besprekings kan deur Webtickets gedoen word.

Smile FM is vanjaar die Suidoosterfees se amptelike radiostasie. Die hoofborge van die fees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV en Kunstekaap.

Lees ook:

Persverklaring: Suidoosterfees 2026 se NATi Teaterfees-program

Persvrystelling: Suidoosterfees bring ’n musikale hutspot van stemme en style na die wêreld se mooiste stad!

Persvrystelling: Suidoosterfees 2026 se Kort voor lank-programafdeling

Persverklaring: kykNET Fiëstas-toekennings – hier is die benoemdes

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top