Persverklaring: Wes-Kaapse skole by WOW-skoolmedia-gala vereer

  • 0

Prente: https://wow.woordfees.co.za/; foto van Fiona van Kerwel (WOW-bestuurder) en Laykin Rudolph (koördineerder WOW-skoolmediaprojek): verskaf

Woorde Open Wêrelde (WOW) het Donderdag, 6 Maart uitblinkers van die WOW Skoolmediakompetisie vereer by ’n gala-geleentheid in Stellenbosch.

“Die projek is gerig op skole en leerders wat meestal beperkte hulpbronne het, veral wat betref rekenaar- en slimfoontoegang, data- of internetverbinding en kontantvloei,” sê Jacolette Kloppers, inhoudskoördineer van die WOW-skoolmediaprojek.

Pryse soos skootrekenaars, taalversorgingsbronne en hardeskywe (hard drives) is toegestaan om toppresteerders in staat te stel om hulle nuuskierigheid te bly voed met hulle skoolkoerante. Leerlinge van tien Wes-Kaapse hoërskole het ingeskryf vir die 2024-kompetisie as deel van die WOW Skoolmediakursus, waar ervare joernaliste regdeur die jaar saam met skole en leerlinge gewerk het om hulle voor te berei en raad te verskaf oor die inhoud van ’n skoolkoerant en uitvoering van die jaarplanne. Skole word aangemoedig om die reeks opleidingsvideo’s op die WOW-webwerf te kyk en die terugvoering en kriteria van vorige jare se skoolmediakompetisies te bestudeer.

Inskrywings is bepunt in die kategorieë beste artikel of profiel (Hoërskool Gordon), beste nuusfoto en byskrif (Hoërskool Soneike), beste nuusberig oor ’n WOW-, kuns- of kultuur-geleentheid, beste algemene nuusberig, beste gesamentlike inskrywing asook ’n ekstra prys vir beste PDF-weergawe van ’n skoolkoerant (Klein Nederburg Sekondêr – dié Paarliete het skoonskip gemaak met die meeste pryse). Die plaaslike Hoërskool Cloetesville het die tweede plek behaal vir die beste algemene nuusberig.

Wat voorheen ’n skoolkoerantkursus was met ’n klem op gedrukte of afgerolde skoolkoerante wat in tradisionele koerantstyl uitgelê is, is dit aangepas tot ’n meer algemene skoolmediakursus sodat sosiale en digitale media en die gebruik van selfone ook bespreek kan word.

..........
Wat voorheen ’n skoolkoerantkursus was met ’n klem op gedrukte of afgerolde skoolkoerante wat in tradisionele koerantstyl uitgelê is, is dit aangepas tot ’n meer algemene skoolmediakursus sodat sosiale en digitale media en die gebruik van selfone ook bespreek kan word.
.............

“Ons hoop hierdie projek sal wêrelde open, verander, versier, verhelder en inkleur – boonop word belangrike joernalistieke, media-, kommunikasie- en taalvaardighede ook aangeleer,” sê Kloppers.

WOW is ’n bemagtiginsinisiatief by die Universiteit Stellenbosch. Lees hier meer oor wat hulle doen om onderbediende skole deur taal, kuns en kultuur te bemagtig.

Lees ook:

Die Nagtegaal-teksprys: ’n onderhoud met Saartjie Botha

WOW word tien

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top