Persverklaring: Jodi Jantjies, sangeres en liedjieskryfster van Mitchell's Plein, stel haar album bekend

  • 0

Hierdie talentvolle sangeres en liedjieskryfster gaan hopelik binnekort ’n huishoudelike naam word en die Suid-Afrikaanse musiekbedryf aangenaam verras met die bekendstelling van haar debuutalbum hierdie week.

Dié 21-jarige sangsensasie, in Mitchell's Plein gebore en getoë, het pas haar 10-liedjie-album, WOORDE, bekendgestel op al die vooraanstaande digitale musiekplatforms.

"Dit was nog my hele lewe lank my grootste droom om my eie musiek bekend te stel. En nou, met die bekendstelling van my eie album waarna mense kan luister en hopelik inspirasie kan put uit die verskillende musiekgenres wat ek ingesluit het, kan ek uiteindelik uitsien na die verwesenliking van my droom,"  sê die Afrikaanse musiekster, wat haarself as "skaam en stil" beskryf.

Jodi is op 16-jarige ouderdom vir die eerste keer raakgesien deur die ATKV-Crescendo-beoordelaars tydens haar 2016-oudisie. Vyf jaar later is sy een van Suid-Afrika se nuutste musiekwonders wat sing en liedjies skryf  en baie opgewonde is omdat almal nou haar oorspronklike musiek gaan hoor.

Sy vertel: "Musiek het my gehelp met my spraakgebrek en sonder musiek sou daar nie ’n Jodi Jantjies gewees het nie. Musiek het gehelp om my deur vele uitdagings in die lewe te kry en om as ’n selfversekerde storieverteller anderkant uit te kom deur middel van my musiek." Sy sing in Engels en Afrikaans, en het reeds menige gehore as lid van die ATKV-Crescendo-span met haar talent beïndruk, van Aardklop tot by die Suidoosterfees en die #Onsefees.

As deel van haar debuutalbum het Jodi nog een van haar groot drome bewaarheid – sy het haar rolmodel, liedjieskryfster en sangeres, Karen Zoid, genader om 'n duet saam met haar te sing. Jodi het dit as 'n enkelsnit, Gee My Die Woorde, vrygestel. Dié enkelsnit is reeds op 22 Oktober 2021 vrygestel op alle digitale musiekplatforms. "Om saam met Karen te werk, was 'n ongelooflike ondervinding waartydens ek so baie geleer het. Dit was ’n absolute droom wat bewaarheid is. Sy is my rolmodel en ek het so baie by haar geleer terwyl ons in die ateljee was, en selfs terwyl ons die musiekvideo gemaak het. As kind was sy die één kunstenaares saam met wie ek nog altyd wou werk, en ek is so dankbaar en bevoorreg dat sy my gehelp het om daardie droom te verwesenlik," verduidelik Jodi.

As die dogter van 'n pastoor en ’n trotse Christen, het Jodi reeds in Maart vanjaar ook haar EP, Dit is ... Jodi Jantjies, met vier liedjies vrygestel.

Teen volgende maand kan musiekliefhebbers en Jodi se aanhangers 'n eksklusiewe CD en DVD van haar WOORDE bestel. Hierdie beperkte en eksklusiewe aanbod bevat haar album in 'n CD-formaat, asook 'n DVD met beeldmateriaal van Jodi se storie en die reis van die album tot by vrystelling. 'n Beperkte voorraad FynBos-wyn met ’n spesiaal ontwerpte etiket is ook deel van die pakket. Hierdie boetiek-wyn is deel van die reeks Spoegwolf-wyne en behoort aan nog een van Jodi se helde, Danie du Toit.

"Daar gaan slegs 50 kopieë beskikbaar wees en elke pakket gaan 'n persoonlike brief van my aan die koper bevat," deel Jodi. Hierdie beperkte musiekpakket sal van einde November 2021 af beskikbaar wees. Kontak gerus vir Whaden Johannes per e-pos by crescendo02@atkv.org.za of bel 021 880 1761 om 'n bestelling te plaas.

Jodi Jantjies se sosialemediabesonderhede:
Facebook: https: // www. facebook.com/jodi.jantjiesii 
Instagram: https: // www. instagram.com/jodijantjies/
Twitter: https://twitter.com/JodiJantjies1

Haar musiek op Apple: https://music.apple.com/za/artist/jodi-jantjies/1527529048

Meer oor Jodi Jantjies

Tydens oudisies by Cedar Sekondêre Skool in Mitchell's Plein op 4 Maart 2016, het ’n baie skaam en stil 16-jarige jong meisie opgedaag om haar eie liedjie voor die ATKV-Crescendo-beoordelaars te sing. Die beoordelaars, HemelBesem, Mynie Grové, Danie du Toit en Anna Davel was uit die veld geslaan. Dit was ’n onmiddellike en besliste "Ja" van al vier die beoordelaars. En so het Jodi Jantjies se reis saam met die ATKV-Crescendo-span begin. Jodi se naam gaan beslis in die toekoms op almal se lippe wees; nie net oor haar teenwoordigheid in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar eerder oor haar talente. Sy sing graag in Engels en Afrikaans, maar vir eers fokus sy meer op die ontwikkeling van haar Afrikaanse erfenis en haar liedjieskryftalent. Hierdie album gee mense die geleentheid om Jodi as ’n solokunstenaar te leer ken met haar diep en sielvolle musiek, met invloede van jazz, soul, alternatiewe klanke en met ’n bietjie Pinkster tussenin.

Lees ook:

Jodi Jantjies stel ’n mini-album bekend met ATKV-Crescendo

#opdielug met Jodi Jantjies

“Skep jou eie geleenthede” – Frazer Barry oor skeppende werk en die Suidoosterfees-inryteater

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top