Persverklaring: Hannes van Wyk se eenmanvertoning weer te sien

  • 0

Teaterliefhebbers kan in Julie uitsien na ’n derde drama wat as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se aanlyn fees in 2021 “terug op die planke” is.

Die immergewilde akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk se eenmanvertoning Sê groete vir Ma, moontlik gemaak deur Spar, kan ook nou in die gemak van kykers se eie sitkamers geniet word. Van Wyk vertolk in dié verfilmde drama die rol van Reghardt Roberts van Aswegen wie se hele lewe en menswees draai om sy ma.

Desiré Gardner het die teks geskryf en Sandra Prinsloo behartig die regie van die drama waar lag en trane baie na aan mekaar lê. Die band tussen ’n ma en haar kind, hul lewensreis saam, die pyn en die onvermydelikheid van oudword en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is, word hierin verken.

Sê groete vir Ma vertel die storie van Reghardt se vormingsjare (’n sensitiewe kind wat op ’n plaas moet grootword en die dinge van “man wees” en “man word” gou moet kop), sy pa, sy nie-so-slim broer Dewaldt en sy veerpoothoender, Knoop, wat hom van die dood en die pyn en vernedering van tiener-wees geleer het.

Die stuk word beskryf as ’n knop-in-die-keel-, tong-in-die-kies-kykie na die dinge waarmee die meeste mense hulle kan vereenselwig, en uiteindelik die een ding wat ons almal bind: die tik-tok van die horlosie wat niemand die aardigheid van oudword (en siekte) spaar nie. Dit is ’n storie vir elke lid van die gesin.

Die gerekende teaterresensent Paul Boekkooi beskryf die stuk as ’n menslike drama wat gehore van die eerste tot die laaste toneel vasvang. 

Kaartjies vir Sê groete vir Ma kos R150 met 10% afslag aan ATKV- en Kliek-lede. Dis beskikbaar in die KKNK se virtuele teater by kknk.co.za van Donderdag 15 Julie tot Sondag 15 Augustus. Koop jou kaartjie by Quicket (https://qkt.io/SegroetevirMa). Die produksie is geskik vir die hele gesin, maar ouerbegeleiding word aanbeveel.

Die KKNK word ondersteun deur  Absa (hoofborg) en  Media24 (stigtersborg) en met verdere ondersteuning deur die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Oudtshoorn Munispaliteit, BASA, DCAS, RSG, VIA en Netwerk24.

Lees ook:

Samsa-masjien as hibriede film. ’n Resensie

Persverklaring: Multi-bekroonde Samsa-masjien op film verewig

Die KKNK pronk op die silwerdoek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top