Vanjaar bied die Feesorkes van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees ’n gratis konsert vir die inwoners van Athlone en omgewing aan. Die konsert vind op Sondag 9 Julie om 12:00 die middag in die Silverton Ouditorium plaas.
Die uitvoering word deur maestro Julien Benichou dirigeer. Maestro Benichou het onlangs baie lof ontvang vir sy regie van “Way of the Rain”, ’n konsert in Carnegie Hall, New York, waarin Robert Redford opgetree het en wat in Monte Carlo herhaal is in die teenwoordigheid van Prins Albert II van Monaco.
In die Silverton Ouditorium sal maestro Benichou ’n orkes van 100 lede dirigeer. Dié musikante kom uit uiteenlopende gemeenskappe van die Wes-Kaap asook van Gauteng, KZN en Mpumalanga, sowel as internasionale studente van die Kamermusiekfees. Die program sluit Liszt se Hongaarse Rhapsodie in asook Moessorgski se Khovantchina ouverture en Respighi se Pini de Roma, ’n indrukwekkende vertoonstuk wat geïnspireer is deur Rome se ou dennebome.
Hierdie konsert word ook as deel van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees wat van 30 Junie tot 9 Julie in Stellenbosch plaasvind as ’n aandkonsert aangebied. Dit word dan op op Sondag 9 Julie om 12:00 gratis in die Silvertown Ouditorium herhaal. So het die Fees-Konsertorkes reeds die afgelope aantal jare telkens op die laaste dag van die Kamermusiekfees ’n gratis gemeenskapskonsert aangebied. Sulke konserte het in die verlede in Macassar, Khayelitsha, Jamestown en Cloetesville plaasgevind.
Peter Martens, Direkteur van Die Stellenbosch Kamermusiekfees sê: “Dit is musiek wat beide jonk en oud sal inspireer en dus word gesinne spesiaal aangemoedig om hierdie uurlange vertoning vol van simfoniese skouspel by te woon.”
Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees vind plaas in Stellenbosch van 30 Junie tot 9 Julie. Vir meer inligting gaan na: www.sicmf.co.za.
Lees ook:
Persverklaring: Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees stel eklektiese program bekend