Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees
30 Junie tot 9 Julie 2023 by die Endlersaal, Stellenbosch Konservatorium
Die gewilde Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees vind van 30 Junie tot 9 Julie plaas.
Hierdie jaar is daar ’n spesiale fokus op vrouemusikante. SIKMF het vanjaar die dirigent Rebecca Tong uitgenooi om die Fees-Simfonieorkes te dirigeer. Sy is een van die min opkomende vrouedirigente in die wêreld vandag. Op 7 en 9 Julie sal sy saam met die simfonieorkes op die verhoog van die Endlersaal te sien wees. Nadat sy die Eerste, ARTE en Orkespryse by die eerste La Maestra kompetisie vir dirigente gewen het, het Tong onder andere die Orchestre de Paris, Tampere Philharmonic, Orquestra Sinfónica do Porto, Orchestre national de Lyon en Manchester Camerata gedirigeer. Tong is in Indonesië gebore, en is tans die amtelike dirigent van die Jakarta Simfonia Orkes en die Artistieke Direkteur van Ensemble Kontempore.
Die eerste uitvoering van die opdragwerk wat Mikhaila Alyssa Smith vir die fees gekomponeer het vind op 4 Julie plaas. Smith, ’n Suid-Afrikaner wat tans in New York werksaam is en reeds oorspronklike musiek en orkestrasies vir talle produksies by Netflix, Disney, HBO en PBS geskep het, se nuwe opdragwerk Lighting our Stories: Tapestries of the Invisible het in samewerking met die jazzsanger en liedjieskrywer Tina Schouw ontstaan en is ’n musikale uitbeelding van Schouw se lewe en werk, veral haar ervaringe en persoonlike reis gedurende Suid-Afrika se oorgang na demokrasie.
Allison Loggins-Hull is ’n vrouekomponis wat ook in die VSA woonagtig is. Sy komponeer vir ’n verskeidenheid media, van televisie en film tot radio en die konsertverhoog. Haar werk Hammers vir die ongewone kombinasie van fluit en perkussie word ook op 4 Julie gehoor kan word met Demarre McGill (fluit) and Jauvon Gilliam (perkussie).
Ander vooraanstaande vrouekunstenaars wat by vanjaar se feespersoneel aansluit is ons eie violiste Suzanne Martens en Farida Bacharova. Hulle word vergesel van die bekende buitelandse violiste Gwendolyn Masin, Jennifer Stumm, Frederieke Saeijs en Karolina Errera. Die Universiteit Stellenbosch word deur die ervare koperblaasdosent Pamela Kierman verteenwoordig. Die bekroonde pianis Anastasia Markina sal Rachmaninof se gewigtige Trio Élégiaque op 3 Julie en Grieg se gewilde klavierkonsert saam met Fees-Konsertorkes op 8 Julie uitvoer.
Veral noemenswaardig is die vrou wat die SIKMF gestig het. Nina Schumann, die Artistieke Direkteur van die SIKMF, het by Suid-Afrikaanse gehore geen bekendstelling nodig nie. Nina is verantwoordelik vir die uitstaande aantal kunstenaars en die wonderlike programkeuse wat by vanjaar se fees gehoor sal kan word. Sy sal self optree in uitvoerings van Vaughan Williams se klavierkwintet (1 Julie) en Tanejef se klavierkwintet (5 Julie).
Een van die ongeveer 150 vroulike deelnemers is Colette Brand, wat saam met haar vroulike strykkwartetspelers vanaf Switserland kom om aan die fees deel te neem. Brand sê: “As ’n vroulike strykkwartet wat in Switserland werksaam is, is die Eleas Kwartet besig om aan ’n uiteenlopende repertorium van werke te bou, wat strek van klassiek tot jazz tot kontemporêre musiek. Ons is baie opgewonde om musiek te maak saam met die internasionale kunstenaars en Suid-Afrikaanse studente by die SIKMF en is nuuskierig om te sien wat die fees gaan oplewer.”
Die gewilde aandkonserte vind saans om 20:00 vanaf 30 Junie tot 8 Julie plaas. Die afsluitingskonsert op 9 Julie begin om 16:30.
- Kaartjies vir individuele vertonings, sowel as die opsie van ’n volle fees pakket, is by Webtickets beskikbaar.
- Koop kaartjies hier: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1529981304
- Meer inligting oor die beskikbare fees-pakkette: https://www.sicmf.co.za/festival_pass/
- Meer inligting by: www.sicmf.co.za
- Die volledige lys van feeskunstenaars kan gesien word by www.sicmf.co.za/artists/
- Facebook: https://www.facebook.com/sicmf?mibextid=LQQJ4d
- Instagram: @stellenboschfestival