Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees
30 Junie tot 9 Julie 2023 by die Endlersaal, Stellenbosch Konservatorium
Die gewilde Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees vind van 30 Junie tot 9 Julie plaas.
Hierdie jaar is daar ’n spesiale fokus op vrouemusikante – dit sluit die Fees Simfonieorkes se eerste vroulike dirigent, Rebecca Tong, in, saam met nog lede van ’n sterbelaaide fakulteit, wat ook ’n aantal nuwe internasionaal-bekroonde kunstenaars sowel as bekende en geliefde name uit vorige aanbiedings van die SIKMF insluit.
Met meer as 250 deelnemers wat reeds ingeskryf het, beloof die 2023 SIKMF 10 dae van magiese musiekmaak vir die deelnemers en die fakulteit. Die formaat van die fees is, soos gewoonlik, propvol orkesoefeninge, kamermusiekafrigting, lesing-onderhoude, studente-kamermusiekkonserte, fakulteitskonserte en openbare meesterklasse, wat uiteindelik ’n hoogtepunt bereik op die laaste drie dae met konserte deur die Fees- Simfonie- en Feeskonsert-orkeste.
Nina Schumann, Artistieke Direkteur van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, het die program van vanjaar se konserte by die SIKMF saamgestel. Soos in vorige jare bevat die program, waarna met afwagting uitgesien is, iets vir elke musiekliefhebber.
Alle konserte sal in die Endlersaal by die Musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch plaasvind. Die openingskonsert op 30 Junie begin met ’n pragtige verwerking van Bach se Goldberg-Variasies vir stryktrio, uitgevoer deur Andrey Baranov (viool), Jennifer Stumm (altviool) en David Cohen (tjello).
Ander gewilde werke sluit in Mendelssohn se Strykkwintet no 1, Weber se uitdagende kwintet vir klarinet en strykers, met die Amerikaanse klarinetvirtuoos YaoGuang Zhai as solis, Schubert se verhewe Strykkwintet in C en Rachmaninof se gewigtige Trio Élégiaque, met Nicolas Dautricourt (viool), Boris Andrianov (tjello) en Anastasia Markina (klavier) op die verhoog.
Vir diegene wat daarvan hou om meer ongewone repertorium te hoor sal Tanejef se klavierkwintet presies in die smaak val, soos ook Raff se oktet vir strykers, Vaughan Williams se klavierkwintet en Jolivet se tweede trompetkonsert, met Marco Silva as solis.
Nuwe musiek sluit in Matthijs van Dijk se konsert vir viool (David Bester) en uhadi (Dizu Plaatjies) sowel as Allison Loggins-Hill se Hammers vir fluit en perkussie, uitgevoer deur onderskeidelik Demarre McGill en Jauvon Giliam. Die opdragwerk in vanjaar se program is gekomponeer deur Mikhaila Alyssa Smith, ’n Suid-Afrikaanse komponis wat in New York woonagtig is. Die werk het ontstaan in samewerking met die jazz-sangeres en liedjieskrywer Tina Schouw en is ’n uitbeelding van Schouw se lewe en werk. Van hierdie opdragwerk sê Nina Schumann: “Alhoewel Schouw se aktivisme op die voorgrond staan het ’n innemende kreatiewe proses deur twee vroue van kleur en van verskillende generasies ’n sinergie van besondere belang tot gevolg gehad.”
Vanjaar se fees word gekenmerk deur ’n spesiale fokus op vroue, nie net ten opsigte van die aantal prominente vroulike instrumentaliste op die SIKMF se personeel nie, maar ook wanneer dit kom by die komponis en verteller van bogenoemde opdragwerk, wat op Maandag 3 Julie sy eerste uitvoering beleef. Die SIKMF het oor die jare heen ’n stem gegee aan anti-apartheidsaktiviste soos Desmond Tutu en Denis Goldberg, en vanjaar se opdragwerk, wat die lewe en werk van Tina Schouw uitbeeld, is geen uitsondering nie.
Een beroepsrigting waarin vroue nog steeds nie sterk verteenwoordig is nie, is orkesdirigering. Die onlangse film Tár beeld die uitdagings waaronder vroue in hierdie rigting nog steeds gebuk gaan treffend uit. Die SIKMF het Rebecca Tong, een van die min internasionaal erkende vroulike orkesdirigente, uitgenooi om vanjaar die Kamermusiekfeesorkes te dirigeer. Sy sal op Vrydag, 7 Julie en Sondag 9 Julie met hierdie orkes op die verhoog te sien wees.
Studente tree daagliks om 13:00 en 17:00 in kamermusiekuitvoerings op. Likhona Tokota, wat as beurswenner reeds verskeie kere aan die fees deelgeneem het, sê: “Ek sien baie uit na die geleentheid om weer met ander talentvolle en begeesterde jongmense musiek te maak, om te leer en om daardeur vir my verdere musiekloopbaan geïnspireer te word.”
Die gewilde aandkonserte vind saans om 20:00 vanaf 30 Junie tot 8 Julie plaas. Die afsluitingskonsert op 9 Julie begin om 16:30.
- Kaartjies vir individuele vertonings, sowel as die opsie van ’n volle fees pakket, is by Webtickets beskikbaar. Koop kaartjies hier.
- Klik vir meer inligting oor die beskikbare fees-pakkette.
- Meer inligting by: www.sicmf.co.za.
- Die volledige lys van feeskunstenaars kan gesien word by: www.sicmf.co.za/artists/.
- Instagram: @stellenboschfestival