Persverklaring: Brasse, tot laat toe kom hierdie Augustus na die Baxter-teater toe!

  • 0

Ná sy krities bekroonde en kommersieel suksesvolle debuut by die 2026 Suidoosterfees, begin Brasse, tot laat toe hierdie Augustus sy amptelike speelvak by die Baxter-teater.

Net voor die veertigdae-herdenking van sy oorlede vrou ontvang Luqmaan ’n onverwagse besoek van sy voormalige vriend, Junaid. Die twee mans het mekaar vir meer as ses jaar nie gesien nie. Wanneer Junaid onder onverwagse omstandighede terugkeer, word albei mans gedwing om ongemaklike waarhede oor vriendskap, verraad en die lewens wat hulle apart opgebou het, in die oë te kyk.

Die skrywer, Zubayr Charles, sê: “Die storie ondersoek temas soos ouer word, betrayal, familie disputes en vriendskap. Hierdie temas is besonder belangrik omdat die verhaal vanuit ’n manlike perspektief vertel wôd. Ôs hoop die produksie moedig mans, jonk en oud, aan om eerlik met mekaar te kommunikeer, onverwerkte pyn te konfronteer en die waarde van ware vriendskap te erken.”

Hierdie opwindende nuwe teks, geskryf in Kaaps, word deur fisieke teater tot lewe gebring onder die briljante regie van Carlo Daniels. Die stuk beweeg ook tussen verskillende tydperke in Luqmaan en Junaid se lewens – van hul dae in Saterdagdetensie as tieners tot hul lewens as mans in hul middeldertigs. Hierdie verskuiwings bring nostalgie, humor en emosionele kompleksiteit na die verhaal.

Die produksie spog met ’n uitsonderlike rolverdeling en kreatiewe span. Dit is geskryf en verhoogbestuur deur Zubayr Charles, ’n genomineerde vir Beste Nuwe Regisseur by die 2026 Cape Town Theatre Awards, en word geregisseer deur Carlo Daniels, wenner van die 2026 Cape Town Theatre Awards vir Beste Ondersteunende Akteur in ’n Musiekblyspel.

Die rolverdeling bestaan uit Anzio September, genomineerde vir Beste Ondersteunende Akteur in ’n Drama by die 2026 Cape Town Theatre Awards, en die opwindende nuweling Abdullatief Davids. Die beligtingsontwerp is deur Franky Steyn, wenner van die 2025 Cape Town Theatre Awards vir Beligtingsontwerp, met oorspronklike musiek deur Salie Charles.

Kaartjies kos R150. Afslag is beskikbaar vir blokbesprekings deur skoolgroepe.

Die produksie word vir nege vertonings in die Baxter se Masambe-teater aangebied:

  • Vertoning 1 – Saterdag, 8 Augustus – 14:00
  • Vertoning 2 – Saterdag, 8 Augustus – 19:00
  • Vertoning 3 – Dinsdag, 11 Augustus – 19:00
  • Vertoning 4 – Woensdag, 12 Augustus – 19:00
  • Vertoning 5 – Donderdag, 13 Augustus – 19:00
  • Vertoning 6 – Vrydag, 14 Augustus – 19:00
  • Vertoning 7 – Saterdag, 15 Augustus – 14:00
  • Vertoning 8 – Saterdag, 15 Augustus – 19:00

Moenie hierdie nostalgiese en aangrypende produksie misloop nie – ’n stuk wat vriendskap, manlikheid en familietwis ondersoek.

Lees ook:

Suidoosterfees 2026: Moslemafrikaans gevier in Ek en jy, tot laat toe, of dan Brasse, tot laat toe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top